Waarom dankbaar wees teenoor die Skepper?
IEMAND wat nie waardering toon vir goedheid wat aan hom bewys is nie, word gewoonlik as ongevoelig of onopgevoed beskou. In die besonder is ons ouers natuurlik geregtig op ons dankbaarheid vir die goedheid wat hulle aan ons betoon het. Dit word allerweë erken dat kinders hulle ouers dankbaar behoort te wees omdat dié hulle in die wêreld gebring en hulle van voedsel, klere, onderdak, ’n opvoeding, ensovoorts, voorsien het.
Hoewel ons dank aan ons ouers verskuldig is, is ons egter veel meer dank aan ons Skepper verskuldig. Waarom? Omdat ons baie meer seëninge van hom ontvang het.
Ter toeligting: Ons is ons ouers dankbaar dat hulle ons in die wêreld gebring het. Maar ons lewe het nie werklik in die eerste plek van hulle gekom nie. Hulle het dit slegs aan ons oorgedra, want die Skepper is die ware bron van lewe (Psalm 36:10). Ons waardeer ook die feit dat ons ouers ons van die lewensbenodigdhede voorsien het. Maar hoewel hierdie noodsaaklike dinge deur hulle geld of arbeid verskaf is, het hulle dit nie geskape nie. Ons het dus veel groter rede om ons Skepper dankbaar te wees.
As dit nie was vir die Een wat die aarde geskape het en alles voorsien het wat nodig is om menselewe te onderhou nie, sou geen geld of inspanning ter wêreld ons aan die lewe kon hou nie. Soos die Christenapostel Paulus vir die Grieke in antieke Athene gesê het: “Dit is Hy [die Skepper] wat aan almal lewe en asem en alles gee. . . . want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.”—Handelinge 17:25, 28, NTP.
Ondanks alles wat die Skepper vir die mensdom gedoen het en nog steeds doen, is daar vandag miljoene wat hom geheel en al veronagsaam en hom allermins dank vir die talryke seëninge wat hulle ontvang. Party erken teësinnig dat daar ’n Skepper moet wees, maar hulle wend geen poging aan om meer van hom of sy wil te leer nie. Miljoene ander ontken selfs dat daar ’n Skepper bestaan en beweer dat alles sommer vanself ontstaan het. Watter skokkende ondankbaarheid! Hierdie gebrek aan waardering is een van baie aanduidings dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timotheüs 3:1-5). Desnieteenstaande kan en moet ons as individue dankbaar wees teenoor ons Skepper.
Die Skepper se wonderlike gawes
Hoe beter ons die Een leer ken wat alles gemaak het, hoe meer besef ons dat hy die Gewer van “elke goeie gawe” is (Jakobus 1:17, NTP; Openbaring 4:11). Die meeste mense wat geen dankbaarheid teenoor die Skepper toon nie probeer hulle standpunt verdedig deur te sê dat, aangesien niemand Hom nog ooit gesien het nie, ons nie seker kan wees dat Hy bestaan nie. Dit is wel so dat die groot Skepper vir ons onsigbaar is omdat hy ’n Gees is, en ons oë kan nie persone of dinge in die geesteryk waarneem nie (Johannes 4:24). Maar die feit dat die mens nie die Skepper kan sien nie, gee hom nog lank nie die reg om Sy milde voorsienings as vanselfsprekend aan te neem en te weier om sy verpligtinge teenoor Hom te erken nie.
Gestel jy kom op ’n dag by die huis en vind dat iemand ’n yslike sak vol heerlike vrugte vir jou daar gelaat het. Die volgende dag kry jy ’n mandjie vol vars groente, en die dag daarop ’n paar lekker stukke vleis. So gaan dit ’n hele week lank, maar daar is nooit ’n briefie by om te sê wie die gewer is nie. Sou jy tot die slotsom kom dat al die hierdie gawes “natuurlikerwys” daar gekom het net omdat jy nie gesien het dat iemand die kos aflewer nie? Sou jy nie eerder ywerig navraag doen onder vriende en familie om te probeer vasstel wie die vriendelike gewer is sodat jy hom of haar opreg kan bedank nie?
Dit is soortgelyk in die geval van ons Skepper. Ofskoon hy onsigbaar is vir mense-oë, lewer sy wonderlike skepping, wat ons behoeftes in elke opsig bevredig, oorvloedige bewys van sy liefde, goedheid en vrygewigheid teenoor die mensdom. Soos die apostel Paulus vir die inwoners van antieke Listre gesê het: “[God het] Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul” (Handelinge 14:17). Dit is dus niks minder as reg dat ons ons verpligtinge teenoor die Skepper en ons afhanklikheid van sy lewensvoorsieninge erken nie. En behoort ons nie met veel groter ywer na hom te soek as na die onbekende gewer in ons illustrasie nie?—Handelinge 17:26, 27.
Kweek waardering vir die Skepper
Dit is eers wanneer ons die Skepper leer ken het en werklik kan waardeer wat hy vir ons gedoen het dat ons beweeg sal word om hom lief te hê en te gehoorsaam. Hoewel miljoene vandag bely dat hulle in God glo, toon die wyse waarop die meerderheid lewe duidelik dat hulle nie opregte, hartgrondige waardering vir hulle Maker het nie. Maar ons hoef nie so ondankbaar te wees nie. Ons wil dus graag weet: Hoe kan ons diepe waardering vir ons Groot Skepper kweek?
In die eerste plek sal dit ons almal goed doen om na te dink oor die talle seëninge wat ons van die Skepper ontvang het. Hy het aan ons die lewe gegee, al is die mens se lewe vandag van korte duur (Psalm 90:10). Ons sal ook groter waardering verkry as ons nadink oor die feit dat Jehovah God boonop milde voorsiening gemaak het om mense en ander lewensvorme op aarde te onderhou. Soos die psalmis met waardering gesê het: “Die aarde word versadig met die vrug van [God se] werke. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom . . . Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:10-24.
Die mensdom het soveel meer rede om God dankbaar te wees, want mense het soveel meer ontvang as die diere. Van al die skepsele van die aarde het die mens alleen die vermoë om te dink, om skoonheid en geestelike waardes te waardeer en, bowenal, om die Skepper te ken en te aanbid. Dit is so omdat die mens alleen na God se beeld geskape is en met eienskappe begaaf is wat dié van Jehovah God weerspieël (Genesis 1:27). Ons het derhalwe die vermoë om nie alleen fisiese genietinge nie maar ook veel bevredigender en blywender verstandelike genietinge te ervaar. Slegs die mens kan goeie musiek, literatuur, dig- en skilderkuns en talle ander kunsvorme waardeer. Net die mens ken die vreugde van aangename en opbouende gesprekke, sowel as die bevrediging wat ’n mens smaak wanneer jy iets waarlik nuttigs gedoen het.
Dit is ook net die mens wat na ewige lewe hunker. Hierdie begeerte is deur die liefdevolle Skepper in die menslike hart geplant (Prediker 3:11, vgl. NW). Maar dit is nie sommer ’n vergeefse hoop wat nooit verwesenlik kan word nie. Inteendeel, danksy die Skepper se groot liefde vir die mensdom het hy alreeds die nodige reëlings getref sodat mense die ewige lewe op aarde te midde van aangename paradystoestande kan geniet. Ja, God het dit liefdevol moontlik gemaak deur die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus.—Romeine, 5:12; 6:23; 1 Johannes 2:1, 2.
Hoewel dit ons groot plesier verskaf wanneer daar in ons fisiese, verstandelike en emosionele behoeftes, voorsien word, kan geen seën vergelyk met die bevrediging van ons geestelike behoefte nie (Mattheüs 5:3). Ons wil van nature weet waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is en wat die Skepper se doel met die aarde en die mensdom is. Ons wil boonop ons Maker ken en ’n goeie verhouding met hom geniet. Persone wat bewus is van hulle geestelike behoefte en wat stappe doen om behoorlik daarin te voorsien, smaak ’n diepe en blywende vreugde wat aan vleeslik gesinde individue totaal onbekend, is.—1 Korinthiërs 2:6-16.
Die bevrediging van ons geestelike behoefte verskaf ons ware gemoedsrus en groot geluk, al lewe ons in ’n wêreld met ongeëwenaarde probleme. Nog belangriker, bewustheid van ons geestelike behoefte kan lei tot die grootste seën wat enige mens kan ontvang—ewige lewe in God se regverdige nuwe stelsel.—Johannes 3:16; Filippense 4:6, 7; 2 Petrus 3:13.
Leer die Skepper beter ken
As ons daarvan oortuig is dat ’n liefdevolle en vrygewige Skepper bestaan, is dit tog logies dat ons hom beter sal wil leer ken en ons waardering sal wil betuig vir sy goedheid deur dinge te doen wat hom behaag, nie waar nie? As ons na God se wonderlike skepping kyk, sien ons party van sy voortreflike eienskappe, soos liefde, vrygewigheid, bedagsaamheid, wysheid en mag (Romeine 1:20, vgl. NW). Maar ons het ’n skriftelike verslag van God nodig as ons van sy gedagtes en voornemens met die mens wil leer. So ’n verslag behoort ons boonop te vertel wat God in die verlede gedoen het en nog sal doen tot seën van die mensdom.
Gelukkig het ons so ’n verslag in die boek met die grootste verspreiding in mensegeskiedenis—God se Woord, die Bybel. Dit is die Skepper se wil dat sy skepsele juiste kennis aangaande hom verkry en innige liefde vir hom aankweek deur sy Woord te bestudeer en daaroor te peins. So kan hulle van God se talle wonderlike dade leer en die verskillende fasette van sy luisterryke persoonlikheid ontdek.—Joshua 1:8.
Toon jou waardering vir God
Ywerige studie van God se Woord is noodsaaklik as ons opregte waardering vir die Skepper wil aankweek. Hoe meer ons omtrent Jehovah en sy talle goeie eienskappe leer, hoe meer voel ons tot hom aangetrokke. Ons kan nie anders as om oor te loop van liefde en bewondering vir so ’n goeie, liefdevolle en luisterryke God nie. Ons kan selfs beweeg word om ons gevoelens uit te druk soos die psalmis, wat gesê het: “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade, o God, u weg is in heiligheid. Wie is ’n groot God soos God? U is die God wat wonders doen.”—Psalm 77:12-15
Hoe kan ons dan ons hartgrondige waardering vir die Groot Skepper toon? Ons liefde vir hom en dankbaarheid vir sy goedheid behoort ons te beweeg om hom uit vrye wil te dien. Ons moet dit nie bloot as ’n plig beskou nie, maar eerder as ’n plesier. Jehovah verlang sulke vreugdevolle, gewillige diens, want die psalmis het onder inspirasie gesê: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”—Psalm 100:2.
Is dit nie ’n groot plesier om iemand te dien vir wie ons werklik lief is nie? Dit is beslis. En dit kan voorwaar gesê word van ons diens aan Jehovah; die Groot Skepper.
Om Jehovah te dien, behels natuurlik meer as om ’n rein lewe te lei en nie dinge te doen wat verkeerd is in sy oë nie. Godvrugtige gedrag is noodsaaklik, maar ons diens aan die Skepper sluit ook in dat ons hom aktief en met vreugde loof. Dit beteken dat ons ander vertel van Jehovah se groot dade en wonderlike voornemens soos in die Heilige Skrif geopenbaar.
Almal wat werklik waardering het vir ons wonderlike Skepper, sal met graagte gehoor gee aan die vreugdevolle oproep van die psalmis: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag. Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Want die HERE is groot en baie lofwaardig” (Psalm 96:2-4). Deur sulke vreugdevolle diens kan jy, soos so baie ander, onteenseglik toon dat jy werklik waardeer wat die Skepper vir jou gedoen het.
[Prente op bladsy 5]
Toon dat jy Jehovah se voorsienings waardeer
God se Woord
heilige diens
behoorlike plesier
gesonde voedsel