Selfbeheersing—Waarom so belangrik?
“Daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing.”—2 PETRUS 1:5, 6.
1. Watter verbasende vertoning van fisiese selfbeheersing is in die 19de eeu gelewer?
EEN van die verbasendste vertonings van liggaamsbeheer was ongetwyfeld dié van Charles Blondin in die tweede helfte van die 19de eeu. Volgens een verslag het hy verskeie kere oor die Niagara-waterval geloop, die eerste keer in 1859 op ’n 340 meter lange spandraad wat 50 meter bo die water was. Daarna het hy dit elke keer op ’n ander manier gedoen om sy vaardigheid te toon: geblinddoek, binne-in ’n sak, terwyl hy ’n kruiwa stoot, op stelte en terwyl hy ’n man op sy rug dra. By ’n ander geleentheid het hy met stelte bolmakiesie geslaan op ’n draad wat 52 meter bo die grond gespan was. Dit het buitengewoon groot fisiese selfbeheersing geverg om sulke balans te hou. Blondin se vernuf is met roem en rykdom beloon.
2. Watter ander bedrywighede is daar wat liggaamsbeheer verg?
2 Hoewel daar min mense is wat selfs naby daardie prestasie sal kan kom, is die belangrikheid van fisiese selfbeheersing in die beoefening van professionele vaardighede of in sport vir ons almal duidelik. Toe een musikant byvoorbeeld die meesterskap van die gewese pianis Vladimir Horowitz beskryf het, het hy gesê: “Wat my gefassineer het, was die gevoel van totale beheer . . . , die gevoel van ’n ongelooflike energie wat ingespan word.” ’n Ander verslag oor Horowitz het verwys na “agt dekades van vlieënde vingers in volmaakte beheer”.
3. (a) Wat is die veeleisendste vorm van beheersing, en hoe word dit gedefinieer? (b) Wat is die betekenis van die Griekse woord wat in die Bybel as “selfbeheersing” vertaal word?
3 Dit verg groot inspanning om sulke vaardighede te ontwikkel. Iets wat egter van selfs groter belang is en ’n groter uitdaging inhou, is selfbeheersing. Dit is al gedefinieer as die “beheersing van ’n mens se eie impulse, emosies of begeertes”. Die woord wat in 2 Petrus 1:6 en elders in die Christelike Griekse Geskrifte as “selfbeheersing” vertaal is, is gedefinieer as “die deug van iemand wat sy begeertes en hartstogte, veral sy sinlike begeertes, beheers”. Persoonlike selfbeheersing is al selfs “die toppunt van menslike prestasie” genoem.
Waarom selfbeheersing so belangrik is
4. Watter slegte vrugte het die gebrek aan selfbeheersing opgelewer?
4 Wat ’n oes het die gebrek aan selfbeheersing nie al opgelewer nie! Baie probleme in vandag se wêreld is hoofsaaklik toe te skryf aan ’n gebrek aan selfbeheersing. Ons leef waarlik “in die laaste dae”, waartydens “swaar tye” ‘wat moeilik die hoof gebied word, ons omring’. Hebsug is dikwels die rede waarom mense “bandeloos” oftewel “sonder selfbeheersing” is, en dit kom onder andere tot uiting in die feit dat mense “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” is (2 Timotheüs 3:1-5, vgl. NW). Hierdie waarheid, wat ons tot nugter denke stem, is kragtig onder ons aandag gebring deur die feit dat daar die afgelope diensjaar oor die 40 000 individue wat hulle hoofsaaklik aan growwe oortredings skuldig gemaak het, uitgesluit is uit assosiasie met die Christengemeente. Hierby moet die talle gereken word wat bestraf is, in die meeste gevalle weens geslagsonsedelikheid, maar in al die gevalle omdat hulle versuim het om selfbeheersing te beoefen. Die feit dat party ouere manne, wat al baie jare lank dien, om dieselfde rede al hulle voorregte as opsieners verloor het, stem ons ook tot nugtere denke.
5. Hoe kan die belangrikheid van selfbeheersing toegelig word?
5 Die belangrikheid van selfbeheersing kan toegelig word met die voorbeeld van ’n motor. ’n Motor het vier wiele wat hom in staat stel om te beweeg, ’n kragtige enjin wat daardie wiele baie vinnig kan laat draai en remme wat hulle kan laat stop. Maar tensy daar ’n bestuurder is wat die stuurwiel, die versneller en die remme kan beheer en dus kan besluit waarheen daardie wiele moet gaan, hoe vinnig hulle moet draai en wanneer hulle moet stop, kan dit ’n ramp tot gevolg hê.
6. (a) Watter maatstaf ten opsigte van liefde kan tereg op selfbeheersing toegepas word? (b) Watter verdere raad moet ons in gedagte hou?
6 Dit sou moeilik wees om die belangrikheid van selfbeheersing te oorbeklemtoon. Wat die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 13:1-3 omtrent die belangrikheid van liefde gesê het, kan tereg ook van selfbeheersing gesê word. Ongeag hoe welsprekend ons as openbare sprekers is, ongeag hoeveel kennis en geloof ons deur goeie studiegewoontes verkry het, ongeag watter werke ons doen om ander te bevoordeel—dit is alles nutteloos tensy ons selfbeheersing beoefen. Ons moet Paulus se woorde in gedagte hou: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles [“beoefen selfbeheersing in alle dinge”, NW]” (1 Korinthiërs 9:24, 25). Paulus se waarskuwing in 1 Korinthiërs 10:12 help ons om in alle dinge selfbeheersing aan die dag te lê: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Waarskuwende voorbeelde
7. (a) Hoe het ’n gebrek aan selfbeheersing die mensdom op sy weg van agteruitgang geplaas? (b) Watter ander vroeë voorbeelde van ’n gebrek aan selfbeheersing kry ons in die Skrif?
7 Deur toe te laat dat emosies eerder as rede sy dade bepaal, het Adam versuim om selfbeheersing te beoefen. Gevolglik het “sonde in die wêreld ingekom . . . en deur die sonde die dood” (Romeine 5:12). Die eerste moord was ook die gevolg van ’n gebrek aan selfbeheersing, want Jehovah God het Kain gewaarsku: ‘Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Die sonde lê en loer voor die deur, maar jý moet daaroor heers.’ Omdat Kain nie die oorhand daaroor gekry het nie, het hy sy broer Abel vermoor (Genesis 4:6-12). Lot se vrou het ook versuim om selfbeheersing te beoefen. Sy kon eenvoudig nie die versoeking weerstaan om terug te kyk nie. Wat het haar gebrek aan selfbeheersing haar gekos? Wel, niks minder as haar lewe nie!—Genesis 19:17, 26.
8. Watter drie manne uit die ou tyd se ondervindings dien as waarskuwings vir ons oor die nodigheid van selfbeheersing?
8 Jakob se eersgebore seun, Ruben, het die geboortereg verbeur weens sy gebrek aan selfbeheersing. Hy het sy vader se bed ontheilig deur geslagsomgang met een van Jakob se byvroue te hê (Genesis 35:22; 49:3, 4; 1 Kronieke 5:1). Omdat Moses sy humeur verloor het oor die manier waarop die Israeliete hom met hulle gemurmureer, gekla en opstandigheid beproef het, is hy die voorreg ontsê om die Beloofde Land in te gaan, ’n voorreg wat hy so innig begeer het (Numeri 20:1-13; Deuteronomium 32:50-52). Selfs getroue koning Dawid, ‘’n man na God se hart’, het by een geleentheid as gevolg van sy gebrek aan selfbeheersing in ernstige moeilikheid beland (1 Samuel 13:14; 2 Samuel 12:7-14). Al hierdie voorbeelde dien as heilsame waarskuwings dat ons selfbeheersing moet beoefen.
Wat ons moet beheers
9. Noem ’n paar tekste wat die belangrikheid van selfbeheersing beklemtoon.
9 Selfbeheersing behels in die eerste plek ons denke en emosies. Die Skrif verwys dikwels hierna deur woorde soos “hart” en “niere” figuurlik te gebruik. Die dinge waarmee ons ons verstande besig hou, bevorder of belemmer ons pogings om Jehovah te behaag. Selfbeheersing is nodig indien ons die skriftuurlike raad in Filippense 4:8 wil gehoorsaam, naamlik om altyd dinge te bedink wat waar, rein en deugsaam is. Die psalmis Dawid het ’n soortgelyke gedagte in gebed uitgespreek toe hy gesê het: “Laat . . . die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!” (Psalm 19:15). Die tiende gebod—om nie enigiets te begeer wat aan ’n medemens behoort nie—het vereis dat ’n mens jou denke beheers (Exodus 20:17). Jesus het beklemtoon hoe ’n ernstige saak dit is om ons denke en emosies te beheers toe hy gesê het: “Elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Mattheüs 5:28.
10. Watter Bybeltekste beklemtoon die belangrikheid daarvan dat ons ons spraak beheers?
10 Selfbeheersing behels ook ons woorde, ons spraak. Daar is inderdaad talle tekste wat ons vermaan om ons tong te beheers. Byvoorbeeld: “God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees” (Prediker 5:1). “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig” (Spreuke 10:19). “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting . . . Alle . . . geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.” En Paulus vermaan ons voorts om weg te doen met dwase praatjies en obsene geskerts.—Efesiërs 4:29, 31; 5:3, 4, vgl. NW.
11. Hoe bespreek Jakobus die probleem om die tong te beheers?
11 Jakobus, ’n halfbroer van Jesus, veroordeel onbeteuelde spraak en toon hoe moeilik dit is om die tong te beheers. Hy sê: “Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook ’n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ’n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ’n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.”—Jakobus 3:5-10.
12, 13. Noem ’n paar tekste wat toon hoe belangrik dit is dat ons ons dade en gedrag beheers.
12 Selfbeheersing behels natuurlik ons dade. Een terrein waarop baie selfbeheersing nodig is, het te doen met ons verhoudings met lede van die ander geslag. Christene word beveel: “Vlug vir geslagsonsedelikheid” (1 Korinthiërs 6:18, New International Version). Getroude mans word vermaan om hulle geslagsbelange tot hulle eie vrou te beperk, en daar word, ten dele, vir hulle gesê: “Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put” (Spreuke 5:15-20). Ons word onomwonde meegedeel dat ‘God hoereerders en egbrekers sal oordeel’ (Hebreërs 13:4). Veral diegene wat die gawe wil aankweek om ongehuud te bly, het selfbeheersing nodig.—Mattheüs 19:11, 12; 1 Korinthiërs 7:37, vgl. NW.
13 Jesus het die hele kwessie van ons dade teenoor ons medemens saamgevat toe hy die reël neergelê het wat algemeen bekend staan as die “Gulde Reël”: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete” (Mattheüs 7:12). Dit verg waarlik selfbeheersing om nie toe te laat dat ons selfsugtige neigings of eksterne druk of versoekings veroorsaak dat ons ander mense anders behandel as wat ons graag deur hulle behandel sou wou word nie.
14. Watter raad gee God se Woord oor voedsel en drank?
14 Dan is daar die kwessie van selfbeheersing wat voedsel en drank betref. God se Woord vermaan ons wyslik: “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal” (Spreuke 23:20). Jesus het veral met betrekking tot ons dag gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom” (Lukas 21:34, 35). Ja, selfbeheersing behels ons denke en ons gevoelens, sowel as ons woorde en ons dade.
Waarom selfbeheersing so ’n uitdaging is
15. Hoe toon die Skrif dat Satan se teenstand teen Christene se pogings om selfbeheersing te beoefen ’n werklikheid is?
15 Selfbeheersing kom nie maklik nie, want soos alle Christene weet, is daar drie sterk kragte wat ons beoefening van selfbeheersing teëwerk. Eerstens is daar Satan en sy demone. Die Skrif laat geen twyfel omtrent die werklikheid van hulle bestaan nie. Ons lees dus dat “Satan in [Judas] ingevaar” het net voordat hy uitgegaan het om Jesus te verraai (Johannes 13:27). Die apostel Petrus het Ananias gevra: “Waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg?” (Handelinge 5:3). Petrus het ook heel gepas gewaarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”—1 Petrus 5:8.
16. Waarom moet Christene selfbeheersing beoefen met betrekking tot hierdie wêreld?
16 In hulle pogings om selfbeheersing aan die dag te lê, moet Christene ook stry teen hierdie wêreld wat “in die mag van die Bose”, Satan die Duiwel, lê. Die apostel Johannes het hieroor geskryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Tensy ons selfbeheersing beoefen en enige neiging om die wêreld lief te hê kragtig beveg, sal ons, soos Paulus se vroeëre medewerker Demas, voor die wêreld se invloed swig.—1 Johannes 2:15-17; 5:19; 2 Timotheüs 4:10.
17. Met watter probleem ten opsigte van selfbeheersing word ons gebore?
17 As Christene het ons ook selfbeheersing nodig as ons met welslae teen ons eie oorgeërfde vleeslike swakhede en tekortkomings wil stry. Ons kan die feit nie vryspring nie dat ‘die versinsels van die mens se hart sleg is van sy jeug af’ (Genesis 8:21). Soos koning Dawid ‘is ons in ongeregtigheid gebore en het ons moeders ons in sonde ontvang’ (Psalm 51:7). ’n Pasgebore kind weet niks van selfbeheersing af nie. As hy iets wil hê, hou hy net aan huil totdat hy dit kry. Een verslag oor kinderopvoeding sê: ‘Kinders redeneer totaal anders as volwassenes. Kinders is egosentries en het dikwels glad nie op die logiesste oorreding gereageer nie omdat hulle nie in staat is om “hulle in iemand anders se plek in te dink nie”’. Hoe waar tog dat “sotheid vassit in die hart van die seun”. Maar as “die tugroede” gebruik word, leer hy geleidelik dat daar reëls is wat hy moet gehoorsaam en dat selfsug bedwing moet word.—Spreuke 22:15.
18. (a) Watter neigings is volgens Jesus in die figuurlike hart gesetel? (b) Watter woorde van Paulus toon dat hy bewus was van die probleem om selfbeheersing te beoefen?
18 Ja, ons ingebore selfsugtige neigings bring ons voor ’n uitdaging te staan wanneer dit by die beoefening van selfbeheersing kom. Daardie neigings is in die figuurlike hart gesetel, waarvan Jesus gesê het: “Uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Mattheüs 15:19). Dit is waarom Paulus geskryf het: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon” (Romeine 7:19, 20). Maar dit was nie ’n verlore stryd nie, want Paulus het ook geskryf: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” Dit het selfbeheersing geverg om sy liggaam te kasty.—1 Korinthiërs 9:27.
19. Waarom kon Paulus tereg sê dat hy sy liggaam gekasty het?
19 Paulus kon tereg sê dat hy sy liggaam gekasty het, want daar is talle fisiese faktore wat die beoefening van selfbeheersing kompliseer, soos hoë bloeddruk, swak senuwees, te min slaap, hoofpyne, slegte spysvertering, en so meer. In die volgende artikel gaan ons eienskappe en hulpe bespreek wat ons sal help om selfbeheersing te beoefen.
Onthou jy?
◻ Waarom is selfbeheersing belangrik?
◻ Noem ’n paar voorbeelde van mense wat skade gely het weens ’n gebrek aan selfbeheersing.
◻ Op watter terreine moet ons selfbeheersing beoefen?
◻ Watter drie vyande maak dit vir ons moeilik om selfbeheersing te beoefen?
[Prent op bladsy 10]
Christene moet selfbeheersing beoefen in die gebruik van voedsel en drank
[Prent op bladsy 11]
Selfbeheersing sal ons help om nie skadelike skinderpraatjies te vertel nie
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Historical Pictures Service