Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/8 bl. 31
  • Hoe om ’n wêreldwye tragedie te voorkom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n wêreldwye tragedie te voorkom
  • Ontwaak!—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Die Verenigde Nasies—’n Beter manier?
    Ontwaak!—1991
  • ’n Voortgesette soeke na oplossings
    Ontwaak!—2000
  • Hoe om ’n veiliger swangerskap te hê
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/8 bl. 31

Hoe om ’n wêreldwye tragedie te voorkom

DIE VERENIGDE NASIES NOEM DIT TEREG ’N “WÊRELDWYE TRAGEDIE”. WÊRELDWYD STERF DAAR ELKE MINUUT ’N VROU AS GEVOLG VAN SWANGERSKAP EN GEBOORTE.

Die meeste van hierdie sterfgevalle kom in ontwikkelende lande voor. Hoewel net 1 vrou uit 10 000 in Europa weens swangerskapverwante oorsake sterf en 1 uit 12 500 in die Verenigde State, is die waarskynlikheid in Latyns-Amerika 1 uit 73, in Asië 1 uit 54 en in Afrika ’n ontstellende 1 uit 21!

Aangesien baie van hierdie 600 000 swangerskapverwante sterfgevalle per jaar voorkom kon word as ervare persone met die geboorte sou help, beklemtoon die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) nou die opleiding van vroue (en mans) as professionele vroedvroue.

In lande waar daar min dokters is, kan opgeleide vroedvroue die verskil tussen lewe en dood beteken. Dr. France Donnay van UNICEF en Anne Thompson, ’n raadgewer van die WGO, het onlangs aan VN-Radio gesê dat hierdie groter gesag wat aan opgeleide vroedvroue gegee is reeds goeie vrugte afwerp. Hulle het gesê dat moedersterfte byvoorbeeld in ’n hele paar Afrikalande geweldig afgeneem het toe vroedvroue toestemming gekry het om plasentas te verwyder wat nie ná die geboorte uitgewerp is nie. Soortgelyke vordering word in Indonesië gemaak, waar daar ’n projek is met die doel om twee vroedvroue vir elke dorp op te lei. Tot dusver is 55 000 opgeleide vroedvroue uitgestuur.

“In ontwikkelde lande word daar ook van vroedvroue gebruik gemaak”, het Perspective, ’n program op VN-Radio, gesê. Lande soos Frankryk, Nederland, Swede en die Verenigde Koninkryk het nog altyd die tradisie voortgesit om van vroedvroue gebruik te maak, en in die Verenigde State herleef dié gebruik nou weer. Hierdie lande stel vroedvroue op prys, het Anne Thompson, self ’n opgeleide vroedvrou, gesê, omdat hulle persoonlike en deurlopende versorging bied. “’n Bevalling kan immers tot 24 uur duur en dokters het nie tyd om 24 uur lank te sit en wag nie.” Maar sy het bygevoeg dat “die teenwoordigheid van iemand wat simpatiek is, wat weet wat om te doen en die vrou kan gerusstel” een van die faktore is wat tot veiliger geboortes bydra.

Perspective het ook gesê dat daar “elke jaar 60 miljoen geboortes plaasvind waartydens die vrou net deur ’n familielid of ’n onopgeleide tradisionele helper bygestaan word—of deur niemand nie”. Die VN probeer om dit te verander. Om mee te begin, het die WGO 1998 se Wêreldgesondheidsdag die tema “Veilige moederskap” gegee. “Ons weet dit sal nie binne die volgende 2 of 3 jaar bereik word nie”, het dr. Donnay gesê. Maar hulle doelwit is om “vir elke vrou ’n professionele helper by haar bevalling” te hê.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

UN/J. Isaac

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel