Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/15 bl. 27-29
  • ’n Vreugdevolle toewyding in Tahiti

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Vreugdevolle toewyding in Tahiti
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Orkaanseisoen!
  • Die gaste arriver
  • Die toewydingsprogram
  • Nog ’n orkaan
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/15 bl. 27-29

’n Vreugdevolle toewyding in Tahiti

VIR Jehovah se Getuies in Tahiti sou Vrydag, 15 April 1983 ’n opwindende dag wees. Daar is gereël dat hulle nuwe takgebou, wat gebruik sou word ter bevordering van die Koninkrykspredikingswerk in die Franse Polinesiese eilande, op daardie dag toegewy word.

Die voorbereidings het goed gevorder. Al die betrokkenes het met vreugdevolle afwagting uitgesien na die koms van gaste uit Fidji en Nieu-Seeland, asook van ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, Lloyd Barry, en sy vrou, Melba, wat ook teenwoordig sou wees. Maar by almal het die lastige vraag gespook: Wat gaan die weer doen?

Orkaanseisoen!

Die weer is nie gewoonlik ’n probleem in Tahiti nie. Die gewone weerpatroon bestaan uit sonskyn, verfrissende passaatwinde en tropiese laedrukstelsels gedurende die reënseisoen. Verlede jaar was egter anders. Vir die eerste keer sedert 1906 is Tahiti deur ’n reeks vernietigende orkane getref. Reeds in Desember 1982 het orkaan Lisa dakke afgeruk en bome uitgeruk in die Geselskapeilande, waarvan Tahiti die grootste is. Die orde was skaars herstel toe orkaan Nano, met winde van 130 kilometer per uur, teen die einde van Januarie 1983 verdere skade aangerig het.

Laat in Februarie het ’n skokkende derde orkaan, genaamd Orama, met ’n groot oog van meer as 70 kilometer in deursnee, en met winde van tot 150 kilometer per uur, deur die gebied gewoed en ’n groot deel van wat Nano gespaar het, verwoes. Dit het net gelyk of kalmte ingetree het, toe die bewoners op 8 Maart gehoor het dat ’n nuwe orkaan, genaamd Reva, aan die kom was, met rukwinde van tot 180 kilometer per uur. Op 12 Maart het die middelpunt van orkaan Reva minder as 140 kilometer van Tahiti af verbygetrek sodat bome en kragpale in Papeete, die eiland se vernaamste dorp, omgewaai is.

Die weer het gevolglik kommer gewek. Het Tahiti die laaste van die orkane gesien? Sou die weer verhoed dat die gaste kom of die toewyding van die nuwe takkantoor vertraag? Die antwoord op albei vrae was Nee!

Die gaste arriver

Tahiti het nog nie die laaste van die orkane gesien nie. Op Maandagaand, 11 April, is daar aangekondig dat ’n tropiese laedrukstelsel genaamd Veena nou ’n orkaan in die naburige Toeamotoeargipel geword het en waarskynlik in die rigting van Tahiti sou beweeg. Die oog van die orkaan, waaromheen daar winde van tot 200 kilometer per uur gewoed het, het inderdaad minder as 40 kilometer van Tahiti se suidoostelike kus af verbygetrek. Vroeg Dinsdagoggend het die sterk winde begin om die eiland te teister.

Daarna was Tahiti se beeld as ’n tropiese paradys effens bederf. Daar is geraam dat 3 043 huise verwoes en 3 199 beskadig is; 26 bote het gestrand en 39 het gesink, en 25 000 mense is dakloos gelaat. Op 13 April het Tahiti ontwaak met ’n buitengewone konsert van hamerslae wat op hout en metaalplate weerklink het. Die eilandbewoners was besig om herstelwerk te doen. Maar wat van die toewyding van die nuwe takgebou? En wat van die gaste? Sou hulle na Tahiti kon kom? ’n Vliegtuig vanaf Fidji was reeds verplig om om te draai. Eindelik het die vliegtuig met die gaste etlike ure laat veilig aangekom.

Donderdag, 14 April, was ’n besige dag. Baie was besig om hulle beskadigde huise te herstel, en by die nuwe takgebou—wat gelukkig onbeskadig was—is die laaste voorbereidings getref. Die besoekers het die geleentheid gehad om die nuwe takgebou in Tahiti ongeveer 25 kilometer van Papeete af te sien. Dit is ’n stewige dubbelverdiepinggebou wat agt persone kan huisves. Op die grondverdieping is daar verskeie kantore, pakkamers en ’n biblioteek, terwyl daar ’n kombuis, eetkamer, sitkamer, wassery en vier slaapkamers op die eerste verdieping is.

Die toewydingsprogram

Eindelik het Vrydag, 15 April, aangebreek. Om 5 nm. het Francis Sicari, ’n lid van Tahiti se Takkomitee en voorsitter van die verrigtinge, die gaste verwelkom. Toe het Alain Jamet, die koӧrdineerder van die Takkomitee, ’n skyfieprogram aangebied wat die bouwerk aan die takkantoor hersien het.

Na daardie interessante vertoning het Francis Sicari na die verhoog teruggekeer en die ontwikkeling van die predikingswerk in die Franse Polinesiese Eilande hersien. Hy het die 702 wat aanwesig was daaraan herinner dat ’n paar saadjies vroeg in die vyftigerjare van hierdie eeu op die eilande begin ontkiem het. In 1957 het die president van die Wagtoringgenootskap, Nathan H. Knorr, by ’n byeenkoms in Los Angeles, V.S.A., gevra om vrywilligers wat kon dien in Tahiti waar hulp nodig was. Sommige het gehoor gegee en die werk het vinniger gevorder.

Om te help om die gemeentes te organiseer, het die Genootskap toe gereël dat ’n aantal voltydse dienaars Tahiti van tyd tot tyd besoek. Twee van hierdie dienaars was John en Helene Hubler, wat in 1954 begin het om die goeie nuus in Nieu-Caledonië te verkondig en tans streekwerk in Nieu-Seeland doen. Die Hublers was onder die gaste wat die toewydingsprogram bygewoon het en hulle is genooi om van hulle ondervindinge te vertel. Helene het ’n roerende beskrywing gegee van die eerste Gedenkmaalviering wat sy in Tahiti bygewoon het. Dit is buitekant onder ’n wolklose hemel gehou en is verlig deur die volmaan wat deur die kokospalms geskyn het, terwyl die lug gevul was met die geur van blomme wat deur ’n sagte passaatwind aangedra is. Hierdie toneel is onuitwisbaar op haar geheue ingeprent.

Donald Clare, die koӧrdineerder van Fidji se Takkomitee, was ook teenwoordig. Hy het etlike jare lank gehelp om toesig te hou oor die werk in Polinesië voordat Tahiti ’n afsonderlike tak geword het, en hy het enkele van die ondervindinge vertel wat hy gehad het op sy reise na Tahiti. Hy het gesê dat die eenvoud en hartlikheid van die vroeë voltydse predikers in Tahiti van sy mooiste herinneringe was.

Lloyd Barry het die hooftoespraak gehou. Hy het die plaaslike Getuies wat as gevolg van die onlangse orkane skade gely het, baie bemoedig. Hy het hulle daaraan herinner dat rampe kenmerkend is van die laaste dae van hierdie stelsel, maar dat Jehovah sy volk kan red as hy wil. Die belangrike saak is om die werk te volbring wat Jehovah aan ons opgedra het, ongeag die omstandighede (Mattheüs 24:14; 28:19, 20). Talle vertroostende ondervindinge vanoor die hele wêreld toon vir ons hoe goed hierdie opdrag uitgevoer word en dat Jesus Christus en die engele dit ten volle steun.

Maar waarom rig die Genootskap nuwe geboue op wanneer die situasie in die wêreld so onseker is? Broer Barry het verduidelik dat Jehovah se organisasie verwag om hierdie veelbewoë tye te oorleef. God se volk word toegerus en georganiseer om die grootste getuienis moontlik in hierdie laaste jare te lewer voordat Armageddon ’n einde aan hierdie stelsel maak. En hulle hoop dat baie van hulle nuwe geboue gebruik sal word in die groot herorganiseringswerk na Armageddon.

Die spreker het die toewydingsprogram vergelyk met die eertydse Joodse Huttefees. Vir God se eertydse knegte was daardie fees ’n tyd van groot blydskap (Deuteronomium 16:13-15). Vir die aanwesiges was die toewyding van die nuwe gebou in Tahiti tot die uitsluitlike diens van Jehovah God eweneens ’n geleentheid van groot blydskap. Al die aanwesiges het hulle voorgeneem om hulle vertroue in Jehovah se beloftes sterk te hou.

Nog ’n orkaan

Almal is baie deur die toewydingsprogram versterk en bemoedig. Voordat die gaste vertrek het, is hulle deur hulle Tahitiaanse vriende oordek met talle blommekranse. Toe, op Maandag, 18 April, het orkaan William verbygetrek en sy ergste woede op die oostelike Toeamotoe-eilande uitgestort. Geweldige golwe het die atolle oorstroom en woeste winde het dorpies en kokosplantasies uitgewis. Voordat hy homself uitgewoed het, het orkaan William groot skade aangerig.

Die 496 Getuies van Jehovah onder die toesig van die tak in Tahiti was nietemin bly dat die tussenpoos tussen die storms lank genoeg was sodat hulle nuwe tak volgens plan toegewy kon word. Hulle was bereid om die goeie nuus van die Koninkryk met meer ywer aan hulle medemens te verkondig. En hulle was veral bly dat hulle mense se aandag daarop kon vestig dat daar, ondanks natuurrampe “’n sterk sekerheid in die vrees van Jehovah lê, en dat daar ’n toevlug vir sy kinders sal wees”.—Spreuke 14:26

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel