Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 8/15 bl. 13-18
  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se goedheid
  • Goedheid word weerspieël in die skepping
  • Die mens se val en verlossing
  • God se goedheid vandag
  • Die verbasende omvang van God se goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Jehovah—Die voortreflikste voorbeeld van goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Hoe groot is sy goedheid tog!”
    Kom nader aan Jehovah
  • “Leer my goedheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 8/15 bl. 13-18

Die oorvloedige goedheid van Jehovah

“Hoe oorvloedig is u goedheid, wat u as ’n skat weggelê het vir dié wat u vrees!”—PSALM 31:19, NW.

1, 2. (a) Watter ontsaglike werk het Jehovah in die verre verlede aangepak? (b) Hoe het Jehovah die resultaat van sy skeppingswerke beskryf?

LANK gelede het God ‘die hemel as sy troon en die aarde as sy voetbank’ begin skep (Jesaja 66:1). Die goddelike verslag openbaar nie wanneer dit plaasgevind het nie. Dit sê eenvoudig: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Gedurende die skeppingstydperk is miljoene der miljoene galaktiese stelsels gevorm, waarvan baie uit duisendmiljoene sterre bestaan. Aan die buiterand van een so ’n galaktiese stelsel is ’n helder ster waarom ’n paar betreklik klein, donker planete wentel. Een van hulle is die aarde genoem. In vergelyking met die groot, helder sterre was die aarde onbeduidend. Nogtans was dit Jehovah se voorneme dat die aarde sy voetbank moes wees.

2 Jehovah het dus sy skeppingsvermoëns op die planeet Aarde toegespits. “Die Eersgeborene van die hele skepping” was langs hom as ’n Meesterwerker terwyl hierdie klein, donker massa gedurende die loop van ses lang skeppings-“dae” ’n verandering ondergaan het. Dit het in figuurlike sin ’n geskikte rusplek vir God se voete geword (Kolossense 1:15; Exodus 20:11; Spreuke 8:30, NW). Dit was God se voorneme om híér ’n nuwe vorm van intelligente lewe te plaas: die mens. Die eerste mensepaar, wat geskep is uit elemente wat in die grond gevind word, is in ’n lieflike, paradysagtige omgewing geplaas (Genesis 1:26, 27; 2:7, 8). Die eindresultaat van hierdie voortreflike skeppingsdaad was so volmaak, so pragtig, dat die Bybel God se gevoelens op die oggend—die laaste deel—van die sesde skeppingsdag bekend maak: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.”—Genesis 1:31.

God se goedheid

3. Watter besondere eienskap van God word in die skepping geopenbaar?

3 Duisende jare later het ’n afstammeling van daardie eerste mensepaar ’n terugblik gewerp op die skepping en geskryf: “[God se] onsigbare dinge [“eienskappe”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Romeine 1:20). Ja, die skitterende voortreflikheid van die aarde en van die skepsele daarop was inderdaad ’n wonderlike weerspieëling van God se onsigbare eienskappe—wat beslis God se oorvloedige goedheid insluit. Hoe gepas is dit dan dat God gesê het alles wat hy geskep het, is goed!—Psalm 31:19, NW.

4, 5. Wat is goedheid?

4 Goedheid is die sesde aspek van die vrug van God se gees wat deur die apostel Paulus in Galasiërs 5:22 (NW) beskryf word. Vorige studies in Die Wagtoring het die eerste vyf vrugte van die gees bespreek en getoon hoe belangrik hulle is om ’n ryp Christelike persoonlikheid aan te kweek.a Hoe noodsaaklik is dit dan dat ons goedheid nie vergeet nie! Dit is gepas dat ons nou aandag skenk aan hierdie eienskap.

5 Wat is goedheid? Dit is die eienskap of toestand van goed te wees. Dit is sedelike voortreflikheid, deugsaamheid. Daarom is dit ’n positiewe eienskap wat weerspieël word deur goeie en nuttige dade aan ander te bewys. Hoe kan ons hierdie innemende eienskap aan die dag lê? Basies deur Jehovah na te volg. Voordat ons verder bespreek hoe ons as individuele Christene goedheid kan openbaar, kan ons gerus eers die goedheid ondersoek wat ons liefdevolle God, Jehovah, deur sy voorsienings vir en sy optrede teenoor die mensdom getoon het.

Goedheid word weerspieël in die skepping

6. Wat het Jehovah beweeg om ander intelligente lewensvorme te skep?

6 Wat het ons hemelse Vader in die begin beweeg om die genot wat hy uit die lewe put met intelligente lewende wesens te deel? Die apostel Johannes beantwoord daardie vraag wanneer hy sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Ja, onselfsugtige liefde het die groot Bron van die lewe beweeg om ander lewensvorme te skep en sommige van ’n hemelse en ander van ’n aardse tuiste te voorsien. Ons weet natuurlik min van die hemel of die hemelse skepsele. Hulle is geeste—onsigbaar vir mense-oë—en hulle tuiste is in die geesteryk. Maar kyk om jou na die aardse tuiste wat Jehovah vir sy mensekinders voorsien het. En kyk na die mens self. Dan sal jy met jou eie oë oorvloedige bewys van God se goedheid begin sien.

7-9. Hoe word God se goedheid gesien in die manier waarop hy die aarde en die mens daarop geskep het?

7 Jehovah het ons eerste ouers lewe gegee. Boonop het hy dit moontlik gemaak dat die lewe uiters aangenaam, genotvol, kan wees. Allereers het hy hulle tuiste, die aarde, geskep met ’n aswenteling, ’n temperatuurwisseling en ’n atmosfeer wat net reg was. Hy het water-, stikstof- en suurstofkringlope in werking gestel wat volmaak gewerk het tot die voordeel en gerief van die mens. Hy het die aardoppervlak met duisende soorte plante oordek, sommige as voedsel vir die mens en ander wat ’n besondere lus vir die oog is. Hy het die hemel gevul met voëls wat groot plesier verskaf met hulle kleure en hulle sang. Hy het die seë gevul met ’n menigte visse en die land met talle soorte diere, sommige wild en sommige wat mak gemaak kan word. Watter ontsaglike vrygewigheid! En watter bewys van God se goedheid van hart!—Psalm 104:24.

8 Kyk nou na die manier waarop God die mens geskep het. Sy arms, bene en hande is net wat nodig is om hom in staat te stel om sy balans te behou en met gemak rond te beweeg. Hy kan derhalwe uit die stowwe wat so oorvloedig om hom op die aarde gevind word voedsel en ander benodigdhede vir homself vind. Jehovah het smaakknoppies voorsien sodat eet en drink nie net meganiese dade is wat uitgevoer word om energie te verkry nie—soos om vandag ’n toestel aan ’n elektriese uitlaat te koppel. Nee, eet en drink is daargestel om genot te verskaf, aangesien dit nie net die maag vul nie, maar ook die smaaksin prikkel. Jehovah het die mens ook ore gegee en hom met ’n mag der menigte klanke omring om daardie ore te streel. Wat ’n plesier is dit tog om te luister na die strelende gemurmel van ’n lopende spruitjie, die gekoer van ’n tortelduif of die borrelende laggie van ’n baba! Ja, danksy God se goedheid is dit steeds ’n vreugde om te lewe, ten spyte van al die slegte dinge wat sedert die skepping gebeur het.

9 Kyk ook na ons ander sintuie. Hoeveel verskillende, pragtige kleure bestaan daar tog wat ’n lus vir ons oë is! En hoe behaaglik is dit tog om die delikate geur van ’n blom te ruik! Dit is geen wonder dat die psalmis aan Jehovah gesê het nie: “Ek sal u prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel baie goed weet”!—Psalm 139:14, NW.

Die mens se val en verlossing

10. Hoe het die meeste mense op God se goedheid gereageer, maar hoe vind hulle steeds baat daarby?

10 Ongelukkig het ons eerste ouers mettertyd ’n gebrek aan waardering vir al God se goedheid teenoor hulle geopenbaar. Hulle het dit getoon toe hulle ongehoorsaam was aan Jehovah se gebooie en die enigste beperking wat hy aan hulle opgelê het, oortree het. Gevolglik het hulle en hulle afstammelinge hartseer, lyding en die dood leer ken (Genesis 2:16, 17; 3:16-19; Romeine 5:12). Deur die millenniums heen wat sedert daardie daad van ongehoorsaamheid verloop het, het die grootste deel van die mensdom onverskilligheid teenoor of ’n gebrek aan waardering vir God se goedheid geopenbaar. Maar mense wat ondankbaar en sonder waardering is, vind nogtans steeds baat by God se goedheid. Hoe? Die apostel Paulus het aan die inwoners van Listre in die Midde-Ooste verduidelik: “[God het] Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”—Handelinge 14:17.

11. In watter opsig strek God se goedheid verder as die voorsiening van ’n pragtige tuiste vir die mensdom?

11 Maar God se goedheid was nie beperk tot die voortdurende voorsiening van aangename, lewensonderhoudende middele wat volop op die aarde is nie. Nee, hy het dit verder gevoer. Jehovah het getoon dat hy bereid is om die sondes van Adam se afstammelinge te vergewe en om steeds ’n verhouding met getroues onder die mensdom te kweek. Hierdie aspek van God se goedheid is onder Moses se aandag gebring toe Jehovah belowe het om ‘al sy goedheid voor Moses se aangesig te laat verbygaan’. Moses het toe die verklaring gehoor: “Jehovah, Jehovah, ’n God barmhartig en goedgunstig, stadig om toornig te word en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid bewaar vir duisende, wat dwaling en oortreding en sonde vergewe.”—Exodus 33:19, NW; 34:6, 7, NW.

12. Watter bepalinge van die Mosaïese Wet was ’n blyk van Jehovah se goedheid?

12 In Moses se dag het Jehovah vir die nuwe nasie Israel ’n regstelsel ingestel waarvolgens onopsetlike sondaars ’n voorwaardelike, of simboliese, vergifnis van sonde kon verkry. Deur die Wetsverbond, waarvan Moses die middelaar was, het die Israeliete God se spesiale nasie geword en is hulle geleer om verskillende diereoffers aan Jehovah te bring wat hulle sondes en onrein dade sou versoen. Ondanks hulle onvolmaakte neigings kon berouvolle Israeliete Jehovah dus steeds op aanneemlike wyse nader en weet dat hulle aanbidding hom behaag. Koning Dawid, ’n lid van daardie nasie onder die Wet, het deur sy woorde getoon dat hy bewus was van God se goedheid in hierdie verband: “Die sondes van my jeug en my dade van opstandigheid, o onthou dit nie. Hou u my tog in gedagte na u liefderyke goedhartigheid, ter wille van u goedheid, o Jehovah.”—Psalm 25:7, NW.

13. Hoe het Jehovah ’n manier voorsien waardeur sondes vergewe kan word wat doeltreffender as diereoffers is?

13 Jehovah se goedheid het hom mettertyd beweeg om ’n doeltreffender en permanente manier te voorsien waardeur sondes vergewe kon word. Dit was deur die offerande van Jesus, wat ’n afstammeling van koning Dawid was (Mattheüs 1:6-16; Lukas 3:23-31). Jesus het nie gesondig nie. Toe hy gesterf het, het sy lewe wat as offerande gegee is dus groot waarde gehad, en God het die offerande aangeneem as ’n losprys wat ten behoewe van al Adam se sondige afstammelinge aangewend kon word. Die apostel Paulus het geskryf: “Almal het gesondig en bereik nie die heerlikheid van God nie, en dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die verlossing deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is. God het hom as soenoffer gestel deur middel van geloof in sy bloed.”—Romeine 3:23-26, NW.

14. Watter wonderlike verwagtinge word vir mense moontlik gemaak deur die losprysoffer?

14 Geloof in Jesus se losprysoffer doen baie meer vir Christene as wat daardie diereoffers onder die Wetsverbond vir die Israeliete gedoen het. Dit het daartoe gelei dat ’n beperkte getal Christene regverdig verklaar is en deur God se gees aangeneem is om sy seuns te word. Hulle het derhalwe Jesus se broers geword en die hoop verkry om as geesskepsele opgewek te word om saam met hom in sy hemelse Koninkryk te regeer (Lukas 22:29, 30; Romeine 8:14-17). Stel jou voor dat God sulke hemelse vooruitsigte sou uithou vir skepsele wat op hierdie klein planeet, die aarde, woon! ’n Klein groepie wat hierdie hoop koester, lewe nog. Maar vir miljoene ander Christene open die beoefening van geloof in die losprys die weg om dít te geniet wat Adam en Eva verloor het—ewige lewe op ’n parkagtige paradysaarde. Die Wetsverbond alleen kon nóg hemelse nóg aardse toekomsvooruitsigte vir sy aanhangers voorsien.

15. Wat sluit die goeie nuus in?

15 Hoe gepas is dit dan dat die boodskap oor die nuwe reëlings wat God deur Jesus Christus ingestel het “goeie nuus” genoem word, want dit weerspieël God se goedheid (2 Timotheüs 1:9, 10, vgl. NW). In die Bybel word die goeie nuus soms die “goeie nuus van die koninkryk” genoem. Vandag vestig dit die aandag op die waarheid dat die Koninkryk opgerig is onder die heerskappy van die verrese Jesus (Mattheüs 24:14, NW; Openbaring 11:15, NW; 14:6, 7, vgl. NW). Nogtans behels die goeie nuus meer. Soos Paulus se woorde aan Timotheüs wat so pas aangehaal is, aandui, sluit dit die kennis in dat Jesus ’n losprysoffer ten behoewe van ons geoffer het. Sonder daardie offerande sou ons verhouding met God, ons verlossing—om nie te praat van die Koninkryk van Jesus en 144 000 priesters en konings wat van die aarde vrygekoop is nie—nie moontlik wees nie. Wat ’n wonderlike blyk van God se goedheid is die losprys tog nie!

God se goedheid vandag

16, 17. Hoe is Hosea 3:5 vervul (a) in 537 v.G.J.? (b) in 1919 G.J.?

16 Die apostel Paulus het oor “die laaste dae” gepraat en gewaarsku: ‘Mense sal sonder liefde vir die goeie wees’ (2 Timotheüs 3:1-3). Selfs gewone blyke van goedheid, soos vrygewigheid en naasteliefde, sal nie waardeer word nie. Hoe bemoedigend is die hartverblydende profesie in Hosea 3:5 dus: “Die kinders van Israel [sal] hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.”

17 Hierdie profesie het sy eerste vervulling gehad in 537 v.G.J. toe die Jode uit ballingskap in Babilon na die Beloofde Land teruggekeer het. In hedendaagse tye het dit in 1919 in vervulling begin gaan toe die oorblyfsel van geestelike Israel uit Satan se organisasie gekom het en ywerig na Jehovah en sy goedheid begin soek het. Hulle het gevind dat Jesus Christus al sedert 1914 as “Dawid hulle koning” in hemelse mag regeer. Onder sy hemelse toesig het hulle geesdriftig die verantwoordelikheid aanvaar om die goeie nuus aan die nasies te verkondig. So het hulle die opdrag wat in Mattheüs 24:14 opgeteken is, begin uitvoer: “Hierdie goeie nuus van die [opgerigte] koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—NW.

18. Wie het hulle by die oorblyfsel van geestelike Israel geskaar in die verkondiging van die goeie nuus?

18 Vandag het die “groot menigte”, wat Jehovah se goedheid eweneens met geesdrif begroet, hulle by die oorblyfsel gesalfdes geskaar (Openbaring 7:9). Nou herhaal meer as viermiljoen die woorde van die engel wat die apostel Johannes in ’n visioen gesien het wanneer hulle aan al die nasies verkondig: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”—Openbaring 14:7.

19. Noem een van die grootste bewyse van God se goedheid?

19 Een van die grootste bewyse van God se goedheid is die feit dat hy ons toelaat om sy medewerkers te wees in hierdie werk wat ’n klimaks gaan bereik. Wat ’n voorreg is dit tog dat “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” aan ons toevertrou is! (1 Timotheüs 1:11, NW). Wanneer ons dit aan ander verkondig en hulle leer, openbaar ons in groot mate daardie belangrike vrug van God se gees, naamlik goedheid. Ons het derhalwe die gesindheid van God se eertydse kneg Dawid, wat gesê het: “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.”—Psalm 145:7.

20. Watter verdere informasie aangaande goedheid sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Maar is deelname aan die verkondiging van die goeie nuus die enigste manier waarop ons goedheid in ons lewe kan openbaar? Geensins nie! Ons word aangemoedig om “navolgers van God soos geliefde kinders” te word (Efesiërs 5:1). God se goedheid word op baie maniere geopenbaar. Ons goedheid moet derhalwe ook talle aspekte van ons lewe beïnvloed. ’n Paar hiervan sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a Die afsonderlike vrugte van die gees is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing.

Wat is jou antwoord?

◻ In watter opsig weerspieël die skepping God se goedheid?

◻ Watter reëlings het Jehovah getref om die sondes van berouvolle mense te vergewe?

◻ Wanneer het die gesalfde oorblyfsel, ter vervulling van Hosea 3:5, na Jehovah en sy goedheid gekom, en wat was die gevolg daarvan?

◻ Wat is vandag een van die grootste bewyse van God se goedheid?

[Prent op bladsy 15]

Die skepping getuig van God se oorvloedige goedheid

[Prent op bladsy 16]

Die feit dat ons toegelaat word om aan die predikingswerk deel te neem, is ’n opvallende bewys van God se goedheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel