Armageddon—’n Oorlog wat tot ware vrede lei
WANNEER politici die wêreldsituasie wil beskryf, gebruik hulle die woord MAD—Mutual Assured Destruction (Wedersydse Gewisse Uitwissing). Daardie term is heel gepas. In die 40 jaar vandat die eerste atoombom in oorlogvoering oor Hirosjima, Japan, ontplof het, het die wêreld se kernarsenale ongelooflik gegroei. Volgens sommige berigte is dit gelykstaande met 12 duisendmiljoen ton TNT, of sowat 3 ton vir elke mens op aarde!
As die Een wat die aarde „nie geskape [het] om woes te wees nie, maar dit geformeer [het] om bewoon te word”, sal, trouens, kan Jehovah God nie toelaat dat die nasies op hulle weg van selfvernietiging voortgaan nie. (Jesaja 45:18; kyk ook Psalm 104:5.) Voor hulle die kans kry om al hulle dodelike wapens teen mekaar te gebruik en in die proses hulleself en die omgewing te vernietig, sal die Maker en Eienaar van die aarde en alles daarop self tot aksie oorgaan. Hy het beloof dat dit „die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, die Bybelse Armageddon, sal wees!—Openbaring 16:14, 16.
Armageddon sal dus baie meer wees as net nog ’n oorlog om die hedendaagse politieke dooie punt op te los. Dit sal dinge bereik waaroor die mens deur die eeue heen maar net kon droom. Dit sal alle oorsake van menseoorloë uit die weg ruim. Dit sal ware vrede op die aarde bewerkstellig. Dit sal bowenal die regmatige heerskappy van die aarde se Eienaar, Jehovah God, oor sy hele skepping herstel. Hoe kan al hierdie dinge gedoen word? Kom ons kyk.
Vrede—deur die verwydering van oorlogsmiddele
Een van die redes waarom die nasies nie oorlog kon uitskakel nie, is dat hulle nie daarin kon slaag om van oorlogsmiddele ontslae te raak nie. Hoewel hulle goed weet dat die wapenwedloop noodlottig is, is hulle nie bereid om dit te laat vaar of om briek aan te draai nie. Dit sal inderdaad verstommend wees wanneer Jehovah tot aksie oorgaan en doen wat die nasies nie kan doen nie: „Pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.”—Psalm 46: 9, 10, NAV.
Jehovah het in die verlede sy vermoë getoon om die gevorderdste en gedugste wapens van die nasies te neutraliseer. Hy het byvoorbeeld sy oënskynlik weerlose volk, die Israeliete, van die militêre mag van die eerste wêreldmoondheid, Egipte, verlos deur die elementale krag van die waters van die Rooi See te gebruik (Exodus 15:3-5). Kanaänitiese koning Jabin se gesofistikeerde taktiese wapens, „negehonderd strydwaens met ystersense”, onder die bevel van sy leërowerste Sisera, is eweneens heeltemal onskadelik gestel toe Jehovah ’n plotselinge oorstroming veroorsaak het. Die vyand is in totale verwarring gebring en die laaste man het gesneuwel. Die gevolg was dat ,die land veertig jaar lank gerus het’.—Kyk Rigters, hoofstuk 4 en 5:21, 31.
Dit is van betekenis dat daardie beslissende slag teen koning Jabin se leër in die stroomdal van die Kison, „by die waters van Megiddo”, plaasgevind het (Rigters 5: 19-21). Dit gee ons dus ’n dramatiese voorskouing van Jehovah se klinkende oorwinning in die komende Armageddonslag.
Ons weet nie watter „geheimsinnige” kragte, indien enige, Jehovah teen sy vyande sal gebruik nie. Wat ons wel weet, is dat hy kragte tot sy beskikking het wat die leërs van die nasies geheel en al kan verwoes. Wetenskaplikes weet byvoorbeeld dat ’n sterk elektromagnetiese puls—iets wat selfs hulle kan opwek deur ’n kernontploffing by ’n groot hoogte—die kommunikasie- en krygsbeheerstelsels van ’n nasie omver kan gooi en sodoende alles in ’n chaos kan dompel. Jehovah sal redelikerwys al die nasies se arsenale onskadelik stel om die grondslag vir totale vrede te lê.
Vrede—net vir die wat dit wil hê
Daar word dikwels gesê dat oorloë deur mense gevoer word, nie deur wapens nie. Hoewel dit dus noodsaaklik is dat oorlogsmiddele verwyder word, sal dit op sigself nie blywende vrede waarborg nie. As ons ware vrede wil sien, is dit logies dat daar ’n einde gemaak moet word aan die politieke, rasse- en nasionalistiese haat wat die wêreld in so baie blokke en kampe verdeel. Dit sal Jehovah God doen deur iets te bring waarvoor miljoene mense dwarsoor die wêreld bid: „Laat u koninkryk kom.”—Mattheüs 6:9, 10.
Ofskoon vervulde Bybelprofesieë duidelik toon dat die Messiaanse Koninkryk in die hande van Jesus Christus in 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, in die hemel opgerig is, het die nasies dit nie verwelkom nie. Nie een van hulle het daaraan gedink om hulle wapens neer te lê en hulle soewereiniteit oor te gee nie. In hulle desperate stryd om wêreldoorheersing het hulle eerder verwikkel geraak in die grootste oorlog wat tot op daardie tyd gevoer is.
Die tweede Psalm beskryf die situasie profeties: „Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde.” Dit is waarom Jehovah sy aangewese Koning, Jesus Christus, beveel: „U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”—Psalm 2:1, 2, 9; 110:2.
Hierdie oorwinning deur God se gesalfde Koning word in Openbaring 19:11-20:3 in figuurlike besonderhede beskryf. Die Woord van God, Jesus Christus, gevolg deur engeleleërs, word gesien as die ruiter van ’n wit perd, „en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. . . . En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan.” Die gevolglike slagting van die goddeloses is baie groot. In sy groot oorwinning sal die seëvierende Koning dan met die ware boosdoener agter al die weë en lyding op aarde afreken. Die Openbaringgesig beskryf dit asof dit reeds afgehandel is: „Hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank.”
Vrede—duisend jaar en langer
Kan jy jou voorstel wat duisend jaar van vrede vir die mensdom sal beteken? Owerhede erken vandag dat honger, talle siektes en armoede onder die nasies uitgeskakel kan word as slegs ’n breukdeel van die duisendmiljoene rande wat jaarliks aan wapens bestee word, gebruik is om hierdie probleme op te los. Dink net aan wat gedoen sal word wanneer al die aarde se hulpbronne konstruktief aangewend word. Dit was nie die wensdenkery van ’n dromer toe die profeet Jesaja onder inspirasie aangaande die heerskappy van die „vredevors”, Jesus Christus, voorspel het nie: „Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.”—Jesaja 9:5, 6, NAV.
Die dringende vraag is: Sal jy die vernietiging by Armageddon oorleef om die eindelose vrede te geniet? Jy wonder dalk: ,Wat moet ek doen om behoue te bly?’ Hier is die Bybel se raad: „Soek [Jehovah], o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van [Jehovah]” (Sefanja 2:2, 3). Jehovah se Getuies wil jou graag help om dit te doen. In daardie geval sal Armageddon vir jou nie ’n oorlog wees wat algehele vernietiging bring nie, maar ’n oorlog wat tot ware vrede lei.
[Prent op bladsy 6]
By die Rooi See het Jehovah sy vermoë getoon om gedugte oorlogswapens te neutraliseer