Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/1 bl. 24-25
  • Vasbeslote om byeen te kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vasbeslote om byeen te kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • Program vir die spesiale byeenkomsdag vir 2010
    Ons Koninkryksbediening—2009
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/1 bl. 24-25

Vasbeslote om byeen te kom

„SWAARSTE neerslag in 80 jaar eis 28 lewens”, het die volgende dag se opskrifte gelui. In net ses uur, van 2 vm. tot 8 vm., het ongeveer 250 millimeter op noordelike Taiwan uitgesak. Veral die stad Taipei is swaar getref. In daardie paar uur het dit soveel gereën as wat dit gewoonlik in ’n maand reën, en dit het oorstromings van tot 4 meter op sommige plekke veroorsaak. Maar noordelike Taiwan was die gebied waarvandaan Jehovah se Getuies daardie dag sou kom, en Taipei die stad waar hulle byeenkoms gehou is! Sou hulle nog steeds op hierdie tweede dag van hulle halfjaarlikse kringbyeenkoms kon vergader?

Toe ons op 3 Junie 1984 wakker geword het, het ek en my vrou nie besef hoe ernstig die storm was nie. Swaar neerslae kom algemeen gedurende die reënseisoen voor, en ons het ons nie daaroor bekommer nie. Maar geleidelik het ’n buitengewone stilte ons opgeval. Die stadsbusse, wat gewoonlik elke paar minute voor ons woonstelgebou stilgehou het, het nie geloop nie. En toe die krag om 7:30 vm. onderbreek is, het ons begin besef dat dit nie ’n gewone bui reën was nie. Omdat ek besorg was oor die byeenkoms wat om 9:55 vm. moes begin, het ek die persoon wat by die byeenkoms na die klank moes omsien, gebel om seker te maak dat daar klankversterkingstoerusting sou wees wat met batterye werk, asook flitse ingeval die krag gedurende die program onderbreek word.

Ongeveer daardie tyd het ons van bure en vriende begin hoor van algemene oorstromings in ons deel van die stad. Omdat ons vasbeslote was om betyds by die byeenkoms op te daag vir die oggendsessie, het ons kort na 8 vm. met ons motorfiets vertrek op ’n rit na die Byeenkomssaal wat gewoonlik 20 minute geduur het. Toe ons uit ons straat draai, het ons besef dat ons probleme sou ondervind. Die vier verskillende roetes wat ons probeer het, was onbegaanbaar wanneer ons laer grond bereik het. In die verlede het ons dikwels deur water gery wat 30-40 sentimeter diep was wanneer ons gemeentes gedurende die reënseisoen besoek het. Maar nou het selfs busse en vragmotors onklaar geraak in die water wat tot by ’n mens se middel gekom het. Ons het dus die motorfiets teruggeneem huis toe en besluit om uit die gebied te probeer loop. Ons was steeds vasbeslote om daardie dag saam met ons geestelike broers te vergader.

Selfs te voet het dit moeilik gegaan. Hoewel dit nou opgehou reën het, het die water nog steeds gestyg. Bruin water het soos fonteine uit die geute en mangate gespuit toe ons die Ching Mei-rivier genader het, want die stygende water agter die oewerwalle was reeds baie hoër as die omliggende grond. Ons het bymekaar ingehaak en stadig deur die vinnige stroom geloop​—terwyl ons ons voete versigtig neersit sodat ons nie in gate sou val nie. Dit was eers toe ons bo-op die rivierbrug gekom het dat ons die erns van die situasie ten volle besef het. Die stroompie in ’n breë rivierbedding wat gebruik is om groente te kweek en varke te teel, wat gewoonlik 15 meter ver onder die brug geloop het, was nou ’n malende vloed wat die bedding tot feitlik by die oewerwalle gevul het​—en dit was net een meter onderkant die brug!

Die oorstroming aan die ander kant van die brug het selfs ernstiger gelyk. Maar ’n paar manne wat van daardie kant gekom het, het gesê dat toestande verder aan nie so sleg was nie en dat busse en taxi’s daar deur die strate gery het. Ons het dus in daardie rigting geloop. Maar hoe verder ons geloop het, hoe sterker het die stroom oënskynlik geword. My vrou, wat korter as ek is, moes styf aan my vashou om net haar ewewig te behou. Toe het ons by ’n plek gekom wat onbegaanbaar gelyk het. Uit ’n systraat het ’n sterk, diep stroom gevloei. Gelukkig is twee toue oor hierdie deel gespan, en deur daaraan vas te hou, kon ons deurkom. Namate ons hoër grond bereik het, het die watervlak gedaal, en eindelik kon ons stilstaan, die water uit ons stewels gooi en sodoende die las op ons voete ligter maak.

Toe ons by die eerste pad kom wat nie oorstroom was nie, het ons ’n ander probleem teëgekom wat dit vir ons moeilik gemaak het om die Byeenkomssaal te bereik: Die paar busse wat geloop het, was propvol en die meeste taxi’s het geweier om passasiers op te laai. Maar eindelik het een, wat reeds ’n passasier gehad het, vir ons stilgehou. Na baie ompaaie om om oorstroomde gebiede te kom, het ons kort na 10 vm. by die Byeenkomssaal opgedaag.

Tot ons blydskap was die meeste Getuies reeds daar en het hulle gewag vir die byeenkoms om te begin. Almal het baie moeite gedoen om daar te wees en deur water van verskillende dieptes geloop aangesien busse en motorfietse​—wat die meeste gewoonlik gebruik het—​nie kon deurkom nie. Hoe wonderlik was dit tog om hulle waardering vir die byeenkomsprogram te sien! Daar is slegs 417 Getuies in hierdie gebied, maar talle belangstellende persone het ook die oorstromings getrotseer omdat hulle vasbeslote was om saam met hulle te vergader en deur die Bybel se geestelike waarhede verkwik te word. Die opkoms van 629 by die oggendsessie het toegeneem tot 764 vir die hooftoespraak in die middag! Meer as 30 persone in ons deel van noordelike Taiwan het verdrink of in grondstortings gesterf, en tog het nie een van die wat vasbeslote was om byeen te kom iets oorgekom nie. Dankbaar oor Jehovah God se beskerming het hulle die puik program geniet.

Ja, ons was seker dat Jehovah ons almal sou beskerm omdat ons vasbeslote was om byeen te kom​—sonder om ons te veel te bekommer oor ons huise en besittings. En nie een van die aanwesiges het in werklikheid groot verlies of skade gely nie. Maar ons het almal baie baat gevind by die soete omgang met ons mede-Christene en die voortreflike program wat aangebied is. Dit het vir ons bewys dat hoewel dit maklik is om Christelike vergaderinge of byeenkomste te versuim wanneer dit ongerieflik is, diegene wat moeite doen ryklik beloon word.​—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel