Kan jy nou ’n paradys geniet?
DAAR bestaan vandag ’n paradys op aarde. Dit brei al hoe verder uit en word deur miljoene mense geniet. Ook jy kan deel daarvan uitmaak. Is dit ’n idealistiese droom? Glad nie, want ons praat nie van ’n natuurlike, aardse paradys nie, maar van ’n geestelike.a
“Wat bedoel julle met ’n geestelike paradys?” vra jy. Eenvoudig gestel: Ons kan sê dat ’n organisasie Christene wat hulle persoonlikhede verander het sodat dit aan God se vereistes voldoen en wat in sy ware aanbidding verenig is, in ’n geestelike paradys is.
Waar praat die Bybel van so ’n wonderlike geestelike situasie? Watter bewys is daar dat so ’n toestand vandag bestaan?
Die wolf by die lam
Daar is ’n aantal Bybelprofesieë wat toestande beskryf wat ’n mens aan ’n paradys laat dink. ’n Genotvolle beskrywing van so ’n paradys word in Jesaja 11:6-9 gevind. Daar lees ons:
“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
Dink net hoe aangenaam dit sou wees om in so ’n rustige omgewing te woon waar daar volkome vrede bestaan! Dit sal die paradystoestande herstel wat in die tuin van Eden bestaan het toe mense en diere in volmaakte harmonie in daardie tuin gelewe het (Genesis 1:30; 2:8, 9, 19, 20). Ware Christene sien met afwagting daarna uit om hierdie wonderlike seëninge aardwyd te geniet onder die bewind van die Messiaanse Koning, Jesus Christus. Sy heerskappy word vir ons in Jesaja 11:1-5 beskryf, die verse net voor dié wat so pas aangehaal is. Maar is hierdie gewisse, toekomstige seëninge onder die Koninkryksheerskappy die enigste vervulling van Jesaja se woorde?
Nee, daar kan ook gesê word dat hierdie profesie ’n verandering van mense se persoonlikhede beskryf. Hoe so? Die 18de-eeuse Bybelgeleerde Matthew Henry antwoord: “Mense met die aller-wreedste en opvlieëndste geaardhede, wat altyd almal om hulle verslind het, se gemoedstoestand sal op so ’n eienaardige wyse verander word . . . dat hulle selfs met die swakste persoon, waarvan hulle tevore maklik ’n prooi sou gemaak het, in liefde sal saamlewe.”
En nog ’n Bybelgeleerde, Joseph Benson, het in die vorige eeu geskryf: “Mense met opvlieënde, wrede en onbeteuelbare geaardhede sal so verander word deur die verkondiging van die evangelie, en deur die genade van Christus, dat hulle baie nederig, sagmoedig en geseglik sal word en nie meer die sagmoediges en armes, wat in vers 4 gemeld word, sal treiter of vervolg nie.”
Stel jou dit voor! Mense wat ontslae raak van aggressiewe karaktertrekke en hulle in plaas daarvan beklee met persoonlikhede wat gekenmerk word deur vredeliewendheid en liefde! Dit beteken nie dat sulke persone hulle identiteit verloor nie. Jesaja sê nie dat die wolf ’n lam word nie, maar eerder dat die geaardheid daarvan verander sodat dit in vrede saam met die lam kan woon.
In ooreenstemming met Jesaja se woorde verander mense met dierlike karaktertrekke—mense wat moontlik hul medemens vermoor, uitgebuit of op ander maniere onreg aangedoen het—hulle persoonlikhede sodat hulle oor die weg kom met ander mense met vredeliewende geaardhede soos dié van die lam. Wanneer so ’n toestand onder mense ontstaan, kan die wonderlike gevolge daarvan as ’n geestelike paradys bestempel word. Maar word Jesaja se woorde waarlik vandag vervul?
’n Geestelike paradys—Wanneer?
’n Ooreenstemmende profesie in die boek Jesaja help ons om vas te stel wanneer hierdie wonderlike geestelike toestand verwesenlik begin word. Ons lees in Jesaja 2:2-4:
“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. . . . en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”
Let op dat ’n soortgelyke transformasie beskryf word—mense wat vredeliewende geaardhede verkry en ‘van hul swaarde pikke smee’. Wanneer sou dit gebeur? “Aan die einde van die dae”, antwoord die Bybelprofesie. Soos Die Wagtoring al dikwels getoon het, het hierdie stelsel se laaste dae in die jaar 1914 begin. Ons moet gevolglik nou lewe in die tyd wanneer Jesaja 11:6-9 van toepassing is. Daar moet nou ’n wonderlike geestelike situasie bestaan! ‘Maar waar?’ vra jy.
Persoonlikhede word getem
Die tem van persoonlikhede, soos deur Jesaja se profesie getoon, vind herhaaldelik plaas onder opregte persone wat ‘hulle gemoed vernuwe’ en ‘hulle met ’n nuwe persoonlikheid beklee het’, nadat hulle Bybelwaarheid geleer het (Romeine 12:2; Efesiërs 4:23, 24 NW). Beskou die volgende voorbeeld:
David is ’n groot, gespierde jongman wat op ’n plaas in Minnesota, in die Verenigde State, grootgeword het. “My vader het altyd vir my gesê om my argumente met my vuiste te besleg”, verduidelik David, wat later ’n amateurbokser geword het. “Ek onthou hoedat hy altyd gesê het: ‘Moet nooit die eerste hou slaan nie, maar sorg dat jy altyd die laaste hou slaan.’ Die gevolg was dat ek nooit vrae gestel het nie, maar dadelik baklei het. Ek het dit in werklikheid geniet om ander liggaamlik seer te maak.”
Een aand het ’n man wat by ’n parkeerplek uitgery het byvoorbeeld David se weg versper. Hy het hardnekkig geweier om pad te gee. “Ek was so woedend, ek wou hom doodmaak”, sê David. Hy het die man uit sy motor gepluk en hom geslaan totdat hy bewusteloos was. Kon ’n persoon met so ’n gewelddadige geaardheid werklik sy weë verander?
Eendag, terwyl David werkloos was, het Jehovah se Getuies by hom uitgekom. Hulle boodskap oor ’n komende regverdige Nuwe Orde het sy hart geroer. “Ek was uit die staanspoor daarvan oortuig dat hulle die waarheid het”, het David gesê. Toe David die dinge wat hy geleer het in sy lewe toegepas het, het hy begin om veranderinge aan te bring—hy het opgehou rook en nie meer dwelmmiddels gebruik nie. Hy het selfs begin om sy gewelddadige geaardheid te beteuel.
Maar etlike maande later het David ’n teleurstellende terugslag gehad. Hy het op ’n bouterrein gewerk. Een oggend het ’n medewerker hom begin treiter. David het hom gewaarsku om op te hou, maar hy het nie. Die gevolg? David verduidelik: “Ek het hom so hard geslaan dat ek gemeen het ek hom doodgeslaan het. Hy was ongeveer 20 minute bewusteloos. Ek het my werklik vir myself geskaam.”
Maar David het geleidelik sy persoonlikheid verander. Verskeie jare nadat hy ’n gedoopte getuie van Jehovah, geword het, het hy voor ’n groot toets te staan gekom. Hy was besig om van huis tot huis te preek. By een, huis het ’n man op hom begin vloek. Toe het die man David aan die baadjie gegryp en hom van die trap afgegooi. Sonder om ’n woord te sê, het David, na die volgende huis begin loop. Maar die man was nog nie tevrede nie. Hy het agter David aangehardloop, ’n bolfbalkolf opgetel en David oor die onderrug geslaan. Maar hierdie eens gewelddadige jongman het nie met gelyke munt betaal nie! Hy het net weggeloop. Watter merkwaardige persoonlikheidsverandering tog! Hierdie “wolf” kom nou vreedsaam met ‘lammers’ oor die weg en dien as ’n ouere man en as ’n voltydse bedienaar in die gemeente.
Mense is dikwels so beïndruk wanneer hulle die veranderinge sien wat ander aangebring het, dat hulle beweeg word om ook hulle lewens ten goede te verander. Nog ’n jongman, wat ook David heet, het die volgende gesê nadat hy ’n ou vriend raakgeloop het wat hy lank laas gesien het: “Hy was anders. Hy het nie meer lang hare gehad, vuil taal gebruik of daarin belang gestel om dwelmmiddels te gebruik nie. Hy het sy lewe heeltemal verander. Dit het my so geskok dat ek eenvoudig móés uitvind wat die verandering veroorsaak het.” David se vriend het een van Jehovah se Getuies geword. En David ook, nadat hy sy eie lewe verander het.
Die gemelde ondervindinge speel hulself herhaaldelik in die 45 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld af. Jy ken moontlik een of meer van hulle wat merkwaardige veranderinge in hulle lewens aangebring het.
Wanneer waarnemers byeenkomste van Jehovah se Getuies bywoon, praat hulle dikwels van die vreedsame atmosfeer. ’n Rubriekskrywer vir die Journal de Montréal het geskryf: “Ek is nie ’n Getuie nie. Maar ek is ’n getuie van die feit dat die Getuies van doeltreffendheid en ordelike gedrag getuig. . . . As hulle die enigste mense in die wêreld was, sou dit nie saans vir ons nodig gewees het om ons deure te sluit en die diefalarms aan te skakel nie.”
In Mexiko het twee dorpies ’n vete gevoer. Mense is dikwels vermoor. Die polisie kon niks doen om dit te stuit nie. Toe het een gesin begin om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Ander gesinne het hulle wapens verkoop en die geld gebruik om Bybels te koop sodat hulle ook kon studeer. Kort daarna het ’n geestelike paradys met ware vrede en eenheid onder daardie dorpenaars tot stand gekom.
Maar Jehovah se Getuies neem nie die eer vir die skepping van die toestande waarvan Jesaja 11:6-9 gepraat het nie. Nee, daar is maar net een krag in die heelal wat mense sulke drastiese persoonlikheidsveranderinge kan laat aanbring. Daardie krag is God se heilige gees (Galasiërs 5:22). En God gee met graagte daardie gees aan persone wat opreg daarna soek en hulle na sy vereistes skik.—Lukas 11:9-13; Handelinge 5:32.
Jehovah se Getuies maak ook nie daarop aanspraak dat hulle volmaak is nie. Nee, hulle het probleme, net soos enigiemand anders. Maar hulle het ’n betroubare rigsnoer om hulle probleme op te los—die Bybel (Psalm 119:105). Hulle probeer hard om die beginsels daarvan in hulle lewens toe te pas, hoewel hulle soms te kort skiet (Romeine 3:23). Jy sien, dit is nie maklik om ontslae te raak van ingewortelde karaktertrekke nie. Maar met behulp van God se gees kan selfs mense met baie vyandige persoonlikhede onwenslike karaktertrekke beteuel.
Een ding is nietemin seker: In plaas van die tweedrag, verdeeldheid en onsedelikheid wat jy vandag in die wêreld sien, geniet mense liefde, gemoedsrus en eenheid, wat aardwyd onder Jehovah se Getuies te sien is, in die geestelike paradys. Dit bied ’n voorsmakie van hoe vreedsaam mense gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus in ’n fisiese paradys op hierdie aarde gaan woon.—Lukas 23:43, NW.
Leer gerus meer omtrent hierdie paradys. Vind uit waarom Jehovah se Getuies soveel vrede, tevredenheid, geluk en eenheid smaak—dinge wat jy ongetwyfeld geredelik met die paradys assosieer. Vind uit hoe jy ook nou so ’n paradys kan geniet!
[Voetnoot]
a Die Afrikaanse woord “paradys” kom van die Griekse selfstandige naamwoord para’deisos, wat “tuin” beteken.—Genesis 2:8, Griekse Septuaginta; Lukas 23:43, NW.
[Venster op bladsy 5]
PROFESIEË OOR ’N PARADYS
’n Aantal profesieë in die Hebreeuse Skrifte oor ’n paradys is reeds in ons dag vervul. Beskou byvoorbeeld die profesie in Jesaja hoofstuk 35, wat voorspel dat ‘die wildernis sal bloei soos ’n narsing’. Hierdie profesie is op ’n klein skaal vervul toe weggevoerde Jode in 537 v.G.J uit Babilon teruggekeer het. Aangesien God bly was omdat hulle na sy aanbidding teruggekeer het, het hy hulle verlate tuisland, Juda, weer eens laat bloei en volop laat voortbring sodat dit ’n miniatuurparadys geword het.
Die profesie in Jesaja 35 het klaarblyklik ook ’n geestelike vervulling. Hoe weet ons? In verse 5 en 6 beloof dit onder meer dat die blindes, die dowes, die lammes en die stommes genees sal word. Daar is geen aanduiding dat die Jode wat in 537 v.G.J. teruggekeer het letterlik van sulke kwale genees is nie. Dit moet klaarblyklik geestelik verstaan word—hulle oë is byvoorbeeld geopen om die lig van vryheid in hulle tuisland te sien. ’n Geestelike paradys gedy nou eweneens onder aanbidders van Jehovah God, maar hierdie keer aardwyd.
In die nabye toekoms, nadat God alle goddeloosheid op ons aardbol uitgewis het, sal ’n oorlewende “groot menigte” en die verrese dode ’n baie werklike, fisiese genesing ondervind. Op grond van sy losprysoffer sal Christus Jesus gehoorsame persone help om menslike volmaaktheid te bereik sodat hulle vir ewig in die herstelde aardse paradys kan lewe. Dit wat in Jesaja 35 gemeld word, sal dus binnekort uitgebrei word sodat dit die hele aarde omvat namate ons aardbol in ’n vreedsame, parkagtige tuin omgeskep word waarin die letterlike paradys ’n werklikheid sal word.—Jesaja 25:6-8; Openbaring 7:9; 21:3, 4.