Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/1 bl. 30-31
  • Die Bybel se lewendige beeldspraak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel se lewendige beeldspraak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • „Soos ’n boom”
  • „Die sout van die aarde”
  • „Geen haar van julle hoof”
  • ‘Die dood het geheers’
  • Beeldspraak wat verkeerd verstaan word
  • „Julle is die sout van die aarde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Gebruik woorde “wat goed is vir opbouing”
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Ons woorde moet opbouend wees
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/1 bl. 30-31

Die Bybel se lewendige beeldspraak

KAN jy jou die lewe sonder woorde voorstel? Woorde dra nie alleen feite oor nie, maar hulle boei ons aandag, wek ons emosies en maak ons verbeelding gaande. Woorde het die loop van die geskiedenis verander.

Dit is nêrens so waar soos in die geval van die Bybel​—die doeltreffendste voorbeeld van die geskrewe woord in die geskiedenis—​nie. Waarom is dit so doeltreffend? Omdat dit die geskrewe Woord van God is, en ook omdat dit God se gedagtes op ’n lewendige wyse aanbied. En dit is deels toe te skryf aan die lewendige beeldspraak wat dit gebruik.

„Soos ’n boom”

Die eenvoudigste vorm van beeldspraak is die vergelyking. Maar hoewel dit eenvoudig is, is dit baie doeltreffend. Wat is ’n vergelyking? Wanneer ons sê ’n man is so „sterk soos ’n os” of hy is so „dom soos ’n esel” gebruik ons vergelykings. Met die woord „soos” vergelyk ons twee dinge wat in werklikheid heeltemal verskillend is maar wat ’n besondere eienskap, soos krag of domheid, gemeen het.

Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons dat ’n man wat die wet van God liefhet soos ’n boom is. In watter opsig? „Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Psalm 1:3). Daar is weliswaar ’n groot verskil tussen ’n man en ’n boom. Maar die geilheid van ’n boom wat geplant is waar daar oorgenoeg water is, het die psalmis herinner aan die geestelike voorspoed van die man wie se ,behae in die wet van die Here is’.​—Psalm 1:2.

„Die sout van die aarde”

Metafore verskil nie veel van vergelykings nie. Hulle beklemtoon ook ’n ooreenkoms tussen twee heeltemal verskillende dinge. Maar terwyl die vergelyking die woord „soos” gebruik, sê die metafoor dat die een ding die ander is.

Jesus het ’n metafoor gebruik toe hy vir sy dissipels gesê het: „Julle is die sout van die aarde” (Mattheüs 5:13). Nee, die dissipels was nie letterlik sout nie. Maar sout is ’n preserveermiddel, en die dissipels het ’n boodskap gehad wat die lewe van baie mense sou bewaar. Deur te sê: „Julle is die sout” (’n metafoor) het Jesus die saak baie sterker gestel as wat hy sou gedoen het as hy gesê het: „Julle is soos sout” (’n vergelyking).

Metafore is sommer baie algemeen in die Bybel. Ons sien nog voorbeelde daarvan in die volgende woorde van Jesus: „Ek is die deur”; „Julle is die lig van die wêreld . . . Laat julle lig . . . skyn.”​—Johannes 10:7-9, 11; Mattheüs 5:14-16.

„Geen haar van julle hoof”

Nog ’n vorm van beeldspraak is die hiperbool. Dit is so duidelik ’n oordrywing dat dit ’n onvergeetlike beeld skep. Wanneer ’n moeder vir haar kind sê: „Ek het al honderd keer vir jou gesê om dit nie te doen nie!” gebruik sy ’n hiperbool.

Jesus het ’n verbasende hiperbool gebruik toe hy gewaarsku het: „Waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Mattheüs 7:3). Knip jy nie instinktief jou oë wanneer jy dit lees nie? Wat ’n kragtige manier om vir ons te sê om nie die geringe foute van ander te kritiseer wanneer ons self so baie groot gebreke het nie! En wat van die Fariseërs wat „die muggie uitsif, maar die kameel insluk”?​—Mattheüs 23:24.

Onthou ook die onvergeetlike manier waarop Jesus die wyse beskryf het waarop Jehovah sy knegte sou oppas: „Geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie” (Lukas 21:18). Nee, ’n Christen se hare is nie hoogheilig nie. Maar met hierdie hiperboliese verklaring het Jesus geen twyfel gelaat dat sy volgelinge beskerm sou word ondanks die feit dat hulle ,deur almal gehaat sou word’ nie.​—Lukas 21:17.

‘Die dood het geheers’

Personifikasie is nog ’n vorm van beeldspraak. Ons gebruik dit wanneer ons van ’n lewelose voorwerp praat as iets wat lewe. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons: „Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses”; „kommer en gesug vlug weg „; „Die Wysheid roep hardop daarbuite” (Romeine 5:14; Jesaja 35:10; Spreuke 1:20). Die dood, kommer, gesug en wysheid kan nie werklik heers, vlug of roep nie. Maar deur te praat asof hulle dit gedoen het, skilder die Bybel duidelike beelde wat ’n mens jou maklik kan voorstel en onthou.

Beeldspraak wat verkeerd verstaan word

Hierdie en talle ander vorme van beeldspraak laat die Bybel lewe. Dit laat die gedagtes in druk as ’t ware uitspring. Maar ’n probleem kan ontstaan. As ons beeldspraak nie as sodanig herken nie, kan dit tot misverstande lei.

Sien jy byvoorbeeld ’n vorm van beeldspraak in Jesus se woorde: „Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie”? (Mattheüs 24:35). Baie herken dit nie. Hulle dink dat Jesus hier aangedui het dat die aarde eendag vernietig gaan word. Maar sou sy hoorders daardie indruk gekry het?

Nouliks. As gevolg van hulle kennis van die Hebreeuse Skrifte het hulle reeds geweet dat die aarde vir ewig sou voortbestaan (Psalm 104:5; Prediker 1:4; Jesaja 45:18). Hulle sou gevolglik besef dat Jesus hier die permanensie van sy woorde kragtig beklemtoon. As Jesus se woorde selfs meer permanent is as die hemel en die aarde​—en die hemel en die aarde is ewig—​is hulle voorwaar permanent! Selfs al het die onmoontlike gebeur en die hemel en die aarde het verbygegaan, sou Jesus se woorde nog steeds daar wees. ’n Treffende hiperbool!​—Vergelyk Mattheüs 5:18.

En kan jy die beeldspraak in die volgende woorde sien: „Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”? (Johannes 14:26). Party dink dat dit beteken dat die heilige gees ’n werklike persoon is. Maar dit word so dikwels saam met ander onpersoonlike kragte of dinge gemeld dat dit eenvoudig nie waar kan wees nie (Mattheüs 3:11; Handelinge 6:3, 5; 13:52; 2 Korinthiërs 6:4-8; Efesiërs 5:18). Jesus het klaarblyklik die vorm van beeldspraak gebruik wat ons personifikasie noem.

Ja, die Bybel se beeldspraak is ’n kragtige middel om ander te leer en aan te spoor. Dit laat God se Woord lewe. En dit is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n mens ander op doeltreffende wyse kan onderrig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel