Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 12/15 bl. 6-26
  • Die Drie-eenheid-Moet jy dit glo?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Drie-eenheid-Moet jy dit glo?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom was daar geen reaksie nie?
  • Die Drie-eenheid—Strek dit God tot eer?
  • Nader aan God—of aan Maria?
  • Waar kom dit vandaan?
  • Moet jy dit glo?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Deel 1—Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Studievrae vir die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Is dit onteenseglik ’n Bybelleerstelling?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 12/15 bl. 6-26

Die Drie-eenheid-Moet jy dit glo?

GLO jy opreg aan die Drie-eenheid? Honderdmiljoene in die Christendom glo daaraan. Jy het moontlik nog altyd gedink dat dit op die Bybel gebaseer is. Weet jy wat dit presies is? Verstaan jy dit? Kan jy dit verduidelik?

Die Athanasiaanse Geloofsbelydenis, een van die eerste volledige formulerings van die Drie-eenheid, sit dit soos volg uiteen:

“Die Vader, Seun en Heilige Gees het een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid . . . die Vader is almagtig, die Seun almagtig, en die Heilige Gees almagtig . . . So is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God. En nogtans is daar nie drie Gode nie, maar een God . . . In hierdie Drie-eenheid is geeneen vóór of ná die ander nie, geeneen groter of minder as die ander nie. Maar die ganse drie persone het gelyke ewigheid en is gelyk.”

Volgens die Drie-eenheidsleerstelling is die Vader, die Seun en die Heilige Gees dus gelyk in mag, gesag en ewigheid. Maar die belangrike vraag is: Het Jesus Christus en sy apostels aan die Drie-eenheid geglo en dit aan ander geleer? As ons glo dat hulle dit gedoen het, ontstaan daar ’n paar baie lastige vrae.

In Markus 13:32 het Jesus Christus gesê: “Maar van daardie dag en dié uur [van God se komende voltrekking van oordeel] weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” (Kyk die venstertjie “Waarom ontbreek die woorde?” op bladsy 25.) Maar as die Vader en die Seun gelyk is, hoe kan die Seun onbekend wees met dinge wat die Vader weet? ‘Jesus het twee nature gehad’, sal sommige antwoord. ‘Hy praat hier as ’n mens.’ Maar al was dit die geval, wat dan van die “Heilige Gees”? As dit die derde persoon van die Drie-eenheid is, hoekom weet dit nie? ’n Ketting is net so sterk soos die swakste skakel. En die “Heilige Gees” is ’n deel van die Trinitariese ketting.

Jesus het eweneens by ’n vroeëre geleentheid gesê: “Niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun” (Lukas 10:22). Weer eens, wat van die “Heilige Gees”? As dit ’n bewuste deel van die “Godheid” is, gelyk aan die Vader en die Seun, hoekom weet dit nie?

Meer as 20 jaar nadat Jesus gesterf en na die hemel opgevaar het, het die apostel Paulus geskryf: “Want wie het die sin van die Here [die Vader] geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Korinthiërs 2:16). Hoe is dit moontlik om “die sin van Christus” te hê en tog nie “die sin van die Here” te ken nie—as die Vader en die Seun gelyk is?

In Spreuke 8:22-24 lees ons: “Die Here het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore.” Die vroeë Christene het duidelik verstaan dat hierdie beskrywing op Jesus slaan. Soos Trinitariese geleerde Edmund J. Fortman skryf: “Paulus het dit [Spreuke 8:22-31] op die Seun van God toegepas. Die Apologete het dit gebruik om aan Heiden en Jood die voorbestaan van die Woord en Sy rol in die skepping te verduidelik.” (Vergelyk Kolossense 1:15-17; Openbaring 3:14.) Maar hoe kan Jesus, as hy ’n bepaalde begin gehad het, “berei”, “geformeer”, “gebore” is, ofskoon lank voor sy aardse geboorte, gelyke ewigheid met die Vader hê? Buitendien kan net ’n skepsel (dit wil sê, iemand wat ’n begin gehad het) sê: ‘Ek lewe deur die Vader.’—Johannes 6:57.

Jesus het die Vader herhaaldelik “my God” genoem—selfs na sy terugkeer na hemelse heerlikheid (Mattheüs 27:46; Johannes 20:17; Openbaring 3:2, 12, NAV). Slegs ’n mindere, ’n aanbidder, kan iemand anders “my God” noem. Maar waarom is daar geen geval waar die Vader die Seun as “my God” aanspreek nie? En waarom sien ons nooit dat die Vader of die Seun die “Heilige Gees” as “my God” aanspreek nie?

Gedagteprikkelende vrae, nie waar nie?

Waarom was daar geen reaksie nie?

As ons meen dat Jesus Christus geglo en geleer het dat hy aan God gelyk is, is daar nog iets wat vreemd is: Waarom lees ons nie in die “Nuwe Testament” van die gevolge wat so ’n leerstelling noodwendig sou hê nie? Watter gevolge?

Dink eers na oor hoe so ’n leer Jesus se dissipels sou raak. Hulle het Jesus waarskynlik in die begin as ’n blote mens beskou. (Vergelyk Markus 6:3.) Toe sou Jesus op een of ander tydstip aan hulle geopenbaar het dat hy God self is. Hoe sou hulle gereageer het? Hoe sal jy reageer as jy skielik besef dat jy langs God staan?

Toe hy oor so ’n vooruitsig nagedink het, het Andrews Norton, wat in die negentiende eeu een van die eerste professors aan Harvard Divinity School was, uitgeroep: “Deur watter onuitspreeklike verwondering sou ons oorweldig word!” En as ’n mens uitgevind het dat hy in die fisiese teenwoordigheid van God was, “sou hy dit voortdurend in die allerkragtigste taal uitgedruk het, elke keer wanneer hy die geleentheid gehad het om van hom te praat!”

Maar sien jy, in alle eerlikheid, hierdie verbaasde reaksie by Jesus se dissipels wanneer jy die Evangelies lees? ‘Dit is omdat Jesus die waarheid daarvan geleidelik aan hulle geopenbaar het’, sal sommige dalk sê. Maar waarom is daar selfs in die briewe van die “Nuwe Testament”, wat jare ná Jesus se dood en opstanding geskryf is, geen teken van sulke verbasing nie? Eienaardig, nie waar nie?

Buitendien sou daar noodwendig ander gevolge gewees het as Jesus geleer het dat hy God is. Die Jode, wat geglo het dat ‘die HERE . . . ’n enige HERE is’, sou die bewering dat Christus as die tweede persoon van die Drie-eenheid aan God gelyk is as godslasterlik beskou het (Deuteronomium 6:4). Dit bring twee vrae na vore.

(1) Waarom vind ons nie dat die skrywers van die “Nuwe Testament” hierdie ongelooflike leerstelling herhaaldelik ter wille van gelowige Jode verduidelik, opklaar, toelig en verdedig nie? Geen leerstelling sou meer verduideliking geverg het nie!

(2) En waarom vind ons nie dat ongelowige Jode, wat die Christelike godsdiens vurig teëgestaan het, die leerstelling aanval wat vir hulle afstootlik sou gewees het nie? Geen leerstelling sou tot groter twis gelei het nie!a Professor Norton het derhalwe gesê:

“Dit blyk dus dat, hoewel ander eenvoudiger geskille (soos die besnydenis van die nie-Joodse bekeerlinge) soveel twyfel en twis ontlok het dat selfs die gesag van die Apostels kwalik genoeg was om die waarheid vas te stel, hierdie leerstelling [die Drie-eenheid], wat so buitengewoon, aanstootlik en moeilik verstaanbaar was, in stilte ingevoer en sonder huiwering, teensin, teenstand of wanbegrip aanvaar is.”

Eienaardig, om die minste te sê!

Waarom was daar geen verduideliking deur die skrywers van die “Nuwe Testament” nie? Waarom geen aanvalle deur Joodse teenstanders nie? Omdat nòg Jesus nòg sy apostels geleer het wat algemeen in die Christendom geglo word—die Drie-eenheid! Waar kom die Drie-eenheidsleerstelling dan vandaan?

Die Drie-eenheid—Strek dit God tot eer?

‘Die Drie-eenheid is later deur tradisie aanvaar, hoewel dit nie in die Skrif geleer word nie’, voer sommige miskien aan. Maar strook dit met Paulus se woorde in Galasiërs 1:8: “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!”?

Die Bybel het gewaarsku dat daar ’n afval van die ware Christelike godsdiens sou wees: “In die laaste dae [sal] sommige van die geloof afvallig . . . word en verleidende geeste en leringe van duiwels . . . aanhang” (1 Timotheüs 4:1). Aangesien die Drie-eenheidsleer, volgens die New Catholic Encyclopedia, eers in “die laaste kwart van die vierde eeu” ten volle ontwikkel was, vra ons: Is dit moontlik dat die Drie-eenheidsleer ’n gevolg is van afvalligheid van die ware Christelike godsdiens? Kan die Drie-eenheid in werklikheid ’n ‘lering van duiwels’ wees?

Die vrugte van die leerstelling sal ongetwyfeld ’n bepalende faktor wees. Toe die Jode Jesus van duiwelbesetenheid beskuldig het, het Jesus geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader” (Johannes 8:49). Wat kan van die Drie-eenheidsleerstelling gesê word? Het dit jou nader gebring aan die God van die Bybel? Het dit God tot eer gestrek deur mense nader aan hom te bring? Wat toon die feite?

“Die leerstelling van die Heilige Drie-eenheid is uiters moeilik om te verduidelik, en niemand verstaan dit nie”, erken Katolieke geestelike Robert I. Gannon. Ten einde ’n grondslag vir geloof te hê, vereis dinkende mense verduidelikings wat die logiese verstand tevrede stel. Skort daar nie iets met ’n voorstelling van God wat nie verduidelik kan word nie? Kan ’n voorstelling van God wat “niemand verstaan nie” hom tot eer strek? Ware Christene moet die God wat hulle aanbid, ken. Daar is geen plek vir verborgenheid nie!—Johannes 17:3.

Die Drie-eenheidsleerstelling het ook, in plaas dat dit mense nader aan die Vader gebring het, veroorsaak dat hy verdring word. In die Protestantse tradisie het dit daartoe gelei dat die Vader na ’n posisie van byna algehele onbekendheid gerelegeer is. Vra vir mense na wie hulle verwys wanneer hulle sê “Prys die Heer!” en hulle sal sonder uitsondering antwoord: “Na Jesus Christus, natuurlik!”

Nader aan God—of aan Maria?

In die Rooms-Katolieke tradisie is die uitwerking verder versterk deur die verering van Maria as die “Moeder van God”, “Middelares van alle gunste”, “Medeverlosseres van die mens” en “Koningin van die hemele”—almal logiese uitvloeisels van die Drie-eenheidsleer! Soos die New Catholic Encyclopedia verduidelik: “Maria is waarlik die moeder van God as daar aan twee voorwaardes voldoen word: dat sy werklik die moeder van Jesus is en dat Jesus werklik God is.”—Ons kursiveer.

Ter toeligting van die mate waarin die Vader op die agtergrond geskuif is, haal Arnold Toynbee in An Historian’s Approach to Religion die 17de-eeuse Franse Hugenoot Pierre Bayle aan, wat spottenderwys beweer dat God die heelal aan Maria gegee het:

“Van daardie dag af het God hom met niks meer bemoei nie, maar het hy, in alles, op Maria se waaksaamheid staatgemaak; ’n paar engele het opdrag ontvang om hierdie regeringsverandering op Aarde aan te kondig, sodat die Mensdom kon weet tot wie en op watter manier hulle in die vervolg hulle smeekbede moes rig; en dat hulle . . . nie die Maagd Maria moes aanroep in die hoedanigheid van ’n middelares of ’n ondergeskikte koningin nie, maar dat hulle haar moes aanroep as die soewereine en absolute keiserin van alle dinge.”

In teenstelling hiermee dring Jehovah God aan op uitsluitlike toewyding! (Exodus 20:5, vergelyk NW.) ‘Ek sal my eer aan geen ander gee nie’, waarsku hy.—Jesaja 42:8.

Wat toon die feite dan? Die volgende: Die Drie-eenheidsleerstelling het God nie tot eer gestrek deur mense nader aan hom te bring nie. Dit is eerder ’n gruwelike wanvoorstelling van God. Dit is dus duidelik dat diegene wat vir die ontwikkeling daarvan verantwoordelik was van die ware Christelike godsdiens afvallig geword het.

Waar kom dit vandaan?

Drie-eenhede van gode het in werklikheid lank voor die Christendom bestaan en het algemeen in antieke Egiptiese en Babiloniese mitologie voorgekom. Hoe het die idee in die Christendom ingesluip? Die History of Christianity, wat deur Peter Eckler uitgegee is, verduidelik:

“As die Heidendom deur die Christendom oorwin is, is dit ewe waar dat die Christendom deur die Heidendom verbaster is. Die suiwer Deïsme van die vroeë Christene (wat van hulle mede-Jode verskil het alleen in die opsig dat hulle Jesus as die beloofde Messias aanvaar het) is deur die Kerk van Rome in die onverstaanbare dogma van die drie-eenheid verander. Baie van die heidense leerstellings, wat deur die Egiptenare versin en deur Plato geïdealiseer is, is as geloofwaardig behou.”

“Geloofwaardig”? Stem jy saam? Jesus Christus het duidelik gesê dat sy ware dissipels ‘die Vader in . . . waarheid moet aanbid’ (Johannes 4:23, 24). Ja, ons aanbidding moet ooreenstem met die waarheid in God se Woord, die Bybel. Dit sluit in dat ons Jesus Christus aanvaar as “die Seun van God”, nie God die Seun nie! (Johannes 20:31; 1 Johannes 4:15). Dit beteken dat ons alle heidense godsdiensonwaarhede beslis moet verwerp. Die tydskrif wat jy nou lees, het miljoene opregte mense oor ’n tydperk van meer as honderd jaar gehelp om die een God, “Jehovah, die Soewereine Heer”, ‘in waarheid’ te aanbid.—Psalm 140:7, NW.

[Voetnoot]

a Sommige vestig miskien die aandag op Johannes 5:17, 18, waar ons lees: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.” Maar Johannes beskryf hier wat die ongelowige Jode verkeerdelik gedink het dat Jesus bedoel, dat hy “Hom met God gelykgestel het”. Dit blyk uit die feit dat hulle Jesus ook verkeerdelik van Sabbat-skending beskuldig het.—Vergelyk Mattheüs 5:17-19.

[Prent op bladsy 22]

’n Voorstelling van die Drie-eenheid in die 14de-eeuse St. Pieters-Katolieke Kerk in Tagnon, Frankryk

[Lokteks op bladsy 24]

Waarom vind ons nie dat Joodse teenstanders die leerstelling aanval wat vir hulle afstootlik sou gewees het nie?

[Venster op bladsy 25]

Waarom ontbreek die woorde?

Met betrekking tot die tyd wanneer die “groot verdrukking” sal plaasvind, sê Mattheüs 24:36 in die Afrikaanse Bybel die volgende: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Let daarop dat die woorde “of die Seun” uitgelaat is, hoewel hulle in baie ander vertalings voorkom. Waarom ontbreek hulle? Klaarblyklik het hierdie vers Trinitariërs gekwel! Hoe kan die Seun onkundig wees omtrent dinge wat die Vader weet—as hulle gelyk is? ln ’n kommentaar oor Mattheüs 24:36 verduidelik The Codex Sinaiticus and The Codex Alexandrinus, wat deur die kurators van die Britse Museum uitgegee is: “Sinaiticus en Vaticanus [Bybelmanuskripte] voeg of die Seun na hemele in, skynbaar die oorspronklike lesing wat verwyder is uit vrees vir leerstellige misverstand.”

[Prent op bladsy 26]

Het jy geweet dat triades gode lank voor die Christendom bestaan het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel