Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 7/1 bl. 18-23
  • Jehovah se goedheid “aan die einde van die dae”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se goedheid “aan die einde van die dae”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se goedheid
  • Patriargale advies
  • Toestroming na God se huis
  • In hierdie gewelddadige wêreld
  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jehovah—Die voortreflikste voorbeeld van goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die verbasende omvang van God se goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Hoe groot is sy goedheid tog!”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 7/1 bl. 18-23

Jehovah se goedheid “aan die einde van die dae”

“Kom laat ons optrek na die berg van die HERE.”​—JESAJA 2:3.

1, 2. (a) Watter ernstige gevaar, bedreig die mensdom vandag? (b) Wat sê wêreldleiers oor Armageddon?

“DIE EINDE VAN DIE DAE.” Waarom kom hierdie uitdrukking herhaaldelik in Bybelprofesie voor? Beteken dit dat die mensdom se dae getel is en dat ons aarde en alle lewe daarop uiteindelik tydens ’n wereldramp tot niet sal gaan? Wêreldleiers praat dikwels met vrees van so ’n moontlikheid. In ’n televisie-onderhoud op 13 Januarie 1985 het die Russiese minister van buitelandse sake, Andrei Gromyko, byvoorbeeld die inwoners van die Sowjet-Unie gewaarsku dat “’n ernstige gevaar, ’n ernstige bedreiging oor die ganse mensdom hang”. Hy het bygevoeg: “Ons moet alles in ons vermoë doen om daardie bedreiging uit die weg te ruim, sodat die Armageddon waarmee die mense al eeue lank bang gemaak word, nie sal plaasvind nie.”

2 President Ronald Reagan van die Verenigde State het ook al by verskeie geleenthede van Armageddon gepraat. Die New Yorkse Daily News van 30 Oktober 1983 het hom soos volg aangehaal: “Ek dink aan die aloue profete van die Ou Testament en die tekens wat Armageddon voorspel, en ek kan nie anders as om te wonder of​—of ons die geslag is wat daardie dinge gaan sien gebeur nie.” Korter gelede, op 8 Februarie 1985, het The Wall Street Journal berig: “President Reagan sê dat hy oor Armageddon dink en daarvan praat, . . . maar hy berei nie daarvoor voor nie.”

3. (a) Wat is Armageddon werklik? (b) Wat word bedoel met “die einde van die dae”?

3 Ja, wêreldleiers praat van Armageddon. Maar weet hulle wat daardie Bybelwoord beteken? Blykbaar nie, want Armageddon is geen mensgemaakte slagting nie. Dit is God se universele oorlog waartydens hy en sy Medekoning, Jesus Christus, oordeel gaan voltrek aan goddelose nasies en goddelose mense. Dit sal die klimaks wees van “die einde van die dae” (Daniël 10:14; Openbaring 16:14, 16). En wat moet ons onder “die einde van die dae” verstaan? Ander vertalings gee hierdie uitdrukking weer met “die finale deel van die dae” en “die laaste van die dae” (NW, AB). Die Hebreeuse woorde wat so vertaal word, is ’a-garitʹ haj-ja-mimʹ. Volgens die Theological Dictionary of the Old Testament beteken dit dikwels “Die Eindtyd” en dui dit nie net op die toekoms nie, maar op “die afloop van die geskiedenis, dit wil sê, die uitslag daarvan”.

4. Hoe sal die “Eindtyd” sy hoogtepunt bereik, en wat sal die uitslag wees?

4 Die mensdom lewe al sowat 70 jaar in “die voleinding van die stelsel”, wat deur Jesus in Mattheüs 24:3-25:46 voorspel is. (Vergelyk NW.) Hierdie tydperk wat in 1914 begin het, is die “Eindtyd” waartydens gebeure progressief na ’n hoogtepunt beweeg. Daardie hoogtepunt sal die “groot verdrukking” wees, wanneer Satan se hele bose organisasie vernietig word (Mattheüs 24:21, 22). Die wonderlike uitslag sal die regverdiging van Jehovah se heilige naam wees.​—Esegiël 38:16, 23.

Jehovah se goedheid

5. Watter bemoedigende woorde vind ons in Hosea 3:5?

5 Jehovah is ’n God van bemoediging. Watter wonderlik stimulerende gedagtes het hy tog nie in sy Woord, die Bybel, laat opteken nie! Een so ’n gedagte is die in Hosea 3:5, wat lui: “Daarna sal die kinders van Israel terugkeer en Jehovah hulle God soek, en Dawid hulle koning; en hulle sal hulle met vrees tot Jehovah en tot sy goedheid wend, aan die einde van die dae.”​—Darby.

6. Hoe verskil geestelike Israel van die Christendom se sektes?

6 ’n Oorblyfsel van Israel het in 537 v.G.J. uit gevangenskap in Babilon teruggekeer om die aanbidding van Jehovah in Jerusalem te hervat. In die nuwe tyd, in 1919, het die gesalfde oorblyfsel van die geestelike Israel eweneens ‘teruggekeer’ uit gevangenskap in Satan se organisasie en opreg ‘Jehovah hulle God gesoek’. Hoe anders as die afvallige sektes van die Christendom! Nie een van hulle wil Jehovah as “hulle God” erken nie. In plaas van ‘Jehovah te soek’, vermy hulle geheel en al die gebruik van sy naam.

7. Hoe het Jehovah se volk sy naam geeer?

7 Vroeg aan “die einde van die dae” het die uitdagende artikel “Wie sal Jehovah eer?” in The Watch Tower van 1 Januarie 1926 verskyn. Die herversamelde oorblyfsel van geestelike Israel het lojaal aan daardie oproep gehoor gegee, en in 1931 het hulle met blydskap die naam Jehovah se Getuies aangeneem (Jesaja 43:10, 12). Tot vandag toe hou hulle die naam Jehovah prominent aan die bewoners van die aarde voor. Trouens, in 1983 het hulle die aantreklike brosjure ‘Laat u Naam geheilig word’​—Watter naam? gepubliseer, en die volgende jaar het dit by die miljoene eksemplare in baie tale verskyn onder die titel The Divine Name That Will Endure Forever.

8, 9. (a) Hoe ‘soek’ die geestelike seuns ‘Dawid hulle koning’? (b) Wanneer en waar is die Koning gekroon? (c) Hoe het Jehovah se volk tot ’n insig van hierdie saak gekom?

8 Maar Hosea het ook voorspel dat hierdie geestelike seuns ‘sou terugkeer en Dawid hulle koning sou soek’. Vleeslike Israel het nooit weer ’n koning gehad nadat die Dawidiese dinastie in 607 v.G.J. omvergewerp is nie. Daarmee het 2 520 jaar van goddelose heerskappy begin​—“die tye van die nasies”, of die Heidense Tye (Lukas 21:24; Daniël 4:16). Maar in 1914, toe “die einde van die dae” begin het, het God die Een wat deur Dawid afgeskadu is​—Jesus Christus—​as Koning in Sion, die “hemelse Jerusalem”, gekroon.—​Hebreërs 12:22; Psalm 2:6.

9 Jehovah se volk op aarde het nie dadelik al hierdie dinge verstaan nie. Hulle gesoek na ‘Dawid ons koning’ het egter ’n hoogtepunt bereik toe The Watch Tower van 1 Maart 1925 die artikel “Die geboorte van die nasie” gepubliseer het. Daarin is afdoende bewys, gegrond op Openbaring hoofstuk 12, voorgelê dat Jehovah se Messiaanse Koninkryk in 1914 in die hemel gebore is en dat Christus nou ‘te midde van sy vyande heers’.​—Psalm 110:1, 2; 2:1-6.

10. (a) Wie wend hulle “met vrees tot Jehovah”, en hoe? (b) Waarom is “die vrees van die HERE” vandag so belangrik?

10 Die gesalfde oorblyfsel, en trouens almal wat hulle aan Jehovah toegewy het, is pynlik bewus van hulle vroeëre sondes. Hulle wend hulle nederig “met vrees tot Jehovah” en vra om vergifnis vir hulle sondes van die verlede. En nou, namate “die einde van die dae” sy klimaks nader, is liefhebbers van Jehovah des te versigtiger om nie teen God en sy regverdige wette te oortree nie. Ons moet aanhou om ons “met vrees” tot Jehovah te wend en ons liggame te kasty sodat ons redding kan vind in God se Nuwe Orde (1 Korinthiërs 9:27). Ons moet altyd onthou: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid.”​—Psalm 111:10.

11. (a) In watter opsigte is Jehovah goed? (b) Waarom moet ons ons ‘met vrees tot Jehovah se goedheid wend’?

11 Maar hoe kan ons ons “met vrees . . . tot sy goedheid wend”? Jehovah is in elke opsig goed. Hy is die beliggaming van sedelike voortreflikheid. Hy is volkome en voorsien in al ons behoeftes. Daarom kan ons met vertroue se soos Dawid gesê het: “[Jehovah] is my herder; niks sal my ontbreek nie. . . . Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe” (Psalm 23: 1-6). Nou, en tot aan die klimaks van “die einde van die dae”, moet ons ons ‘met vrees tot Jehovah se goedheid wend’, vol vertroue dat ons sondes bedek sal word deur die kosbare offerande van sy Seun, Jesus (1 Johannes 2:1, 2). Met dankbaarheid sê ons: “[Jehovah], . . . Hoe groot is U goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees.”​—Psalm 31:18, 20.

12. (a) Hoe kan ons Jehovah se goedheid navolg? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons dit doen?

12 Mag ons, namate Satan se wêreld al dieper in die moeras van boosheid wegsak, Jehovah se goedheid navolg deur die goeie nuus van die Koninkryk aan ons naaste bekend te maak en deur godvrugtige eienskappe in ons lewens te openbaar. Mag ons werklik die vrugte van die gees, met inbegrip van goedheid, in al ons verhoudinge aankweek​—in ons gesinne, in ons gemeentes en in ons kontak met mense van die wêreld (Galasiërs 5:22; Psalm 119:65-68). Dit is noodsaaklik as ons “die einde van die dae” wil oorleef.

Patriargale advies

13. a) Wie kan vandag baat vind by Jakob se sterfbedprofesie? (b) Watter raad is in daardie profesie vervat?

13 Nagenoeg 3 700 jaar gelede het die patriarg Jakob (ook Israel genoem) ’n sterfbedprofesie uitgespreek. Hy het vir sy 12 seuns, die stamhoofde van Israel, gesê: “Kom by mekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” Sy woorde is vandag van toepassing op die oorblywende lede van geestelike Israel en by uitbreiding op hulle metgeselle, die “ander skape”. Geeneen van hulle kan Jehovah se sedelike standaarde ongestraf negeer, soos Ruben gedoen het, of plek laat vir gewelddadige geaardhede soos die van Simeon en Levi nie. Hulle moet eerder eienskappe soos moed, vertroue op Jehovah en vrugbaarheid aankweek, soos deur ander seuns van Israel geopenbaar.​—Genesis 49:1, 3-7, 9, 18, 22; Johannes 10:16; vergelyk 2 Petrus 1:8-11.a

14. Watter twee verwante profesieë oor die “Eindtyd” bevat raad vir die “ander skape” in die besonder?

14 Spesifieke raad word egter aan die “ander skape” gegee wat die vooruitsig het om die “Eindtyd” te oorleef. Ons vind dit, asof vir nadruk, in twee ooreenstemmende Bybelprofesieë, in Jesaja 2:2-5 en Miga 4:1-5.

Toestroming na God se huis

15. (a) Hoe word Jesaja 2:2 vervul? (b) Watter verskil sien sagmoediges nou, en hoe reageer hulle?

15 Jesaja 2:2 lui: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Dit is nou al meer as 50 jaar, sedert 1935, dat hierdie “skatte van al die nasies” na ‘die huis van Jehovah se aanbidding’ versamel word en dit “met heerlikheid vervul”. Dit wil voorkom of hierdie ‘toestroming’ versnel namate “die einde van die dae” immer nader beweeg aan sy klimaks. Die simboliese berg van Jehovah se reine aanbidding word prominenter, sodat sagmoedige mense kan sien hoe dit verskil van die sektariese “heuwels” en “berge” van Satan se permissiewe wêreld. Hulle “gaan uit” valse godsdiens uit en vlug in toenemende getalle na Jehovah se berg van aanbidding.​—Haggai 2:7; Openbaring 18:2, 4, 5; Psalm 37:10, 11.

16. (a) Aan watter oproep gee sagmoediges nou gehoor? (b) Hoe vervul Jehovah sy belofte om ‘dit gou te laat kom’?

16 Hierdie sagmoediges gee gehoor aan die oproep in Jesaja 2:3: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Jehovah vervul alreeds sy belofte om “dit op die regte tyd gou [te] laat kom” (Jesaja 60:22). ’n Toenemende “groot menigte . . . uit alle nasies” stroom na Jehovah se aanbidding toe. In 1982 is 138 540 van hulle gedoop, in 1983 161 896 en in 1984 179 421. Hulle wil deur “die einde van die dae” heen gered word.​—Openbaring 7:9, 14.

17. (a) Hoe kan nuwe Getuies waardering toon vir Jehovah se goedheid? (b) Aan watter positiewe bevele moet ons almal gehoorsaam wees?

17 Hierdie nuwe Getuies waardeer die goedheid wat Jehovah aan hulle bewys het deur hulle na die lig van die waarheid te lei, en hulle wil opreg aan ander goedheid bewys. Hulle verwelkom die onderrigting wat Jehovah deur sy Woord en sy organisasie verskaf. Die Wet van Moses het talle verbooie bevat, en die Israeliete moes hulle tereg daaraan onderwerp. (Kyk Exodus 20:3-17.) Maar die twee groot gebooie vir Christene, soos deur Jesus gekonstateer, is positiewe bevele om ‘Jehovah ons God uit ons hele hart en uit ons hele siel en uit ons hele verstand lief te hê, en om ons naaste lief te hê soos onsself (Markus 12:29-31). Jehovah se Getuies gee nou eendragtig gehoor aan “die wet” wat God uit die “hemelse Jerusalem” laat uitgaan, en hulle pas die regverdige beginsels daarvan toe.

18. (a) Watter soort reëls moet ons nakom? (b) Watter nut het dit om heilsame reëls te gehoorsaam?

18 Dit beteken egter nie dat Jehovah se volk vry is van alle reëls nie. Die apostel Paulus vermaan ons: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Korinthiërs 14:40). ’n Paar reëls is moontlik by ons Koninkryksale nodig, byvoorbeeld om elektrisiteit te bespaar of om te verhinder dat jong kinders God se huis van aanbidding na vergaderinge as ’n speelterrein gebruik. Gesinshoofde moet sekere ordelike reëlings tref, soos om te sorg dat die daaglikse Bybelteks gereeld in die huis bespreek word. In Bethelgesinne is daar reëls, soos die vereiste dat lede van die gesin die goeie nuus versier deur hulle beskeie kleredrag en voorkoms (1 Timotheüs 2:9). Die “boeke” wat gedurende Jesus se Duisendjarige Heerskappy geopen gaan word, sal ongetwyfeld reëls bevat wat die mensdom tot voordeel strek. Dit is goed om nou al daaraan gewoond te raak om heilsame reëls te gehoorsaam wat gemaak word ter wille van ordelikheid en uit bedagsaamheid teenoor ander.​—Openbaring 20:12; 1 Korinthiers 10:24; Filippense 2:3, 4.

In hierdie gewelddadige wêreld

19, 20. (a) Hoe het Jehovah se volk gereageer op die beginsel in Miga 4:3? (b) Hoe strek dit hulle gedurende “die einde van die dae” tot voordeel?

19 Ons nader nou vinnig die tyd wanneer elke man se hand “hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sagaria 14:13). Hoe reageer Jehovah se volk terwyl die wêreld al hoe wetteloser en gewelddadiger word? Hulle tree op in ooreenstemming met Miga 4:3, wat lui: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse.” Jehovah se Getuies verwerp alle geweld. “Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Dit sal ongetwyfeld aanhou om hulle gedurende “die einde van die dae” tot voordeel te strek. Dit is reeds die geval.

20 Toe Die Wagtoring van 15 Julie 1983 byvoorbeeld daarop gewys het dat Christene nie vuurwapens behoort te hê nie, het Jehovah se Getuies in Nieu-Caledonië van hulle vuurwapens ontslae geraak. Kort daarna het ’n plaaslike politieke groep ’n dorp deurgesoek en al die huise afgebrand waar hulle vuurwapens gevind het. Maar geen Getuie se huis is verwoes nie. Openlike neutraliteit is dikwels die beste verweer, soos bewys is in Noord-Ierland, Libanon, Zimbabwe en ander lande.

21. (a) Aan watter oproep moet ons gehoor gee, en watter besluit moet ons neem as ons waarlik gelukkig wil wees? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons Jehovah se goedheid ontvang?

21 Gelukkig is ons as ons gehoor gee aan die oproep in Jesaja 2:5: “Kom, . . . laat ons wandel in die lig van [Jehovah]!” Gelukkig ook is almal wat hulle vereenselwig met die vaste besluit wat deur die profeet Miga uitgespreek is. Na ’n beskrywing van die paradysagtige veiligheid en vrede wat onder God se volk heers, sê hy: “Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar ons sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.” Jehovah sal gewis sy goedheid bewys teenoor almal wat aanhou om hom in eenheid en vrede te dien sodat hulle “die einde van die dae” kan oorleef.

[Voetnote]

a Kyk Die Wagtoring se nommers van 1 en 15 September 1962 vir ’n breedvoerige bespreking van Jakob se profesie.

Vrae ter opsomming

◻ Wat verstaan jy onder “die einde van die dae”?

◻ Hoe kan ons ons “met vrees tot Jehovah en tot sy goedheid wend”?

◻ Watter raad het Jakob in sy sterfbedprofesie gegee?

◻ Watter positiewe stappe kan ons in ooreenstemming met Jesaja 2:2-5 en Miga 4:1-5 doen?

[Prent op bladsy 20]

Hosea moedig ons aan om Jehovah se goedheid na te volg

[Prent op bladsy 21]

Jakob beskryf gewenste en ongewenste eienskappe

[Prent op bladsy 22]

Jesaja nooi ons om te ‘wandel in die lig van Jehovah’

[Prent op bladsy 23]

Miga spoor ons aan om vir ewig ‘in Jehovah se naam te wandel’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel