Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/1 bl. 8-13
  • Wie kan die „teken” reg vertolk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie kan die „teken” reg vertolk?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die „teken” vir ons dag
  • Die aangewese tyd vir die verskyning van die „teken”
  • Wees dankbaar—Jehovah se Messiaanse Koninkryk regeer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Die Israel van God” en die einde van die Heidense Tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Na vore met die Koninkryksgeskil!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/1 bl. 8-13

Wie kan die „teken” reg vertolk?

„Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?”​—LUKAS 12:56.

1, 2. Wat kon Jesus se vyande uit die voorkoms van die lug aflei, maar wat kon hulle nie verstaan nie?

VERSTANDIGE seevaarders weet hoe om die voorkoms van die lug te vertolk, en hulle slaan ag op die tekens. Soos ’n rympie dit stel: „Rooi lug by nag, seemanne lag,/Rooi lug by môre, seemanne besor’e.”

2 Die Here Jesus Christus het ’n soortgelyke punt selfs dramatieser gestel toe hy deur sy vyande gekonfronteer is. Die Evangelieskrywer Lukas het aangaande daardie ontmoeting berig: „Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! En dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?”​—Lukas 12:54-56.

3. Watter „teken” wat bewys het dat Jesus die Messias is, kon sy vyande nie verdoesel nie?

3 Daardie trotse vyande kon die weer voorspel, maar hulle was te geveins en geestelik onkundig om sake van veel groter belang te verstaan. Jesus het allerhande tekens gedoen wat eerlike mense gehelp het om in hom te glo (Johannes 2:23). Maar in die besonder was sy dood op Pasgadag van 33 G.J. en sy opstanding op die derde dag ’n „teken” wat bewys het dat hy die Messias, of Christus, is (Mattheüs 12:38-41; Lukas 11:30). Jesus se vyande het natuurlik probeer om daardie „teken” te verdoesel (Mattheüs 27:62-28:20; Handelinge 4:1-4). Maar voor hy na die hemel opgevaar het, het meer as 500 Jode getuies van sy opstanding geword (1 Korinthiërs 15:3-6). Net so is daar vandag ’n „teken” wat nie verdoesel kan word nie. Die regte vertolking daarvan is ’n lewenskwessie. Maar wat is daardie „teken”? En wie kan dit korrek vertolk?

Die „teken” vir ons dag

4. Watter „teken” sien ons vandag, en wat is sommige aspekte daarvan? (Mattheüs 24:3, NW)

4 Jesus se dissipels het hom gevra: „Wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel?” In antwoord het Jesus ongeëwenaarde oorloë, hongersnood, aardbewings en ander aspekte van die „teken” van sy onsigbare „teenwoordigheid” in Koninkryksmag voorspel. ’n Vername aspek is die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk wat nou deur meer as 2 840 000 getuies van Jehovah in 203 lande gedoen word. Wagtoringpublikasies wys dikwels op hierdie en ander bewyse dat die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid” nou vervul word.​—Mattheüs, hoofstukke 24, 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21.

5. Waarom het Jesus nie oordryf toe hy die eerste-eeuse Jode „’n slegte en owerspelige geslag” genoem het nie?

5 Niemand kan ontken dat die getuienis ter vervulling van die „teken” sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 vermenigvuldig het nie. Watter betekenis moet dit vir ons hê? Wel, ons wil nie soos die Jode van 19 eeue gelede wees wat goeie weervoorspellers was nie, maar wat die duidelike bewys voor hulle oë geïgnoreer en nie die gevolgtrekking wou maak waarop dit logieserwys gedui het nie. Lank tevore het God vir Moses die krag gegee om drie tekens te doen om aan die lydende Israeliete te bewys dat God hom gestuur het (Exodus 4:1-31). Maar hoewel hulle baie meer as drie tekens gehad het, was die Jode van daardie eerste-eeuse geslag onwillig om die grotere Moses as die Messias te aanvaar (Johannes 4:54; Hebreërs 2:2-4). Jesus het dus nie oordryf toe hy hulle „’n slegte en owerspelige geslag” genoem het nie.​—Mattheüs 12:39.

6. Wat sê ingeligte mense vandag oor wêreldtoestande?

6 Mense van hierdie 20ste-eeuse geslag wat nie die tweede koms van Jesus Christus verlang of daar aan glo nie, vertolk nie die „teken” van die einde van hierdie stelsel korrek nie. Maar huidige toestande is glad nie bemoedigend nie, soos die volgende aanhalings toon:

„Die sekretaris-generaal van die Verenigde Volke, Javier-Perez de Cuellar, het opgemerk dat die wêreld die kritiekste stadium in die evolusie van internasionale aangeleenthede bereik het en dat die beweging na ’n regverdige, vreedsame en bestendige internasionale orde skynbaar verswak is. . . . ,Die . . . agteruitgang in wedersydse vertroue onder nasies bied ’n vrugbare teelaarde vir spanning en konflik’, het die sekretaris-generaal van die VV gesê.”​—Indian Express, 22 Oktober 1983.

„Baie van ons sê al jare lank dat ’n kernoorlog baie miljoene onskuldige mense sal dood en ’n groot deel van die wêreld onbewoonbaar sal maak . . . ’n Groep vermaarde wetenskaplikes het tot ’n selfs droewiger slotsom gekom​—dat ’n kernoorlog, of selfs een algemene kernverwisseling deur die supermoondhede, ’n wêreldwye klimaatramp kan veroorsaak wat op sy beurt nie net miljoene nie maar duisendmiljoene kan dood en moontlik alle menselewe op aarde kan uitwis. Die tweejaarstudie is gedoen namens die Konferensie oor die Langtermyn- Wêreldwye Biologiese Gevolge van Kernoorlog. Die gevolgtrekkings van die studie is deur meer as 100 wetenskaplikes onderskryf . . . Carl Sagan . . . het die gevolge van kernoorlog in skokkende woorde uitgedruk: ,Die uitwissing van die menslike spesie sou ’n wesenlike moontlikheid wees.’”​—The Express (Easton, Pa.), 3 November 1983.

7. Waarheen moet liefhebbers van die lewe wat ’n beter wêreld verlang hulle vir gerusstelling wend?

7 Dit is die somber beskouing van sekere verantwoordelike, gesaghebbende kommentators. Die toekoms lyk veral duister omdat hulle geen uitweg kan aanwys uit die onheil wat hulle verwag nie. Mense wat die lewe liefhet en ’n beter wêreld wil sien, soek beslis inligting wat hoop bied. Gelukkig is daar ’n uitweg uit die naderende wêreldonheil, want daar was oorlewendes van ’n ewe dreigende wêreldramp. Ja, as daar geen oorlewendes van die Vloed van Noag se dag gewees het nie, sou die aarde nie nou meer as 4 000 000 000 mensebewoners gehad het nie! Net een boek​—die Bybel—​gee ons ’n akkurate beskrywing van hoe net agt mense, tesame met eksemplare van die diere, daardie wêreldramp oorleef het.

8. Wat moet Jesus se dissipels, in teenstelling met ander, doen net voor die huidige stelsel uit die weg geruim word?

8 Dieselfde betroubare Boek bevat Jesus se beskrywing van die toestande wat op die aarde sal heers wanneer die huidige verdorwe stelsel uit die weg geruim gaan word. Moet ons dan nie probeer om daardie „teken” reg te vertolk nie? Sewe-en-dertig jaar voor Jerusalem in 70 G.J. deur Romeinse leërs vernietig is, het Jesus daardie lang lys aspekte van die saamgestelde „teken” opgenoem wat die wêreldramp, soos deur die Vloed afgeskadu, sou voorafgaan. Hy het onder meer gesê: „Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”​—Lukas 21:25-28.

9. Hoe is die doel van hierdie blad van 1895 tot 1931 op sy voorblad uitgebeeld?

9 ’n Deel van daardie profesie het op die voorblad van die Watch Tower se nommers van 1 Januarie 1895 tot en met 1 Oktober 1931 verskyn. Bokant daardie Bybelaanhaling was daar ’n wagtoring wat lig uitgestraal het, terwyl ’n onstuimige see geslaan het teen die rotsfondament waarop die toring gebou was. So het hierdie blad sy doel aan ’n geslag bekendgemaak, ’n geslag waarvan sommige lede vandag nog lewe en hierdie einste nommer lees.

10. Hoe kan ons die vrese vermy wat vandag deur menseleiers ondervind word?

10 Mense van die wêreld, wie se harte beswyk van vrees, bied vandag hulle eie vertolking van die aspekte van die saamgestelde „teken”. Maar ons beste vertolker is Jesus Christus, en as ons dieselfde betekenis aan die „teken” heg as wat hy daaraan gegee het, sal ons nie die vrese ondervind van die menseleiers wat nie die uitweg uit die huidige wêreldverknorsing weet nie. Ons sal ons eerder verheug omdat ons verlossing uit hierdie goddelose stelsel nader kom.

Die aangewese tyd vir die verskyning van die „teken”

11. Hoe het Jesus getoon dat wêreldgebeure wat die einde aandui presies op tyd sou plaasvind?

11 Wêreldgebeure vind presies op tyd plaas. Hoe so? Wel, voordat Jesus die profesie in Lukas 21:25-28 gegee het, het hy die tweede vernietiging van Jerusalem voorspel. Dit het in 70 G.J. gebeur, soos hy voorspel het. Wat die oorlewende Jode betref, het Jesus Christus gesê: „Hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” Daardie nasies was nie-Joodse, of heidense, nasies. Daarom word die tydperk van vertrapping ook „die tye van die heidene” genoem (Lukas 21:24, vgl. King James Version). Wanneer het daardie tye geëindig? Wel, die saak behels meer as wat met aardse Jerusalem gebeur het. Die datum waarop die Israeli’s beheer oor die ou, ommuurde stad Jerusalem oorgeneem het, of die feit dat dit die hoofstad van die hedendaagse, onafhanklike nasie Israel is, is dus nie die bepalende faktor nie. Dit is God se tydrooster wat tel!

12. Wanneer het die Heidense Tye begin, hoe lank was hulle en wanneer het hulle geëindig?

12 Die heidense Romeine het Jerusalem in 63 v.G.J. begin vertrap. Maar voor hulle het die heidense Grieke, Perse en Babiloniërs daardie ,stad van die groot Koning’ Jehovah vertrap (Mattheüs 5:34, 35). Die Babiloniërs het die stad en sy tempel in 607 v.G.J. vernietig. Van toe af het die heidense nasies begin om die stad te vertrap wat God se Koninkryk verteenwoordig het, en die Heidense Tye het toe begin. Daar sou sewe sulke Heidense Tye wees, waarvan elkeen met ’n profetiese jaar van 360 dae ooreenstem. Volgens die beginsel „vir elke dag een jaar” sou al „sewe tydperke” 2 520 jaar duur (Daniël, hoofstuk 4; Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Aangesien hulle met die verwoesting van Jerusalem in 607 v.G.J. begin het, sou hulle in 1914 G.J. eindig.

13. Van wanneer af het Bybelstudente geweet wanneer die Heidense Tye sou eindig?

13 Reeds in 1880 het die Watch Tower gesê dat die Heidense Tye in die jaar 1914 sou verstryk. Met die verskyning van die boek The Time Is at Hand in 1889 is Bybelstudente oor die hele aarde verder attent gemaak op die feit dat die Heidense Tye in die noordelike herfs van 1914 sou eindig.

14. Waarom kan ons, in weerwil van wat in 1948 met Jerusalem gebeur het, sê dat die Heidense Tye in 1914 geëindig het?

14 Wel, het die nie-Joodse, of heidense, nasies in daardie jaar opgehou om die ou Jerusalem te vertrap? Nee, want in 1914 was die historiese stad nog in die hande van die Turkse Ryk, die bondgenoot van die Duitse Keiserryk. Op 9 Desember 1917 het Britse troepe onder generaal Allenby dit van die Turke afgeneem. Deur ’n mandaat van die Volkebond het Jerusalem tot 1948 onder Britse heerskappy gebly. Toe het die Jode in opstand gekom en die westelike deel van die hedendaagse Jerusalem buite die ou ommuurde stad ingeneem. Die ommuurde stad is deur die Mohammedane oorgeneem. Hoe kan ons dan sê dat die Heidense Tye in 1914 geëindig het? Omdat die regering van die groot Koning Jehovah in daardie jaar in die hemel opgerig is.

15, 16. (a) Wanneer het die ou Jerusalem opgehou om ,die stad van die groot Koning’ Jehovah te wees, maar watter verhewener Jerusalem bestaan? (b) Waar sou Jehovah dan vir Jesus Christus op die troon plaas?

15 Toe Jesus op aarde was, het die tempel van God in Jerusalem gestaan, en Jesus het daar aanbid. Daarom kon Jerusalem toe ,die stad van die groot Koning’ Jehovah genoem word (Mattheüs 5:34, 35). Maar dit het beslis opgehou om Jehovah se koninklike stad te wees toe die voorhangsel van die tempel wonderbaarlik in twee geskeur het met die dood van Jesus op Pasgadag van 33 G.J. Die vernietiging van Jerusalem en sy tempel deur die heidense Romeine in 70 G.J. het daardie feit bevestig. Gelukkig vir die Joodse Christene van daardie tyd, en vir alle Christene sedertdien, is daar ’n ander Jerusalem, ’n verhewener, „hemelse Jerusalem”.​—Hebreërs 12:22.

16 In ooreenstemming met hierdie feit het Jesus se profesie in Lukas 21:24 aanvanklik betrekking gehad op aardse Jerusalem, maar moet dit eindelik betrekking hê op „hemelse Jerusalem”. Ja, want „hemelse Jerusalem” het aardse Jerusalem vervang as ,die stad van die groot Koning’ Jehovah God. Dit was daar, in daardie hemelse „stad”, dat „die groot Koning” Jehovah sy verheerlikte Seun Jesus Christus aan die einde van die Heidense Tye in 1914 op die troon geplaas het.

17. Watter goddelike opdrag is aan die einde van die Heidense Tye aan die gekroonde Koning Jesus Christus gegee, en wie het hulle gewillig vir sy diens aangebied?

17 Dit was die goddelik aangewese tyd vir Jehovah om aan sy gekroonde Seun Jesus Christus die opdrag te gee wat in Psalm 110:2, 3 vervat is: „U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.” Getrou aan hierdie profesie het die toegewyde „volk” wat Jesus se voetstappe nagevolg en die einde van die Heidense Tye in 1914 onderskei het, hulle gewillig aangebied om as aankondigers op te tree van Jehovah God se nuwe heerskappy in die hemelse Sion deur middel van die Here Jesus Christus. Maar die sogenaamde Christennasies het hulle die gewillig aan Jehovah se pasgekroonde Koning onderwerp nie. Hulle was inderdaad sy „vyande”, want hulle het deelgeneem aan die eerste wêreldoorlog in die mens se geskiedenis oor die kwessie van wêreldoorheersing. Hulle het ook wêreldwyd die verkondiging van God se Koninkryk gedwarsboom.

18. Watter bewys was daar in 1918 van vyandigheid teen God se Koninkryk?

18 Vyandigheid teen God se Koninkryk het veral in 1918 duidelik geword. Op 8 Mei 1918 is die redakteur van die Watch Tower en ’n aantal van sy medewerkers te midde van oorlogswaansin in hegtenis geneem. Later, op 21 Junie, is hulle tot jarelange gevangenisstraf in die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, V.S.A., gevonnis. Eers ná die oorlog en nadat hulle nege maande in die tronk deurgebring het, is hierdie bedienaars van God se Koninkryk op borgtog vrygelaat. Later is hulle vrygespreek van al die valse beskuldigings wat teen hulle ingebring is.

19. Watter standpunt het die Federale Raad van Amerikaanse kerke ná die Eerste Wêreldoorlog ten opsigte van die Volkebond ingeneem?

19 Die Eerste Wêreldoorlog het op 11 November 1918 geëindig, en in die daaropvolgende maand het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika in die openbaar sy steun toegesê aan die Volkebond wat toe voorgestel is. Daardie godsdiensliggaam het verklaar dat die Volkebond „die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” is. Die Verenigde State van Amerika het daardie godsdienstige aanbeveling geïgnoreer en om politieke redes geweier om ’n lid van die Volkebond te word. Die land het net by die Wêreldhof aangesluit. Die Volkebond het nietemin aan die begin van 1920 in werking getree, en die lede van die Federale Raad van Kerke het hulle seën en steun daaraan toegesê.

20. Watter standpunt het Jehovah se volk ten opsigte van die Volkebond ingeneem, en wat het hulle begin adverteer?

20 Die Watch Tower en Jehovah se volk wat die tydskrif versprei het, het daarenteen geweier om die Volkebond as die politieke plaasvervanger van God se Koninkryk te erken. Hulle het dit nooit erken as die vervulling van die modelgebed wat deur Jesus Christus geleer is nie: „Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6: 9, 10). Hulle het hulle nie beskikbaar gestel vir die diens van daardie mensgemaakte plaasvervanger, daardie namaaksel, nie! Hulle het eerder trou gesweer aan die ware Koninkryk van God in die hande van Jesus Christus in die „hemelse Jerusalem”. Met God se hulp het hulle die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel” reg vertolk. Hulle het derhalwe begin om die Koninkryk wêreldwyd te adverteer.

Hoe antwoord jy?

◻ Watter „teken” sien ons vandag, en wat is sommige aspekte daarvan?

◻ Hoe kan ons die vrese vermy wat menseleiers nou ondervind?

◻ Wanneer het die Heidense Tye begin en geëindig?

◻ In watter „Jerusalem” het Jehovah vir Jesus Christus op die troon geplaas?

◻ Hoe het Jehovah se volk die Volkebond beskou?

[Tabel op bladsy 11]

Oktober, 607 v.G.J.​—Oktober, 1 v.G.J. = 606 jaar

Oktober, 1 v.G.J.​—Oktober, 1914 G.J. = 1 914 jaar

SEWE HEIDENSE TYE = 2 520 jaar

[Prent op bladsy 10]

Diegene wat die „teken” reg vertolk, kan die einde van hierdie stelsel oorleef, soos agt mense die Vloed oorleef het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel