Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 9/15 bl. 4-5
  • Hoe jy teenspoed kan verduur

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy teenspoed kan verduur
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lyding en vervolging​—Waarom?
  • Wanneer vervolging wreed is
  • “Laat die volharding sy werk voltooi”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Volharding—noodsaaklik vir Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • “Die God van vrede” is besorg oor dié wat beproewing verduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 9/15 bl. 4-5

Hoe jy teenspoed kan verduur

“DEUR julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.” Jesus Christus het daardie woorde gespreek toe hy sy profesie oor “die tyd van die einde” gegee het (Lukas 21:19; Daniël 12:4). In sy verklaring kom twee punte na vore: (1) Volharding is noodsaaklik as ons wil hê dat ons lewe gered moet word, en (2) dit is moontlik om te volhard.

Maar hoe kan jy volhard? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers weet waarom Jehovah toelaat dat sy knegte ly en vervolg word.

Lyding en vervolging​—Waarom?

Die vernaamste rede is dat Satan die regmatigheid en regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit bevraagteken het (Genesis 3:1-19). Jehovah het gereël om hierdie uitdaging ter wille van sy naam en ter wille van ander te aanvaar.

Jehovah laat ook sy volk ly om redes wat vir ons baie voordelig kan wees as ons sulke beproewing in die regte lig beskou. Wanneer ons byvoorbeeld onder beproewing volhard sonder wrewel oor ons teenspoed, bewys ons dat ons geloof eg is, die soort geloof wat God behaag (1 Petrus 1:6, 7; Hebreërs 11:6). Maar beproewing kan ook persoonlikheidsgebreke soos trots, ongeduld en gemaksug openbaar. Met behulp van God se gees kan ons ons daarop toelê om sulke karaktertrekke te bowe te kom en ons in ’n groter mate ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee’.​—Kolossense 3:9-14, NW.

Die psalmis het hierdie gedagte vir ons baie goed weergegee: “Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer” (Psalm 119:71). Wat ’n goeie beskouing van beproewing tog! Geen gekla of murmurering nie. Geen selfsugtige bekommernis oor persoonlike verlies waartoe die beproewing kon gelei het nie. Daar is eerder die verstandige besef dat wat Jehovah die psalmis laat ervaar het hom kon help om Jehovah se insettinge meer te waardeer. Laat ons toe dat lyding dieselfde uitwerking op ons het?

Die apostel Paulus het baat gevind by die verdrukking wat hy in Asië ondervind het. Eerstens, hierdie teenspoed het hom meer op Jehovah laat steun. Dit het ook die apostel se geloof in die opstanding onderstreep, want hy het sy ontberinge met algehele vertroue in die “God wat die dode opwek”, verduur (2 Korinthiërs 1:8-10). Ja, Paulus het baat gevind by sy volharding onder lyding.

Dieselfde geld vir daardie Christene wat vandag die regte beskouing van beproewing het. In Zimbabwe, ’n land wat eens deur guerrilla-oorlog geteister is, is ’n gemeente van Jehovah se volk na ’n beskermde stat verskuif. Elk van die drie aangestelde ouere manne in die gemeente het weens die oorlogstoestande ’n kind aan die dood afgestaan. Die plaaslike mense het boonop groot druk op hierdie Christenouers uitgeoefen om hulle geloof te verloën deur die geeste wat glo vertoorn is te paai. Hoe het die ouere manne hieroor gevoel? Een van hulle het namens al drie gesê: “Terwyl die nasie oorlog voer, is ons ook in ’n oorlog met die bose geeste gewikkel. Ons het ’n voordeel bo die vyand [bose geesmagte] in sover dat ons ’n hoop, ’n lewende hoop, het. Al sterf ons dus ook in die stryd, sal ons opgewek word mits ons getrou aan Jehovah sterf. Ons sal die vyand oorwin het.” Hierdie drie getroue manne het nooit Jehovah se mag om hulle te verlos uit die oog verloor nie. As ons let op hulle ferme standpunt, moet ons ook daarvan oortuig wees dat ons kan volhard!

Wanneer vervolging wreed is

‘Maar gestel die vervolging is wreed en wrede martelmetodes word gebruik. Wat dan?’ vra jy dalk. ‘Kan ons selfs dan volhard en nie faal in ons geloof nie?’ Wel, vroeë Christene kon vreeslike mishandeling verduur sonder om hulle geloof prys te gee.

’n Hedendaagse Christen wat in ’n afgesonderde buitedistrik van Zimbabwe woon, het eweneens volkome geloof in Jehovah geopenbaar. By een geleentheid was hy alleen, want sy vrou het hulle getroude dogter gaan besoek. Hy is skielik bygedam deur gewapende mans wat valse aantygings gemaak het weens sy Christelike standpunt. Nadat hulle hom erg geslaan het, het hierdie mans vuurwarm bakstene tussen sy bene vasgemaak en hom ook gedwing om op sulke bakstene te loop. Toe het hulle hom gelos om te sterf. Omdat die skielike verandering in toestande in die gebied reis onmoontlik gemaak het, was sy vrou nie bewus van sy benarde toestand nie. Bure is op straf van die dood beveel om hom nie te help nie. Hy was dus drie maande lank alleen in hierdie toestand, en het elke dag verwag om te sterf.

Hierdie lydende Christen kon hom aan die lewe hou met ’n voorraad water en mieliemeel in sy huis. Maar as gevolg van die mishandeling kon hy nie loop nie. Toe die voorraad vuurmaakhout klaar was, moes hy dus sy meubels breek en dit gebruik om vuur te maak om op te kook. Die water het vol roes en wurms geword. Sy brandwonde het aanhou sweer.

Dit was die broer se toestand toe sy vrou eindelik drie maande later teruggekeer het huis toe. Stel jou voor hoe sy gevoel het toe sy hom sien! Sy het onmiddellik gereël om hom by ’n hospitaal te kry. Om dit te doen, moes sy hom in ’n kruiwa tot by die naaste bushalte stoot en van daar af moes sy hom in die dorp kry waar daar ’n hospitaal was. Hy is drie weke later uit die hospitaal ontslaan en het na sy dogter se huis gegaan waar hy geestelike hulp en aansporing van lede van die gemeente van Jehovah se Getuies in daardie gebied ontvang het.

Wat het hierdie lojale voorstander van God se Koninkryk gehelp om hierdie wrede mishandeling te verduur? Hy was drie maande lank heeltemal alleen. Hy het verwag om te sterf. Maar toe daar vir hom gevra is hoe hy gedurende hierdie beproewing gevoel het, het hy geantwoord: “Ek het gevoel dat Jehovah die heeltyd met my was.” Daar was geen klagtes teen sy vervolgers of ’n geweeklaag oor wat met hom gebeur het nie​—net die vaste oortuiging dat Jehovah nooit sy getroue knegte verlaat nie.​—Psalm 37:28.

Ja, Christene kan volhard. Hulle weet dat as Jehovah verdrukking toelaat dit nut stig en dat volharding moontlik is. God se Woord en die ondervinding van ander verseker ons hiervan (Mattheüs 24:13). Maar wanneer ons beproewinge verduur, moet ons dikwels vertroos word, nie waar nie? Waartoe moet ons ons egter vir sulke vertroosting wend?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel