Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 6/15 bl. 5-7
  • Hoe om die Bybel met vrug te lees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die Bybel met vrug te lees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte gesindheid
  • Lees met geloof
  • Die behoefte aan hulp
  • Lees met vrug
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Behou ’n stewige greep op die Woord van God
    Aanbid die enigste ware God
  • Bybellees—nuttig en aangenaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Hoe jy die meeste uit jou Bybellees kan kry
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 6/15 bl. 5-7

Hoe om die Bybel met vrug te lees

“SALIG is die wat arm van gees is.” So lui die openingswoorde van Jesus se beroemde Bergpredikasie, volgens die Afrikaanse Bybel en verskeie Engelse Bybels (Mattheüs 5:3). Verstaan jy wat Jesus bedoel het met “arm van gees”? Het hy gepraat van die wat mismoedig is? Of het hy swaksinniges in gedagte gehad? Laasgenoemde lyk onwaarskynlik, maar dit is beslis belangrik om te weet.

Jehovah se Getuies, wat selfs deur hulle kritici as uitstekende Bybelstudente erken word, het gevind dat die New World Translation of the Holy Scriptures skitterend voldoen aan die vereistes van duidelikheid en akkuraatheid. Dit gee daardie gedeelte van die Bergpredikasie so weer: “Gelukkig is die wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”

Sommige Bybelkommentare erken dat dit is wat “arm van gees” beteken. Waarom hou talle moderne vertalings, soos die Katolieke Jerusalem Bible en die New International Version, dan aan om die uitdrukking “arm van gees” te gebruik?

Hierdie voorbeeld toon dat, indien ’n mens die Bybel met vrug wil lees, dit noodsaaklik is om ’n getroue, duidelike en verstaanbare vertaling te kies.

Die regte gesindheid

Die leser moet ook die regte gesindheid hê indien hy die Bybel met vrug wil lees. Daardie selfde woorde van die Bergpredikasie toon baie duidelik wat ons gesindheid moet wees, naamlik: “Gelukkig is die wat bewus is van hulle geestelike behoefte.” Ontbreek ’n waarlik geestelike dimensie in jou lewe? Is jy bewus van die feit dat jy jou verstand en hart met geestelike voedsel moet voed? Die Bybel kan jou help om in daardie behoefte te voorsien.

Maar jy sal nie voedsel vir die hart en verstand in die Bybel vind as jy dit lees soos jy enige ander boek sal lees nie. Jy moet dit beskou, “nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13). Wat jy sal lees, is nie menslike filosofie of nasionalistiese geskiedenis nie, maar die gedagtes van God en die geskiedenis van sy handelinge met sy knegte op aarde. Die Bybel bevat ook verbasende profesieë, waarvan sommige reeds vervul is, terwyl ander voor jou oë vervul word of nog vervul sal word tot heil van die mensdom.

Aangesien die Bybel die Woord van God is, moet ’n mens Sy hulp soek om dit met vrug te lees. Dit is dus gepas om eers tot God te bid voor jy die Bybel begin lees. Vra hom met eenvoudige woorde uit die hart om jou te help om te verstaan wat jy lees en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Soms het ons nie die vermoë om ons kennis te gebruik nie, en hierdie vermoë is wysheid. Die Bybel vermaan sef: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel.”​—Jakobus 1:5, 6.

Lees met geloof

Jy vra dalk: ‘Hoe kan ek in geloof bid en met geloof lees as ek geloof kortkom?’ Wel, as jy die Bybel lees omdat jy ‘bewus is van jou geestelike behoefte’, sal jou geloof vermeerder namate jy kennis verkry aangaande Jehovah God en sy wonderlike voornemens wat om Christus wentel. Ware geloof moenie met blinde goedgelowigheid verwar word nie. Die Bybel self omskryf geloof as “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”.​—Hebreërs 11:1.

Ware geloof vereis ’n onderliggende grondslag van kennis, en sulke kennis maak die dinge wat God beloof het so werklik dat hulle as’t ware sigbaar is. Geloof is dus iets wat aangekweek kan word. Dit volg wanneer ons dinge aangaande God en sy wonderlike voornemens vir die mensdom lees en hoor. Soos die apostel Paulus dit gestel het: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”​—Romeine 10:17.a

Namate jou geloof vermeerder, sal jy die Bybel met groter vrug lees. Waarom? Omdat jou “vertroue op die dinge wat ons hoop” ‘vaster’ sal word. Dit kan toegelig word deur ’n nuwe vriendskap tussen jou en iemand anders. Namate jy die persoon beter leer ken, word jou vertroue in hom groter. Uiteindelik, nadat jy baie situasies beleef het waarin jou vriend jou nooit in die steek gelaat het nie, vertrou jy die persoon ten volle. As hy vir jou ’n brief skryf, kan jy die gees agter die woorde snap. Al is ’n sin nie baie duidelik nie, ken jy die persoon so goed dat jy sonder moeite begryp wat hy bedoel. Jy lees daardie vriend se brief met vertroue, nie met agterdog nie.

Dit is net so met God en die Bybel. Hoe beter jy die Bybel en sy Outeur, Jehovah God, leer ken, hoe groter sal jou vertroue in sowel God as sy Woord wees. Selfs episodes in Bybelgeskiedenis wat moeilik lyk om te verstaan, sal nie daardie vertroue ondermyn nie. As die rede vir drastiese optrede deur God teen ’n persoon of nasie nie dadelik voor die hand lê nie, sal jy die vertroue hê dat dit nodig was. Dit is baie soos jy van ’n vertroude vriend sal sê: ‘Wel, as hy dit gedoen het, moes daar ’n goeie rede voor gewees het.’

Jou geloof in God sal natuurlik versterk word as jy wel die rede kan vind waarom hy so opgetree het of waarom dit soms lyk of hy optrede teen die goddeloses uitstel. Maar jy het moontlik hulp nodig. Dit bring ons by nog iets wat belangrik is as ons die Bybel met vrug wil lees.

Die behoefte aan hulp

Dit is ’n baie goeie ding om die Bybel van voor tot agter deur te lees. As jy een hoofstuk per dag lees, sal dit meer as drie jaar neem om die Hebreeuse en die Griekse Skrifte deur te lees. As jy drie of vier hoofstukke per dag lees, sal dit ongeveer ’n jaar duur. Om ’n breë begrip te kry van wat die Bybel bevat, kan jy begin deur Psalms en Spreuke te lees. Daarna kan jy teruggaan na Genesis, Exodus en Eerste Samuel voordat jy by die Christelike tydperk kom, naamlik Mattheüs, Handelinge en ’n paar van die briewe wat aan die vroeë Christene geskryf is, soos Filippense, Jakobus en Eerste of Tweede Petrus.

Terwyl jy dit doen, sal jy agterkom dat dit goed is om uit te vind wat die Bybel oor ’n bepaalde onderwerp sê sodat jy die grootste praktiese en geestelike voordeel daaruit kan trek. Gedeeltes wat oor een onderwerp handel, kom in verskillende dele van die Bybel voor. Jy sal waarskynlik die behoefte voel aan Bybelstudiehulpe wat jou sal help om te leer wat die Skrif oor sekere onderwerpe sê. Aangesien die boeke van die Bybel nie in streng chronologiese volgorde gerangskik is nie, sal sulke hulpe ook nuttig wees om die tydsorde te bepaal. Geografiese en historiese agtergrondmateriaal kan jou ook baie help om die Skrif te verstaan.

Waar kan sulke Bybelstudiehulpe gevind word? In die laaste jare het Katolieke skrywers talle boeke gepubliseer met die doel om Katolieke met hulle Bybellesing te help. Maar sulke skrywers bevind hulle dikwels in ’n dilemma. As hulle Katolieke waarlik help om die Bybel te verstaan, ontdek laasgenoemdes gou dat baie van die Katolieke dogma nie in die Bybel voorkom nie. As die skrywers andersyds Katolieke leerstellings probeer regverdig, ondermyn hulle die lesers se vertroue in die Bybel omdat hulle die Skrif ondergeskik maak aan kerktradisie.​—Vergelyk Markus 7:13.

Al hoe meer opregte Katolieke aanvaar hulp van Jehovah se Getuies. In baie lande is daar duisende Katolieke wat probeer om die Bybel met begrip te lees maar wat weinig of geen hulp van hulle priesters ontvang nie. Hulle is soos die Ethiopiese amptenaar wat die boek Jesaja gelees het. Toe die evangelis Filippus hom gevra het of hy waarlik verstaan wat hy lees, het die Ethiopiër nederig geantwoord: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” (Handelinge 8:31). Filippus het hom gehelp, en kort daarna het hierdie opregte man ’n gedoopte Christen geword. Op soortgelyke wyse ontmoet Jehovah se Getuies vandag Katolieke wanneer hulle van huis tot huis gaan, en wanneer hulle sê dat hulle ’n Bybel besit, vra die Getuies hulle of hulle hulp wil hê om die Bybel waarlik met vrug te lees.

Lees met vrug

In hulle Bybelopvoedkundige werk gebruik Jehovah se Getuies ’n groot verskeidenheid Bybelstudiehulpe soos My boek met Bybelverhale (116 Bybelverhale wat in eenvoudige taal en in chronologiese volgorde geskryf is), Is die Bybel werklik die Woord van God? (vir wetenskaplike en historiese bewys van die egtheid van die Bybel), “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial” (’n boek-vir-boekopsomming van die Bybel se inhoud, tesame met geografiese en historiese agtergrondinligting) en Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe (wat tekste byeenbring oor 30 belangrike onderwerpe, waaronder die wonderlike hoop wat God se Woord aan opregte Bybellesers voorhou).

Hierdie Bybelstudiehulpe, tesame met die persoonlike hulp wat Jehovah se Getuies met genoeë kosteloos aanbied, sal jou help om die Bybel met genot en met vrug te lees. Jy sal leiding vind vir die daaglikse lewe asook ’n wonderlike hoop op lewe in God se beloofde Nuwe Orde, waar die wil van God uiteindelik sal “geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”.​—Mattheüs 6:10.

[Voetnote]

a Kyk voetnoot, Naslaanuitgawe van die New World Translation of the Holy Scriptures, 1984.

[Prent op bladsy 7]

Die Ethiopiër het besef wat nodig is om die Bybel te verstaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel