Put vertroosting uit God se Woord
JEHOVAH is “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons vertroos in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 1:3, 4). Ons moet ons derhalwe tot hom en sy Woord wend om ware vertroosting en bemoediging in tye van benoudheid te verkry.—Romeine 15:4.
As ons getrou is aan God, sal hy ‘ons nooit begewe of verlaat nie’. Ons kan met vertroue sê: “[Jehovah] is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5, 6; Psalm 37:39, 40; 145:20). Daarom hoef ons beslis nie terneergedruk of mismoedig te wees selfs wanneer ons swaar beproewing ondergaan nie.
As deel van sy groot profesie wat in ons tyd vervul word, het Jesus gesê: “Julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.” Maar net daarna het Jesus bygevoeg: “En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie” (Lukas 21:16-18). Hoe kan dit wees? Danksy die opstanding, dieselfde hoop wat Paulus onderskraag het (Johannes 5:28, 29; 2 Korinthiërs 1:9, 10). Is dit nie vertroostend om te weet dat selfs die dood nie ons wonderlike hoop vir die toekoms kan wegneem nie?
Dink aan die vertroosting wat hierdie hoop en die versekering van God se bystand kan bring aan vervolgde Christene wat fisiese marteling verduur, aan diegene wat gebreklik en vermink is weens wreedhede, aan godvrugtige vroue wat verkrag is, aan ouers wat gewelddadig van hulle kinders geskei is. Ja, in Jehovah se Woord vind ons talle woorde van vertroosting en versekering wat ons rede gee om selfs onder verdrukking vreugdevol te wees.—Mattheüs 5:10-12.
Onthou die beloning
Wanneer ons teenspoed en beproewing ondergaan, moet ons onthou dat niks met ons gebeur wat nie met ander getroue knegte van Jehovah gebeur het nie. Ons kan die Duiwel se pogings om ons te laat ophou om Jehovah te dien, weerstaan as ons ag slaan op die apostel Petrus se aansporing: “[Die Duiwel] moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:9). Ja, ander Christene verduur soortgelyke beproewinge ter wille van die goeie nuus en hulle doen dit sonder om kompromisse aan te gaan. Ons kan dit ook doen.
Ons moet nie net let op diegene wat standvastig gebly het nie, maar ook op die beloninge wat hulle ontvang het. Ter toeligting: Satan, wat daarop uit was om te bewys dat Job Jehovah slegs om selfsugtige redes gedien het, het die een ramp na die ander oor hierdie man van God gebring. Eers is sy diere vernietig, toe sy dienaars en laastelik selfs sy tien kinders. Satan was nie daarmee tevrede nie en het Job “met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel” (Job, hoofstuk 1 en 2). Het Job sy onkreukbaarheid teenoor God prysgegee as gevolg van hierdie rampe?
Nee, hy het nie. Maar wat van die beloning? Wel, Jehovah het Job se gesondheid herstel, hom “dubbel soveel” besittings as voorheen gegee en ’n lang, bevredigende lewe vergun (Job 42:10-17). Benewens hierdie beloninge is daar die baie groter beloning van ’n opstanding met die vooruitsig op die ewige lewe op ’n paradysaarde (Job 14:13-15). Job se ondervinding vertroos en versterk ongetwyfeld lydende Christene vandag.
“Jehovah help”
Beskou nou die geval van ’n Christin wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie jare van lyding in konsentrasiekampe in Duitsland verduur het. Benewens verskriklike toestande, wrede vervolging en ontberinge is sy vyf jaar lank van haar man en kind weggehou sonder dat sy geweet het wat van hulle geword het. Uiteindelik is sy, na jare van getroue volharding, met haar man en kind herenig, en al drie dien Jehovah sedertdien getrou. Let op wat sy oor haar ondervinding sê:
“Die jare in Duitse konsentrasiekampe het my ’n besondere les geleer. Dit is hoe kragtig Jehovah se gees jou kan versterk wanneer jy onder uiterste beproewing verkeer! Voor ek in hegtenis geneem is, het ek ’n suster se brief gelees waarin sy gesê het dat wanneer jy swaar beproef word Jehovah se gees kalmte oor jou bring. Ek het gedink dat sy sekerlik ’n bietjie oordryf het. Maar toe ek self beproewinge ondergaan het, het ek geweet dat wat sy gesê het waar was. Dit is werklik wat gebeur. Dit is moeilik om jou dit voor te stel as jy dit nie ervaar het nie. Maar dit het werklik met my gebeur. Jehovah help.”
Vertroos en versterk hierdie betuigings jou nie? Omdat sy haar onkreukbaarheid ondanks beproewing gehandhaaf het, sien hierdie Christin, saam met haar gesin, daarna uit dat haar hoop op die ewige lewe verwesenlik sal word (Hebreërs 10: 39). Wat ’n wonderlike beloning vir getrouheid!
Hoe het ons dierbare broer Paulus gevoel nadat hy jare lank beproewinge verduur het? Mismoedig? Terneergedruk? Glad nie! Hy was vol vertroue en hoop, bly dat hy volhard het. “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou”, het Paulus gesê. “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in die dag [as beloning] sal gee” (2 Timotheüs 4:7, 8, vgl. NW). Paulus het nie van sy weg afgewyk nie en het sy hemelse beloning ontvang (Filippense 3:4-14). Wie word nie deur so ’n goeie voorbeeld vertroos nie? Mag ons eweneens teenspoed verduur, vertroosting uit die Skrif put en getrou bly aan ons liefdevolle God, Jehovah.
[Prent op bladsy 7]
Job se ondervinding versterk Christene wat vandag ly