Hoeveel verskil jy van die wêreld?
„Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om . . . jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”—JAKOBUS 1:27.
1, 2. Wie het gesê dat Christene anders as die wêreld sal wees? Waarom moet Jehovah se Getuies verwag om anders as die wêreld te wees?
DIT was Jesus wat oorspronklik gesê het dat Christene geen deel van die wêreld moet wees nie (Johannes 15:19). En in gebed tot sy Vader die nag voor sy dood het hy gesê: „Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Hy het byna onmiddellik daarna herhaal: „Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 17:14, 16.
2 Die meeste godsdienste van die Christendom wend geen poging aan om daardie woorde te vervul nie. Jehovah se Getuies besef egter dat Christene vandag geen ander keuse het as om van die wêreld afgeskeie te bly nie. Hulle weet dat Satan die owerste van hierdie wêreld is (Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19). As ons ’n deel van die wêreld is, kom ons noodwendig onder Satan se invloed. Jakobus het gewaarsku: „Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Ons moet dus verwag om anders te wees.
3. Watter basiese dinge maak Jehovah se Getuies anders as diegene om hulle heen?
3 Maar hoe is Jehovah se Getuies anders? Jesus het gesê dat Christene nie fisies uit die wêreld weggeneem sou word nie (Johannes 17:15). Dit is dan ook so dat Jehovah se Getuies in die gemeenskap woon, en die meeste van hulle trou en maak gesinne groot, net soos ander mense. Hulle moet ook werk vind, inflasie die hoof bied en belasting betaal. Tog is hulle anders. In ’n artikel oor hulle het die godsdiensredakteur van ’n Amerikaanse koerant sy mening gelug oor die rede daarvoor. Hy het gesê: „Wat Getuies anders maak as hulle kritici is miskien die feit dat hulle hele lewe—hoe hulle hulle ure bestee en saam met wie—geheel en al om hulle oortuigings draai.” Presies! Jehovah se Getuies is volkome toegewy aan Jehovah God. Hulle glo waarlik sy beloftes in die Bybel, en hulle neem al God se gebooie baie ernstig op (1 Johannes 5:3). Dit maak hulle anders.
4. Watter faktore maak dit moeilik om van hierdie wêreld afgeskeie te wees? Wat moet almal van ons dus van tyd tot tyd doen?
4 Maar sulke afgeskeidenheid is nòg gewild nòg maklik. In ons daaglikse lewe word kwaai druk op ons uitgeoefen om te konformeer. Die meeste van ons wil van nature nie te anders wees as ander mense nie. Wanneer geskille rakende neutraliteit opduik, verg dit sterk oortuiging om anders te wees en Jehovah se gebooie te gehoorsaam (Handelinge 5:29; 15:28, 29). Dit is derhalwe verstandig dat elke individu homself van tyd tot tyd ondersoek om te kyk hoe afgeskeie hy van die wêreld is.—2 Korinthiërs 13:5.
Ywerig in die velddiens
5. (a) Wat sê sommige nie-Getuies oor die ywer wat Jehovah se Getuies in die predikingswerk toon? (b) Wat is sommige Bybelbeginsels wat die Getuies beweeg om ywerig in hierdie werk te wees?
5 Jehovah se Getuies is byvoorbeeld alom bekend vir hulle ywer in die prediking. Dit maak hulle waarlik anders. Party bewonder hulle daarvoor, terwyl ander ergerlik raak daaroor. Sendelinge van een evangeliese organisasie berig dat, waar hulle ook al in die wêreld gaan, hulle mense teëkom wat aktiewe, ywerige getuies vir Jehovah is! „Praat baie lank met feitlik enige . . . sendeling op enige plek in die wêreld oor plaaslike toestande, en Jehovah se Getuies sal te berde kom”, sê een van hulle publikasies. Waarom is die Getuies so ywerig in hierdie werk? Die rede is dat die verkondiging van die goeie nuus God se wil en ’n kenmerk van die ware Christen is (Mattheüs 28:19; Efesiërs 6:14, 15; Openbaring 22:17). Hierdie predikingswerk van Jehovah se Getuies is vandag ’n openbare bewys van hulle lojaliteit teenoor God se Koninkryk en hulle begeerte om ander te help om Jehovah te aanbid.—Jesaja 2:2-4; Mattheüs 24:14.
6. Wat is party vrae wat ons onsself moet afvra om ons beskouing van die prediking van die goeie nuus van die Koninkryk te ondersoek?
6 Hoe belangrik is die predikingswerk vir jou? In die wêreld is die meeste mense van mening dat die verkryging van lewensmiddele of selfs vermaak belangriker is as godsdiens (2 Timotheüs 3:4; 1 Johannes 2:16). Maar Paulus het aan Timotheüs geskryf: „Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Timotheüs 4:16). Is dit jou beskouing? Onthou jy ook die waarskuwing van die apostel Petrus dat ons ,die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte moet hou’? (2 Petrus 3:12, NW). Dan weet jy ook dat die prediking van die goeie nuus van die Koninkryk ’n dringende saak is. Dit kan jou beweeg tot optrede wat vir nie-Getuies vreemd lyk.
7. Watter stap het baie in verband met die predikingswerk gedoen? Waarom?
7 John, ’n onderwyser in Ghana, het byvoorbeeld die Skrif ernstig opgeneem. Daarom het hy uit sy werk bedank sodat hy meer tyd daaraan kon wy om vir sy bure van die Koninkryk te vertel. Brian, ’n Engelse seun, het sy kans om universiteit toe te gaan, prysgegee sodat hy ’n voltydse prediker kon wees; en Eve, ’n Amerikaanse meisie, het die universiteit na ’n paar semesters om dieselfde rede verlaat. Was hierdie jongmense onprakties of dwaas? Vir enigiemand wat die Bybel ernstig opneem, was hulle optrede inderdaad redelik en logies. Hulle het allermins hulle toekoms in gevaar gestel, maar eerder gehelp om dit te verseker. Dit is soos Paulus gesê het: die werk wat hulle gekies het, beteken redding ,vir hulleself sowel as die wat hulle hoor’.—1 Timotheüs 4:16.
Gedrag wat anders is
8. Watter Bybelse beginsel in Hebreërs 1:9 dra verder daartoe by dat Jehovah se Getuies anders is?
8 Hier is nog ’n beginsel wat Christene anders maak as die wêreld: „U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat” (Hebreërs 1:9). Na die verband is hierdie woorde aan Jesus Christus gerig, maar Jehovah se Getuies besef dat dit ook vir Christene ’n standaard stel (1 Petrus 2:21). Ons moet liefhê wat God sê reg is en haat wat God sê sleg is.
9. (a) Meld sommige vorms van ongeregtigheid. (b) Hoe verskil die Christengemeente se beskouing van ongeregtigheid van dié van die wêreld?
9 Die apostel Paulus het sommige soorte ongeregtigheid met hierdie woorde aangedui: „Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Vandag is die wêreld buitensporig permissief, veral wat sedes betref. Maar Bybelstandaarde is onveranderlik. Die Bybel sê dat ’n Christen wat in onsedelikheid verval liefdevol gehelp moet word om sy weë te verander (Galasiërs 6:1; Jakobus 5:19, 20). As hy weier om te verander, moet Christene hom vermy.—1 Korinthiërs 5:9-13.
10. Waarom moet Jehovah se Getuies hulleself teen slegte dade beskerm?
10 Party meen dat sodanige optrede liefdeloos of fanaties is. Hulle verkies die wêreld se liberaler benadering. Is dit hoe jy voel? Of besef jy dat sulke optrede nie soseer ’n gebrek aan liefde vir die sondaar as ’n afkeer van sy slegte dade toon nie? En begryp jy dat die Christengemeente so moet optree as hy Christelik wil bly? Jakobus het gesê: „Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is . . . om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld” (Jakobus 1:27, NAV). Hoe kan ’n groep wat beweer dat hulle die ware godsdiens het, toelaat dat hulle deur ernstige sonde besmet word?
11. Hoe raak Christelike standaarde ’n Christen se spraak?
11 ’n Christen se afkeer van die kwaad gaan verder as dit. Die Bybel sê: „Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie” (Efesiërs 5:3, 4). Ware Christene is dus onder hulle metgeselle bekend as mense wat nie vuil taal gebruik, smerige grappe vertel of sinlike genot daaruit put om onrein dinge te bespreek nie. Rein verstande en rein spraak raak vandag al hoe seldsamer.
12. Hoe verskil Jehovah se Getuies van die wêreld wat vermaak betref?
12 Jehovah se Getuies is selfs anders waar dit by vermaak kom. Aangesien „die hele wêreld in die mag van die Bose lê”, het hulle geleer om lig te loop vir die vermaak van die wêreld (1 Johannes 5:19). Hulle bly heeltemal weg van die baie geselskapspeletjies, tydskrifte, video’s, rolprente, musiek en televisieprogramme wat ’n demoniese of pornografiese inhoud het, of wat siek, sadistiese geweld beklemtoon. Hulle is ook lugtig vir sogenaamde gesinsvermaak wat promiskueuse of permissiewe idees voorstaan wat vir Christene onaanvaarbaar is (1 Korinthiërs 15:33). Iemand wat die Bybel ernstig opneem, sal nie vermaak wil word deur dinge wat nie eens onder Christene genoem mag word nie.
13. Getuig dit van bekrompenheid om ons vermaak so streng te beperk? Verduidelik.
13 Is dit jou opinie? Of dink jy dat sulke beskouings Jehovah se Getuies bekrompe of beperkend maak? Indien wel, dink so daaraan: As ’n voedselproduk van die winkelrakke verwyder word omdat daar ontdek is dat dit besmet is, kla verbruikers nie dat hulle vryheid aan bande gelê word omdat hulle nie meer daardie produk kan koop nie. Hulle is eerder bly dat hulle teen voedselvergiftiging beskerm word. Jehovah se Getuies kla eweneens nie dat hulle vryheid beperk word wanneer die besmetting van baie wêreldse vermaak onder hulle aandag gebring word nie. Hulle is eerder verlig omdat hulle teen die gevaar van sulke besmetting beskerm word.
Hulle het mekaar lief
14. Watter eienskappe het Jesus gesê sou die Christengemeenskap onderskei van die wêreld daaromheen?
14 Hier is nog ’n manier waarop ’n Christen se afgeskeidenheid van die wêreld gemeet kan word. Die nag voor sy dood het Jesus vir sy volgelinge gesê: „Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Waarom sou liefde ’n teken vir buitestaanders wees? Omdat die wêreldsituasie in sy geheel vandag presies is soos Paulus voorspel het: „Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . sonder natuurlike liefde” (2 Timotheüs 3:2, 3). In so ’n omgewing sal ’n wêreldwye gemeenskap van mense wat liefde onder mekaar het ’n sonderlinge verskynsel wees. So ’n broederskap bestaan onder Jehovah se Getuies.—1 Petrus 2:17.
15. Meld sommige situasies waarin Jehovah se Getuies die geleentheid het om liefde teenoor mekaar te betoon
15 Hierdie liefde is baie opmerklik en lok dikwels kommentare van buitestaanders uit wanneer die Getuies by hulle byeenkomste saamtrek. Wanneer daar groot rampe is, is die Getuies gou op die toneel om hulle broers te help. En binne die gemeente toon ware Christene liefde en bedagsaamheid teenoor mekaar. Selfs wanneer daar persoonlikheidsverskille is, probeer hulle hard om ,mekaar te verdra en mekaar te vergewe’.—Kolossense 3:12-14.
Hulle lê mekaar nie struikelblokke in die weg nie
16. a) Watter situasie het Paulus bespreek wat aan eerste-eeuse Christene ’n uitstekende geleentheid gebied het om die diepte van hulle liefde vir mekaar te openbaar? (b) Watter beginsel het hy uiteengesit wat op talle hedendaagse situasies van toepassing is?
16 Sulke liefde maak die Getuies in nog ’n opsig anders. Vandag is baie mense uiters gesteld op hulle regte. Die apostel Paulus het egter ’n ander standaard gestel: „Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Romeine 14:19). Die verband toon dat Paulus van ’n probleem rakende voedsel gepraat het wat destyds bestaan het. Anders as die Jode onder die Mosaïese Wet kon Christene eet wat hulle wou, mits hulle nie vrate geword het nie. Maar sommige, wat van kleins af weersin in sekere voedsel gehad het, was ontsteld om te sien dat hulle mede-Christene dit eet. Het daardie ander Christene aangedring op hulle reg om te eet wat hulle wou? Nie as hulle Paulus se raad gevolg het nie. Hy het gesê: „Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel . . . nie” (Romeine 14:21). Watter liefdevolle raad! Kan jy sien hoe dit ons op sekere ander gebiede kan lei?
17, 18. (a) Hoe kan die beginsel in Romeine 14:21 op die gebruik van sterk drank toegepas word? (b) Hoe kan dit op kleredrag toegepas word? (c) Aan watter ander gebiede kan jy dink waar die toepassing van hierdie beginsel ons sal help om liefde teenoor mekaar te betoon?
17 Die Bybel laat Christene byvoorbeeld toe om ’n matige hoeveelheid sterk drank te drink (1 Timotheüs 3:8; 5:23). Maar party is sensitief wat sterk drank betref. Ander is nie daar aan gewoond nie, of dit tas hulle gou aan. Sou jy, as jy saam met so iemand by ’n geselligheid was, druk op hom probeer uitoefen of hom in die verleentheid stel sodat hy saam met jou ’n drankie maak? Of sal jy liewer self niks drink sodat jy nie vir hom probleme veroorsaak nie?
18 Beskou nog ’n voorbeeld: kleredrag. Die Bybel beskryf nie watter soort klere ’n Christen moet dra nie, hoewel dit sê dat dit beskeie en netjies moet wees (1 Timotheüs 2:9). In die meeste lande is daar vandag ’n bepaalde klerekode wat in die formele samelewing as aanvaarbaar beskou word. Hierdie kode laat gewoonlik heelwat verskeidenheid toe, maar enige groot afwyking daarvan wek ’n egosentriese, sinlike of eksentriese indruk. Dit is iets wat Christene, mans sowel as vroue, in gedagte moet hou. Is jy bereid om jou vryheid op die gebied van kleredrag te beperk ter wille van die goeie nuus en sodat jy nie jou broers laat struikel nie?
19-21. (a) Waarom beywer Jehovah se Getuies hulle daarvoor om afgeskeie van die wêreld te bly? (b) Op watter ander gebied moet ons daarna streef om afgeskeie van die wêreld te wees?
19 Ja, Jesus het gelyk gehad toe hy gesê het dat Christene „nie van die wêreld” sou wees nie (Johannes 17:16). Jehovah se Getuies is waarlik anders waar dit kom by die verkondiging van die goeie nuus, vermyding van die kwaad, en die betoning van liefde en bedagsaamheid teenoor mekaar. Hierdie afgeskeidenheid bring vir die Getuies seëninge mee, waarvan nie die minste is dat dit hulle beskerm teen baie van die probleme wat vandag die wêreld teister nie.
20 Is hierdie afgeskeidenheid iets wat jy in jou eie lewe kosbaar ag en nastreef? Onthou, as Jehovah se Getuies enigsins minder afgeskeie was, sou hulle meer ooreengekom het met die wêreld waarvan Satan die Duiwel die god is (2 Korinthiërs 4:4). Hulle sou nie meer duidelik uitgeken kon word as ’n ,heilige volk’ nie en sou nie vry bly van „die besmetting van die wêreld” nie. Dan sou hulle nie meer „egte en suiwer godsdiens voor God” beoefen het nie (Jakobus 1:27, NAV; 1 Petrus 1:14-16). As jy in jouself die verlange bespeur om meer soos die wêreld te wees, moet jy die waarskuwing in Jakobus 4:4 onthou.
21 Die apostel Paulus het voorspel dat ’n ander karaktertrek vandag in die wêreld hoogty sou vier. Hy het gesê dat mense „geldgieriges” sou wees (2 Timotheüs 3: 1, 2). Soos hy voorspel het, is die najaging van geld nou so ’n groot krag dat dit vir baie die sterkste invloed in hulle lewe geword het. Is Christene ook in hierdie opsig anders? Is dit moontlik om in vandag se wêreld aan die lewe te bly sonder om ,geldgierig’ te wees? Ons bespreek hierdie onderwerp in die volgende artikel.
Kan jy onthou?
◻ Waarom moet ’n Christen verwag om anders as die wêreld te wees?
◻ Watter tekste help Jehovah se Getuies om die regte beskouing van die predikingswerk te hê?
◻ In watter verskillende opsigte help die toepassing van Hebreërs 1:9 om Jehovah se Getuies anders as die wêreld te maak?
◻ Watter uitwerking het die toepassing van die beginsel in Romeine 14:21 op hulle gedrag?
[Prent op bladsy 13]
Jehovah se Getuies het geleer om lugtig te wees vir die vermaak van die wêreld