Bouwerk wat vir ewig sal hou
IEMAND het glo gesê: “Ons bouwerk sal vir ewig hou.” Maar watter soort bouwerk kon hy bedoel het—bouwerk wat vir ewig sal hou?
Om uit te vind, moet ons teruggaan na ’n openbare aankondiging wat op Sondag, 30 Julie 1978, aan sowat 50 000 persone in Dusseldorp, Duitsland, en aan ’n ewe verraste skare van byna 60 000 in München se Olimpiese Stadion gedoen is. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het besluit om eiendom in die Bondsrepubliek van Duitsland te koop sodat ’n splinternuwe takkompleks gebou kon word.
Waarom was dit nodig?
Teen die einde van die sewentigerjare het die Wagtoringgenootskap sy drukmetode begin rekenariseer. Die Duitse tak, wat aangesê is om dit ook te doen, het besef dat hierdie verandering nuwe toerusting en meer werkruimte sou vereis.
Daar was ook ’n groeiende besef dat groter geriewe nodig sou wees om met die ongeëwenaarde uitbreiding van die predikingswerk tred te hou. Jehovah se belofte dat ‘die kleinste ’n geslag sal word en die geringste ’n magtige nasie’, sou nie onvervuld bly nie. Dit kon trouens nie, want Jehovah het beloof: “Ek, [Jehovah], sal dit op die regte tyd gou laat kom.”—Jesaja 60:22.
In 1947 het die Genootskap grond in Wiesbaden gekoop vir sy takkantoor, en hierdie geriewe is telkemaal vergroot om tred te hou met die vraag na lektuur. Maar die aantal tale waarin lektuur gedruk is en die aantal verkondigers wat van lektuur voorsien moes word, het bly toeneem. Uitbreiding was weer eens nodig. Dit was egter onmoontlik om die geriewe in Wiesbaden verder te vergroot, ’n Nuwe perseel was nodig. Die vraag was: Waar?
“Jehovah weet reeds waar die nuwe Bethel gebou moet word”, het Martin Poetzinger, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, vir die lede van die Duitse takkomitee gesê. “Die perseel bestaan reeds, maar hy gaan julle volharding op die proef stel om daarna te soek.” So het die soektog begin—’n soektog waartydens nie minder nie as 123 persele in meer as 70 gemeenskappe besigtig sou word.
Perseel nommer 99 is met versigtige geesdrif deur lede van die takkomitee besigtig. Maar omdat ander nie so beïndruk was nie, is daar met die soektog voortgegaan. Toe hulle op die punt gestaan het om ’n ander perseel te kies, het die takkomitee, klaarblyklik onder goddelike bestiering, besluit om nog ’n slag na perseel nommer 99 te kyk. Hierdie keer was al die lede daarvan oortuig dat dit inderdaad die perseel was wat deur Jehovah gekies is. Sonder aarseling is reëlings getref om 65 individuele standplase te koop om sodoende een groot perseel van 30 hektaar te vorm.
’n Ideale plek
Jehovah se Getuies het van die begin af besluit om al die ontwerp- en bouwerk self te doen. ’n Paar honderd persone sou die kern van ’n bouspan, of “-gesin”, vorm wat in grootte sou wissel namate ander vir korter tydperke kom help het—moontlik ’n week of twee, of miskien net oor naweke.
Iets wat van groot nut was, was die drie woonstelblokke wat reeds op die perseel gestaan het. Hulle was slegs gedeeltelik bewoon, wat beteken het dat daar onmiddellik huisvesting beskikbaar was vir ’n deel van die bouspan. Bykomende kamers het beskikbaar geword toe die oorspronklike huurders een vir een ’n stuk of 30 woonstelle ontruim het.
Die perseel was ook in ander opsigte ideaal. Dit is geleë in die klein gemeenskap van Selters/Taunus aan die westekant van die Taunusberge, dit is naby groot verkeersweë en stede, en tog het dit ’n oorheersend plattelandse karakter. Setters is alom bekend in Duitsland—en selfs in ander dele van die wêreld—vir die minerale water, bekend as Selterswater of Seltzerwater, wat daarvandaan kom. En nou sou die selfs gesonder en verkwikkender geestelike waters van waarheid hiervandaan uitgaan. Hoe gepas tog!
Die bouperseel was op ’n heuwel wat ’n uitsig oor Selters het. Die heuwel heet Am Steinfels, wat “by die rots” beteken. En die een kant van die heuwel is dan ook ’n loodregte rotswand. Hierdie kombinasie van rots en water sal Bybelstudente moontlik laat dink aan die manier waarop Jehovah God vir sy volk, die Israeliete, gesorg het gedurende hulle swerftog deur die woestyn op pad na die Beloofde Land. Jesaja 48:21 beskryf wat eenmaal gebeur het: “Hulle het geen dors gehad nie, in die woesteny het Hy hulle gelei; Hy het water uit die rots vir hulle laat stroom en die rots geklowe, sodat die waters weggevloei het.” Nou sou Jehovah op simboliese wyse vir tienduisende opregtes van hart sorg deur waters van waarheid, in die vorm van Bybels en verklarende Bybelmateriaal, van Selters se Steinfels te laat vloei om hulle geestelike dors te les. Hoe gepas tog!
Sal dit vir ewig staan?
Geen gebou staan vir ewig nie. Dit sou dus voorbarig wees om te dink dat die geboue by Selters ’n uitsondering is. Maar een ding is seker. Hierdie geboue het reeds bygedra, en sal steeds bydra, tot ’n ander soort bouwerk waarvan die uitwerking wel ewigdurend sal wees. Jy wonder miskien watter soort bouwerk dit kan wees.
In die eerste plek sal die Bybellektuur wat hier gedruk word die geloof van tallose persone opbou en aan hulle ’n juiste kennis van God se voornemens gee. Dit sal daartoe lei dat hulle hulle lewe aan Jehovah toewy en in aanmerking kom vir die ewige lewe in sy nuwe stelsel. Die gevolge van hierdie geestelike bouwerk sal vir ewig duur.
En dan is daar die vriendskappe wat gebou is. Ongeveer een uit elke sewe Getuies in die Bondsrepubliek van Duitsland het in Selters met die bouwerk gehelp, hetsy dae, weke of maande lank, of oor naweke. Dit sluit een Getuie van by die 90 jaar in wat ongenooid opgedaag het. Toe daar aan hom gesê is dat hy eers aansoek sou moes doen en dan op ’n uitnodiging sou moes wag, het hy met ’n glinstering in sy oë gesê: “Op my ouderdom sou julle my tog nie genooi het om te kom help as ek voor die tyd aansoek gedoen het nie.” Wat ’n kosbare voorreg is dit tog om vriendskappe te bou met Christene wat so ’n gewillige en vasbeslote gees openbaar! Sommige van hierdie vriendskappe sal beslis vir ewig duur.
Die vriendskap wat vir Christene die kosbaarste is, is natuurlik die vriendskap wat hulle met Jehovah kan opbou. Die bouwerk aan die nuwe tak het baie geleenthede gebied om hierdie vriendskap te verinnig en om gehoor te gee aan die raad wat Jesus aan die dissipels gegee het: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit julle in die steek laat, hulle julle in die ewige woonplekke kan ontvang.”—Lukas 16:9, NW.
Tienduisende getuies van Jehovah—ryk en arm, jonk en oud—het miljoene rande bygedra om vir die nuwe geriewe te betaal. Danksy hulle vrygewigheid kon die hele projek voltooi word sonder die nodigheid om geld van wêreldlike instansies te leen of skuld aan te gaan. Diegene wat behoorlik gebruik maak van “onregverdige rykdom” kan seker wees van die vriendskap van Jehovah en sy Seun Jesus Christus en van seëninge wat vir ewig sal duur.
Almal wat by die bouprojek betrokke was, het die geleentheid gehad om voortreflike Christelike eienskappe soos geloof, volharding, hoop en liefde te bou en te versterk. En hoe dikwels is die Christelike eienskappe lankmoedigheid, barmhartigheid, vergewensgesindheid en selfbeheersing tog nie weens die onvolmaaktheid van mense op die proef gestel nie, veral onder die druk van harde werk en keerdatums! Die praktiese lesse in Christelike gedrag wat geleer is deur diegene wat in Selters gewoon en gewerk het, is lesse wat goeie en ewigdurende vrugte voortbring.
Die groot dag
Van die aankondiging dat daar gebou gaan word tot met die toewydingsprogram op 21 April 1984 het 2 091 dae van ywerige werksaamheid verbygesnel. Vir Jehovah, by wie “duisend jaar soos een dag” is, was hierdie tydperk natuurlik niks meer as wat agt minute en vyf sekondes vir mense sou wees nie (2 Petrus 3:8). En noudat die meeste van die bouwerk afgehandel is, voel dit vir baie kwalik langer, net soos Psalm 90:4 van Jehovah sê: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak.”
Die toewydingsplegtigheid is vir ’n Saterdag gereël. Op Donderdag het ’n weervoorspeller oor die radio gesê: “Dit lyk asof Duitsland die mooiste naweek van die jaar tegemoetgaan.” Hy het reg gehad. Dit was wolkloos en sonnig. Maar vir diegene wat die toewyding bygewoon het, sou dit “die mooiste naweek van die jaar” gewees het al het dit gereën of gesneeu.
Bywoning by Selters is beperk tot lede van die Bethelgesin, die bouspan, besoekende lede van ander Bethelgesinne—24 lande was verteenwoordig—reisende opsieners en persone wat lank met die bouwerk gehelp het. Nog ’n liefdevolle voorsiening was dat uitnodigings gerig is aan elke Getuie in Duitsland wat 60 jaar of langer gedoop is. Hoe wonderlik dat meer as 200 van hulle kon kom!
’n Besondere bron van vreugde was die teenwoordigheid van feitlik die hele Bestuursliggaam, met elke lid wat ’n kort, bemoedigende toespraak gehou het. Broer F. W. Franz, die Genootskap se president, het die toewydingsrede gehou. In sy toespraak het hy die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies hersien en getoon hoe die nuwe Bethelkompleks ’n belangrike rol by verdere uitbreiding sal speel.
In werklikheid het elke Getuie in Duitsland op die een of ander manier bygedra tot die suksesvolle voltooiing van die nuwe tak—hetsy fisies, finansieel of deur ondersteunende gebede. Almal het dus die reg gehad om by te wees op die groot dag. Daarom is reëlings getref om die hele program telefonies oor te send na gehuurde gehoorsale in 11 stede dwarsdeur die land. By Selters en in hierdie 11 stede het 97 562 persone die program geniet. Almal het ’n geskenkeksemplaar van ’n mooi en leersame brosjure van 16 bladsye, kompleet met kleurfoto’s, in òf Engels òf Duits ontvang. Bykomende eksemplare is beskikbaar gestel vir Getuies wat nie die verrigtinge kon bywoon nie.
Gedurende die program is almal herinner aan die unieke voorreg wat Christene vandag het om getrou met Jehovah saam te werk (2 Korinthiërs 6:1, 2). Dit was die tema vir die dag by die byeenkoms in 1978 toe die nuwe bouprojek aangekondig is. En nou, na die unieke voorreg om getrou onder Jehovah se leiding en met die ondersteuning van sy heilige gees aan ’n projek tot sy lof te werk, was dit beslis gepas om dit as die tema vir die toewydingsprogram te gebruik! Maar hierdie unieke voorreg om getrou met Jehovah saam te werk in verband met die nuwe takgeriewe was slegs ’n voorsmaak van die voorreg wat God se volk in die toekoms sal geniet—om vir ewig met Jehovah saam te werk!
Om presies 5:42 nm. was die toewydingsprogram verby—tot die spyt van al die aanwesiges! Maar vir sommige was die naweek van spesiale teokratiese bedrywighede nog nie verby nie. Op Sondag het lede van die Bestuursliggaam gehore toegespreek by die sewe stampvol byeenkomssale van Jehovah se Getuies in Duitsland, waar die gesamentlike opkoms 14 248 was. Hierdie genooide gaste het die uitstekende inligting wat hulle ontvang het later aan hulle mede-Getuies in hulle tuisgemeentes oorgedra.
Maandagoggend was ook wolkloos en sonnig, asof die “mooiste naweek van die jaar” nie wou eindig nie. Na hierdie opwindende en bedrywige naweek was die Selters-Bethelgesin terug by die werk in hulle nuwe woon- en werkplek op die Steinfels. Hulle was gelukkig en het veilig gevoel.
Die nuwe Bethel (wat “huis van God” beteken), wat bo-op sy Steinfels staan, is toegewy aan die diens van God, van wie Dawid gesê het: “Geloofd sy [Jehovah], my rots” (Psalm 144:1). Die fondament is waarlik op rots gelê, letterlik sowel as figuurlik. Daarom sal dit bly staan—die letterlike geboue solank as wat Jehovah bepaal. Maar wat van die belangriker geestelike bouwerk wat hier ter sprake is? Ja, daardie bouwerk sal vir ewig hou!
[Kaart/Prent op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Wes-Duitsland
Selters
[Prent op bladsy 24]
Administratiewe gebou
Die Koninkryksaal
[Prent op bladsy 25]
Eetsaal
Die Bethel-biblioteek