Vrae van lesers
♦ Waarom het Stefanus in Handelinge 7:14 gesê dat Jakob se familie uit 75 persone bestaan het toe hulle na Egipte getrek het, terwyl Genesis 46:26 sê dat daar 66 was en Genesis 46:27 70 meld?
Daar is verskeie moontlike verklarings. Een is dat Handelinge 7:14 op die Griekse Septuaginta gebaseer is, en ’n ander is dat Stefanus die vroue van nege van Jakob se seuns ingesluit het.
Kom ons kyk eers wat Stefanus gesê het, soos opgeteken in Handelinge 7:14: “Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele.” Hiermee in gedagte kan ons nou kyk wat die Genesisverhaal oor Jakob se familie se verhuising na Egipte sê.
Genesis 46:8 begin soos volg: “Dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het—Jakob en sy seuns.” Dan volg ’n lys van Jakob se afstammelinge, onder meer sommige van sy agterkleinseuns. Die lys eindig met (die woorde: “Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.”—Genesis 46:26, 27.
Die lys van 66 afstammelinge van Jakob is al op verskeie maniere bereken. Party geleerdes het Juda se seuns Er en Onan asook sy kleinseuns Hesron en Hamul ingesluit (Genesis 46:12). Ander het nie Er en Onan bygetel nie, want hulle was reeds dood toe die ander na Egipte getrek het (Genesis 38:6-10). Party Bybelstudente het Dina bygereken, wat skynbaar nooit getrou het nie, of moontlik Eliab, Ruben se kleinseun wat in Numeri 26:8 gemeld word. Jakob asook Josef en sy twee seuns (laasgenoemde drie was nie deel van die trek na Egipte nie) kan by die 66 afstammelinge getel word. Dit is hoe ’n totaal van 70 verkry word.
Die dissipel Stefanus sou beslis geweet het dat die Hebreeuse teks sê dat 66 van Jakob se familie na Egipte verhuis het. Waarom sê Handelinge 7:14 dan dat Stefanus die syfer 75 gemeld het?
Sommige Bybelkommentators voer aan dat Stefanus dalk sy kommentaar op die Griekse Septuaginta-vertaling van Genesis 46:27 gebaseer het. Daardie weergawe verstrek die hoër syfer omdat dit in vers 20 vyf name byvoeg (drie seuns van Manasse en Efraim en twee kleinseuns) wat nie in die Hebreeuse teks gemeld word nie. Of as Stefanus die Hebreeuse syfer 66 in gedagte gehad het, het Lukas, toe hy die boek Handelinge in Grieks geskryf het, moontlik die syfer van die Septuaginta verstrek, aangesien daardie Griekse vertaling algemeen gebruik is.
Of Stefanus nou werklik van 75 gepraat het en of daardie syfer uit die Griekse weergawe van Genesis 46:27 kom, die getal kan met die Hebreeuse syfer 66 versoen word deur die vroue van Jakob se seuns by te reken, wat Genesis 46:26 spesifiek sê uitgelaat is.
Waarom word slegs nege vroue bygereken? Van die 12 seuns sou Josef se vrou nie ingesluit word nie, want sy was ’n Egiptenaar en is nie deur Josef soontoe geroep nie (Handelinge 7:13-15). En teen die tyd van die trek het Juda vrou reeds gesterf (Genesis 38:12). Dit laat hoogstens 10 vroue. Dis moontlik dat Simeon se Hebreeuse vrou ook gesterf het, want sy laaste seun, Saul, word beskryf as “die seun van die Kanaänities vrou” (Genesis 46:10). Of die syfer nege sou korrek wees indien Benjamin, die jongste seun, nog nie getroud was toe die gesin in Egipte gaan woon het nie. ln daardie geval is Benjamin se seuns, wat in Genesis 46:21 gemeld word, ná die trek gebore, maar word hulle aangegee weens die rol wat hulle in die stam en die nasie sou speel. (Vergelyk Hebreërs 7:9, 10.) As die vroue van nege van Jakob se seuns dus getel word by die subtotaal van 66 wat in die Hebreeuse teks in Genesis 46:26 gemeld word, het ons ’n totaal van 75, soos die Septuaginta sê en soos ons in Handelinge 7:14 lees.
Dit is duidelik dat hoewel daar redelike maniere is om Handelinge 7:14 sowel as die syfers in Genesis hoofstuk 46 te verstaan, ons nie dogmaties oor al die besonderhede kan wees nie. Ons het dus des te meer rede om uit te sien na die tyd wanneer God sy eertydse knegte gaan opwek, want dan sal ons regstreeks by hulle die juiste besonderhede van talle Skriftuurlike verhale kan bekom.—Johannes 5:28, 29.