Insig in die nuus
New World Translation deurstaan die ondersoek
In die verlede het Bybellesers van een godsdiens vertalings wat deur ’n ander godsdiensgroep gedoen is met agterdog bejeën. Sulke wantroue is gewoonlik ongegrond, beweer teoloog C. Houtman in Nederlands Theologisch Tijdschrift (Nederlandse Teologiese Tydskrif). Na ’n oorsig van hierdie vertalings meen hy dat daar selde gedeeltes is wat “die vertalers se kerklike of politieke en maatskaplike beskouing” weerspieël. Hoewel dit merendeels die geval is, is daar sommige gevalle waar Bybelvertalers hulle godsdiensvooroordeel deur hulle weergawes laat blyk. Party hedendaagse vertalers het byvoorbeeld die persoonlike naam van God heeltemal uit hulle werke gelaat. Ander het die woord Gehenna verkeerdelik as “helse vuur” vertaal. Maar as iemand ’n deel van die Bybel se inhoud opsetlik verander of uitlaat, is hy op gevaarlike grond. Een Bybelboek waarsku: “As iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe.”—Openbaring 22:19.
In plaas van God se naam uit die Bybel te verwyder, het die New World Translation of the Holy Scriptures dit behou—7 210 keer. Kopieë van die Bybel se grondteks verskaf ’n grondslag hiervoor. Houtman sê omtrent vertalers se vooroordeel: “Die New World Translation van die Jehovasgetuies kan die beoordeling deurstaan.”
Mensgemaakte hongersnood
Die droogte en hongersnood in Afrika het meer as ’n jaar lank groot aandag getrek. Maar die groot lewensverlies is nie iets nuuts vir daardie vasteland nie. “Ethiopië se droogte het in 1981 begin”, sê navorser Lloyd Timberlake in die tydskrif The Middle East. “Tsjad is 10 jaar lank deur droogte geteister, Kaap Verde omtrent 15 jaar lank. Maar die ramphulp begin en hou op, en is gebaseer op koerantberigte eerder as op ware mensebehoeftes.” Timberlake werp die grootste blaam vir Afrika se voedselpenarie op mense en nie die natuur nie. Hy wys op “onverstandige regerings en dwase hulp- en ontwikkelingsbeleide” as die grootste oorsake van verdeeldheid tussen die vernaamste beleidsbepalers, wat stadsamptenare is, en die plattelanders, wat die slagoffers is.
Dit is nie iets nuuts dat die mensdom homself benadeel nie. Sowat 3 000 jaar gelede het die Bybelskrywer koning Salomo gesê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Wanneer goddelike beginsels nie in ag geneem word nie, sal die mens se planne, onder meer die voorsiening van genoeg voedsel vir die verhongerdes, uiteindelik misluk weens menslike selfsug of onkunde. Die Bybel som menslike wysheid in vergelyking met God s’n goed op: “Baie planne is in ’n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.”—Spreuke 19:21.
Hartchirurgie op kinders
Jehovah se Getuies weier bloedoortappings om godsdienstige redes. ‘Onthou julle van bloed’, beveel die Bybel (Handelinge 15:20). Bring hierdie Skriftuurlike standpunt ontbering mee wat die gesondheidsorg van hulle kinders betref? Nee. Die artikel: “Hartoperasie vir aangebore hartkwaal in kinders van Jehovah se Getuies” in The Journal of Thoracic and Cardiovascular Surgery vir Junie 1985 het byvoorbeeld gesê: “Hartoperasies en kardiopulmonale omlyning kan met veiligheid sonder bloedoortappings op kinders uitgevoer word.”
Die artikel sê: “Oor ’n tydperk van 20 jaar wat in Junie 1983 geëindig het, is 110 kinders, van 6 maande tot 12 jaar oud, wie se ouers Jehovah se Getuies is, by die Texas-Hartinstituut geopereer om aangebore hartkwale deur kardiopulmonale omlyning reg te stel.” Hoewel die artikel nie statistiek hieroor voorsien het nie, het die chirurge gesê dat hulle meen “dat kinders van Jehovah se Getuies gewoonlik net so goed of beter vaar” as diegene wat oortappings ontvang het.
Dit is interessant dat nadat hulle die dinge gemeld het waarvan Christene hulle moet onthou—onder andere bloed—die apostels en ouer Christene geskryf het: “Indien julle julle noulettend van hierdie dinge weghou, sal julle voorspoedig wees. Ons wens julle goeie gesondheid toe!”—Handelinge 15:29, NW.