Selfbeheersing noodsaaklik vir Christene
TOE die polisie in ’n dorpie in Nieu-Mexiko, V.S.A., ondersoek gaan instel het na ’n aangemelde skietvoorval, was ’n jong paartjie se kombuis bespat met bloed en besaai met groenboontjies. Die huisvrou het ’n vleiswond opgedoen. Waarom? Die aanvaller, haar metgesel, het glo vir die polisie gesê: “Sou jy nie kwaad word as jy heeltyd groenboontjies moes eet nie?”
Is dit moeilik om te glo? Miskien. Maar mense is selfs al doodgemaak oor sulke nietighede. Sulke voorvalle word al hoe algemener. Dit is in groot mate te wyte aan ’n gebrek aan selfbeheersing. Omdat hulle nie hulle emosies kan beheers nie, gee mense uiting aan woedebuie—wat deur die apostel Paulus as een van “die werke van die vlees” beskryf word.—Galasiërs 5:19-21.
Hierdie toenemende gebrek aan selfbeheersing maak deel uit van die bewys dat ons in “swaar tye”, “die laaste dae” van hierdie ou, sataniese stelsel, lewe. Waar hy hierdie dae beskryf, het Paulus geskryf dat mans (en vroue) “nie ontvanklik vir enige ooreenkoms [nie], . . .sonder selfbeheersing, heftig” sou wees (2 Timotheüs 3:1, 3, NW). Dit is duidelik dat ons in “die laaste dae” lewe en dat hulle al hoe gewelddadiger word.
Wat moet Christene met die oog hierop doen? Paulus het hulle aangespoor om “die werke van die vlees” teen te werk deur die vrug van God se gees, onder meer “selfbeheersing”, aan te kweek (Galasiërs 5:19,22). Wat is selfbeheersing? Waarom beveel Paulus dit aan? Wat is party van die voordele wat dit meebring?
Selfbeheersing word gedefinieer as “die beteueling van ’n mens se impulse, emosies, of begeertes”. Paulus het getoon dat sulke beteueling die ware Christen kenmerk. Trouens, die beoefening van selfbeheersing help met die aankweek van ander vrugte van God se gees, soos vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid en sagmoedigheid. Dit stel ’n Christen in staat om te volhard in sy diens aan God en om die druk van Satan, die wêreld en die onvolmaakte vlees te weerstaan. Daarom het Paulus aan die Galasiërs geskryf: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”—Galasiërs 5:16, NAV.
Dit is veral nou nodig, aangesien ons tye deur ’n toenemende gebrek aan selfbeheersing gekenmerk word. Die polisie in talle lande vind byvoorbeeld dat al hoe meer motoriste verkeerswette ignoreer. Sulke oortredings veroorsaak dikwels driftige uitskellery wat tot bakleiery kan lei. ’n Gedeelte van een hoofstraat in Houston, Texas, word glad “Rusielaan” genoem vanweë die talle gevegte wat daar uitbreek. Dink byvoorbeeld ook aan wat al gebeur het terwyl motoriste tougestaan het vir brandstof. ’n Gebrek aan selfbeheersing het tot woede-uitbarstings en selfs moord gelei omdat sommige motoriste selfsugtig voor ander ingedruk het om te verseker dat hulle die verlangde brandstof kry.
In hierdie en soortgelyke moeilike situasies moet die Christen verseker dat hy nie beïnvloed word deur diegene wat hulle woede op ander uithaal nie. Hy moet altyd deur selfbeheersing en sagmoedigheid gekenmerk word.
Voordele van selfbeheersing
Selfbeheersing bring talle voordele mee, waarvan sommige baie ooglopend is. God se Woord veroordeel byvoorbeeld vraatsug en dronkenskap (Spreuke 23:20, 21). Die apostel Paulus vermaan: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Korinthiërs 10:31). Selfbeheersing help ons om hieraan te voldoen, en dit bring besliste gesondheidsvoordele mee. Onmatige drinkery en vraatsug is egter nie net ongesond nie, maar kan selfs daartoe lei dat ’n Christen uit die Christengemeente uitgesluit word. Selfbeheersing in hierdie opsigte kan ’n Christen gevolglik help om na aan Jehovah te bly.
Selfbeheersing help ons ook om die permissiewe gees van hierdie wêreld te weerstaan (1 Korinthiërs 2:12). Hoerery, homoseksualiteit, egbreuk en allerhande vorme van seksuele perversie word deesdae as aanvaarbaar, normaal, bestempel. Maar Christene en Christinne weerstaan sulke propaganda en stry hard om hulleself rein in God se oë te hou. Hulle weet dat “geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen . . . deel [sal] kry aan die koninkryk van God nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10, NAV). Danksy selfbeheersing kan hulle voorkom dat hulle besmet word met onsedelike denke wat te kenne wil gee dat sulke dinge aanvaarbaar is.
Verkeerde denke versprei vandag op verskillende maniere, maar veral deur vermaak, hetsy dit die televisie, rolprente, musiek, toneelstukke, romans of ander media is. Die Christen moet selfbeheersing toepas wanneer dit kom by die tyd wat hy aan vermaak bestee, in die besef dat ’n persoon slegs soveel vermaak nodig het om hom te verfris, en dat vermaak daarna genotsugtig en ’n tydverkwisting word. Hy moet ook selfbeheersing toepas ten opsigte van die soort vermaak wat hy nastreef, daar hy besef dat baie van die gewilde vermaak vandag onsedelike gesindhede, gewelddadige neigings of ’n fassinasie met die okkulte benadruk. Hierdie dinge is nie vir Christene gepas nie.—Efesiërs 2:1-3.
Selfbeheersing lei tot vooruitgang
Selfbeheersing is nie net ’n beskerming nie. Dit help die Christen ook om vordering te maak in geestelikheid en in sy bediening. Die apostel Petrus het dit beklemtoon toe hy geskryf het: “Voeg by julle geloof deugsaamheid, by julle deugsaamheid kennis, by julle kennis selfbeheersing.” Hy het gesê dat hierdie eienskappe, tesame met volharding, godsvrug, broederliefde en naasteliefde, sal “verhoed dat [hulle] onaktief of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van onse Here Jesus Christus” (2 Petrus 1: 5-8, NW). Hoe help selfbeheersing ons om as Christenbedienaars vooruitgang te maak?
Die Christen bestee gewoonlik elke maand baie tyd daaraan om ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel (Mattheüs 24:14; 28:19). Maar party Christene neem miskien net af en toe aan hierdie werk deel omdat ander dinge hulle tyd in beslag neem of vanweë mismoedigheid omdat hulle ’n gebrek aan belangstelling teëkom. Sulke persone het moontlik ’n uitstekende kennis van God se Woord. In plaas van vooruit te gaan, gaan hulle egter agteruit, moontlik tot algehele ‘onvrugbaarheid’. Wat moet hulle doen?
‘Voeg by julle kennis selfbeheersing’, het Petrus aangeraai. Dit kan selfbeheersing wees ten opsigte van die tyd wat aan ontspanning, sosiale bedrywighede of selfs sekulêre werk bestee word. Of die selfbeheersing kan beteken dat jy jou gereeld versterk om te volhard ondanks die onverskilligheid wat jy teëkom. ’n Persoon kan dit aankweek deur gereelde persoonlike Bybelstudie, asook die bywoning van Christenvergaderinge.
Selfbeheersing help ’n Christen ook om vooruitgang te maak in sy verhoudinge met ander. As hy selfbeheersing aankweek, sal hy met groter welslae met ander in die gemeente saamwerk, en vreugde en vrede sal heers (Efesiërs 4:3). Elkeen sal deur middel van selfbeheersing daarna strewe om ander in die gemeente nie te laat struikel nie.—Filippense 1:9, 10.
Selfbeheersing behels veral beheer van die tong. Dit is noodsaaklik as ons ander nie wil laat struikel nie. Maar dit is nie maklik nie. Die dissipel Jakobus het geskryf: “As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Jakobus het alle Christene egter aangespoor om hulle daarop toe te lê om hulle tonge te beheer, sodat hulle dit tot seën van ander kan gebruik (Jakobus 3:5-12). Hy het gevolglik geskryf: “Die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.”—Jakobus 3:18.
Selfbeheersing in die predikingswerk
’n Christen ontmoet soms ’n uiters onbeheerste individu in die predikingswerk. By sulke geleenthede moet die Christen groot selfbeheersing aan die dag lê, kalm bly en nie deur woord of daad met gelyke munt betaal nie. Een Christin het in hierdie opsig ’n verstommende voorbeeld gestel. By die derde huis waar sy een Saterdagoggend aangeklop het, het die huisbewoner die deur oopgemaak en op haar begin skiet. Die bedienares het egter kalm gebly. “Jy het my geskiet”, het sy gesê. “Ja”, het die huisbewoner geantwoord, “ek het jou geskiet”, en toe weer geskiet. Die Getuie berig: “Ek het twee koeëlgate in my jas, twee in my sak en een in my voet gehad. Een koeël het die vloer tussen my voete getref. Ek het gevoel hoe die kruit my bene brand terwyl ek van haar stoep probeer afkom het.”
Die Christin het buitengewone selfbeheersing in hierdie beproewende situasie aan die dag gelê. Sy het tot Jehovah gebid om haar te help om by die volgende huis uit te kom en nie langs die pad te val nie. Sy het daar gekom en die trap hande-viervoet geklim. Die huisbewoner het haar geklop beantwoord en, toe sy hoor dat sy geskiet is, haar vriendelik ingeneem. Die vrou en haar oudste dogter, ’n verpleegster, het eerstehulp toegepas terwyl ’n ander dogter die polisie en die paramedici gebel het. Die selfbeheersing van hierdie Christenbedienares het eers die polisie, toe die paramedici, die skare wat saamgedrom het, en uiteindelik die hospitaalpersoneel grootliks beïndruk.
Daar word weliswaar nie op die meeste Christenbedienaars geskiet nie. Maar hulle het dikwels te doen met individue wat baie ontsteld en kwaad is. Hulle moet onthou: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Jesus is hulle voorbeeld. Petrus het van hom geskryf: “Toe Hy beledig is, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23, NAV). Ja, selfbeheersing is ’n uitstekende aanbeveling vir die Christenbedienaar.
Hoe om selfbeheersing aan te kweek
Aangesien selfbeheersing ’n vrug van God se heilige gees is, het ons daardie gees nodig om dit aan te kweek. Soos Paulus geskryf het: “Wandel deur die Gees” (Galasiërs 5:16, 22). Alle Christene moet ywerige studente wees van God se Woord, wat self ’n produk van die heilige gees is. As ons daardie Woord gereeld bestudeer en in ons lewe toepas wat ons leer, sal dit ons in staat stel om ons gedagtes te beheers, om “elke gedagte gevange [te] neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5; Romeine 12:2). Ja, dit is noodsaaklik dat ’n Christen leer om te dink soos Jesus dink en soos Jehovah God dink.
Die hart, die setel van die beweegrede, moet ook voortdurend deur God se gees beïnvloed word, aangesien selfbeheersing die beteueling is van ’n mens se emosies of begeertes, wat uit die hart kom (Mattheüs 15:19). Onthou dan hierdie goeie raad: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Laat God se gees jou hart raak namate jy Bybelbeginsels leer. Probeer Skriftuurlike raad memoriseer, indien moontlik, sodat jy dit in moeilike situasies kan herroep.
Goeie omgang met mede-Christene help jou ook om selfbeheersing aan te kweek (Hebreërs 10:23-25). Die verskillende vergaderinge van die Christengemeente is bedoel om alle Christene te help om te groei in Bybelkennis en in die vermoë om die vrug van God se gees te openbaar. Kies daarbenewens metgeselle wat voorbeelde van selfbeheersing is. Sodoende sal jy ook aangespoor word om hierdie eienskap aan te kweek.—Spreuke 13:20; 27:17.
Iets wat nooit verwaarloos moet word nie, is gereelde kommunikasie met Jehovah deur gebed. Die Christen moet voortdurend sy hulp vra om selfbeheersing aan te kweek. Smeek hom om sy gees om jou te help. En as jy vind dat jy selfbeheersing êrens nie toegepas het nie, moet jy Jehovah nederig en opreg om vergifnis vra. Jesus het ons leer bid: “Lei ons nie in versoeking nie.” Paulus het Christene aangespoor om te “volhard in die gebed”. Nader Jehovah dus “sonder ophou” en vra om sy hulp terwyl jy selfbeheersing in jou lewe probeer aankweek.—Mattheüs 6:13; Romeine 12:12; 1 Thessalonicense 5:17.
Wat ’n uitstekende Christelike eienskap is selfbeheersing tog! Kweek dit steeds aan. Diegene wat dit doen, het meer selfrespek. Hulle geniet groter vrede en geluk in hulle gesins- en gemeentelike verhoudinge, asook beter verhoudinge met ander in hulle daaglikse lewe. Nog belangriker, selfbeheersing verseker hulle van ’n goeie verhouding met die Skepper en help om hulle as ware Christenknegte van hulle God, Jehovah, te identifiseer.
[Venster op bladsy 24]
Vir jou Studie
Hierdie is die negende artikel oor “die vrug van die Gees”. Die ander artikels in hierdie reeks het in Die Wagtoring van 15 Maart, 15 Junie, 1 Julie, 1 Augustus, 15 September, 1 Oktober, 15 Oktober en 15 November 1985 verskyn. Hersien hierdie puik Skriftuurlike inligting gerus gedurende jou persoonlike studie.