Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/15 bl. 12-17
  • “Jou eerste liefde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jou eerste liefde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Christelike godsdiens in Efese
  • Reguit raad nodig
  • Waarom mense hulle “eerste liefde” verloor
  • Laat daardie eerste liefde weer ontvlam!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Bybelboek nommer 49—Efesiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Waarom ’n brief aan die Efesiërs?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Jehovah se woord ‘groei en word kragtiger’ ondanks vervolging
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/15 bl. 12-17

“Jou eerste liefde”

“Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou.”—Openbaring 2:4, 5.

1, 2. (a) Watter raad het Jesus aan die gemeente in Efese gegee? (b) Watter uitwerking het hierdie woorde moontlik gehad?

IS JY ’n getuie van Jehovah met baie jare van getroue diens agter jou? Hoe sou jy dan voel as iemand vir wie jy groot agting koester op die voorgaande wyse met jou gepraat het? Sou jy gekrenk voel? Of sou jy meen dat hy ’n fout begaan het en met die verkeerde persoon praat?

2 Wel, feitlik 1 900 jaar gelede het niemand anders nie as die verrese Jesus Christus die gemeente in Efese, Klein-Asië, met daardie woorde aangespreek. Sy woorde moes vir hulle ’n skok gewees het. Daardie Christene in Efese het meer as 40 jaar lank in Jesus se naam volhard en die invloed van afvalliges weerstaan (Handelinge 18:18, 19; Efesiërs 1:1, 2). “Ek ken jou werke”, het Jesus gesê, “en jou arbeid en jou lydsaamheid, dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het” (Openbaring 2:2). Hulle was nog steeds “in die waarheid”, soos ons sê. Wat was dan die probleem?

3. Wat was die probleem van die Christene in Efese?

3 Hulle het ‘die liefde wat hulle eens gehad het’, verloor. Hulle het nie langer met dieselfde vurige, Christelike liefde vir Jehovah as aan die begin gedien nie. Hulle het gevolglik minder gedoen. Jesus het hulle derhalwe gewaarsku: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.”—Openbaring 2:5.

4. Watter waarskuwing hou die Efesiërs se ondervinding vir ons in?

4 Hier is ’n waarskuwing vir Jehovah se hedendaagse knegte. Dit is klaarblyklik moontlik vir diegene wat lank aktiewe Christene was om hulle ywer te verloor. Uiterlik lyk hulle dalk nog sterk, maar innerlik het hulle die innige liefde wat hulle eens vir Jehovah gehad het, verloor. In ’n brief aan die Korinthiërs het Paulus gewaarsku: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12). Om ons in hierdie opsig te help kan ons kyk hoe die Efesiërs hulle liefde gekry het en wat hulle gehelp het om dit te behou.

Die Christelike godsdiens in Efese

5, 6. Hoe en wanneer is die goeie nuus in Efese verkondig?

5 In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling was die stad Efese ’n ryk, besige metropolis en die sentrum van ’n florerende kultus van die heidense godin Artemis (of, Diana). Die leer oor Jesus as Jehovah se Messias is op die laatste in 52 G.J. vir die eerste keer daar gehoor toe Paulus saam met die egpaar Aquila en Priscilla uit Korinthe daar aangekom het. Paulus self kon nie vertoef nie, maar Aquila en Priscilla het. Toe ’n besondere spreker, Apollos, begin het om mense daar “noukeurig” aangaande Jesus te leer, het hierdie Christenegpaar hom gehelp om sy misvattings oor die doop uit die weg te ruim. Apollos het toe ’n vurige werker in die eerste-eeuse gemeente geword.—Handelinge 18:24-28.

6 Enkele maande later het Paulus na Efese teruggekeer en ’n groep van ongeveer 12 dissipels gevind wat met die doop van Johannes gedoop is. Hulle het op Paulus se woorde gereageer en is weer gedoop. Toe het hy drie maande lank in die sinagoge gepreek. Maar toe die meeste Jode nie gunstig gereageer het nie, het Paulus en die nuwe dissipels na die skoolsaal van Tirannus gegaan waar hy begin het om daagliks lesings te hou.—Handelinge 19:1-10.

7, 8. Watter merkwaardige gebeure het die vroeë ontwikkeling van die gemeente in Efese gekenmerk?

7 Nou het ’n opwindende tyd in Efese begin. Jehovah het kragtige genesingsdade deur Paulus verrig. Mense wat net aan sy klere geraak het, is genees, en die woord van sy prediking het deur die hele gebied versprei (Handelinge 19:11-17). In ’n brief wat Paulus destyds geskryf het, het hy vir die gemeente in Korinthe aan die ander kant van die Egeïese See gesê: “Ek sal in Efese bly tot Pinkster toe. Want ’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.”—1 Korinthiërs 16:8, 9.

8 Paulus het meer as twee jaar in Efese gebly. Baie het geleer van die buitengewone liefde wat Jehovah bewys het deur sy eniggebore Seun te stuur sodat diegene wat in hom glo die ewige lewe kan hê. Hulle het die waarheid aangeneem, en die liefde wat hulle vir Jehovah en sy Seun getoon het, was sterk. Voormalige beoefenaars van die towerkunste “het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword” (Handelinge 19:19, 20). Stel jou voor watter ontsaglike getuienis dit was!

9. Hoe is die intensiteit van die nuwe gemeente se liefde beproef?

9 Die intensiteit van die Efesiërs se liefde is kort daarna beproef. In Efese het baie silwersmede ’n goeie bestaan gemaak deur silwertempeltjies van Diana te maak. Omdat een van hulle, Demetrius, die jong Christengemeente as ’n bedreiging vir hulle bestaan beskou het, het hy sy medesilwersmede opgesweep en ’n oproer aangestook. Die lewens van die Christene was in gevaar totdat die stadsklerk die gepeupel tot bedaring gebring het (Handelinge 19:23-40). Daar was miskien soortgelyke beproewings wat nie in die Bybel opgeteken is nie, aangesien Paulus verwys het na ‘gevegte met wilde diere in Efese’ (1 Korinthiërs 15:32). Die Efesiërs se vurige liefde vir Jehovah het hulle nietemin gehelp om te volhard.

10. Hoe het Paulus vervolgens probeer om die ouere manne van Efese te bemoedig?

10 Paulus het Efese eindelik verlaat. Maar in 56 G.J., op pad na Jerusalem, was hy in Milete, net 48 kilometer daarvandaan. Hy het ’n vergadering met die ouere manne van Efese belê en hulle aangespoor om sy voorbeeld na te volg en die kudde van God wat aan hulle sorg toevertrou is as herders te versorg. Hy het hulle in die besonder gewaarsku teen “wrede wolwe” wat onder hulle sou verskyn en die dissipels sou mislei. Hy het ook gesê dat hy hulle waarskynlik nooit weer van aangesig tot aangesig sou sien nie. Daar het gevolglik “’n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen”.—Handelinge 20:17-38.

11. Wat het Paulus omtrent die Efesiërs gehoor toe hy in Rome was?

11 Toe Paulus in Jerusalem aangekom het, is hy in hegtenis geneem en eindelik as ’n gevangene na Rome gestuur. Daar het hy weer aan sy broers in Efese gedink en die brief geskryf wat in die Bybel verskyn met die titel “Aan die Efesiërs”. Die Christene in Efese se liefde vir Jehovah en sy Seun was op daardie tydstip nog sterk, aangesien Paulus vir hulle gesê het: “Vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges—hou ek ook nie op om vir julle te dank . . . nie.”—Efesiërs 1:15-17.

12. Watter raad het Paulus uit Rome geskryf wat die Efesiërs sou gehelp het om ‘hulle eerste liefde’ te bewaar?

12 In sy brief het Paulus goeie raad gegee om hulle te help om hulle liefde lewend te hou. Hy het hulle daaraan herinner dat hulle in bose dae lewe en gevolglik “die tyd moes uitkoop” en nie moes toelaat dat ander dinge hulle verhinder om God se wil te doen nie (Efesiërs 5:15-17). Paulus het ook die Efesiërs daaraan herinner dat hulle werklike vyande nie die mense was wat probeer het om hulle teë te staan nie. Hy het eerder gesê: “Ons worstelstryd is . . . teen die bose geeste in die lug.” Hy het hulle dus sterk aangespoor om geestelike wapenrusting aan te trek en deur gebed in noue voeling met God te bly.—Efesiërs 6:11-18.

13. Hoe kon Timotheüs die Efesiërs help?

13 Paulus het sy brief aan die Efesiërs omstreeks 60 of 61 van ons Gewone Jaartelling geskryf (Efesiërs 1:1). Nie lank daarna nie het Timotheüs Efese besoek, en terwyl hy daar was, het hy ’n brief van Paulus ontvang wat ons Eerste Timotheüs noem. Daarin het Paulus hierdie jonger man aangespoor om in Efese te bly “om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie, en hulle nie besig [moet] hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie” (1 Timotheüs 1:3, 4). Timotheüs se teenwoordigheid in die stad het ongetwyfeld die meeste Christene in Efese gehelp om hulle vurige liefde vir Jehovah te bewaar ondanks die slegte invloed om hulle heen.

14. (a) Hoe het Jehovah die Efesiërs versterk? (b) Wat het nietemin met hulle gebeur?

14 Omstreeks 65  G.J. het Paulus sy tweede brief aan Timotheüs geskryf. Daarin het hy gemeld dat hy nog ’n afgesant, Tichikus, na Efese gestuur het (2 Timotheüs 4:12). Dit is die laaste wat ons oor Efese lees totdat Jesus sy boodskap, wat in die boek Openbaring opgeteken is, gestuur het. Die Christene in Efese was die vrug van die apostel Paulus se prediking. Hulle het baat gevind by latere besoeke van voortreflike Christene soos Timotheüs, het raad ontvang deur ’n brief wat deur die heilige gees geïnspireer is en was deel van die “een liggaam” (Efesiërs 4:4). Hulle het nogtans hulle “eerste liefde” verloor.

Reguit raad nodig

15, 16. (a) Waarom meen sommige dat ’n mens kon verwag dat die Efesiërs se aanvanklik vurige liefde sou afneem? (b) Is dit hoe Jesus die saak beskou het?

15 Party meen miskien dat dit te verstane is dat die Efesiërs se vurige liefde effens verkoel het. Daar was immers al meer as 40 jaar lank ’n gemeente in Efese toe Jesus sy boodskap deur Johannes gestuur het. Baie het ongetwyfeld nie die goeie voorbeeld van Aquila en Priscilla of die opwindende prediking van Apollos onthou nie. Die apostel Paulus was al 30 jaar lank dood. Jerusalem is twee en ’n half dekades vroeër vernietig. Daar kon dus verwag word dat die Christene in Efese kalmer sou word en hulle gevoel van dringendheid en ywer sou verloor.

16 Maar Jesus het nie so ’n neiging verskoon nie. Ander wat net so lank soos die Efesiërs of selfs langer Christene was, het nie hulle “eerste liefde” verloor nie. Die apostel Johannes, wat Jesus se boodskap aan die Efesiërs neergeskryf het, was reeds meer as 20 jaar ’n volgeling van Christus toe Paulus die goeie nuus na Efese gebring het. En die lede van die gemeente in Filadelfia het duidelik getoon dat hulle nie hulle “eerste liefde” verloor het nie.—Openbaring 3:7-11.

17. Wat was Jesus se raad aan die Christene in Efese?

17 Jesus was dus nie onredelik toe hy reguit vir daardie Efesiërs gesê het dat hulle waarskynlik aan die kortste ent sou trek indien hulle hulle nie bekeer het en hulle liefde opnuut aangewakker het nie. Hy het gesê: “Ek . . . sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:5). Dit was nie soseer ’n dreigement as ’n liefdevolle waarskuwing aan daardie Christene wat hulle aangespoor het om verstandig op te tree en sodoende nie hulle voorregte te verbeur nie.

Waarom mense hulle “eerste liefde” verloor

18, 19. (a) Watter ywer het die Israeliete gehad toe hulle uit Egipte bevry is? (b) Waarom het hulle daardie ywer verloor?

18 Waarom verloor mense hulle aanvanklike liefde vir Jehovah en ywer om sy wil te doen? Die Bybel sê nie vir ons wat met die Efesiërs gebeur het nie. Maar daar is ander voorbeelde in die Bybel waar iets soortgelyks gebeur het. Dink aan die geval van die Israeliete wat deur Moses uit Egipte uitgelei is. Nadat hulle Jehovah se kragtige werke aanskou het, waarvan die vernietiging van Farao en sy leër in die Rooi See die klimaks was, was God se bevryde volk baie geesdriftig. “o  HERE, wie is soos U onder die gode?” het hulle in ekstase gesing (Exodus 15:11; Psalm 136:1, 15). Later, toe Jehovah ’n verbond met hulle gesluit het, het hulle eenstemmig gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.”—Exodus 24:7.

19 Maar die Israeliete het gou van luim verander. ’n Tydelike gebrek aan water, en aan verskeidenheid in hulle dieet, vrees vir die Kanaániete en ander probleme het hulle Jehovah se magtige dade en die verbond wat hy met hulle gesluit het, laat vergeet. Vanaf ’n veilige afstand het selfs Egipte, die land waar hulle slawe was, dan glad vir hulle aantreklik begin lyk! Hulle het van die wreedheid van die Egiptenaars vergeet en kon slegs dink aan ‘die visse, die komkommers, die waterlemoene, die prei, die uie en die knoffel’ wat hulle eens daar geëet het.—Numeri 11:5.

20, 21. (a) Watter opwindende nuus het die Jode in Kores se dag gehoor, en watter uitwerking het dit gehad? (b) Wat het hulle geesdrif laat afneem?

20 Dink ook aan die geval van die Jode wat in 537 v.G.J. uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het. Stel jou voor hoe opgewonde hulle moes gewees het toe hulle Kores se aankondiging gehoor het: “[Jehovah] het my opgedra om vir Hom ’n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou!” (Esra 1:2, 3). Tienduisende het gereageer, en daar was groot vreugde toe die fondament van die nuwe tempel eindelik gelê is.—Esra 2:64; 3:10-13.

21 Daardie geesdrif het egter gou afgeneem. Naburige vyande het beswaar gemaak en ’n amptelike bevel laat uitvaardig om ’n einde aan die tempelbouwerk te maak (Esra, hoofstuk 4). Die Jode het begin om mooi huise vir hulself te bou (Haggai 1:4). In hulle eie oë was hulle nog steeds beoefenaars van die Joodse godsdiens. Hulle het nie hulle geloof versaak nie. Maar hulle het die vurige liefde wat hulle vroeër vir Jehovah en die belange van ware aanbidding gehad het, verloor. Hulle het ongetwyfeld gedink dat hulle gebalanseerd of redelik opgetree het. Maar Jehovah het nie saamgestem nie. Hy het die profete Haggai en Sagaria gestuur om hulle ywer op te wek en hulle aan te spoor om Jehovah se huis klaar te bou.—Esra 5:1, 2.

22, 23. (a) Wat kan veroorsaak dat Christene vandag hulle eerste liefde verloor? (b) Watter vrae moet ons nog bespreek?

22 Iets soortgelyks kan in ons dag met Christene gebeur. Die daaglikse lewensprobleme in ’n nie-Christelike wêreld kan hulle vreugde laat afneem. Met verloop van tyd is die waarheid dalk nie meer vars en opwindend nie. Dit kan selfs gebeur dat ’n Christen, namate die herinneringe aan hoe dit in die wêreld was, vervaag, met verlange na die sogenaamde vryheid, die gebrek aan verantwoordelikheid, van wêreldse mense begin kyk (Efesiërs 2:11, 12). Of Christene kan afgetakel word deur die gesindheid van die mense om hulle heen. Die gedagte kan posvat dat dit redeliker is om dinge ’n bietjie kalmer in God se diens op te neem en ietwat minder te doen.—Jeremia 17:9.

23 Iets soortgelyks moes met die Christene in Efese gebeur het, maar Jesus het klaarblyklik gemeen dat hulle kon herstel. Trouens, hulle het reeds baie raad deur die apostel Paulus ontvang wat hulle kon help om ‘hulle eerste liefde’ te herstel. Wat was hierdie waardevolle raad? En sal dit ons help om vandag ons ‘eerste liefde’ te bewaar? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

Kan jy onthou—

◻ Watter probleme het in die gemeente in Efese bestaan?

◻ Watter hulp het Jehovah aan hulle verleen?

◻ Waarom het die Israeliete in Moses se dag hulle ywer verloor?

◻ Wat het die Israeliete in Esra se tyd hulle geesdrif laat verloor?

◻ Wat kan daartoe lei dat ons ons “eerste liefde” verloor?

en hulle aan te spoor om Jehovah se huis klaar te bou.—Esra 5:1, 2.

[Prent op bladsy 13]

Dit was moontlik om materialistiese redes dat die lede van die gemeente in Efese hulle eerste liefde verlaat het

[Prent op bladsy 16]

Haggai het vir die Jode gevra: ‘Is dit die tyd om in julle betimmerde huise te woon terwyl God se huis in puin lê?’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel