Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/15 bl. 13-15
  • Waarom ’n brief aan die Efesiërs?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ’n brief aan die Efesiërs?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Eertydse godsdienssentrum
  • Die herstelling van eenheid en vrede
  • Streef vrede en eenheid na
  • Bybelboek nommer 49—Efesiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Jou eerste liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Christelike eenheid verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Eenheid verseker deur Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/15 bl. 13-15

Waarom ’n brief aan die Efesiërs?

“GROOT is Artemis van die Efesiërs!” Kan jy jou teater, een met plek vir vyf-en-twintigduisend toeskouers, vol woedende mense voorstel wat aangedryf word deur godsdienswaansin en die gemelde uitdrukking twee uur lank aaneen uitroep? Dit het gebeur!—Handelinge 19:28, 34, NTP.

Waarom sulke vurige drif? Wie was Artemis? Wat dit betref, wie was die Efesiërs? Wie het ’n brief aan hulle geskryf—en waarom?

’n Eertydse godsdienssentrum

Efese was een van die vernaamste stede in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling, met ’n geraamde bevolking van meer as ’n kwartmiljoen. Die stad was ’n ryk handel- en kultuursentrum, maar dit was nie net die rykdom, gematigde klimaat en natuurskoon van die gebied wat menigtes daarheen gelok het nie. Efese was ’n godsdienssentrum van die antieke wêreld en het gespog met ’n tempel wat so groot was dat dit een van die sewe wonders van die wêreld genoem is.

Die godin Artemis of Diana is aanbid in hierdie weelderige tempel waar goud volgens berig tussen die marmerblokke gebruik is. By tye het tot sewehonderdduisend mense van Efese en afgeleë lande langs die strate gestaan terwyl die “maagdelike godin” deur die stad gedra is. Die maak en verkoop van silwerbeeldjies van hierdie veelborstige vrugbaarheldsgodin was ’n florerende bedryf in Efese.—Handelinge 19:24, 25.

Dit was in so ’n stad dat die man Paulus die Christelike godsdiens aan die Efesiërs kom verkondig het. Hy is deur Jesus Christus aangestel om “’n apostel van die heidene” te wees (Romeine 11:13). ’n Gemeente is in Efese gestig en dit het vinnig gegroei. Die bekeerlinge het gou van hulle beelde en boeke oor die toorkuns ontslae geraak (Handelinge 19:19). Omdat hierdie nuwe godsdiens wat teen die gebruik van beelde gekant was so vinnig gegroei het, het Demetrius, die silwersmid, die mense feitlik tot ’n oproer opgehits, met die gevolg dat hulle uitgeroep het: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

Die gemeente in Efese is in der waarheid deur Paulus, die skrywer van die brief, gestig. Dit was ’n gemeente wat hoofsaaklik uit nie-Jode of heidene bestaan het (Efesiërs 3:1). Die Efesiërs wat Christene geword het, het ’n verdorwe vorm van aanbidding verlaat.—Efesiërs 4:17-19.

Die herstelling van eenheid en vrede

Paulus het omstreeks die jaar 60 of 61 G.J. uit Rome aan die Efesiërs geskryf terwyl hy in die tronk was (Efesiërs 1:1; 6:20). Vroeg in sy brief is daar ’n verklaring oor God se wonderlike voorneme om eenheid en vrede te herstel, soos in die Skrif uiteengesit. Dit is die spil waarom die res van die brief draai.

Paulus het geskryf dat God “aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om [aan] die volheid van die tye [’n bestuur] te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Efesiërs 1:9, 10, vgl. NW). Soos hier getoon word, is dit God se wil om al die verkeerde dinge wat as gevolg van Satan se opstand deur die ganse heelal voorgekom het reg te stel.

Paulus wou hê dat hierdie nie-Joodse Christene in Efese ten volle moes besef watter onbeskryflike voorreg dit vir hulle was om so intiem betrokke te wees by die ontplooiing van God se wil. Onmiddellik na sy inleiding het Paulus gevolglik die aandag op hulle bevoorregte posisie gevestig. Hulle was deel van ’n groep wat God “voor die grondlegging van die wêreld” gekies het om saam met Christus in sy hemelse koninkryk te heers.—Efesiërs 1:3-7.

Dit was inderdaad ’n voorreg vir die nie-Joodse Efesiërs, wat eens “vervreemd” en “sonder God in die wêreld” was, om die vooruitsig te geniet om, saam met Jode, hemelse heersers saam met Christus in God se koninkryk te wees! Dit was die “verborgenheid” waarna Paulus herhaaldelik in hierdie brief verwys, “naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus”.—Efesiërs 2:11-13; 3:3-6.

Die brief aan die Efesiërs openbaar dus dat dit Jehovah God se voorneme is om eenheid en vrede dwarsdeur die heelal te herstel. God gaan, soos Paulus geskryf het, ‘alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus verenig’. Dit was slegs voor Satan se opstand dat ware eenheid deur die ganse heelal bestaan het. Maar deur middel van God se “bestuur”, dit wil sê, die manier waarop hy sake hanteer, sal sulke eenheid weer verwesenlik word.

Deur Christus as hulle losprys te aanvaar, sal die ‘dinge in die hemele’—dit wil sê, die persone wat as hemelse seuns aangeneem is—‘weer in Christus verenig word’. Maar in ooreenstemming met God se voorneme moet die bestemde tyd aanbreek vir die verwesenliking van die tweede aspek van Sy “bestuur”, naamlik om ‘die dinge wat op die aarde is’ te verenig. Dit vind plaas tydens Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag wanneer hy sy “ander skape” versamel wat onder die hemelse Koninkryk die lewe op aarde gaan ontvang.—Johannes 10:16.

Waar Paulus sy tema verder ontwikkel, toon hy dat almal in “die gemeente . . . wat [Christus se] liggaam is”, vrede en eenheid moet najaag (Efesiërs 1:22, 23). Gevolglik is daar nie langer ’n onderskeid tussen Jood en nie-Jood, besnedenes en onbesnedenes nie. Almal moet bereid wees om hulle vir teenheid en vrede te beywer.—Efesiërs 2:11.

Volgens die New World Translation gebruik Paulus die woord “eendrag” dertien keer in hierdie brief, meer as in enige van sy ander briewe. En hy gebruik die woord “vrede” agt keer, meer as in enige ander brief behalwe die brief aan die Romeine. Ons kan die nodigheid vir die klem op eenheid en vrede beter begryp as ons besef watter groot verskille eeue lank tussen die Jode en nie-Jode bestaan het (Handelinge 10:28). Paulus beklemtoon Christus se belangrike rol in hierdie verband. “Want Hy is ons vrede”, sê Paulus, “Hy wat albei een gemaak en die middelmuur (die Wet van Moses) van skeiding afgebreek het.”—Efesiërs 2:14.

Streef vrede en eenheid na

Die laaste drie hoofstukke van Paulus se brief is toegespits op situasies waarin daardie Efesiërs hulle bevind het en bevat raad wat vrede en eenheid onder hulle sou bevorder. En hoe kan vrede en eenheid bereik word? Die betoning van liefde is onontbeerlik. Om hierdie feit te beklemtoon, gebruik Paulus die woorde “liefhê”, “liefgehad”, “liefde” en “Geliefde” 19 keer, meer as in enige van sy ander briewe! Hy vermaan: “Terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”—Efesiërs 4:2, 3.

Paulus beskryf voorts God se voorsienings vir verenigde bedrywigheid. Hy sê dat God “sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars [gegee het] . . . totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof. Dan gebruik Paulus die gelykenis van ’n menseliggaam wat harmonies funksioneer, iets wat “die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde”.—Efesiërs 4:11-16.

Dinge wat die vrede en eenheid versteur, moet dus nou vermy word. Dit sluit leuens, toorn en luiheid in, asook vuil woorde in plaas van goeie en opbouende woorde. Mense in Efese is in werklikheid aangespoor om te steel, aangesien ’n dief na die tempel van Artemis kon vlug om te voorkom dat hy in hegtenis geneem word. Maar Paulus het gesê: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie.”—Efesiërs 4:25-30.

Stel jou voor hoe die toepassing van Paulus se volgende vermaning vrede en eenheid in die hand sou werk: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”—Efesiërs 4:31, 32.

Dinge soos hoerery, onreinheid, hebsug, skandelike gedrag, ligsinnige en vuil praatjies en dronkenskap skep probleme, nie alleen met ander mense nie, maar ook met God. Paulus vermaan dus: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie,” “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse . . . omdat die dae boos is.”—Efesiërs 5:1-20.

Paulus verduidelik dat dit vrede in gesinne sal bevorder as die liefdevolle voorbeeld van Christus en die raad van God se Woord gevolg word. Hy beklemtoon ook hoe werknemers en werkgewers in vrede met mekaar oor die weg kan kom as hulle hulle verpligtinge teenoor God in gedagte hou (Efesiërs 5:21-6:9). Maar dit is belangrik om te besef dat Satan die Duiwel, wat oorspronklik die vrede en eenheid in die heelal versteur het, alle pogings van Christene om God se wil te doen sterk sal teenstaan. Hulle moet dus ‘die volle wapenrusting van God aantrek’ om die Duiwel en sy demone met welslae te weerstaan.—Efesiërs 6:10-18.

As ons dink aan wat dit alles bevat, kan ons God voorwaar dankbaar wees dat hy Paulus geïnspireer het om die brief aan die Efesiërs te skryf! Sy brief is deur baie geleerdes geloof, en een het gesê dat dit “hoewel kort, die hele terrein van die Christelike godsdiens dek”. Dit sit nie alleen God se wonderlike voorneme om al die verkeerde dinge in die ganse heelal reg te stel uiteen nie, maar dit bevat ook baie, praktiese raad en vermanings om ons te help om God op so ’n wyse te dien dat ons sy ewige guns en seën verkry.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel