Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/1 bl. 19-24
  • Reageer nou op die „teken”!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Reageer nou op die „teken”!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • „Skape” en „bokke” word nou geskei
  • Tydige reaksie op die „teken” word beloon
  • Watter toekoms vir die skape en die bokke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Groter bedrywighede gedurende Christus se teenwoordigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wanneer Christus in Koninkryksmag kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Christus as Koning oordeel die skape en die bokke
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/1 bl. 19-24

Reageer nou op die „teken”!

„Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet . . . nie.”​—MATTHEÜS 25:13.

1. Waarom sou dit dwaas wees om soos die onverstandige maagde van Jesus se gelykenis te wees?

IN DIE lig van die inkomende gulde eeu vir die wêreld van vrygekoopte mense sou dit beslis dwaas wees om soos die vyf onverstandige maagde van Jesus se gelykenis te wees! Hulle het te laat gereageer en het nie toegang verkry tot „die koninkryk van die hemele” nie. Daardie onverstandige maagde het nie hulle lig laat skyn toe dit nodig was nie (Mattheüs 25:1-12). Wanneer ,hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig is tot ’n getuienis’ en „die einde” kom, sal hulle die geleentheid kwyt wees om deel te hê aan daardie diensvoorreg wat nooit herhaal sal word nie.​—Mattheüs 24:14.

2, 3. (a) Met watter vermaning het Jesus die gelykenis van die tien maagde afgesluit? (b) Waarom is daardie vermaning nog tydig, en waarvan moet die ,verstandige maagd’-klas dus altyd ’n voorraad hou?

2 Dit is waarom Jesus Christus sy gelykenis afgesluit het met die vermaning: „Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet . . . nie.”​—Mattheüs 25:1-13.

3 Daardie woorde van die Bruidegom Jesus Christus is baie tydig, veral nou ná 71 jaar van hierdie „voleinding van die stelsel”. Tot vandag toe weet die oorblyfsel van die ,verstandige maagd’-klas nie die dag en die uur waarop „die deur” gesluit sal word ten opsigte van verdere geleentheid om toelating te verkry tot die hemelse Koninkryk om saam met die Bruidegom te wees aan wie hulle verloof is nie. Dit betaam diegene wat onder die verstandige maagde wil wees om gedurig ’n voorraad geestelike olie te hê. Sodoende laat hulle die lig skyn deur „hierdie evangelie van die koninkryk” tot ’n aardwye, internasionale getuienis te verkondig totdat „die einde” kom.​—Mattheüs 24:14; Markus 13:10; Openbaring 14: 6, 7.

„Skape” en „bokke” word nou geskei

4. Watter finale gelykenis van Jesus moet volgens die Mattheüs-evangelie vervul word as deel van die „teken” van Sy „teenwoordigheid”?

4 Voor „die einde” van „die voleinding van die stelsel” aanbreek, moet ’n ander skeidingswerk onder mense plaasvind as deel van die „teken” wat aandui dat ons in „die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). Dit is die vervulling van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, waarmee Mattheüs sy weergawe van Christus se groot profesie oor die „teken” van sy onsigbare „teenwoordigheid” en van „die voleinding van die stelsel” afsluit.

5. Wanneer sou mense van mekaar afgeskei word soos skape van bokke?

5 Let nou op wat Jesus in hierdie verband voorspel het, soos opgeteken in Mattheüs 25:31-46. Hy het die gelykenis begin deur te sê: „Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.” Wat dan? Jesus vervolg:

6. Wat sê die Herder-Koning vir die mense aan sy regterhand?

6 „Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die Koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

7. Watter vrae sal die regverdige „skape” stel, en hoe sal die Koning antwoord?

7 „Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”

8. (a) Wat het „die bokke” nie dadelik gedoen nie? (b) Waarheen sal die Koning hulle stuur in teenstelling met die regverdige „skape”?

8 „Die bokke” reageer nie dadelik op die „teken” nie. Hulle doen nie die dinge wat die „skape”-klas doen nie. Daarom lees ons: „Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het vir My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ’n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”

9. Weens watter optrede gedurende die hedendaagse vervulling van Jesus se gelykenis oor „die skape” en „die bokke” kan jy jou gelukkig ag?

9 Jy neem waarskynlik deel aan die vervulling van hierdie profetiese illustrasie. Het jy gelet op die goeie dinge wat Jesus gemeld het? Het jy sulke dinge aan sy „broeders” gedoen? Ag jou gelukkig as jy soos ’n ,skaap’ teenoor hulle opgetree het!

10. Hoe het Jesus ’n onderskeid gemaak tussen sy „broeders” en diegene wat deur „die skape” en „die bokke” afgebeeld word, en watter Bybelse grondslag is daar hiervoor?

10 Jesus het ’n onderskeid gemaak tussen sy geestelike „broeders” en diegene wat soos skape of bokke is. Ten tye van hierdie gelykenis se vervulling is sy „broeders” diegene wat hom nagevolg het deur hulle onvoorwaardelik aan God oor te gee. Soos Jesus het hulle in die openbaar getuienis hiervan gelewer deur in water gedoop te word. Daarbenewens het Jehovah, die Vader van die Koning Jesus Christus, hulle hemelse Vader geword deur hulle met Sy heilige gees te verwek en hulle aldus geestelike „broeders” van sy Seun te maak. Dit bied vir hulle die moontlikheid van ’n plek in die hemelse Koninkryk saam met hulle Ouer Broer, Jesus Christus, die „Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16). In hierdie verband is daar aangaande hom geskryf: „Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys” (Hebreërs 2:11, 12). Hier word Psalm 22:23 op die verheerlikte Seun van God, Jesus Christus, toegepas.

11. Is daar vandag baie van Jesus se geestelike „broeders” op die aarde, en watter klas, of „gemeente”, maak hulle uit?

11 Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van daardie geestelike „broeders” van die heersende Koning Jesus Christus op die aarde. As ’n klas, of „gemeente”, maak hulle „die getroue en verstandige dienskneg” uit wat deur Jesus in sy profesie oor „die voleinding van die stelsel” voorspel is. Hy het gesê: „Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”​—Mattheüs 24:45-47.

12. (a) Wat doen die „dienskneg”-klas veral van 1919 af? (b) Oor watter „besittings” is die „dienskneg” aangestel? (c) Waarvan is die „dienskneg” wat nou in aksie is ’n deel?

12 Geskiedenisfeite gee die antwoord op Jesus se vraag oor die identiteit van hierdie „dienskneg”. „Die gemeente” wat as die „dienskneg” dien, bestaan uit sy godgegewe „broeders” wat nog op aarde is. Dit is dieselfde as die ,verstandige maagd’-klas. Veral van 1919 af verskaf hierdie „dienskneg” vars geestelike voedsel uit die Bybel aan die „diensvolk” van die Heer se huis, en dit op presies die regte tyd daarvoor. Gevolglik het die onsigbare Heer hierdie betroubare „dienskneg”-klas „oor al sy besittings” van ’n geestelike aard aangestel. Dit geld veral ten opsigte van die prediking van „hierdie evangelie van die koninkryk” oor die hele aarde, waaroor hy heers. Hierdie Koninkryksgetuienis brei tot vandag toe uit! „Die getroue en verstandige dienskneg” in aksie is ’n prominente deel van die „teken” wat vir ons die tyd aandui.

13. Van wanneer af word „al die nasies” voor die Koning versamel, en wanneer het die „dienskneg” begin om „die skape” aan Sy regterhand te versamel?

13 Dit is aan die lede van die „dienskneg”-klas dat die regverdige „skape” goed gedoen het. Die simboliese skape en bokke is mense van al die nasies aan wie die Koninkryksgetuienis nou gelewer word. Soos deur sulke skape en bokke afgebeeld, word „al die nasies” versamel voor die Koning wat sedert die einde van die Heidense Tye in 1914 op sy hemelse troon sit. Die jaar 1935 is van besondere belang in daardie voorspelde versameling. Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, wat deur die „dienskneg”-klas gebruik word, het destyds sowat 49 takkantore oor die aarde gehad. In daardie selfde jaar het die „dienskneg” sy aandag spesifiek op die aardse „skape” toegespits, met die doel om hulle aan die regterhand van die heersende Koning Jesus Christus te versamel. Hierdie mense uit al die nasies het dus in nouer voeling met die „dienskneg”-klas gekom.

14. Watter nuwe beskouing is daar in die lig van Johannes 10:16 van die regverdige „skape” verkry, en hoeveel takkantore van die Wagtoringgenootskap voorsien tans in hulle behoeftes?

14 Daardie regverdige „skape” sou nie langer ’n vae, algemene klassifikasie as „mense van welwillendheid” kry nie (Lukas 2:14, Douay Version). Hulle sou nie meer beskou word as ’n onbepaalde, ongeorganiseerde klas godvresende mense in alle nasies​—ofte wel, verlore skape—​nie. Jesus het gesê dat hy „ander skape” sou versamel en hulle „een kudde” saam met die oorblyfsel van die „dienskneg”-klas sou maak (Johannes 10:16). Die bymekaarmaak van hierdie „ander skape” van toe af is ’n belangrike deel van die „teken” wat „die voleinding van die stelsel” aandui. En die Wagtoringgenootskap het nou 95 takkantore wat in hulle behoeftes voorsien.

Tydige reaksie op die „teken” word beloon

15. Aan watter vereistes moet „die skape” voldoen om die koninkryk te beërf?

15 Volgens Jesus se gelykenis moet die regverdige „skape” gedurende „die voleinding van die stelsel” aan sekere vereistes voldoen. Hulle moet Christus se geestelike „broeders”, wat „die getroue en verstandige dienskneg”-klas uitmaak, erken. „Die skape” moet ook goed doen aan die „dienskneg”-klas en hulle selfs besoek wanneer hulle ten onregte in die gevangenis is. Dit moet „die skape” doen om die seën van die hemelse Vader te geniet en om deur die Koning Jesus Christus genooi te word om ,die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is van die grondlegging van die wêreld af.​—Mattheüs 25:34.

16. Wat nooi die Koning „die skape” om binne te gaan deur die woorde „beërf die koninkryk”, en watter „oorlog” sal hulle oorleef?

16 Aangesien hierdie „skape” nie die Koning se geestelike „broeders” is nie, nooi hy hulle nie om op hemelse trone te sit en gedurende die spesiale duisend jaar van sy heerskappy saam met hom te regeer nie. Deur sy woorde „beërf die koninkryk” nooi hy hulle om die Koninkryksera te betree nadat hy al die goddelose koninkryke van hierdie wêreld gedurende „die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon vernietig het (Openbaring 16:13-16). Baie van „die skape” wat nou lewe, sal daardie oorlog der oorloë oorleef en Christus se Duisendjarige Heerskappy ingaan sonder om te sterf.

17. Hoe praat die Koning met „die skape”, en hoe het hy iets ontvang om aan hulle te bemaak?

17 Die Koning Jesus Christus praat dus met hierdie „skape” soos met sy kinders vir wie die tyd aangebreek het om ’n erfenis van hom te ontvang. Toe hy as ’n volmaakte mens gesterf het om ’n losprysoffer vir die hele mensdom te voorsien, het hy alle vooruitsigte om self die aardse paradys te geniet, prysgegee (Lukas 23:39-43). In hierdie opsig is Jesus, „die laaste Adam”, anders as „die eerste mens, Adam,” wat gesondig en die aardse Paradys vir sy hele nageslag verbeur het. Die verrese Jesus Christus, wat die „Ewige Vader” van die hele vrygekoopte mensdom word, het dus iets gehad om aan hierdie „skape” op aarde te bemaak (1 Korinthiërs 15:45; Jesaja 9:5, 6). Die mensdom is verwek deur „die eerste mens, Adam,” met al sy vooruitsigte en geleenthede om ’n paradys te geniet. Maar daardie verlore paradys gaan herstel word deur middel van God se Koninkryk in die hande van „die laaste Adam”, Jesus Christus.

18. In watter sin is die Koninkryksgebied „vir [die skape] berei . . . van die grondlegging van die wêreld af”?

18 Dit was eers nadat hulle uit die eerste paradys gedryf is dat Adam en Eva kinders voortgebring het. Hulle tweede seun, regverdige Abel, is deur hulle eerste seun, Kain, vermoor. Hulle seun Set is gevolglik as ’n plaasvervanger vir Abel beskou. Met die geboorte van hierdie kinders het die mensewêreld tot stand gekom. Maar voor hierdie tyd, toe die ouers van die mensewêreld uit die Paradys gedryf is, het Jehovah God sy barmhartige belofte gemaak in verband met ’n „saad” wat die kop van die simboliese Slang, Satan die Duiwel, sou verbrysel. Daardie „saad” sou ’n koninklike Saad wees, en dit sou volgens God se voorneme en versiendheid ’n Koninkryk behels (Genesis 3:15). Wanneer Satan die Slang en sy saad dus onskadelik gestel word, sal die vrygekoopte lede van die mensdom ’n Koninkryksgebied op aarde betree, ’n gebied onder die hemelse regering van die seëvierende Saad wat die Slang en sy saad verbrysel. „Die koninkryk” wat „die skape” van hulle Ewige Vader, Jesus Christus, ontvang, is dus die Koninkryksgebied wat „vir [hulle] berei is van die grondlegging van die wêreld af”.

19. Watter soort begin sal die na-Armageddonse stelsel op die aarde hê?

19 Aangesien die simboliese bokke by Armageddon vernietig sal word, sal die oorlewende „skape” ’n regverdige begin aan die na-Armageddonse stelsel op ’n paradysaarde gee. Hieroor het Jesus gesê: „Hulle [die bokke] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”​—Mattheüs 25:46.

20. Hoe kan ons seker maak dat ons nie die aspekte van die „teken” verkeerd vertolk nie?

20 Gedurende hierdie „voleinding van die stelsel” sedert die einde van die Heidense Tye in 1914 verskil „die skape” en „die bokke” van mekaar in die wyse waarop hulle die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid” vertolk. Aangesien ons onteenseglik in ’n oordeelstydperk is, is die volgende vraag vir ons van lewensbelang: Wat beteken die „teken” vir ons? As dit aan ons oorgelaat was, sou ons die aspekte van daardie „teken” verkeerd kon vertolk. Daarom kan ons gerus vra: Wat sê Jesus Christus moet hierdie saamgestelde „teken” vir ons aandui? Volgens hom behoort dit te toon dat die huidige stelsel binnekort gaan eindig in ’n „groot verdrukking” wat verwoestender sal wees as die wêreldvloed van Noag se dag.​—Mattheüs 24:21.

21. (a) Waarom moet ons verheug wees, al is die „groot verdrukking” aan die kom? (b) Watter geleentheid en moontlikheid bestaan daar vandag vir „die skape”-klas?

21 Wees nietemin verheug, want hierdie „teken” dui ook daarop dat die Duisendjarige Heerskappy van Christus ophande is, dat dit gereed is om te begin ná die vernietiging van Satan se stelsel op aarde (Lukas 21:28). Jy het dus die kosbare geleentheid om daardie „groot verdrukking” onder goddelike beskerming te oorleef en die nuwe stelsel binne te gaan waarin geregtigheid vir ewig sal woon. Ja, voor jou lê die moontlikheid om nooit te sterf nie maar om tot in ewigheid te lewe en seëninge te geniet op ’n paradysaarde onder die universele soewereiniteit van Jehovah God!

22. (a) Wat sal ons doen as ons onverwyld en reg reageer op die „teken”? (b) Hoe sal Jesus Christus geregverdig wees met betrekking tot die „teken”?

22 Laat ons dus onverwyld en reg reageer op die „teken”, hetsy ons Christus se geestelike „broeders” of die regverdige „skape” is. Laat ons ’n verdere aandeel hê in die vervulling van die prominente aspek van daardie „teken”: „Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.” Dan sal ons niks te vrees hê wanneer „die einde” kom nie. Ons blydskap sal eerder oorvloedig wees! Dan sal Jesus Christus ook geregverdig wees as die betroubare voorspeller van die veelledige „teken . . . van die voleinding van die stelsel”.​—Mattheüs 24: 3-25:46.

Kan jy hierop antwoord?

◻ Wanneer sou mense geskei word soos skape van bokke?

◻ Wat moet jy gedurende die vervulling van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke doen as jy jou gelukkig wil ag?

◻ Wie is die Koning se „broeders” en „die getroue en verstandige dienskneg”?

◻ Aan watter vereistes moet „die skape” voldoen om ,die koninkryk te beërf?

◻ Wat sal ons doen as ons onverwyld en reg reageer op die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid”?

[Lokteks op bladsy 23]

Reageer nóú op die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid”. Dit kan vir jou die ewige lewe in die Paradys beteken

[Prent op bladsy 20]

Soos ’n herder skape van bokke afskei, so skei Jesus Christus vandag mense van mekaar. Is jy soos ’n ,skaap’?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel