Jehovah—ontsagwekkend maar liefdevol
„BY WIE sal julle My dan vergelyk”? het Jehovah God gevra. Selfs die mees verhewe taal kan nie God se onvergelyklike mag en heerlikheid ten volle beskryf nie. Hy nooi ons self om die hemelruim te aanskou, en sê: „Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”—Jesaja 40: 25, 26.
Die duisende sterre wat vir die blote oog sigbaar is, is net ’n breukdeel van die sowat 100 miljard sterre in ons melkweg alleen! En tog het Jehovah al die sterre in die ganse heelal getel en name gegee! Dink ook aan die oneindige energie wat in al hierdie materie opgesluit is. Ons son het ’n sentrale temperatuur van 15 miljoen grade Celsius. Oor watter „grootheid van kragte” moet Jehovah tog nie beskik om duisendmiljoene van hierdie kernoonde te kon skep nie!
Dit is dus bo ons beperkte vermoë om Jehovah ten volle te begryp. Elihu het gesê: „Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag . . . Daarom vrees die mense Hom” (Job 37:23, 24). Maar Jehovah vra meer van ons as net ontsag of vrees. „Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag”, beveel die Bybel (Deuteronomium 6:5). Maar kan ons iemand liefhê as ons hom nie ten volle verstaan nie? Ja, want hoewel Jehovah hoog in die hemele woon, tree hy liefdevol op teenoor onvolmaakte mense en laat hy toe dat hulle ten minste ’n gedeeltelike begrip van hom verkry.—Vergelyk Psalm 113:5-9.
Sy „oë”, „ore” en „aangesig”
Een manier waarop Jehovah ons help om hom te verstaan is deur toe te laat dat hy in menslike terme beskryf word. Die apostel Petrus het gesê: „Die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.”—1 Petrus 3:12; vergelyk Exodus 15:6; Esegiël 20:33; Lukas 11:20.
Hierdie metafore moet natuurlik nie letterlik opgeneem word nie, net so min as wanneer die Skrif God ’n „son”, „skild”, of „die Rots” noem (Psalm 84:12; Deuteronomium 32:4, 31). ,Maar sê die Bybel nie dat ons na sy „beeld” gemaak is nie?’ redeneer sommige (Genesis 1:26, 27). Ja, maar die veronderstelling dat God ’n letterlike mond, neus en ore het, skep ernstige probleme. Kan ’n mens jou byvoorbeeld voorstel dat ’n almagtige God se gehoor werklik beperk is tot wat klankgolwe na letterlike ore sou dra? Nee, want die Bybel toon dat God selfs die stemlose uitinge van die mensehart kan „hoor” (Genesis 24:42-45). En sy vermoë om te kan „sien” hang ook nie van liggolwe af nie.—Psalm 139:1, 7-12; Hebreërs 4:13.
Die volmaakte mens het dus nie God se fisiese kenmerke weerspieël nie, maar eerder sy eienskappe soos liefde en geregtigheid. Veral Christene lê sulke eienskappe aan die dag wanneer hulle ag slaan op die raad van die apostel Paulus, wat gemaan het: „Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van Hom wat dit geskep het.”—Kolossense 3:10, NW.
Jehovah se heerlikheid
In vervloë tye het sekere knegte van Jehovah die voorreg gehad om geïnspireerde gesigte van Jehovah se hemelse heerlikheid te ontvang. Esegiël was een van hulle (Esegiël 1:1). Die gesigte wat hy gesien het, was onbeskryflik! Esegiël het van metafore en beelde gebruik gemaak en dikwels gesê dat wat hy gesien het „iets soos” bekende aardse dinge is. Die profeet het byvoorbeeld gesê:
„Bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ’n troon; en op die troongestalte ’n gestalte wat soos ’n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ’n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ’n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ’n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk.”—Esegiël 1:26-28.
Watter heerlikheid het Esegiël tog nie beskryf nie! Die apostel Johannes het ’n soortgelyke gesig van Jehovah gehad en het geskryf: „Kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ’n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ’n smarag” (Openbaring 4:1-3). Hoewel Jehovah in sulke prag uitgebeeld word, word hy nie as ’n wrede God voorgestel nie. Die toneel is eerder rustig, vreedsaam soos die reënboog.—Vergelyk Genesis 9:12-16.
Die feit dat Jehovah ons selfs so ’n beperkte blik op sy hemelse majesteit gee, toon dat hy vreedsame bedoelinge met die mensdom het. Liefhebbers van God kan hom beslis met vertroue nader as die welwillende „Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:3.
Die man Job het van God gesê: „Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!” (Job 26:14). Daar is inderdaad baie te leer aangaande Jehovah God, wat sy knegte met die vooruitsig op die ewige lewe seën (Johannes 17:3). Maar selfs „onbepaalde tyd” sal nie vir ons genoeg wees om ,die werk van God van begin tot einde te begryp nie’.—Prediker 3:11, NAV.
Wat eerlik gesinde mense wel weet of leer, kan hulle egter beweeg om Jehovah lief te hê en te gehoorsaam (1 Johannes 5:3). Is jy so ’n persoon? Dit is nie altyd maklik om aan God gehoorsaam te wees nie. Maar wanneer jy Jehovah God en sy liefdevolle weë waarlik leer ken het, is niks te veel gevra nie. Is jy vasbeslote om hierdie ontsagwekkende maar liefdevolle God nog beter te leer ken?
[Prent op bladsy 6]
Mense soos Esegiël en Johannes het gesigte gesien wat ons ’n geringe idee van Jehovah se ontsagwekkende heerlikheid gee
[Prent op bladsy 7]
Die feit dat God die sterre geskep en name gegee het, gee ons ’n idee van sy oneindige krag