God se Woord is lewend
Dink aan jou Skepper in jou jeug
ONS Skepper wil hê dat ons sy kosbare gawe, lewe, moet geniet. In die Bybelboek Prediker sê hy: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug . . . en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë.” Maar die weg wat jy in jou jeug inslaan om die begeertes van jou hart en oë te bevredig, sal bepaal hoe God jou oordeel. Daarom word jongmense hier aangespoor: “Weer die verdriet uitjou hart, en hou die kwale weg.”
Hoe kan jongmense ‘die kwale weghou’ en regverdige oordeel—tot “ewige lewe”—ontvang? (Romeine 6:23). Hoe jongmense dit kan doen, blyk uit die verdere aansporing: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom.”
Wat is “die ongelukkige dae” waartydens die wat nie aan hulle Skepper gedink het nie, sê: “Ek het daar geen behae in nie”? Die skrywer van Prediker het gepraat van die ouderdom, wanneer ’n persoon swak word en sy liggaamsorgane nie meer behoorlik funksioneer nie. Prediker beskryf hierdie ‘winter’ van die lewe in simboliese taal—soos wanneer die son, maan en sterre donker word en die wolke van swaarkry hulle verskyning maak en ’n mens se probleme vererger.
Hierdie tyd van die lewe word ook hier beskryf as “dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word, en die deure na die straat gesluit word, . . . en die sprinkaan . . . homself met moeite voortsleep”.
Snap jy die illustrasie? Die figuurlike “huis” is die menslike liggaam. Die “wagters”, of bewakers, is die arms en hande, wat begin bewe wanneer ’n mens oud word. Die bene—“die sterk manne”—word mettertyd krom en kan kwalik die liggaam ondersteun. Die tande—“die malers”—kan nie meer hulle werk doen nie. Hulle ‘staak die werk omdat hulle te min geword het”.
Wat van ’n bejaarde se oë? Vir hierdie “vensters” van die liggaam het dit donker geword omdat die gesigsvermoë verswak. “Die deure” van die mond gaan nie meer baie oop om uiting te gee aan wat in die huis of liggaam is nie. Weens swakheid kan ’n bejaarde inderdaad soos ’n sprinkaan lyk terwyl hy homself met moeite voortsleep.
Dan, wanneer die dood nader kom ‘word die silwerdraad verwyder en val die goue oliekruik stukkend en word die kruik by die fontein gebreek’. Die “silwerdraad” is blykbaar die rugmurg en die “goue oliekruik” die brein. Die “kruik by die fontein” is die hart, wat die lewegewende bloed ontvang en deur die liggaam laat sirkuleer. Die ouderdom het ’n uitwerking op al hierdie organe. Uiteindelik kom die persoon te sterwe en keer hy na die stof terug.—Prediker 11:9-12:7.
Die ongelukkige dae van die ouderdom haal ’n persoon wat sy lewe met ydele strewes verkwis het gou in—“dit is alles tevergeefs” (Prediker 12:8). Wees dus verstandig en dink aan jou Skepper terwyl jy krag en sterkte het. Bou ’n naam vir getroue diens aan God. Dan sal hy aan jou dink en jou met ’n gunstige oordeel, ja, met ewige lewe, beloon.—Mattheüs 6:19-21; Hebreërs 6:10-12; Prediker 12:13, 14.