Hoe ware geloof jou kan help
“WORD die kerke irrelevant?” Dit is wat vryskutskrywer Paul Fromm gevra het nadat hy die Sesde Vergadering van die Wêreldraad van Kerke bygewoon het wat in 1983 in Vancouver, Kanada, gehou is. Die rede vir sy vraag? Die feit dat hierdie raad feitlik uitsluitlik politieke sake behandel het. Fromm het gesê: “Die vername Protestantse kerke . . . het die Evangelie van Jesus Christus vervang deur die gewilde evangelie van linksgesinde politiek.”
Godsdiens se bemoeiing met die politiek is skynbaar ’n desperate poging om ’n kwynende belangstelling in gevestigde godsdienste weer aan te wakker. Berigte van dwarsoor die wêreld toon dat geloof in georganiseerde godsdiens inderdaad die afgelope paar jaar afgeneem het.
Dit verbaas Bybelstudente egter nie. Jesus het voorspel: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). As gevolg van hierdie ‘verkoeling’ laat baie min toe dat godsdiens ’n groot invloed op hulle lewe het, al gaan hulle af en toe vir ’n troue of ’n begrafnis kerk toe.—Vergelyk Lukas 18:8.
Maar terwyl geloof in die meeste georganiseerde godsdienste tot teleurstelling lei, het Jesus gesê: “Sodra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:17-20). Let op dat net soos wat daar ’n vorm van godsdiens is wat “slegte vrugte” voortbring, daar ’n godsdienstige lewenswyse is wat “goeie vrugte” voortbring. Laasgenoemde bring groot voordele vir die persoon met geloof. Wat is sulke geloof, en wat is party van die voordele?
Grondslag vir geloof
Miljoene beskou jou geloof as iets waarin jy gebore word. Maar vir ware Christene is geloof iets wat verkry en opgebou word. Geloof is nie vir hulle “’n vaste vertroue in iets waarvoor daar geen bewys is nie”, soos een woordeboek geloof definieer nie. Inteendeel, die vroeë Christenevangelis Paulus het geskryf: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). Dit beteken dat ons geloof op die werklikheid gegrond is.
Iemand wat byvoorbeeld tot God nader, “moet glo dat Hy is” (Hebreërs 11:6). Talle dryf die spot met die gedagte dat daar ’n God is. ‘Waarom moet jy aan ’n God glo wat jy nie kan sien nie?’ sê hulle. Maar dieselfde persone vind dit nie moeilik om aan televisiegolwe te glo wat net so onsigbaar is nie. Hulle kan natuurlik hulle televisiestelle aanskakel en die gevolge van hierdie onsigbare golwe sien! Ware Christene se geloof in God is eweneens nie blote goedgelowigheid of blinde geloof nie. Paulus verduidelik omtrent God: “Sy onsigbare [hoedanighede] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20, vgl. NW). Hoewel God onsigbaar is, is ons omring deur oorgenoeg sigbare bewys van ’n Meesterontwerper, ’n bomenslike intellek, ’n Skepper met ongeëwenaarde krag.
Ons geloof moet egter dieper gaan as blote geloof aan die bestaan van God as dit ons werklik tot voordeel moet strek (Jakobus 2:19). Ons moet ook in die Heilige Bybel as die Woord van God glo (Johannes 17:17). Hierdie geloof moet nie op blote emosie of vroeë godsdiensopvoeding berus nie, maar op kennis van die talle aspekte van die Skrif wat dui op goddelike outeurskap. Die Bybel self spoor sy lesers aan om ‘alle dinge te beproef.’—1 Thessalonicense 5:21.
Hoe kan jy dit doen wanneer dit by die Heilige Skrif kom? Jy kan eerstens die feit in oënskou neem dat die Bybel ’n reeks geskrifte deur nagenoeg 40 verskillende knegte van God is. Hoewel hulle oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf het, het die skrywers ’n gemeenskaplike tema gehad—God se Koninkryk. Hulle het mekaar nooit weerspreek nie. Dui dit nie op goddelike outeurskap nie? Die Bybel toon ook merkwaardige juistheid wanneer dit dinge beskryf soos die volgorde waarin lewende dinge op aarde verskyn het, ’n feit wat deur die moderne wetenskap bevestig is (Genesis, hoofstuk 1). Nog verbasender is die feit dat die Bybel toekomstige gebeure beskryf! Party van die skrywers het self erken dat hulle nie verstaan het wat hulle geskryf het nie; maar wat hulle geskryf het, was die waarheid, want hulle het onder goddelike inspirasie geskryf!—Daniël 12:8; 2 Petrus 1:20, 21.
Maar die feit dat die Bybel se raad prakties is, is vir baie die oortuigendste rede om geloof in die Bybel te hê. Namate jy die Bybel bestudeer en toepas, sal dit ’n sterk dryfkrag ten goede in jou lewe wees. Dit kan jou help om veranderinge aan te bring wat jou vriende en kennisse kan verstom. Dit is geen wonder dat Paulus gesê het “die woord van God is lewend en kragtig” nie! (Hebreërs 4:12). Ware geloof het derhalwe ’n vaste grondslag. Maar hoe kan jy daardie geloof aankweek?
Neem toe in geloof
’n Boer plant sy saad in die regte seisoen en weer. Die plantjies kom gou op. Met die regte versorging word hulle sterk en groot, bot en dra vrug. Geloof is dieselfde. Wanneer ’n persoon se hart reg is en die saad van geloof geplant word, moet hierdie geloof versorg word as dit moet groei. Wat is party maniere waarop dit gedoen kan word?
Die Bybel verduidelik dat geloof een van die nege vrugte van die heilige gees is (Galasiërs 5:22). En hoe ontvang ’n mens God se gees? Jesus het vir toehoorders in sy dag gesê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13). Vra God dus in gebed om sy gees! As jy God se gees het, sal geloof as ’n natuurlike gevolg ontwikkel.
Dit is ook belangrik om ’n hegte verhouding met Jehovah God aan te kweek. Dit beteken dat jy sy Woord pligsgetrou moet bestudeer en dit moet probeer gehoorsaam. Die psalmis het so ’n begeerte na God se Woord ontwikkel en gesê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). As dit vir jou waarlik ’n saak van erns is om God se Woord te gehoorsaam, begin jy die eienskappe van die Skepper navolg. God se gees begin vrug dra in jou lewe. Jy sal nie meer in die versoeking kom om verkeerd te doen nie, maar God se gees en ’n begeerte om ’n gelukkige verhouding met God te behou, sal jou die veragtelike “werke van die vlees” die rug laat toekeer.—Galasiërs 5:16, 19-21; Psalm 15:1, 2.
Namate jou waardering vir God en die waarheid toeneem, sal jy ook beweeg word om jou geloof met ander te deel. Omdat ‘geloof nie die deel van almal is nie’, kan hierdie verspreiding van God se waarheid jou blootstel aan aanvalle of bespotting (2 Thessalonicense 3:2; 2 Petrus 3:3, 4). Jy kan nietemin so seker wees van die grondslag van jou geloof dat jy soos die apostel Paulus sal kan sê: “Ek skaam my nie oor die evangelie . . . nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Romeine 1:16). Watter vreugde verskaf dit tog wanneer iemand gehoor gee aan hierdie boodskap en die groeikringloop weer van voor af begin! God maak sulke groei moontlik.—1 Korinthiers 3:5-9
Die voordele van geloof
Maar hoe help geloof ’n mens? Jesus Christus het in Johannes 3:16 op een duursame voordeel gewys: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dit is op sigself ’n wonderlike beloning vir geloof. Geloof in God se belofte om sy knegte met die ewige lewe te beloon, gee jou ’n vars perspektief van die lewe. Die beproewinge en probleme van die lewe lyk nie meer heeltemal so belangrik of oorweldigend nie. Jy is bevry van die filosofie van “laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons” wat hierdie genotsugtige wêreld oorheers (1 Korinthiërs 15:32). Selfs die dood lyk nie meer heeltemal so skrikwekkend wanneer jy ’n vaste geloof in ’n opstanding het nie.—Hebreërs 2:15; Lukas 12:4, 5.
Geloof help ons ook om ekonomiese druk die hoof te bied. “Wat gaan ons eet?” en “Wat gaan ons drink?” is vandag vir talle ’n groot bekommernis. Jesus het sy volgelinge egter gemaan om geloof te hê in God se vermoë om te voorsien. As jy sulke geloof het, kan jy ophou om jou oor sulke dinge ‘te kwel’ (Mattheüs 6:25-34). Sulke geloof spaar jou ook die smarte wat ’n gejaag na rykdom ongetwyfeld sal meebring.—1 Timotheüs 6:10.
Maar gestel ’n persoon het ’n ernstige probleem en het leiding nodig. Wat dan? Mense bestee miljoene rande aan selfhelpboeke en professionele voorligting. Hoewel sulke raad soms nuttig kan wees, lei ’n Christen se geloof hom tot ’n baie beter hulpbron. Jakobus sê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jakobus 1:5, 6). ’n Christen se geloof is die waarborg dat sulke goddelike hulp voorsien sal word. Hy huiwer nie om God op hierdie manier te nader nie, want ‘hy het die vrymoedigheid en die toegang met vertroue deur sy geloof in Christus’.—Efesiërs 3:12.
Soms lyk dit weliswaar moeilik—miskien selfs onmoontlik—om die leiding wat God ons gee deur te voer. Abraham het byvoorbeeld God se belofte ontvang dat hy en sy vrou ’n seun sou hê. In die lig van die feit dat hulle voortplantingsvermoëns dood was, het dit sinloos gelyk om hierdie kind te probeer hê. Maar Paulus sê: “Al was [Abraham] sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Romeine 4:19-21, NAV). Die beloning vir sulke geloof? Die seën om ’n seun te hê wat die lyn sou voortsit wat tot die Messias sou lei!
Hoewel God deesdae nie sulke regstreekse wonderwerke verrig nie, vind Christene vandag dat as hulle ‘nie in ongeloof begin twyfel nie’, hulle ook welslae kan behaal wanneer hulle God se leiding toepas. Jesus het gesê: “Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”—Markus 9:23.
Bewaar jou geloof
Geloof is derhalwe die sleutel om in hierdie moeilike tye te volhard. Maar ons moet dit noukeurig bewaar. As ons toelaat dat ons geloof verswak, kan ons vind dat ons sonder leiding in die lewe is. Ons kan slagoffers word van die sorge en probleme wat die mensdom in die algemeen teister. Laat ons dan, soos Jesus se dissipels, voortdurend om meer geloof vra (Lukas 17:5). Laat ons gereeld God se Woord studeer en met mense met soortgelyke geloof omgaan (Romeine 10:17). En laat ons ywerig deelneem aan die werk wat Jesus aan sy volgelinge opgedra het, naamlik om die “evangelie van die koninkryk” te verkondig.—Mattheüs 24:14.
Die feit dat hierdie werk nou in 203 lande gedoen word, behoort op sigself ons geloof te versterk, want dit toon dat die voorspelde “einde” naby is! Ons vind mense onder hierdie ywerige predikers, Jehovah se Getuies, wat die vrugte van God se gees openbaar. Hulle munt uit in geloof, maar ook in liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Hulle is lewende bewyse van hoe waardevol geloof is, want dit het hulle persoonlike lewens, gesinsverhoudinge en, bowenal, hulle verhouding met Jehovah God verryk.
In antwoord op Jesus se vraag: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” kan ons dus met vrymoedigheid sê: Ja, hy sal! (Lukas 18:8). Mag ons onder die baie wees wat daagliks die waarde van ’n lewende geloof toelig!
[Prent op bladsy 23]
Televisie- en radiogolwe is onsigbaar. Maar hulle uitwerking getuig van hulle bestaan
[Prent op bladsy 24]
Gebed is ’n kragtige middel om geloof op te bou