Gee jy lug aan jou ergernis?
“EK HAAT jou!” Sommige egpare voeg mekaar gedurig sulke woorde toe. En dit gebeur keer op keer dat ergerlike moeders hulle kinders die vreeslikste dreigemente toegil.
Wat is die probleem? Sulke persone swig voor die swakheid om lug te gee aan hulle ergernis of frustrasies. Omdat hulle gekrenk of moedeloos of magteloos voel, is sondige mense soms geneig om sake op die spits te dryf en dinge te sê wat hulle nie regtig bedoel nie.
’n Voorbeeld ter toeligting
Dit is niks nuuts dat mense lug gee aan hulle ergernis nie. Dink maar aan die geval van die profeet Jona. Nadat hy aanvanklik te bang was om God se waarskuwingsboodskap aan die Nineviete oor te dra, het Jona sy les geleer toe hy deur ’n groot vis ingesluk en later op die droë grond uitgespuug is. Daarna het hy God se boodskap onbevrees verkondig deur die inwoners van Nineve te waarsku dat hulle binne 40 dae vernietig sou word. Maar die Nineviete, van die koning tot die geringste van sy onderdane, het op Jona se prediking gereageer deur berou te toon. Toe Jehovah dit sien, het hy hulle nie vernietig nie.—Jona 1:1-17; 2:10; 3:1-10.
Dit was vir Jona een te veel, want hy het gevoel dat dit hom soos ’n valse profeet laat lyk! Hy het gesê: “o HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” Later, toe ’n komkommerplant wat hom skadu gegee het skielik doodgegaan het, het Jona weer vir Jehovah gesê: “Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” Ja, die profeet het lug gegee aan sy ergernis deur selfs te sê dat hy die dood bo die lewe verkies. Jehovah het hom egter goed laat verstaan waarom Hy die Nineviete genadig was.—Jona 4:1-11.
Waarom doen mense dit?
Mense sê dikwels verregaande dinge omdat hulle as ’t ware wil “stoom afblaas”. Hulle sê dit miskien sonder om te dink, of sonder om selfs te glo dat dit waar is. Of hulle sê dit om hulle vyandigheid te kenne te gee of om iemand te straf. Wat ook al die beweegrede, die saak word net vererger wanneer ’n mens aan hierdie neiging toegee. Dit sal die twee partye waarskynlik verder uitmekaar dryf en ’n versoening en goeie betrekkinge bemoeilik. Een rede hiervoor kan heel moontlik wees dat, hoewel die persoon wat die oordrewe dinge sê nie werklik glo of bedoel wat hy sê nie, die slagoffer kan dink dat die persoon dit werklik bedoel. En dit kan uiters ontstellend wees!
Trots kan ook die oorsaak wees van onbesonne oordrywing, ’n Gekrenkte persoon kan voel dat iets wat die ander individu gedoen of gesê het van ’n gebrek aan eerbied, begrip of bedagsaamheid getuig. Ja, daar kan baie redes wees waarom ons lug gee aan ons ergernis. Maar wat kan ons doen om hierdie neiging te bowe te kom?
Hulpmiddele om die neiging te bowe te kom
Nederigheid sal help. As ons werklik dink dat ander beter is as ons, soos die Bybel vermaan, sal dit ons help om nie dramaties te raak en verregaande dinge te sê wanneer ons ergerlik, gefrustreerd, geïrriteerd of erg gekweld is nie.—Filippense 2:1-4.
Selfbeheersing is ook ’n groot hulp in hierdie verband. Dit help ons om geduldig te bly onder beproewing—met ander woorde, om lankmoedig te wees. God se Woord waarsku ons telkemaal, deur woord sowel as voorbeeld, teen ’n gebrek aan selfbeheersing. Ons lees byvoorbeeld: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spreuke 16:32). Dit is weliswaar nie die maklike weg om onder moeilike omstandighede selfbeheersing te toon nie. Maar dit is baie lonend om hierdie eienskap aan te kweek.
Aangesien ons so goed leer uit voorbeelde, kan ons gerus die voorbeeld van Jehovah God self beskou. Ondanks uittarting kon hy sê: “Ek het baie lank geswyg, My stil gehou. My bedwing” (Jesaja 42:13, 14). As ons onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy is, moet dit ons begeerte wees om hom na te volg deur selfbeheersing aan die dag te lê. Hierdie eienskap sal ons beslis help om nie lug te gee aan ons ergernis nie.
Onselfsugtige liefde sal ons veral help om in moeilike omstandighede kalm te bly. Liefde, ’n vrug van God se gees, gee ons die nodige insig om te besef waarom party mense soms dinge doen of sê wat ons geduld op die proef stel. Die liefde maak toegewings vir die swakhede van ander. Ja, “die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; . . . [dit] is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. . . . Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Die liefde doen dit alles en help ons dus om nie lug te gee aan ons ergernis nie.—1 Korinthiërs 13:4-7, NAV.
Gebed sal ook help. Ons kan ons hemelse Vader byvoorbeeld gepas om sy heilige gees vra (Lukas 11:13). Ons kan hom met vertroue vra om ons te help om die vrug van die gees, waaronder selfbeheersing, liefde, vrede, lankmoedigheid en sagmoedigheid, aan te kweek en te openbaar (Galasiërs 5:22). Jehovah verhoor sulke nederige gebede en gee sy gees aan die wat hom liefhet. So ontvang ons bykomende hulp om nie te heftig op irritasies te reageer nie.
Solank ons almal onvolmaak is, sal ons ander soms irriteer of deur hulle geirriteer word. Maar nederigheid, selfbeheersing, onselfsugtige liefde en veral gebed om God se hulp sal ons help om mekaar te verdra ten spyte van swakhede of tekortkominge. Ons sal nie meer so geneig wees om lug te gee aan ons ergernis nie.