Hulp vir die slagoffers van bloedskande
Bloedskendige kindermishandeling is die seksuele misbruik van kinders deur ’n ouer bloedverwant. Dit is gewoonlik deur ’n manlike familielid soos ’n vader, stiefvader, oom of ouer broer. Soms, maar baie selde, is dit deur ’n vroulike familielid. Volgens die boek “The Silent Children” kan bloedskendige mishandeling wissel van onbehoorlike liefkosing tot mondelinge kontak met die geslagsorgane tot omgang. Liefderyke, fisiese kontak tussen kinders en ouer persone is natuurlik in orde. Maar wanneer die ouer persoon vind dat hierdie kontak hom prikkel, of wanneer hy dinge alleen saam met die kind doen wat hy nie sou doen indien die kind se moeder teenwoordig was nie, sal dit waarskynlik lei tot die seksuele misbruik van die kind.
“DIE grootste deel van haar lewe gaan Rachel gebuk onder ’n skuldlas, is sy seker dat sy nutteloos, is en is sy vasgevang in ’n gevoel van hopelose isolasie.” Wat kon die lewe van ’n Britse huisvrou en moeder so beklad het?
’n Sestienjarige meisie in Kalifornië het gesê: “Ek het nou ’n pyn diep in my hart wat nooit sal verdwyn nie, en dit maak seer, baie seer.” Wat kon haar soveel angs veroorsaak?
Die antwoord in albei gevalle is dieselfde: bloedskande. Albei hierdie vroue is seksueel deur hulle vaders misbruik toe hulle kinders was. Ongelukkig is daar baie soos hulle. Studies in die Verenigde State dui daarop dat een uit vyf meisies en een uit tien seuns seksueel gemolesteer word voordat hulle groot is. In die meeste gevalle word die misdaad gepleeg deur iemand wat die jong slagoffer ken, en in baie gevalle is dit bloedskendig. Verslae uit ander lande vertel ’n soortgelyke verhaal.
Namate die wêreld meer verdorwe taak, sal hierdie probleem waarskynlik vererger. Selfs nou het talle vroue wat in die Christengemeente inkom emosionele probleme omdat hulle die slagoffers van bloedskande was toe hulle kinders was. Sommige het na professionele raadgewers en sielkundiges gegaan vir hulp, maar baie wend hulle tot die gemeente en maak op hulle Christenbroers en -susters staat vir onderskraging. Is daar enige manier waarop ryp persone in die gemeente hulp kan verleen, selfs al is hulle nie vakkundiges op die gebied van geestesgesondheid nie? Ja, daar is dikwels.—1 Thessalonicense 5:11.
Indien daar by jou enige twyfel bestaan oor die skade wat bloedskande berokken, kan jy kyk na die kommentaar van sommige van die slagoffers daarvan jare na die misdaad: “Ek het dit 15 jaar lank ingehou, sodat ek deur jare van skuld verswelg is . . . Hoe het ek mans tog gehaat!”
“Die skuld is feitlik erger as die molestasie self.”
“Ek kan eerlik sê dat ek my al om die lewe sou gebring het as gevolg van die herinneringe,”
“As gevolg van die herinneringe aan seks wil ek nie trou nie. Ek wil beslis geen kinders hê nie.”
’n Studie wat voorberei is deur dokters Bruce A. Woodling (van die Universiteit van Suidelike Kalifornië se fakulteit van geneeskunde) en Peter D. Kossoris (’n adjunk-distriksprokureur) staaf die voorgaande en sê: “Dit is algemeen dat ouer vroue wat as kinders of adolessente bloedskendig gemolesteer is terneergedruk en neuroties gekweld is.” ’n Studie wat aan die Universiteit van Washington uitgevoer en in Medical Times gepubliseer is, voeg by: “Aangemelde probleme sluit in: skuldgevoelens en depressie; ’n lae eiedunk; probleme met menseverhoudinge as gevolg van ’n onderliggende wantroue teen mans, onvoldoende sosiale vermoëns, en seksuele onbekwaamheid.’’
Waarom is bloedskande so verpletterend? Die tydskrif Child Welfare vestig die aandag op die situasie van ’n dogter wat deur haar vader gemolesteer is: “Die dogter wat gemolesteer is, is op haar vader aangewese vir beskerming en sorg. . . . Sy durf nie uiting gee aan haar woede omdat sy misbruik is nie, en sy mag dit nie eens ondervind nie. Sy moet aan haar vader se eise voldoen of die gevaar loop om die ouerlike liefde wat sy nodig het te verloor.”
’n Voormalige slagoffer hou tereg vol dat bloedskande “selfsugtig en laakbaar . . . en ’n verskriklike skending van ’n kind se vertroue en afhanklikheid is”.
Sommige dogtertjies wat die slagoffers van bloedskande was, het gedink dat mans hulle slegs seksueel kon liefhê, en daarom het hulle hulle vrypostig gedra teenoor ander mans benewens die een wat hulle misbruik het. Wanneer ander slagoffers tienderjariges geword het, was hulle behep met seks en selfs promiskueus. Ander ervaar groot woede, gevoelens van nutteloosheid en, veral, skuldgevoelens. Hulle voel skuldig as gevolg van wat gebeur het, skuldig omdat hulle nie ’n einde daaraan gemaak het nie, skuldig as gevolg van die skadelike emosies, skuldig indien hulle die ondervinding geniet het, en, indien die bloedskande hulle ouers se huwelik beïnvloed het, voel hulle ook skuldig daaroor.
Is daar ’n manier waarop hulle gehelp kan word om sulke emosionele verwarming te verwerk?
Dit help nie om te sê . . .
Een vrou wat probleme ondervind het omdat sy jare lank ’n slagoffer van bloedskande was, het na die ouere manne in die gemeente gegaan om haar probleem te bespreek. “Hulle het vir my gesê om dit te vergeet”, vertel sy. Die welmenende redenasie agter daardie raad was ongetwyfeld dat aangesien die nare ondervindinge tot die verlede behoort het en daar nou niks daaromtrent gedoen kon word nie, dit die beste sou wees om dit te vergeet en aan opbouende dinge te dink (Filippense 4:8). Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie.
Waarom nie? Wel, dink aan iemand wat die gebruik van sy arm in ’n ongeluk verloor het. Sy vriende besoek hom om hom te help. Sal dit hom help as hulle sou sê: ‘Ag, vergeet dit!’ Natuurlik nie. Dis vir hom onmoontlik om dit te vergeet”
Baie vroue wat bloedskendig misbruik is, kan eweneens eenvoudig nie daarvan vergeet nie. ln sommige gevalle is dit soos ’n emosionele litteken op hulle gewete. Een slagoffer het geskryf: “My oupa het my gemolesteer toe ek sewe jaar oud was, en nie net een keer nie maar by verskeie geleenthede. “My naïwiteit het my weerloos gemaak. Nou ondervind ek voortdurend die reperkussies. Dit is sedertdien ’n lewende nagmerrie.
Die herinnering kan ’n ruk lank onderdruk word, net om weer na die oppervlak te kom en my tot op my maag naar te maak. Ek voel skaam en vuil, en dit was nie eens my skuld nie.”
Die emosionele littekens van bloedskande (en ander traumatiese ondervindings) is weliswaar nie sigbaar nie. Maar hulle is net so wesenlik soos fisiese littekens. Hoe kan diegene met sulke littekens dus gehelp word? Een manier is om na die slagoffer te luister en haar aan te spoor om “haar hart uit te praat”.
Dit kan help as jy sê . . .
Die raadgewer moet behulpsaam wees, nie krities nie. Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar” (Efesiërs 4:32). In situasies waar raad gegee moet word, is hierdie eienskappe noodsaaklik.
’n Vrou wat baie jare lank deur haar vader gemolesteer is toe sy ’n dogtertjie was, sê gevolglik: “Ouere manne (of wie ook al genader word) moet buitengewoon vriendelik wees.” Nog ’n vrou wat deur haar vader misbruik is, sê: “Dit is uiters belangrik om nie geskok te wees nie. Wees kalm en simpatiek. Moenie al die besonderhede probeer uitvis nie, maar wees bereid om te luister na wat jy vertel word. Probeer om die slagoffer se emosies te verstaan.”
Dit is nie altyd maklik om kalm en simpatiek te wees nie. Een vrou het erken dat sy dikwels opgewonde geraak het en selfs strydlustig was wanneer sy haar probleem bespreek het. Is sulke gedrag oneerbiedig? Moontlik. Maar ’n ryp Christen wat “vol ontferming” is, sal gou besef dat dit nie teen hom persoonlik gerig is nie. Dit is ’n blyk van innerlike verwarring.—Filippense 2:1-4.
Daarbenewens moet diegene wat die slagoffers van bloedskande raad gee, luister, net soos Jehovah God luister (Psalm 69:34). Hulle moenie haastig wees, om kommentaar te lewer of oordeel te vel nie (Spreuke 18:13; Jakobus 1:19).
Help dit werklik om te luister en te troos? Ja. Een slagoffer berig: “Ek het dit bespreek met ’n suster wat ouer as ek is, en hoe verlig was ek tog nie! Ek . . . het saam met haar gehuil.” ’n Ander het gesê: “Ek dink dat ek die meeste gehelp is deur bloot iemand te hê om mee te praat.”
As die slagoffer aan ernstige emosionele verwarring ly, kan ’n meer ervare raadgewer haar help om vas te stel wat die rede vir daardie verwarring is en wat sy daaromtrent kan doen. Vrae soos die volgende kan help om verborge gevoelens na vore te bring: “ Wil jy bespreek wat gebeur het? Hoe voel jy oor jouself? Hoe voel jy teenoor jou vader [of oom, of wie ook al die skender was]? Blameer jy jouself vir wat gebeur het? Meen jy dat dit jou slegter as ander mense maak?” ’n Liefdevolle raadgewer sal toon dat hy nie geskok is oor die antwoorde nie. Hy sal eerder verduidelik dat sulke gevoelens nie buitengewoon is nie. Party het beter gevoel wanneer hulle dit gehoor het.
Maar gestel nou die slagoffer sê dat sy nutteloos voel as gevolg van die ondervinding. Wat dan? ’n Jong vrou wat deur haar oupa, vader en stiefvader misbruik is, sê: “Hulle [die raadgewers] kan haar help om te besef dat sy baie werd is. Ek het altyd gevoel dat ek anders as my vriendinne by die skool is. Ek het vuil gevoel in vergelyking met hulle. As ’n tienderjarige het ek toe ’n paar keer in die moeilikheid beland. Maar nou weet ek dat Jehovah nie hierdie ondervinding teen my hou nie. Hy beskou my as ’n nuttige persoon.”—Psalm 25:9; 1 Johannes 4:18, 19.
Slagoffers ervaar dikwels ook woede. In haar boek The Silent Children verduidelik Linda T. Sanford waarom: “Wanneer die kind ouer word, leer sy die ware betekenis van die geslagsdaad en word sy bewus van die volwassene se gruwelike ongeskiktheid. Dit voel dus vir haar of sy verraai is. Sy het teen hierdie ouer persoon opgesien en hom vertrou. Sy leer dat sy gerusstellende woorde kolossale leuens was.”
Hierdie woede—en die skuldgevoelens wat die slagoffers ervaar—kan effens verminder word indien die skender reguit erken wat hy gedoen het en om verskoning vra. Een slagoffer, wie se vader in hegtenis geneem is nadat die bloedskande aan die lig gekom het, het gesê: “Ongeveer drie jaar gelede het my vader vir my ’n mooi geskenk gegee en gesê: ‘Ek wil hê jy moet weet dat ek werklik jammer is oor baie dinge wat tussen ons gebeur het.’ Ek het geweet wat hy bedoel het en het sy verskoning aanvaar. Ek het nou ’n goeie verhouding met hom.”
Maar ongelukkig ontken baie skenders alles heftig of erken hulle slegs ’n klein deeltjie van wat hulle gedoen het. Teen die tyd dat ’n versteurde vrou hulp soek, is die skender dalk al oorlede. Maar die woede duur nog voort. Die raadgewers kan haar nietemin help. Hulle kan vriendelik daarop wys dat haar woede heeltemal verstaanbaar is. Selfs Jehovah bly kwaad vir sondaars wat nie berouvol is nie.—Johannes 3:36.
Hulle kan egter taktvol wys op die gevare as ’n mens toelaat dat toorn jou oorweldig (Efesiërs 4:26). Hulle kan haar help om hieroor te redeneer deur vriendelik vrae soos die volgende te stel: “Help jou woede jou, of benadeel dit jou? Laat jy hom nog steeds toe om jou lewe te beïnvloed deur toe te laat dat die woede jou so beïnvloed? Dink jy werklik dat hy ongestraf sal bly? Is Jehovah nie die Regter van selfs diegene wat misdade in die geheim pleeg nie?”—Psalm 69:6; Lukas 8:17; Romeine 12:19.
Dit kan dalk help om Romeine 12:21 te bespreek, maar moet dit nie laat klink asof jy die persoon kapittel nie. Die doel van die raad is, om te help, nie om te tugtig of druk uit te oefen nie. In plaas daarvan om vir die slagoffer te vertel hoe sy behoort te voel, is dit baie nuttiger om te luister en uit te vind hoe sy wel voel, en om haar te help om self te besef waarom sy so voel deur haar op vriendelike wyse aan die praat te kry.
Indien gesprekke ’n groot skuldgevoel openbaar, moet daar vir die persoon verduidelik word dat bloedskande wat met ’n jong kind gepleeg word nooit die kind se skuld is nie. Jong kinders tree weliswaar dikwels liefdevol teenoor volwassenes op. Maar hulle het geen idee van geslagsomgang tussen volwassenes nie. Die boek The Silent Children sê: “Die kind het nooit bedoel dat die intiemheid en innigheid ’n seksuele vorm moet aanneem nie. Bloedskande is ’n volwassene se vertolking van die kind se wense—’n vertolking wat grootliks beïnvloed word deur die volwassene se eie behoeftes.”
Iemand wat as kind seksueel misbruik is, kan seker wees van God se begrip en liefdevolle aanvaarding. Jehovah vergewe dan selfs diegene wat, anders as die gemolesteerde kind, gruwelike sondes pleeg—mits hulle berouvol is en hulle handelwyse verander!—1 Korinthiërs 6:9-11.
’n Realistiese beskouing
Dit is nie maklik om die slagoffers van emosionele trauma te help nie. Dit kan nie in ’n paar minute in, ’n besige Koninkryksaal gedoen word, nie. Dit verg geduld, liefde, vriendelikheid, herhaalde pogings en, veral, tyd. Daar is geen wonderrate nie. Daar moet baie gepraat—en gebid—word voordat ’n versteurde slagoffer emosionele stabiliteit verkry. Die slagoffer sal nooit die nare ondervinding vergeet nie. Maar sy kan leer om met die herinnering saam te leef.
Een slagoffer het gevolglik gesê: “Ek voel steeds nou en dan nutteloos. Maar ek sê vir myself dat dit nie waar is nie. En na omtrent ’n dag verdwyn die gevoel.” ’n Ander slagoffer het gesê: “Ek het uit die Skrif geleer om vergewensgesind te wees, om ander te help en nie vir myself jammer te voel nie.” ’n Ander het bygevoeg: “Hulle het my gehelp om te sien dat Jehovah my steeds liefhet . . . Ek gaan al my probleme met Jehovah se hulp te bowe kom.”—Psalm 55:23.
Die permanente oplossing
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy diegene met fisiese gebreke, die ‘kreupeles en gebreklikes’, op wonderdadige wyse genees (Mattheüs 15:30). In die naderende Nuwe Orde sal daardie wonderwerk talle kere herhaal word namate alle fisiese kwale weggeneem word.—Jesaja 33:24.
In die geval van diegene met emosionele littekens kan die liefdevolle, geduldige hulp van ryp Christene en Christinne wat die helende invloed van God se Woord aanwend hulle help om hulle probleme te verwerk en steeds vreugde in Jehovah se diens te smaak (Jakobus 5:13-15). Maar in die Nuwe Orde, so word ons beloof, sal “die vorige benoudhede vergeet [word]” (Jesaja 65:16). Alle knegte van God sien dus met vertroue uit na die tyd wanneer God ‘al die trane van hulle oë sal afvee en daar geen dood meer sal wees nie; ook nie droefheid en geween en moeite nie, want die eerste dinge het verbygegaan’ (Openbaring 21:4). Dit sal die finale genesing van alle kwale wees, emosionele kwale inkluis.