Insig in die nuus
Meer en duurder troues
Nie alleen is troues aan die toeneem in die Verenigde State nie—16 persent meer as ’n dekade gelede—maar so ook die koste daarvan. Die gemiddelde koste van ’n troue en ’n onthaal het die hoogte ingeskiet tot meer as R15 000, met sommige wat so oordadig is dat dit tot R125 000 kos. Is dit dan ’n wonder dat die besteding aan troues verlede jaar altesaam R50-duisendmiljoen beloop het—’n styging van 152 persent sedert 1975? Waaraan is die geld bestee? Aan feitlik enigiets “van ringe en blomme tot musiek, limousines en wittebroodsreise”, berig die tydskrif Fortune.
Troues moet heuglike geleenthede wees. Maar Jesus Christus het aangedui dat ’n aspek van die huwelik ’n kenmerk sou wees van die geslag wat gedurende ‘sy teenwoordigheid en die voleinding van hierdie bose wêreld’ sou lewe (Mattheüs 24:3, 34, NW). Hy het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheüs 24:37-39). Jesus het nie bedoel dat mense wat in “die laaste dae” lewe nie mag trou nie (2 Timotheüs 3:1). Hy het eerder gewaarsku dat baie so sou opgaan in die huwelik, wat nou ook oordadige en duur troues insluit, dat hulle die dringendheid van die tye sou ignoreer.
“Wie het die Dooie See-rolle versteek?”
Onder daardie titel in Biblical Archaeologist verduidelik Norman Golb, Professor in Hebreeuse en Joods-Arabiese studies aan die Universiteit van Chicago, wie werklik die Dooie See-rolle versteek het. Terselfdertyd probeer hy om ’n teorie te weerlê wat meer as drie dekades oud is. In die noordelike lente van 1947 is ou rolle van die Hebreeuse Skrifte sowel as nie-Bybelse tekste in grotte aan die noordwestelike oewer van die Dooie See ontdek. Daardie ontdekking is begroet as “die grootste vonds wat nog op die gebied van die Bybelse argeologie gemaak is”. Die rolle sluit die oudste bekende manuskripte van boeke van die Bybel in en dateer uit die tweede eeu v.G.J.
Tot dusver was geleerdes van mening dat die manuskripte hul oorsprong by die Essene, ’n Joodse godsdienssekte, gehad het. Maar Golb meen dat latere ontdekkings van ander ou Hebreeuse tekste in Masada, Jerigo en elders in die Judese woestyn op Jerusalem dui as die plek waar die rolle vandaan kom. Nie die Essene nie, maar die Jode wat tussen 66 en 70 G.J. voor die Romeinse leërs gevlug het, “het die bondels of sakke tekste uit die hoofstad na die woestyngrotte gebring en daar versteek”, beweer Golb.
Ongeag watter argeologiese bewyse nog opgediep word, die Bybelse rolle wat in daardie grotte gevind is, onderstreep die suiwerheid van die Bybelteks en Jehovah se vermoë om sy Woord te bewaar. “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid”, sê 1 Petrus 1:24, 25.
Goddelike wysheid vir wêreldleiers?
Namate wêreldvrede al hoe ontwykender word, bly die bedreiging van oorlog ’n bron van groot kommer vir wêreldleiers. Die tydskrif Time berig dat Sowjet-partyleier Mikhail S. Gorbachev gesê het: “Die hemelse God het tog sekerlik nie geweier om ons genoeg wysheid te gee om maniere te vind waarop ons ’n verbetering kan bewerkstellig . . . in die betrekkinge tussen die twee groot nasies op aarde nie, nasies wat inderdaad die toekoms van die beskawing bepaal.” Op soortgelyke trant het President P. W. Botha sy omstrede toespraak in Durban op 15 Augustus afgesluit deur sy besorgdheid oor die vrede van sy volk uit te spreek: “Ons onderneem om alles te doen wat menslik moontlik is. . . . Ek bid dat die almagtige God ons die wysheid en die krag sal gee sodat ons Sy wil kan volbring.”
Dit is interessant dat vooraanstaande regeringsleiers van die behoefte aan goddelike wysheid praat in verband met hulle vredespogings. Maar volgens die Bybel sal wêreldvrede en -veiligheid alleen deur God se Koninkryk verwesenlik word. (Daniël 2:44; vergelyk Jesaja 9:5, 6.) Dit is dus net die wat hulle aan die kant van hierdie hemelse Koninkryk skaar wat kan hoop om blywende vrede te vind.