Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 9/1 bl. 25-30
  • “Ons aanbid wat ons weet”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons aanbid wat ons weet”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Een God, die Vader”
  • God se naam en die Drie-eenheid
  • “Een Here Jesus Christus”
  • “Die eniggebore god”
  • “Die Heilige Gees wat belowe is”
  • Laat ons die God wat ons ken, verkondig!
  • Een God in drie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jesus Christus—God se geliefde Seun
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Drie-eenheid
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 9/1 bl. 25-30

“Ons aanbid wat ons weet”

“DIE Vader Onbegrens, die Seun Onbegrens, en die Heilige Gees Onbegrens. Die Vader Ewig, die Seun Ewig, en die Heilige Gees Ewig, en tog is daar nie Drie Ewiges nie, maar Een Ewige. Daar is ook nie Drie Ongeskapenes of Drie Onbegrensdes nie, maar Een Ongeskapene en Een Onbegrensde.” Een of drie, die Christendom se God, soos hier deur die Athanasiaanse Geloofsbelydenis gedefinieer, is inderdaad ’n geheimsinnige, onbegryplike, onbekende God.

“Ons aanbid wat ons weet”, het Jesus gesê (Johannes 4:22). Hy het dit gesê as lid van ’n volk aan wie Moses gesê het: “Luister, o Israel, Jehovah, onse God, is één Jehovah.” Ja, getroue Jode het ’n God aanbid wat hulle geken het. En van Christene, wat nie onder die Joodse Wetsverbond is nie, maar in ’n nuwe verbond ingebring is, is daar profeties gesê: “Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle.” Sulke Christene ken inderdaad hulle God.—Deuteronomium 6:4, NW; Hebreërs 8:11.

“Een God, die Vader”

Omdat Jehovah se Getuies nie aan die Drie-eenheidsleer glo nie, is daar al gesê dat hulle “’n vorm van Arianisme”a beoefen. Maar die feit dat hulle nie Trinitariërs is nie, maak hulle nie Ariane nie. In een van die enkele geskrifte van Arius wat behoue gebly het, beweer hy dat God onbegryplik is, selfs vir die Seun. Geskiedkundige H. M. Gwatkin sê dienooreenkomstig in sy boek The Arian Controversy: “Die God van Arius is ’n onbekende God wie se wese verberg is in ’n ewige verborgenheid. Geen skepsel kan hom openbaar nie, en hy kan homself nie openbaar nie.” Jehovah se Getuies aanbid nòg die onbegryplike God van die Trinitariërs nòg die “onbekende God” van Arius. Hulle sê saam met die apostel Paulus: “Daar [is] vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is.”—1 Korinthiërs 8:6.

Om te toon hoe noodsaaklik dit is om God te leer ken, het Jesus in gebed tot sy Vader gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God” (Johannes 17:3). Dieselfde apostel wat daardie woorde van Jesus aangeteken het, het ook geskryf: “Ons weet egter dat die Seun van God gekom het, en hy het ons die verstandelike vermoë gegee om die kennis van die waaragtige [Jehovah] te verwerf. En ons is in eendrag met die waaragtige, deur middel van sy Seun, Jesus Christus. Dit is die waaragtige God en die ewige lewe.”—1 Johannes 5:20, NW.

Sommige vertalers gee 1 Johannes 5:20 ’n Trinitariese kleur. Die Lewende Bybel gee die laaste deel van hierdie vers soos volg weer: “Jesus Christus is die ware God! Hy is die ewige lewe!” Beide Katolieke en Protestantse Bybels tref natuurlik in Johannes 17:3 ’n onderskeid tussen Jesus en “die enige waaragtige God”. En in sy Theological Investigations sê befaamde Katolieke geleerde Karl Rahner dat “ὁ θεός [“die God”] in St. Johannes se Eerste Sendbrief so dikwels sonder twyfel op die Vader betrekking het dat dit dwarsdeur die sendbrief beskou moet word as ’n uitdrukking wat op die Vader sien”. Ook die Franse Protestantse Nouveau Testament gee in ’n voetnoot toe dat die Grieks ’n nie-Trinitariese vertaling toelaat. Terloops, ons moenie vergeet dat ’n oorywerige Trinitariese, Latynse afskrywer, waarskynlik in die vierde eeu G.J., die woorde “die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” by 1 Johannes 5:7 gevoeg het nie. Hierdie invoegsel, tegnies bekend as die “Comma Johanneum”, is tot 1927 deur die Vatikaan beskerm, ondanks die feit dat selfs sommige Katolieke geleerdes reeds in die sesde eeu die egtheid daarvan bevraagteken het. Hierdie oneerlike invoegsel toon hoe ver Trinitariërs sal gaan in hulle pogings om hulle leerstelling te staaf.

God se naam en die Drie-eenheid

Iets wat God baie wesenlik maak vir Jehovah se Getuies is hulle kennis en gereelde gebruik van sy naam, Jehovah (Psalm 83:18, NW). Wanneer ’n lid van een van die Christendom se kerke die naamlose uitdrukking “die naam van die Here” lees, beteken dit vir hom weinig of niks. En wanneer hy bid: “Laat u Naam geheilig word”, bestaan die moontlikheid dat hy nie weet oor watter naam hy bid nie. Jehovah se Getuies ken hulle God, hulle ken sy naam en, net soos die psalmis en Jesus self, het hulle hulle hemelse Vader se naam lief.—Psalm 5:12, 13; Johannes 12:28; 17:6, 26.

Waarom is God se naam, wat letterlik duisende kere voorkom in die Bybel soos dit in die oorspronklike tale geskryf is, uit baie van die valse Christendom se Bybelvertalings weggelaat, en waarom word dit nooit deur die honderdmiljoene Katolieke, Ortodokse en Protestantse “Christene” gebruik nie? Is die Drie-eenheidsleer dalk deels verantwoordelik vir hierdie buitengewone godsdiensfeit?

Dit is interessant dat die Katolieke Jerusalem Bible Deuteronomium 6:4 soos volg weergee: “Luister, Israel: Jahweh ons God is die een Jahweh.” En nadat dit ’n ander moontlike vertaling gegee het, sê ’n voetnoot: “Maar dit is waarskynliker dat ons hier ’n verklaring van monoteïstiese geloof het.” Dit is dan die een God waarvan Jesus as ’n Jood gesê het: “Ons aanbid wat ons weet” (Johannes 4:22). En hierdie Katolieke Bybel erken dat die naam van daardie een God Jahweh of Jehovahb is. En volgens die Trinitariese teologie is Jahweh of Jehovah die naam van die God van die Hebreeuse aartsvaders en die Jode, die God wat Jesus gekom het om as “die Vader” of “God die Vader” te openbaar. Dit volg dat die goddelike naam Jahweh of Jehovah vir Trinitariërs slegs een van die vermeende “Drie Persone”, van die “Godheid” aandui. Die “Tweede Persoon” het ’n naam (Jesus) maar die “Derde Persoon” is die naamlose “Heilige Gees”. Die Christendom se kerke kan vanselfsprekend nie ’n naam vir God gebruik wat nie die hele “Godheid” aandui nie. Hulle lede is dus verplig om ’n geheimsinnige, drie-enige God te aanbid wat geen naam het nie.

Tog het talle Katolieke ’n instinktiewe behoefte daaraan om iemand te aanbid wat hulle kan ken en by die naam kan noem. Dit verklaar ongetwyfeld waarom baie van hulle Jesus of selfs Maria aanbid. Hierdie selfde instink om ’n God te aanbid wat ’n mens by die naam kan noem, word selfs in godsdiensargitektuur weerspieël. In talle Katolieke kapelle, kerke en katedrale in Frankryk en ander lande is daar, bokant die hoogaltaar of op ’n ander plek, ’n vergulde, deurstraalde nimbus wat goddelike heerlikheid voorstel. In die middel is ’n driehoek wat die Drie-eenheid voorstel. Eienaardig genoeg kom die Tetragrammaton, die vier Hebreeuse konsonante van God se naam, Jehovah, in die driehoek voor. Maar hoeveel Katolieke besef vandag dat dit God se Naam is?

“Een Here Jesus Christus”

Nadat die apostel Paulus gesê het: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom”, het hy bygevoeg: “En een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korinthiërs 8:6). Jehovah se Getuies onderskryf daardie verdere verklaring. Jehovah, die Vader, is die Bron; Jesus, God se “Eniggeborene”, die “Eersgeborene van die hele skepping”, is die middel waardeur die Vader Sy wil volbring.—Johannes 1:2, 3, 14; Kolossense 1:15, 16.

Omdat die vierde-eeuse andersdenkende teoloog Arius die Bybelse waarheid verkondig het dat “die Seun nie onverwek is nie”, en Jehovah se Getuies daardie waarheid glo, sê The New Encyclopædia Britannica: “Die Christologie van Jehovah se Getuies is ook ’n vorm van Arianisme.” Daar moet eerstens duidelik gestel word dat Jehovah se Getuies nie ’n bepaalde “Christologie”, wat gedefinieer word as “die teologiese vertolking van die persoon en werk van Christus”, het nie. Hulle deel die mening van die Christenleek wat volgens die verslag by ’n vergadering in 325 G.J. te Nicea reguit vir die twistende teoloë gesê het: ‘Christus het nie vir ons dialektiek, kuns of ydel spitsvondighede geleer nie, maar eenvoudigheid, wat deur geloof en goeie werke bewaar word.’ Hierdie man het klaarblyklik net soos baie van Jehovah se Getuies ter wille van sy geloof in Christus gely. Net soos hy het hulle geen geloof in teologiese filosofie nie. Hulle aanvaar met eenvoud wat die Bybel oor God, Christus en die heilige gees sê, en hulle is bereid om vir hulle eenvoudige geloof te ly en dit deur goeie werke te toon.

Tweedens, Jehovah se Getuies kan nie van Arianisme beskuldig word nie, daar hulle dit in baie opsigte met Arius se menings oneens is. Arius het byvoorbeeld ontken dat die Seun die Vader werklik kon ken. Die Bybel leer dat die Seun die Vader volledig “ken” en dat die Seun ‘die een is wat Hom verklaar het’ (Mattheüs 11:27; Johannes 1:14, 18). Arius het aangevoer dat die Woord God se Seun geword het “deur aanneming” as gevolg van sy deug of morele integriteit. Die Bybel sê dat Jehovah hom as sy “eniggebore Seun” geskape het (Johannes 1:14; 3:16; Hebreërs 1:2; Openbaring 3:14). Arius het geleer dat Christene kon hoop om aan Christus gelyk te word, terwyl die Bybel sê dat God hom “’n naam gegee [het] wat bo elke naam is” (Filippense 2:9-11). Jehovah se Getuies is glad nie hedendaagse Ariane nie, maar glo wat die Bybel sê.

“Die eniggebore god”

Jehovah se Getuies loën nie Jesus se godheid nie. Maar hulle deel nie die Trinitariërs se filosofiese begrip van hierdie terme nie. Wanneer Trinitariërs praat van die “godheid van Jesus”, bedoel hulle nie dat hy “’n god” of “goddelik” is nie, maar dat hy “God” is, een van die drie mede-ewige persone wat die “Godheid” uitmaak. Dit verklaar moontlik waarom baie van die Christendom se Bybels Johannes 1:18 soos volg weergee: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.”

Die meeste van die oudste Griekse manuskripte sê nie “die eniggebore Seun” nie, maar “die eniggebore god”. The Expositor’s Greek Testament erken: “Die manuskripgesag begunstig die lesing θεός [god]; terwyl die weergawes en die [Kerk]vaders die ander vorm verkies.” Waarom? Omdat hulle bang was vir anti-Trinitariërs vir wie “hierdie benaming [‘eniggebore god’] gelukkig [die Seun] van die Vader onderskei het”.c

Omdat Jehovah se Getuies die Skriftuurlike feit aanvaar dat Jesus “’n god” of “magtige” is, word hulle nie in die war gebring deur Johannes 20:28, waar dit opgeteken is dat die apostel Thomas tot Jesus uitgeroep het nie: “My Here en my God!” Thomas kon byvoorbeeld die woord “God” soos Manoag van die ou tyd gebruik het (Rigters 13:20-22). Maar selfs al was dit nie die geval nie, kan daar geen verwarring bestaan nie, want Jesus het kort tevore ’n boodskap aan die apostels gestuur waarin hy gesê het: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” (Johannes 20:17; vergelyk 2 Korinthiërs 1:3.) En Johannes sê dat hy hierdie besonderhede (Thomas se uitroep inkluis) neergeskryf het “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God”.—Johannes 20:31.

Jehovah se Getuies glo nie dat Jesus “God in die vlees”, ’n “Godmens”, was volgens die filosofiese Inkarnasieteorie oor die “twee nature”, menslik en goddelik, nie. In ooreenstemming met die Bybel glo hulle “die Woord het vlees geword” (Johannes 1:14). Deur dit te doen, het hy “Homself ontledig” van sy vorige geestelike bestaan en ’n mens geword wat “minder as die engele” is, ten einde homself as “’n losprys vir almal” te gee (Filippense 2:7, 8; Hebreërs 2:9; 1 Timotheüs 2:6). Die Trinitariese gedagte dat “die verlossing van die mens uit sonde en die dood slegs gewaarborg is mits Christus volkome God en volkome mens is”, is ’n onskriftuurlike filosofie. Om terug te koop wat Adam vir die mensdom verloor het, moes Jesus ’n volmaakte menselewe offer, niks meer nie, niks minder nie (Exodus 21:23; 1 Korinthiërs 15:22, 45, 47; Romeine 5:18, 19, RS, Katolieke en Protestantse uitgawes; Mattheüs 20:28). Dit op sigself weerspreek die Inkarnasie- en Drie-eenheidsleer.

Hoewel Jesus “’n god” is, het hy “nie gereken dat gelykheid met God [Jehovah] iets was wat hy moes vasgryp nie” (Filippense 2:6, RS, albei uitgawes). Sy onderworpenheid aan Jehovah is duidelik, nou en in die toekoms (1 Korinthiërs 15:27, 28). Hy het geredelik sy Vader se hoër gesag erken. (Johannes 14:28; vergelyk 1 Korinthiërs 11:3.) Met sy opstanding is hy “lewend gemaak in die gees”, “met heerlikheid en eer gekroon” en “verhoog”, “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde” is (1 Petrus 3:18, NW; Hebreërs 2:9; Filippense 2:9, 10). Aangesien dit die geval is, is Jehovah se Getuies nie verbaas om in Hebreërs 1:6 te lees dat die engele genooi word om “hulde aan hom te bewys [The New English Bible]” of “Hom [te] aanbid [AB]” nie. (Vergelyk Openbaring 5:11, 12.) Dit is geensins ’n weerspreking van Mattheüs 4:10 waar Jesus—wat uit Deuteronomium aangehaal het—sê dat slegs Jehovah God aanbid moet word nie. Dit is interessant dat die Katolieke Jerusalem Bible, wat in Hebreërs 1:6 sê “hom aanbid”, in sy kantverwysings na Deuteronomium 32:43 (Griekse Septuaginta) en Psalm 97:7 verwys, waar dit dieselfde woorde onderskeidelik weergee as “hom hulde bewys” en “neerbuig”. Waarom is hierdie Katolieke Bybel inkonsekwent? Klaarblyklik om Trinitariese redes.

“Die Heilige Gees wat belowe is”

Op Pinkster het die apostel Petrus gesê: “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor” (Handelinge 2:32, 33, NAV). Wat is hierdie beloofde “Heilige Gees” nou eintlik? Is dit “die derde persoon van die Drie-eenheid”? Wat toon naslaanwerke?

The Catholic Encyclopedia: “Nêrens in die Ou Testament vind ons enige duidelike aanduiding van ’n Derde Persoon nie.”

A Catholic Dictionary: “Net soos die Ou Testament praat die Nuwe Testament oor die algemeen van die gees as ’n goddelike energie of krag.”—Ons kursiveer.

The New Encyclopædia Britannica: “Die verskyning van Trinitariese bespiegelinge in die teologie van die vroeë kerk het tot groot probleme in verband met die Heilige Gees in die artikel gelei. Want die persoon-wees van die Heilige Gees, wat in die Nuwe Testament as goddelike krag duidelik is . . . kon nie duidelik begryp word nie . . . . Die Heilige Gees is nie as ’n persoon beskou nie, maar eerder as ’n krag.” (Ons kursiveer.) “Maar met Athanasius (oorlede 373) het die gedagte van die volledige homo-ousia (wese) van die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun sy beslag gekry.”

A Catholic Dictionary: “Die ware goddelikheid van die derde Persoon is by ’n Konsilie van Alexandrië in 362 bekragtig, . . . en eindelik by die Konsilie van Konstantinopel in 381.”

Dit was drie en ’n half eeue nadat die heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgegiet is!

Hoewel Arius nie Athanasius se teorie aangeneem het dat die heilige gees van dieselfde substansie as die Vader is nie, het hy wel die gees as ’n persoon beskou. Dit lewer verdere bewys dat Jehovah se Getuies nie Ariane is nie, want hulle huldig die Bybelse beskouing van die vroeë Christene, naamlik dat die heilige gees God se werkende krag is wat hy op baie maniere gebruik om Sy wil te laat geskied (Handelinge 5:32). Daar is weliswaar gedeeltes in die Bybel waar die gees verpersoonlik word. Maar dit bewys niks. Selfs A Catholic Dictionary erken: “Die meeste van hierdie plekke bied geen afdoende bewys van persoonlikheid nie . . . . Ons moet nie vergeet dat die N[uwe] T[estament] blote hoedanighede soos liefde (1 Kor. xiii. 4), en sonde (Rom. vii. 11), ja, selfs abstrakte en lewelose dinge, soos die wet (Rom. iii. 19), die water en die bloed (1 Joh. v. 8) verpersoonlik nie.” Die Bybel sê andersyds dat die gees ‘uitgestort’ is, en dat mense ‘met die heilige gees vervul is’ en so die gees as ’n “gawe” ontvang het, en dat hulle ‘in die heilige gees gedoop is’, wat glad nie sin sou hê as die heilige gees ’n persoon is nie.d—Handelinge 2:4, 17, 38; 4:31; Johannes 1:33.

Laat ons die God wat ons ken, verkondig!

Paulus het vir die Atheners, wat ‘onbekende gode’ aanbid het, gesê: “Wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle” (Handelinge 17:23, NAV). Hoe dankbaar behoort ons tog te wees dat ons verlos is van die onbegryplike “verborgenheid” van die Drie-eenheid en dat ons soos Jesus kan sê: “Ons aanbid wat ons weet”! (Johannes 4:22). Ons aanbid Jehovah onder leiding van Sy Seun, Christus Jesus, en met behulp van Sy gees. Mag ons ywerig voortgaan om ons wonderlike God bekend te maak, want Jehovah “is groot en baie lofwaardig . . . hierdie God [is] onse God . . . , vir ewig en altyd.”—Psalm 48:2, 15.

[Voetnote]

a Sien die tussenhofie “Die Ariaanse geskil” in die artikel “Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid” op bladsy  23 en 24 van Die Wagtoring van 1 Augustus 1984

b Jehovah is die gebruiklike Afrikaanse vorm van God se naam, net soos Jesus die gebruiklike vorm van die Hebreeuse Jesjoea of die Griekse Iesous is. In sy Grammaire de l’hébreu biblique, wat meer as 600 bladsye beslaan en deur die Pouslike Bybelinstituut in Rome uitgegee is, skryf Jesuïte-professor Joüon: “In plaas daarvan om die (hipotetiese) vorm Jahweh in ons vertalings te gebruik, het ons die vorm Jéhovah . . . wat die gebruiklike, literêre vorm in Frans is, gebruik.”

c Sommige van die Christendom se vertalers het ’n soortgelyke Trinitariese kleur aan Titus 2:13 en 2 Petrus 1:1 gegee.—Vergelyk voetnote in die Revised Standard Version (Katolieke en Protestantse uitgawes) en die Katolieke Jerusalem Bible.

d Raadpleeg asseblief die boek Heilige gees—die krag agter die komende nuwe orde! vir nadere inligting oor die heilige gees. Die boek word deur die Wagtoring-Bybel- en Traktaat genootskap uitgegee.

[Prent op bladsy 27]

Orleans-katedraal (Frankryk)

Die Tetragrammaton op die kansel (Orleans-katedraal)

[Prent op bladsy 29]

Die Tetragrammaton op die hoogaltaar in die kapel van die Versailles-paleis

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel