’n Verblydende tyding uit die verre noorde
FINLAND lê in die verre noorde van Europa, met sy noordelike streke wat tot diep in die Noordpoolsirkel strek. Die land is beroemd vir die natuurskoon van sy woude, mere, kuslyn en eilande langs die kus. Finland is ook bekend vir seisoenkontraste, vir lang winternagte en vir die middernagson in die somer.
Meer as 90 persent van die vyfmiljoen Finne is in naam lidmate van die Evangeliese Lutherse Kerk, die staatsgodsdiens van Finland. Maar met die voortdurende styging in die lewenstandaard het hulle belangstelling in geestelike dinge oor die algemeen vervaag. Daar is egter ’n ander soort geestelike groei wat in hierdie land plaasvind. Die gevolg is dat daar nou meer as 15 000 getuies van Jehovah in Finland is, een uit elke 320 inwoners van die land. In die woorde van die profeet Jesaja het die tyd vir Jehovah se Getuies in Finland aangebreek om—opnuut—‘die doeke van hulle tentwonings oop te span’ en ,die plek van hulle tent wyd te maak’.—Jesaja 54:2.
„Gaan hulle regtig weer bou?” Dit was die reaksie van sommige van die ouer lede van die Finse Bethel, of hoofkwartiergesin, toe hulle verneem het van die planne om weer die takgeriewe uit te brei. Maar ten spyte van die ongerief tydens die bouperiode was hulle bly om teenwoordig te wees by die toewyding van die nuwe aanbousel op 5 Mei 1984, toe M. G. Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, ’n spesiale gas was.
Vroeë strale van die waarheid
„In die verlede het die koning van Swede opdrag gegee dat die Finne met geweld bekeer moet word”, het Erkki Kankaanpää, die koördineerder van die Finse takkomitee, in sy openingstoespraak op die toewydingsprogram gesê. Hy het verwys na die geestelikes se houvas op die mense toe Finland onder Sweedse bewind was. „Maar dit was nie die straal van die waarheid in Finland nie.”
Daardie „straal” het in 1909 gekom toe ’n paar kolporteurs, of voltydse predikers, na Finland gekom en C. T. Russell se boeke versprei het. Die gevolg was dat Österman, ’n sakeman, en Harteva, ’n ingenieur, begin belangstel het. Hulle het nog boeke van die Sweedse takkantoor bestel en begin om dit in Fins te vertaal en uit te gee. In 1912 het Die Wagtoring in Fins verskyn.
Die twee broers was besonder moedig en vindingryk in die prediking van die goeie nuus. By een geleentheid het broer Harteva die nuutgevonde waarheid met ’n ou skoolmaat gedeel.
„En hoeveel van julle mense is daar in Finland?” het die skoolmaat gevra.
„Daar is twee van ons”, het hy sonder aarseling geantwoord. „Maar as jy by ons aansluit, sal daar drie wees.”
Op ’n ander keer het broer Österman vir verbygangers ’n boekie met die titel Wat sê die Skrif oor die hel? teen ’n bydrae van twee Finse mark aangebied. Hy het beslis hulle aandag gehad toe hy uitgeroep het: „’n Kaartjie hel toe—een mark in, en nog een uit!”
Broer Russell het Finland in 1912 besoek. In sy nommer van 1 Oktober 1912 het The Watch Tower berig: „Vir die openbare vergadering was die saal stampvol—1000—en baie het gestaan; party was byna in trane omdat hulle nie kon inkom nie.” Hoewel die werk nog nuut was, het die berig gesê, „maak dit skynbaar uitstekende vordering. Die aantal Kolporteurs in die veld, en die feit dat dit selfonderhoudend is, getuig van die groot belangstelling.”
Daaropvolgende besoeke deur ander lede van die Brooklynse hoofkwartier, waaronder J. F. Rutherford, die tweede president van die Genootskap, het die broers grootliks versterk. Trouens, in Desember 1945, toe broer N. H. Knorr en broer Henschel Finland vir die eerste keer besoek het, was daar sowat 1 800 Getuies.
Vandag geniet Jehovah se Getuies volkome godsdiensvryheid in Finland, en hulle maak ten volle gebruik daarvan. Verlede April het ’n hoogtepunt van 15 263 persone in alle dele van die land aan die verkondiging van die Koninkryksevangelie deelgeneem. Meer as 900 doen nou die predikingswerk voltyds as pioniers, spesiale pioniers, of dien as lede van die Bethelgesin by die takhoofkwartier.
Verwikkelinge by die tak
Die eerste takgebou in Finland is in 1933 in Helsinki, die hoofstad, opgerig. Dit het bestaan uit ’n fabriek en ’n Bethelhuis, en dit was goed geleë. Maar na baie jare het dit te klein geword. In 1957 is ’n perseel vir ’n nuwe tak in die stad Vantaa, sowat 17 kilometer noord van Helsinki, aangeskaf.
In Januarie 1962 is die tak na die nuwe plek oorgeplaas. Op daardie tydstip het almal gedink dat hierdie nuwe gebou groot genoeg is om tot in lengte van dae die predikingswerk in Finland te ondersteun. Dit sou nie die geval wees nie. Sedertdien is die eetsaal, slaapsaal, kantoor, boekbindery, trouens, feitlik al die fasiliteite vergroot om te voorsien in die behoeftes van die toenemende getal verkondigers en die gevolglike uitbreiding van die Bethelgesin.
Die Finse Bethel is ideaal geleë aangesien dit naby vervoerweë is en daar ’n rustige, landelike atmosfeer heers. Die gebou staan op ’n heuwel en het ’n pragtige tuin. Selfs die plaaslike owerheid besef dat dit die gemeenskap tot eer strek, en hulle was baie tegemoetkomend. Toe daar byvoorbeeld ’n tyd gelede planne was om ’n hoofweg reg oor ons eiendom te bou, het hulle ingestem om die planne op ons versoek te verander. En hoewel die omgewing bestem was om ’n park te word, het ons toestemming gekry om aan te bou. Ons was natuurlik baie dankbaar vir hierdie spesiale vergunning.
Die uitbreiding het hierdie keer bestaan uit ’n nuwe vleuel met 3 400 vierkante meter vloerruimte. Dit sluit ’n ondergrondse vlak vir parkering en berging in. Op die grondvlak is die werkwinkel, skrynwerkwinkel en garage. Op die boonste verdieping is die boekbindery, asook voldoende ruimte vir die sluitkaste en ontspanningsgeriewe. Die aanbousel pas by die ontwerp van die bestaande gebou—rooi bakstene met ligkleurige houtbalke.
Vrywilligers aanvaar die uitdaging
Toe die bouprojek aangekondig is, het baie Getuies hulle dienste aangebied. Vyf-en-veertig is genooi om ongeveer ’n jaar te kom werk. Wie sou toesig hou oor hierdie uitdagende projek? ’n Broer wat ’n argitek en ’n pionier is, en wat voorheen ’n boufirma besit het, was onder die vrywilligers. Die uitgrawing van die kelderverdieping is gedoen deur ’n broer wat ’n grondskuifmaatskappy besit. ’n Ander broer wat ’n kenner van plofstof is, het die rotse uit die pad gekry. ’n Ander broer weer het ’n kraandrywerskursus van twee maande geloop sodat dit nie nodig was om ’n buitestaander vir die werk te huur nie.
Danksy die gewilligheid van die broers is die bouwerk afgehandel teen ongeveer ’n derde van die prys wat ’n kommersiële aannemer sou vra. Maar wat van die gehalte? „Jy kan nie sulke gehaltewerk kry al bestee jy ook groot geld aan kommersiële aannemers nie”, het een van die inspekteurs opgemerk toe hy die voltooide gebou gesien het. Hoe goed getuig dit tog nie van die heelhartige diens van die broers nie!
Die werk vorentoe
„Maar dit is nie die bouwerk of die boumateriaal wat vir Jehovah van belang is nie”, het broer Henschel in sy toewydingstoespraak gesê. „Dit is die manier waarop die gebou gebruik word, wat tel.” Hy het verwys na die tempel in Jerusalem wat deur koning Salomo gebou is. Dit was ongetwyfeld die pragtigste gebou wat destyds, of miskien ooit, bestaan het. Maar Jehovah het dit verwerp toe die Israeliete opgehou het om suiwer aanbidding in sy huis te lewer.
Die nuwe gebou is bedoel om Koninkryksbelange in Finland te bevorder. Jehovah het inderdaad die werk in hierdie deel van die veld geseën. In die 1984-diensjaar is 127 625 boeke en 128 083 boekies in Finland geproduseer. Meer as 562 531 eksemplare van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe is gepubliseer. Dit is genoeg om een uit elke twee Finse huise van ’n eksemplaar te voorsien! Daar word ook elke maand meer as 350 000 eksemplare van Ontwaak! en Die Wagtoring gedruk.
Dit alles bied ’n ontsaglike uitdaging aan die Finse Bethelgesin, wat nou uit 73 lede bestaan. Maar dit is niks nuuts nie. Twee jaar gelede het die Bethelgesin die uitdaging aanvaar om van hoogdruk na rubberdruk oor te skakel. Broers dwarsoor die land het die geld voorsien, en die broers by Bethel het hard gewerk om die nuwe vaardighede te bemeester. Die resultate was verblydend. Die drukkery in die Finse tak kan veelkleurige tydskrifte en boeke druk.
Vir die werk vorentoe word verdere uitbreiding beplan. Daar word reeds gewerk aan ’n nuwe, ruim Koninkryksaal wat deel van die Bethelhuis sal vorm. Daarna sal 28 kamers, tesame met ’n nuwe kombuis en eetsaal, gebou word om bykomende lede van die gesin te huisves en te voed. Jehovah het in die verlede die middele en die krag voorsien om soortgelyke take aan te pak, en die Getuies in Finland sien met vertroue uit na toekomstige seëninge. Hulle stem saam met een Getuie wat by die toewydingsprogram gesê het: „Dit is wonderlik om vandag een van Jehovah se Getuies te wees!”
[Kaart op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NORWEË
SWEDE
FINLAND
Helsinki
Vantaa
U.S.S.R.
NOORDPOOLSIRKEL
[Prent op bladsy 28]
In 1913 het J. F. Rutherford (met die hoed by sy voete) ’n groot groep Finse broers ontmoet