Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 6/15 bl. 14-19
  • Geluk te midde van ’n wettelose, liefdelose wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geluk te midde van ’n wettelose, liefdelose wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wetsgehoorsaam ondanks vervolging
  • Vertrou op Jehovah se woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Laat God se woord jou pad verlig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die herinneringe en bevele van die God van ’n nuwe stelsel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ‘Wandel in die wet van Jehovah’
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 6/15 bl. 14-19

Geluk te midde van ’n wettelose, liefdelose wêreld

“Gelukkig is diegene wat onberispelik is in hul weg, diegene wat in die wet van Jehovah wandel.”—PSALM 119:1, NW.

1, 2. (a) Van wie af kom ware geluk, en hoe lank kan ’n mens dit smaak? (b) Wat moet die inleidende deel van die Bergpredikasie genoem word in plaas van die “Saligsprekinge”, en waarom?

GELUK kom van die mens se Skepper af. Hy is “die gelukkige God” met goeie nuus vir ons (1 Timotheüs 1:11, NW). Hy het ewige geluk vir sy menseskepsele hier op aarde weggelê. Hulle kan dit selfs nou smaak as hulle hulle skik na sy voorskrifte.—Psalm 119:26, 33, vgl. NW.

2 Negentien eeue gelede het Jesus Christus, die Seun van “die gelukkige God”, die sogenaamde Bergpredikasie gehou. Volgens Mattheüs 5:1-12 het hierdie predikasie begin met die sogenaamde “Saligsprekinge”. Maar volgens die Grieks waarin die dissipel Mattheüs se verhaal van die aardse lewe van Jesus Christus vertaal is, moet hulle liewer die “Geluksprekinge” heet. Selfs Mattheüs se verhaal in Hebreeus gebruik die Hebreeuse woord wat “gelukkig” beteken.

3. (a) Het die skrywer van Psalm 119 voldoen aan die vereistes om die besondere geluk te smaak wat Jesus Christus gemeld het? Verduidelik, (b) Beskryf die psalmis se betuigde gevoelens teenoor die Wetsverbond waarvan Moses die middelaar was.

3 ’n Man van lank gelede wat voldoen het aan die vereistes om die geluk te smaak wat die Joodse Messias, Jesus Christus, uiteengesit het, was die geïnspireerde Joodse skrywer van Psalm 119, die langste psalm in die Bybel. In ooreenstemming met die redes vir geluk wat deur Jesus Christus gemeld is, was die psalmis bewus van sy geestelike behoefte. Hy was ook treurig gestemd, hy was sagmoedig, hy het na die geregtigheid gehonger en gedors, hy was barmhartig, hy is beledig en vervolg, en allerhande kwaad is teen hom gespreek. Hy het die psalm honderde jare voor ons Gewone Jaartelling geskryf toe die nasie Israel nog onder die Wetsverbond was wat deur die profeet Moses in 1513 v.G.J. by die berg Sinai tussen Jehovah God en die nasie bemiddel is. Die psalmis het tereg geen fout met die Wet van daardie verbond gevind nie, want dit was ’n Godgegewe wet. Hy het goed geweet dat die heidense nasies rondom die land van Israel niks gehad het wat met daardie goddelike Wet kon vergelyk nie. Hy het dit as uiters verligtend beskou en in verse 105 en 130 gesê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. Die opening van u woorde gee lig: dit maak die eenvoudiges verstandig.”

4. (a) In watter volgorde is Psalm 119 gerangskik, en hoe is dit ’n hulp? (b) Vir wie het Jesus en sy dissipels ’n voorbeeld gestel deur na “die boek van die Psalms” te verwys, en met watter doel?

4 Om dit makliker te maak om die psalm te onthou, het die psalmis dit ’n alfabetiese psalm gemaak. Die 22 stansas, wat elk uit 8 Hebreeuse reëls bestaan wat met dieselfde Hebreeuse letter begin, is alfabeties gerangskik. Elke reël van die eerste stansa onder die eerste Hebreeuse letter Alef begin dus met daardie eerste letter Alef. Elke reël van die tweede stansa begin met die tweede Hebreeuse letter Bet. En so hou dit aan reg deur die 22 stansas van die psalm, een vir elk van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet. Met 8 Hebreeuse reëls vir elk van die 22 stansas bestaan die psalm uit 176 verse. In sy leer het Jesus Christus self na “die boek van die Psalms” verwys (Lukas 20:42; 24:44). Deur dit te doen, het hy ’n voorbeeld vir sy dissipels gestel.—Handelinge 1:20; 13:33; 1 Korinthiërs 14:26; Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16; Hebreërs 4:7, NW; Jakobus 5:13.

5. Wie se ondervindinge het die skrywer waarskynlik in gedagte gehad toe hy Psalm 119 ingelei het?

5 Die psalmis het ongetwyfeld uit persoonlike ondervinding geskryf toe hy Psalm 119 ingelei het met die woorde: “Gelukkig is diegene wat onberispelik is in hul weg, diegene wat in die wet van Jehovah wandel. Gelukkig is diegene wat sy herinneringe in ag neem . . . Sy weë het hulle bewandel. U self het op gebiedende wyse u bevele gegee, sodat hulle sorgvuldig onderhou sou word. O, dat my weg tog stewig bevestig was om u voorskrifte te onderhou! In daardie geval sou ek nie beskaam word wanneer ek op al u gebooie let nie. Ek sal u prys in opregtheid van hart wanneer ek u regverdige, regterlike beslissings leer. U voorskrifte bly ek onderhou. O, verlaat my nie geheel en al nie.”—Psalm 119:1-8, NW.

6. (a) Hoe word sleutelwoorde in hierdie psalm beklemtoon? (b) Waarvan was die psalmis ’n student, en hoe word dit gestaaf?

6 In daardie inleidende stansa met 8 Hebreeuse reëls sien ons die sleutelwoorde wet, herinneringe, bevele, voorskrifte, gebooie en regterlike beslissings. Die psalmis beklemtoon hierdie woorde reg deur die 176 Hebreeuse verse. Volgens die New World Translation gebruik hy die woord “wet” 25 keer, “herinneringe” 22 keer “bevele” 21 keer, “voorskrifte” 21 keer, “gebooie” 20 keer, “regterlike beslissing(s)” 21 keer, terwyl die verwante woord “gebod” twee keer in die psalm gebruik word. Hoewel die psalmis hierdie woorde wat na regsterme klink herhaaldelik gebruik, is daar geen bewys dat hy ’n professionele regsgeleerde of juris of selfs ’n regter was nie. Hy was allereers ’n student van God se geskrewe Woord, en dit word gestaaf deur die feit dat hy die uitdrukking “u woord” 15 keer gebruik. As hy die koning van die nasie Israel was, was hy deur die goddelike bevel verplig om ’n persoonlike eksemplaar van die Wet van Jehovah se verbond met Israel vir sy eie studie en gebruik neer te skryf (Deuteronomium 17:14-18). Die psalmis het nie die deeglike bestudering van Jehovah se Woord met hierdie aspekte in gedagte vervelig of vermoeiend gevind nie. Hy het verlang na dit wat hom sou help om wetsgehoorsaam te wees (Psalm 119:40, 131, 174). Is ons soos hy?

7. (a) Hoe strek dit ons tot voordeel as ons God se wet ken en daarin wandel? (b) Wat is die “Tora”, maar onder watter reëling is Christene?

7 Wanneer ons die internasionale en nasionale wette van die lande wat onder die onsigbare beheer van “die vader van die leuen”, Satan die Duiwel, is, vergelyk met Jehovah se wet, kan ons saam met die psalmis sê: “U wet is die waarheid. U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid” (Johannes 8:44, NAV; Psalm 119:142, 151). Deur dus “in die wet van die Here [te] wandel” sal ons net soos die psalmis bewaar word sodat ons nie tot ons eie liggaamlike en geestelike nadeel die weg van wêreldlike dwaling bewandel nie. Dit bevorder ons geluk (Psalm 119:1). Dit bring vir ons goddelike seën en guns mee. Dit raak ons harte, net soos Psalm 119:97, 126, 127 toon. Die psalmis was onder die Mosaïese Wetsverbond wat die “Tora”, die goddelike kode wat uit honderde afsonderlike wette bestaan het, bevat het. Jehovah se hedendaagse, gesalfde getuies is onder die nuwe verbond (waarvan Jesus Christus die Middelaar is) met ’n “wet” wat as ’t ware “op hulle hart” geskrywe is (Jeremia 31:31-34). Deur die Christelike Griekse Skrifte te bestudeer, raak hulle vertroud met die “wet” van die nuwe verbond en sy gebooie.

8. (a) Het hierdie wettelose wêreld ’n rooskleurige vooruitsig? (b) Hoe het die psalmis sy groot besorgdheid oor die Jode se versuim om God se Wet te hou, beskryf? (c) Hoe is Jesus se professie oor ontroue Jerusalem vervul, en wat voorspel dit vir die valse Christendom?

8 Die bestemde tyd vir die regmatige Wetgewer, Jehovah, om teen hierdie wettelose wêreld op te tree, kom nader. Baie trane gaan gestort word. In sy dag het die psalmis, as ’n liefhebber van God se wet, oor die situasie geween (Psalm 119:136). ’n Paar dae voor sy wrede marteldood het Jesus Christus geween oor die stad Jerusalem wat tradisies gehou maar wette verbreek het (Lukas 19:41). Sewe-en-dertig jaar nadat die Jode hulle wetsverbreking tot ’n hoogtepunt gevoer het deur die onskuldige Messias, Jesus Christus, deur nie-Jode om die lewe te laat bring, het Jehovah opgetree (Psalm 119:126). Die droewige dinge wat Jesus Christus voorspel het, het die stad in 70 G.J. getref. Vandag is dit wat deur Jerusalem, en deur die Joodse volk waaroor hy geheers het, afgeskadu is, op ’n baie groter skaal by die saak betrokke. Die valse Christendom, sy hedendaagse, wetsverbrekende teenbeeld, is veel groter as eertydse Jerusalem en die nasie Israel. Op sy eie manier sal Jehovah dit in die harte van die politieke elemente van hierdie wêreld gee om alle georganiseerde godsdiens van die wêreld, die valse Christendom, die bedrieglike Koninkryk van Christus, inkluis, aan te val.—Openbaring, hoofstuk 17.

9. (a) Kontrasteer die valse Christendom se bloedvergietende handelwyse met die gesindheid en gedrag van Jehovah se Getuies. (b) Met watter voorbeeld kom ons handelwyse ooreen? (c) Om watter redes verwerp Christus vandag die valse Christendom?

9 Het daar dan nie twee wêreldoorloë in die valse Christendom uitgebreek nie, en het sy geestelikes nie sulke bloedvergietende botsings gesteun nie? In duidelike teenstelling met sulke verbrekers van die wet van God se nuwe verbond, wat broederliefde vereis, het die psalmis as ’n patroon vir Jehovah se Getuies van vandag gesê: “Leuens haat ek en het daar ’n afsku van; u wet het ek lief (Psalm 119:163). Hy wou van ganser harte wetsgehoorsaam wees. Hy het sy afkeer van ’n halfhartige, lou gesindheid uitgedruk deur te sê: “Die halfhartiges haat ek, maar u wet het ek lief.” (Psalm 119:113). Dit is hoe Jesus Christus vandag teenoor die valse Christendom voel, want laasgenoemde kom ooreen met die gemeente in eertydse Laodicea. Hy kan tereg vir die valse Christendom sê: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:16). Ons kan nie tegelykertyd die wettelose, liefdelose wêreld en ook Christus liefhê nie. Ons kan nie draadsitter wees nie. Innige liefde moet die dryfkrag agter gehoorsaamheid aan God wees. Jehovah kon nooit ’n heelhartige dienaar van Hom inspireer om die saak minder kragtig as die volgende te stel nie: “Ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet.”—Psalm 119:47.

10. (a) Waarin moet ons ons, net soos die psalmis, verlustig? (b) Waarom is die psalmis beproef, maar op watter weg het hy volhard, en watter uitwerking het dit op ons?

10 As ons ons in Jehovah se wet verlustig, bring dit redding mee. Die psalmis het dit erken toe hy gesê het: “As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende” (Psalm 119:92). Sy ellende was nie ’n dodelike siekte nie. Hy is beproef deur diegene wat vermetel was (teenoor God) en wat hom gehaat en vervolg het. Onder die druk sou hy geswig het voor die oogmerke van sulke Israeliete en strydig met Jehovah se wil opgetree het as hy God se wet nie so liefgehad het nie. Watter pragtige voorbeeld is die psalmis tog vandag vir ons wat onder soveel druk verkeer van ’n wêreld waarin wetteloosheid in so ’n mate gedy dat die liefde van die meeste mense in hierdie voleinding van die wêreld verkoel het!—Mattheüs 24:3, 12.

11. Wat is die bron van ons redding, en hoe beskou ons gevolglik menseplanne?

11 Slegs as ons God se wet hou, het ons ’n grondslag om te verwag dat ons ewige redding deelagtig sal wees. Ons verlang na redding tot in God se nuwe stelsel wat uit nuwe hemele en ’n nuwe aarde sal bestaan. Na aan die einde van Psalm 119 druk vers 174 dit vir ons soos volg uit: “o HERE, ek verlang na u heil [redding, NW], en u wet is my verlustiging.” Ons verwerp dus die voorgestelde menseplanne en -reëlings om hierdie wettelose, liefdelose wêreld te red.

Wetsgehoorsaam ondanks vervolging

12. (a) Wie sit agter die vervolging van die “vrou” en haar “saad”, wie doen die vervolging, en waarom? (b) Hoe is die vervolgers bestraf?

12 Daar is voorspel dat Jehovah se Getuies gedurende hierdie laaste dae van hierdie sterwende ou stelsel onder die meedoënlose bewind van die simboliese draak, Satan die Duiwel, op wêreldskaal vervolg sou word. Openbaring 12:17 toon aan wat sy teiken is wanneer dit sê: “Die draak was vertoornd op die vrou [Jehovah se gemalin-organisasie], en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge [benewens die pasgebore Koninkryk] wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Die vervolging kom hoofsaaklik van diegene wat vermetel afdwaal van wat God vir hierdie laaste dae van die draak se sigbare stelsel op aarde beveel. Deur middel van die Koninkryksboodskap wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig word, het Jehovah hierdie gevloektes bestraf, net soos Psalm 119:21 sê: “U dreig [bestraf, NW] die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.” Dit verskil hemelsbreed van die geval van die getroues wat deur sulke vermetele vervolgers gesmaad en uitgeskel word, net soos dit die geval met die psalmis was: “Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.”—Psalm 119:51.

13. (a) Wat is die uitslag as ons God se wet hou ondanks die bose planne van vervolgers? (b) Hoe is dit in ons dag toegelig?

13 Wanneer die vermetele vervolgers sien dat Jehovah se Getuies optree in ooreenstemming met Jehovah se wet vir hierdie tyd, probeer hulle om die wetsgehoorsame Getuies se ondergang te bewerkstellig, net soos toegelig is deur die geval van die psalmis, wat gesê het: “Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie” (Psalm 119:85). Wanneer die vermetele knoeiers beskaam word, beteken dit nie alleen dat hulle bedrieglike weë aan die kaak gestel word nie, maar in die besonder dat Jehovah as die ware God geregverdig word. Dit is dus sonder enige kwaadwilligheid dat die psalmis kon bid: “Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele” (Psalm 119:78). Jehovah sorg dat selfs die vervolging goeie gevolge het en dat die vervolgers nie werklik enigiets op bedrieglike wyse verkry nie. Hy verhoor die gebed in Psalm 119:122: “Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.” Gedurende die diktatorskappe van Benito Mussolini en Adolf Hitler is Jehovah se Getuies met grootskaalse dood bedreig, maar deur nie die wet en gebooie van hulle God te vergeet nie, het hulle vasgestaan en het baie behoue gebly. Met die woorde van Psalm 119:60, 61 kan die oorlewendes sê: “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.” Die almagtige God kan die toue van bedwang wat die vyande om sy Getuies gebind het, stukkend sny of verbreek en sodoende sy knegte op sy bestemde tyd bevry vir die werk wat hy hulle georden het om gedurende hierdie voleinding van die stelsel te doen.

14. (a) Wat het Jehovah se Getuies, net soos die psalmis, ondervind, en wat was die uitslag van hulle vyande se pogings? (b) Wie kan hulle verheug oor hulle lyding, en waarom?

14 Volgens sy woorde in Psalm 119:84, 86, 161 het die psalmis baie vervolging selfs van sy landgenote verduur. Getuies van Jehovah het vervolging verduur binne en buite die lande van die Christendom waar hulle op die oomblik in die ban gedoen is. Maar die vyand het nie sy doel met sy gemene, ongeregverdigde vervolging bereik nie! Tot die verbasing van die vyand verheug die Getuies wat “in die wet van die Here wandel” en “sy herinneringe in ag neem” hulle oor hulle lyding ter wille van Jehovah God en sy Christus. Hulle word herinner aan wat Jesus Christus in sy lys geluksprekinge gesê het: “Gelukkig is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete [die psalmis inkluis] net so gemaak” (Psalm 119:1, 2, vgl. NW; Lukas 6:20, 22, 23, Die Blye Boodskap). Omdat Jehovah se vervolgde Getuies in sy genot deel, gaan hulle voort om “die wet groot en majestueus te maak”.—Jesaja 42:21, NW.

Voordele uit Psalm 119

◻ Hoe is Psalm 119 gerangskik, en waarom?

◻ Watter spesiale woorde het die psalmis herhaaldelik gebruik?

◻ Hoe voel ons, in teenstelling met die valse Christendom, oor God se wet?

◻ Wat moet ons liefhê, ondanks die vervolging van Christene?

[Prent op bladsy 16]

Die psalmis het terdeë besef dat kennis en die toepassing van God se Woord geluk kan bring

[Prent op bladsy 18]

Baie van Jehovah se Getuies het vasgestaan en Nazi-vervolging oorleef. Hulle kon blymoedig sê: “U wet het ek nie vergeet nie”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel