Is Katolieke geleerdes lojaal aan God se Woord?
KATOLIEKE geleerdes was in die laaste tyd baie aktief en produktief. Maar het hulle altyd lojaliteit teenoor God se Woord, die Bybel, geopenbaar?
Hierdie geleerdes het uitstekende vertalings van die Bybel gelewer, veral in Engels, Frans en Spaans.a Bowendien het hedendaagse Katolieke oor die algemeen die gedagtes onderskryf wat in die Voorwoord van The Jerusalem Bible uitgespreek word: “Die vertaler wat die Bybel in ’n landstaal oorsit . . . [moet nie] sy eie styl op die oorspronklike werke afdruk nie: so sou hy die individualiteit smoor van die verskillende skrywers wat, elkeen op sy eie manier, op die werking van die Gees gereageer het. . . . Die eerste plig van die vertaler is om die oorspronklike skrywer se woorde so duidelik moontlik oor te dra. . . . Dit sou beslis gevaarlik wees om aan die vorm van die vertaling voorrang te gee bo die betekenis.”
The Jerusalem Bible verdien veral lof vir sy erkenning van die feit dat die Hebreeuse tetragrammaton wat God se unieke naam verteenwoordig nie met ’n soortnaam vertaal moet word nie, soos die meeste hedendaagse vertalers doen nie, maar getranslitereer moet word. Die vertaling gebruik derhalwe “Yahweh”, ’n vorm van die goddelike naam Jehovah. Die redes vir hierdie besluit word soos volg verantwoord: “Diegene wat hierdie vertaling van die Psalms wil gebruik, kan die tradisionele woorde ‘die Here’ invoeg. Dit sou egter baie van die kleur en betekenis van die oorspronklike teks laat verlore gaan. As ’n mens byvoorbeeld sou sê ‘Die Here is God’, is dit beslis toutologies [’n sinlose herhaling], terwyl ‘Yahweh is God’ dit nie is nie.” Dit is alles baie goed gestel.
Goeie oordeel nodig
Soms is die invloed van godsdiensoortuigings egter in die werk van Katolieke geleerdes te bespeur. Ter toeligting: Volgens die Catholic Confraternity Version sê Jesus Christus by die bruilof in Kana vir sy moeder: “Wat wil u dat ek doen, vrou?” Dit kan ’n leser laat dink dat Jesus sy moeder om raad gevra het. Maar die Katolieke Jerusalem Bible sê: “Vrou, waarom kom u na my? My uur het nog nie aangebreek nie” (Johannes 2:4). Dit blyk duidelik uit hierdie juister vertaling dat die Vertalers van die Confraternity Version beïnvloed is deur wat hulle kerk oor Maria, die moeder van Jesus, leer.
Dat goeie oordeel nodig is, word verder beklemtoon wanneer ons sien hoedat betroubare inligting soms vermeng word met kommentare wat die Bybel verkleineer. In ’n voetnoot by Genesis 2:17 maak The Jerusalem Bible byvoorbeeld hierdie insigryke kommentaar oor wat dit beteken het om van die verbode vrug te eet: “Dit was die vermoë om vir homself te besluit wat goed en wat kwaad is en om dienooreenkomstig op te tree, ’n aanspraak op volkome morele onafhanklikheid waardeur die mens weier om sy status as ’n skepsel te erken. Die eerste sonde was ’n aanval op God se soewereiniteit, ’n sonde van trotsheid.”
Hierdie kommentare gee blyk van goeie insig. Maar net die volgende sin toon dat die vertalers nie glo dat Adam en Eva werklik bestaan het en letterlik van die verbode vrug geëet het nie, want dit lui: “Hierdie opstand word in konkrete terme beskryf as die oortreding van ’n uitdruklike gebod van God waarvoor die teks die beeld van ’n verbode vrug gebruik.” (Ons kursiveer.) Volgens die New Catholic Encyclopedia is die Genesisverhaal bloot allegories, nie geskiedkundig nie.
Let op hoe die New Catholic Encyclopedia (1967) so ’n mening uitspreek waar dit sê: “Dit is duidelik dat die Genesisrelaas oor die skepping van die wêreld en die mens, oor Eden en die Sondeval, ens., nie werklik geskiedenis in die gewone sin van die woord is nie.” Hierdie naslaanwerk sê voorts: “As letterkundige werk het die Bybel ’n tradisie wat allegorie as ’n letterkundige genre insluit en nie sinnebeeldige voorstellings uit ander beskawings verwerp nie”
Getuig dit van lojaliteit teenoor God se Woord? Jesus Christus het na die skepping verwys as feitelike geskiedenis toe hy gesê het: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man van sy vader en moeder af weggaan en saam met sy vrou lewe,’ en hulle twee sal een word. Hulle is dus nie meer twee; nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”—Mattheüs 19:4-6, NTP; Genesis 1:27; 2:24.
Ook die apostel Paulus het hierdie Genesisverhaal as geskiedkundig beskou. Hy het Christene gewaarsku om hulle nie te laat bedrieg nie; soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het nie (2 Korinthiërs 11:3). Daardie waarskuwing sou sinloos wees as Eva nie werklik bestaan het en verlei is nie. En waar hy Christine aanspoor om onderdanig te wees, sê Paulus boonop dat Adam eerste gemaak is en dat Eva verlei is, nie Adam nie (1 Timotheüs 2:11-14). Die apostel se argument sou geen gewig dra as die Genesisverhaal nie geskiedkundig nie.
Die Vloed van Noag se dag
Volgens The Jerusalem Bible berus verhale soos dié van die vloed van Noag op oorleweringe in verband waarmee “dit onredelik sou wees om die haarfyn presisie van ’n hedendaagse geskiedskrywer te verwag”. ln soortgelyke trant sê die New Catholic Encyclopedia: “Daar word nou allerweë aanvaar dat die episode van Noag en die ark nie ’n stuk geskiedkundige beriggewing is nie, maar ’n verbeeldingryke letterkundige skepping met ’n heel ander vorm . . . Om dit as geskiedenis te lees met die veronderstelling dat die skrywer bedoel het om ’n gedetailleerde beskrywing van ’n antieke gebeurtenis te gee, lei slegs tot verwarring, tot intellektuele probleme en vandaar tot geloofsprobleme.”
Maar Jesus Christus het geglo dat die Vloed werklik plaasgevind het, want hy het voorspel dat die dae van sy teenwoordigheid soos die dae van Noag sou wees (Mattheüs 24:37-39). Die apostel Paulus het Noag voorgehou as ’n voorbeeld van geloof (Hebreërs 11:7). En die apostel Petrus verwys in albei sy goddelik geïnspireerde briewe na Noag en die Sondvloed.—1 Petrus 3:20; 2 Petrus 2:5.
Wat van Jona?
Beskou vervolgens die boek Jona. The Jerusalem Bible noem dit ’n “grappige avontuur” en sê: “Ofskoon God inderdaad in beheer van die natuur is, klink die opeenvolgende wondere wat hier verhaal word na ’n reeks poetse wat God sy profeet gebak het: die skielike storm, die keuse van Jona deur die lot, die groot vis, die plant wat in een nag gegroei en in ’n uur verdor het; terwyl die hele verhaal met onverbloemde ironie vertel word wat heeltemal vreemd is in geskiedenisgeskrifte. Die boek is bedoel om te amuseer en te onderrig.”
Jesus Christus het Jona egter as ’n geskiedkundige figuur gereken. Hy het byvoorbeeld gesê: “Geen teken sal aan [hierdie geslag] gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona ’n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag. . . . Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!” Jesus het ook gesê: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Lukas 11:29-32; Mattheüs 12:40). Jesus se woorde sou geen gewig dra as Jona nie werklik gelewe en hierdie dinge beleef het nie. Is hierdie Katolieke geleerdes lojaal aan God se Woord wanneer hulle, in teenstelling met Jesus Christus, die boek Jona as fiksie bestempel?
Die Hooglied van Salomo
Kom ons beskou nog ’n voorbeeld, die Hooglied van Salomo. Volgens The Jerusalem Bible kon hierdie boek nie vroeër as die tweede helfte van die vyfde eeu voor ons Gewone Jaartelling, lank ná koning Salomo se dag, geskryf gewees het nie. Dit is egter interessant dat The Catholic Encyclopedia van 1908 die Joodse tradisie ondersteun dat dit inderdaad deur Salomo geskryf is deur te sê: “In ooreenstemming met die opskrif word die lied tradisioneel aan Salomo toegeskryf. Selfs in moderne tye het heelparty skrifverklaarders hierdie mening gehuldig . . . De Wette sê: ‘Die hele reeks voorstellings en verhoudinge en die lewensfrisheid verbind hierdie liedere met die tydperk van Salomo.’ Die lied getuig van Salomo se liefde vir die natuur (dit bevat een-en-twintig plantname en vyftien dierename), vir skoonheid en kuns en vir koninklike praal . . . Daar is ook blyke van die allerteerste gevoel en ’n liefde vir vrede wat goed pas by die reputasie van Salomo.”
Die Evangelieverslae
En hoe beskou Katolieke geleerdes die Skriftuurlike verslae oor Jesus Christus? Die New Catholic Encyclopedia sê aangaande Jesus se opstanding uit die dood: “Enige poging om die feit van Christus se Opstanding uit die Evangelieverslae te bewys, . . . moet begin met die besef dat hierdie verslae nie biografieë van Jesus en nog minder wetenskaplike geskiedenis is nie.” Maar as hulle nie “wetenskaplike geskiedenis” is nie, wat is hulle dan? Fiksie? Mites?
Hierdie verklaarde Katolieke standpunt ten opsigte van die Evangelies is reëlreg in stryd met Jesus se versekering aan sy apostels dat ‘die Trooster, die Heilige Gees, julle alles sal leer en julle sal herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26). Daarbenewens is die getuienis van die apostel Paulus oor Christus se opstanding in volkome ooreenstemming met dié van die Evangelieverslae.—1 Korinthiërs 15:1-8.
Sal jy lojaal wees aan God se Woord?
Die Rooms-Katolieke Kerk moedig die lekedom vandag amptelik aan om die Bybel te lees. En tog, soos ons gesien het, raak die Kerk se geleerdes baie dinge kwyt wat in der waarheid dislojaliteit teenoor die Bybel openbaar.
Maar wat van jou? Beskou jy die Bybel as God se geïnspireerde Woord? Indien wel, wees dan lojaal daaraan. Lees en bestudeer die Skrif gereeld. Die Bybel is natuurlik so geskryf dat menslike instrumente nodig is om dit reg te verstaan. Maar moet alle liefhebbers van die waarheid nie seker maak dat diegene na wie hulle hul wend vir hulp om God se Woord te verstaan werklik lojaal is daaraan nie?
[Voetnoot]
a Kyk byvoorbeeld The New American Bible; La Bible de Jérusalem; Nácar-Colunga.