Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/1 bl. 20-24
  • Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afvalligheid en filosofie
  • Filosofiese oorsprong van die Drie-eenheid
  • ’n Drie-enige, “onbekende God”
  • Die geskil oor die Drie-eenheid
  • Die Ariaanse geskil
  • Verreikende gevolge
  • Hoe het die Drie-eenheidsleer ontwikkel?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Een God in drie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Is dit onteenseglik ’n Bybelleerstelling?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Deel 1—Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/1 bl. 20-24

Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid

DIE Christendom se geheimsinnige drie-enige God is nie die God van die Jode nie. Hulle daaglikse Sjema of geloofsbelydenis sê: “Die Here onse God is ’n enige Here.” Hierdie drie-enige god is ook nie die God van die nagenoeg 600 miljoen Moslems nie, wie se Koran sê:

“Hy, Allah, is een.”

Dit is ’n geskiedkundige feit dat die Christelike godsdiens ’n Joodse oorsprong gehad het. Jesus Christus was ’n Jood. Hy het die Wet vervul wat God vir die Jode gegee het en was die Messias wie se koms deur die Joodse profete voorspel is (Mattheüs 5:17; Johannes 1:46; Handelinge 3:18). Sy vroegste volgelinge was almal Jode of besnede proseliete (Mattheüs 10:5, 6; Handelinge 2:1-11). En ons het gesien dat die Jode nie aan die Drie-eenheid geglo het nie en steeds nie daaraan glo nie.

Kan daar gesê word dat Christus en die skrywers van die Christelike Griekse Skrifte die monoteïstiese begrip van een God laat vaar het en ’n geheimsinnige drie-enige Godheid ingebring het? Nee, want die Encyclopædia Britannica (1976-uitgawe) sê tereg: “Nóg die woord Drie-eenheid nóg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema in die Ou Testament, ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deuteronomium 6:4). . . . Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue heen en deur middel van talle geskille ontstaan.”

Afvalligheid en filosofie

Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.”—2 Timotheüs 3:4, NAV.

Die getuienis in die Bybel self toon dat die afval reeds voor die dood van Christus se apostels begin het (2 Thessalonicense 2:3, 7; 1 Johannes 2:18, 19; Judas 3, 4, 16, 19). Afvalliges het in die Christengemeente opgestaan as valse leraars. In plaas daarvan om by Bybelwaarheid te hou, het hierdie goddelose manne hulle tot “verdigsels” gewend. Hulle het talle Christene as hulle buit weggevoer “deur die wysbegeerte [filosofie, NW] en nietige misleiding . . . volgens die oorlewering van die mense”.—Kolossense 2:8.

Waar hy kommentaar lewer oor wat gebeur het, skryf professor J. N. D. Kelly van Oxford-Universiteit: “Die Christelike Kerk moes gedurende die eerste drie eeue van sy bestaan eers verrys uit die [monoteïstiese] Joodse milieu waarin dit gekoester was en toe ’n vergelyk tref met die oorheersend Hellenistiese (Griekse) kultuur wat dit omring het.” Professor Kelly sê vervolgens van vroeë onderrigters wat later as kerkvaders bekend gestaan het: “Die meeste van hulle het gebruik gemaak van eietydse filosofiese opvattinge. . . . Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die Christelike godsdiens vergrieks het (in vorm sowel as metode), maar hulle het in werklikheid probeer om dit in intellektuele kategorieë, geskik vir hulle tyd, te formuleer. Hulle was in ’n ware sin die eerste Christenteoloë.” Hierdie vroeë “teoloë” het begin om die primitiewe, Bybelse Christelike godsdiens by algemene filosofiese idees aan te pas.

Filosofiese oorsprong van die Drie-eenheid

Dit is interessant dat die Franse ensiklopedie Alpha sê: “Die meeste godsdienstradisies of -filosofiestelsels het ternêre [drietallige] groepe of triades uiteengesit wat ooreenkom met primitiewe kragte of met aspekte van die oppermagtige God.” ’n Ander Franse werk verwys na die Griekse filosoof Plato (van omstreeks 427 tot 347 v.G.J.) en sê:

“Plato se drie-eenheid, op sigself slegs ’n herskikking van ouer drie-eenhede wat uit die dae van vroeëre volke dateer, blyk die rasionele filosofiese drie-eenheid van hoedanighede te wees wat gelei het tot die drie hipostases of goddelike persone wat die Christenkerke leer. . . . Hierdie Griekse filosoof se opvatting van die goddelike drie-eenheid . . . kan in al die antieke [heidense] godsdienste gevind word.”—Dictionnaire Lachatre.

Die meeste van die Christendom se priesters en geestelikes ontken natuurlik hierdie heidense, filosofiese oorsprong van die Drie-eenheidsleerstelling. Die gesaghebbende Franse Dictionnaire de Théologie Catholique wy 16 kolomme klein druk aan sy argumente teen die verband tussen Plato se drie-eenheid en die Christendom se drie-enige God. Hierdie werk moet nietemin erken dat Katolieke “Heilige” Augustinus self—wat glo “van deurslaggewende belang vir die Westerse [Romeinse] ontwikkeling van die Drie-eenheidsleerstelling was”—hierdie verband erken het. Daarbenewens sê die Encyclopædia Britannica (1976, Macropædia): “So ’n vergrieksing het, in ’n groot mate, plaasgevind. Die definisie van die Christelike geloof soos vervat in die geloofsbelydenisse van die ekumeniese sinodes van die vroeë kerk toon dat onbybelse kategorieë van Neoplatoniese filosofie by die formulering van die Drie-eenheidsleerstelling gebruik is.”

’n Drie-enige, “onbekende God”

Die apostel Paulus het vir ’n groep filosowe in Athene, Griekeland, gesê: “Terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God” (Handelinge 17:23). Dit is interessant dat die Franse Pirot and Clamer Bible sê dat die Griekse filosowe “God, die Skepper, nie geken het nie. Selfs Plato het God slegs as die organiseerder van vooraf bestaande materie gesien.” Plato se God was ’n naamlose, opper-“idee” wat sy latere volgelinge “die Een” of “die Goeie” genoem het. Dit was so ’n geheimsinnige, onkenbare God, tesame met Plato se teorie van ’n goddelike triade, wat afvallige Christenkerkvaders hulle dit ten doel gestel het om na te volg. In ’n sekere sin het die Christendom dus ’n “onbekende God”.

Aangesien ‘nóg die woord Drie-eenheid nóg die uitdruklike leerstelling in die Nuwe Testament voorkom’, moes die filosofiese teoloë in die Skrif rondsoek om ’n skyn van regverdiging vir ’n drie-enige God te vind. Die beste waarmee hulle vorendag kon kom, was ’n paar tekste wat toevallig die Vader, die Seun en die heilige gees in dieselfde verband noem, ofskoon nie noodwendig in daardie volgorde nie (Mattheüs 28:19; 1 Korinthiërs 12:4-6; 2 Korinthiërs 13:13). Sulke tekste bevat glo ’n “triadiese formule”. Die gesaghebbende Theological Dictionary of the New Testament sê hieroor: “Miskien het herinneringe aan die talle triades van die omliggende politeïstiese wêreld bygedra tot die vorming van hierdie drieledige formules.” Dan sê hierdie werk in ’n voetnoot dat die gees (vroulike geslag in Hebreeus en Aramees) in die apogriewe Evangelie van die Hebreërs “as die moeder van Jesus beskou word” en voeg by: “So het ons die algemene gesinstriade van die Oudheid, d.w.s., vader, moeder en seun.”

Dit was natuurlik ’n bietjie te veel soos die heidense drie-enige gode van Egipte, Babilon en Gallië. En wat sou van Maria word as die heilige gees Jesus se moeder is? Die kerkvaders het derhalwe die heidense drie-eenheid, naamlik “vader, moeder en seun” laat vaar en ’n oorspronklike drie-enige God versin wat uit Vader, Seun en Heilige Gees bestaan. Maar dit het verdere probleme geskep, soos die Encyclopædia Britannica verduidelik: “Hoe om hierdie beskouing van God as drieledige figuur te versoen met die oortuiging dat God enig is, ’n opvatting wat die Jode en Christene van die heidene onderskei het, was ’n vraag wat die vroomheid van die vroeë Christendom diep geraak het. Dit het ook die grootste stukrag vir ’n teoretiese teologie voorsien—’n stukrag wat die Westerse metafisika [filosofie] dwarsdeur die eeue geïnspireer het.” Ja, die Drie-enige, “onbekende God” van die Christendom is ’n produk van teologiese bespiegeling en filosofie.

Die geskil oor die Drie-eenheid

Gedurende die eerste eeue van ons Gewone Jaartelling was daar “’n verbasende aantal beskouings en formuliere” oor die Drie-eenheid. Geskiedskrywer J. N. D. Kelly, self ’n Trinitariër, erken dat die eerste kerkvaders almal vaste monoteïste was. Hy skryf: “Die bewyse wat die Apostoliese Vaders voorsien, is karig en tantaliserend onbeslis. . . . Noukeurig beskou, is daar natuurlik geen teken van ’n Drie-eenheidsleerstelling nie.”—Early Christian Doctrines.

Tweede-eeuse “vaders” soos Ignatius van Antiochië en Irenaeus van Lyon het weliswaar idees uitgespreek wat hoogstens as geloof in ’n twee-enige God bestaande uit die Vader en die Seun vertolk kan word. Maar Kelly sê: “Wat die Apologete omtrent die Heilige Gees te sê gehad het, is baie skraler . . . [Hulle] was uiters vaag omtrent die presiese status en rol van die Gees. . . Dit ly geen twyfel dat die Apologete se denke uiters verward was nie; hulle het nog lank nie die drieledige patroon van die Kerk se geloof tot ’n samehangende beeld verwerk nie.”

Diegene wat beweer dat daar slegs een God, die Vader, is wie se Seun Jesus is, is Unitariërs genoem. Ons lees: “Die Trinitariërs en die Unitariërs het mekaar steeds gekonfronteer, en aan die begin van die 3de eeu was laasgenoemde steeds in die meerderheid” (Encyclopædia Britannica, 11de uitgawe). Maar met verloop van tyd en namate kerkvaders al hoe meer deur ’n nuwe vorm van Plato se filosofie (Neoplatonisme) beinvloed is, het die Trinitariërs veld gewin. Die derde-eeuse Neoplatoniese filosofie, met sy ingewikkelde teorieë oor substansie of essensie, het hulle skynbaar in staat gestel om die onversoenlike te versoen—om ’n drieledige God as een God te laat voorkom. Hulle het gefilosofeer dat drie persone een kon wees terwyl hulle hulle individualiteit behou!

Die Ariaanse geskil

Die Drie-eenheidsgeskil het aan die begin van die vierde eeu G.J. tot ’n punt gekom. Die hooffigure was drie fílosoofteoloë van Alexandrië, Egipte. Aan die een kant was Arius met Alexander en Athanasius aan die ander kant. Arius het ontken dat die Seun in wese, of substansie, dieselfde as die Vader is. Hy het beweer dat die Seun werklik ’n seun is, wat derhalwe ’n begin gehad het. Arius het geglo dat die Heilige Gees ’n persoon was, maar nie dieselfde substansie as die Vader of die Seun is nie en in werklikheid minderwaardig aan albei is. Hy het van ’n “Triade” of “Drie-eenheid” gepraat, maar hy het gemeen dat dit uit ongelyke persone bestaan, waarvan slegs die Vader nie geskape is nie.

Alexander en Athanasius het andersyds beweer dat die drie persone van die Godheid in substansie dieselfde is en gevolglik nie drie Gode is nie, maar een. Athanasius het Arius daarvan beskuldig dat hy politeïsme weer ingebring het deur die drie persone van mekaar te skei.

Die hoof van die Romeinse Ryk op daardie tydstip was Konstantyn, wat gretig was om die afvallige Christelike godsdiens as “sement” te gebruik om sy wankelrige ryk te verenig. Vir hom was hierdie teologiese geskil teenproduktief. Hy het die twis oor die Drie-eenheid ’n “gestry oor onbenullighede en dwase mondelinge geskille” genoem. Toe hy faal om die twee teenpartye te versoen deur ’n spesiale brief wat in 324 G.J. na Alexandrië gestuur is, het Konstantyn ’n algemene kerkkonsilie belê om die saak een of ander kant toe te besleg. By hierdie Eerste Ekumeniese Konsilie te Nicea, Klein-Asië, in 325 G.J. het die vergaderde biskoppe uiteindelik ten gunste van Alexander en Athanasius besluit. Hulle het die Trinitariese Geloofsbelydenis van Nicea aanvaar, wat, met wysigings wat glo in 381 G.J. aangebring is, tot vandag toe deur die Rooms-Katolieke Kerk, die Oosters-Ortodokse Kerk en die meeste Protestantse kerke onderskryf word. Dit is hoe dit gekom het dat die Christendom ’n geheimsinnige, onverstaanbare, drie-enige, “onbekende God” aanbid.

Verreikende gevolge

Die Drie-eenheidsgeskil het nie by Nicea opgehou nie. Arianisme (wat nie die ware Christelike godsdiens is nie) het oor die jare heen etlike kere herverskyn. Die Duitse stamme wat die vervallende Romeinse Ryk ingeval het, het die Ariaanse “Christelike geloof” bely en dit na ’n groot deel van Europa en Noord-Afrika geneem waar dit tot diep in die sesde eeu G.J., en selfs langer in sekere gebiede, gefloreer het.

Die Drie-eenheidsleerstelling het die Christendom eeue lank verdeel. Teoloë het by verskeie ekumeniese konsilies gefilosofeer oor die presiese aard en rol van die Seun en of die Heilige Gees slegs uit die Vader voortspruit of uit die Vader en die Seun. Al hierdie getwis het slegs die beeld van God in mense se verstande verder vertroebel.

Trouens, die Drie-eenheidsleerstelling het baie lidmate van die Christendom se kerke so verwar dat hulle geloof in God wankelrig is, indien nie heeltemal onseker nie. Maar wat van jou? Wonder jy wat die Skrif werklik oor die Vader, die Seun en die heilige gees sê? Hierdie vrae sal breedvoerig in die volgende twee nommers van Die Wagtoring bespreek word.

[Lokteks op bladsy 21]

“Die Christenbybel, die Nuwe Testament inkluis, bevat geen trinitariese verklarings of bespiegelings oor ’n drie-enige godheid nie.”—Encyclopædia Britannica

[Prent op bladsy 22]

’n Galliese god met drie koppe in die Reims-museum (Frankryk)

[Lokteks op bladsy 23]

“Miskien het herinneringe aan die talle triades van die omliggende politeïstiese wêreld bygedra tot die vorming van hierdie drieledige formules.”—Theological Dictionary of the New Testament

[Lokteks op bladsy 24]

“Die bewyse wat die Apostoliese Vaders voorsien, is karig en tantaliserend onbeslis. . . . Noukeurig beskou, is daar natuurlik geen teken van ’n Drie-eenheidsleerstelling nie.”—Oxford-professor J. N. D. Kelly

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel