Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 10/15 bl. 9-11
  • Hulle wil help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle wil help
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vertroosting en medelye
  • Ernstige depressie
  • ‘Fout met die masjien’
  • Dit kan gedoen word
  • Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Bemoedig die kleinmoediges”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • ’n Opgeleide tong—“Om die vermoeides te bemoedig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
    Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 10/15 bl. 9-11

Hulle wil help

“ONS vermaan julle, broers, . . . bemoedig die terneergedrukte siele” (1 Thessalonicense 5:14, NW). Met hierdie woorde aan die gemeente in Thessalonika het die apostel Paulus getoon dat die Christengemeente ’n belangrike hulpmiddel is wat deur God voorsien is om die terneergedruktes te ondersteun. Enige Christen wat meen dat sy slegte emosies hom oorweldig, kan troos en hulp onder sy Christenbroers vind.

Die dissipel Jakobus het aanbeveel dat die aangestelde gemeentelike ouere manne om hulp genader word. Hy het gesê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.”—Jakobus 5:14, 15.

Gestel iemand huiwer om die ouere manne om hulp te nader? Een vrou met ’n ernstige probleem was huiwerig, en sy verduidelik waarom: “Agter in my kop het ek gedink dat die ouere manne nie sou verstaan nie. Hulle sou dink dat dit my skuld was.” Maar na ’n ernstige gesinskrisis het sy besluit om na hulle te gaan. Wat het sy gevind? “Die ouere manne is nie volmaak nie. Maar hulle het verstaan.”

Hou egter in gedagte dat die apostel Paulus die hele gemeente aangespoor het om die terneergedrukte siele te bemoedig’. Die ouere manne wil help. Maar terneergedrukte persone kan na enige ryp persoon gaan by wie hulle op hulle gemak voel. Jongmense sal waarskynlik na hulle ouers gaan. Vroue sal dalk verkies om sake met ervare Christinne te bespreek wat “leraresse [is] van wat goed is” (Titus 2:3). Die belangrike saak is: PRAAT MET IEMAND.

Maar gestel dat ’n neerslagtige persoon jou om hulp nader. Of gestel jy neem die inisiatief om so ’n individu te probeer help. Dan is daar dinge wat jy in gedagte moet hou.

Vertroosting en medelye

Onthou om nie ’n vinnige oordeel oor die geestelikheid van teneergedrukte persone te vel nie. Paulus het gesê dat hulle vertroosting nodig net. Ons kan dus gerus die eienskappe waarvan hy in sy brief aan die Filippense gepraat het teenoor hulle openbaar: “As daar dan enige troos (bemoediging, NW] in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê” (Filippense 2:1, 2). Bemoediging, liefde, vertroosting, gemeenskap van die gees, innige tederheid en ontferming kan ’n wonderlike genesende uitwerking op ’n terneergedrukte persoon hê.

Die apostel Petrus het nog ’n voortreflike eienskap bygevoeg. Hy het gesê: “Wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming” (1 Petrus 3:8). Enigeen wat “medelydend” is, wat hom in die ander persoon se posisie kan indink, sy vertroue kan wen en vertroostend met hom kan spreek, het ’n wonderlike gawe om terneergedrukte siele te help.

Ernstige depressie

Maar gestel dat ’n lid van die gemeente aan ernstige depressie ly. Gestel dat hy heeltemal nutteloos voel, skuldgevoelens het, in vertwyfeling of wanhoop verkeer en dat niks wat enigiemand sê oënskynlik help nie. Eerstens, hy moet aangeraai word om mediese advies in te win, aangesien ernstige depressie dikwels ’n fisiese oorsaak het.a Maar ongeag watter professionele hulp hy soek, die gemeente het steeds ’n belangrike rol om te vervul.

Gemeentelede moet nie die terneergedrukte persoon kritiseer of vir hom sê dat ‘hy homself moet regruk’ nie. ’n Man wie se vrou aan depressie ly, het gesê dat sy van tyd tot tyd selfmoordneigings gehad het. Waarom? Die man erken dat dit deels te wyte was aan die feit dat hy en ander nie die nodige begrip aan die dag gelê het nie.

Sommige het dit goedgevind om met die terneergedruktes te praat oor dinge wat hulle vantevore geweet het maar nou miskien moeilik vind om te glo omdat die depressie hulle gedagtes verwar. Praat oor Jehovah, “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” (2 Korinthiërs 1:3). Herinner die persoon daaraan dat Jehovah bereid is om “menigvuldiglik” te vergewe (Jesaja 55:7). Praat oor die prag van Jehovah se skepping, en herinner hom aan enige aangename ondervindinge wat hy in hierdie verband gehad het. Praat oor die aangename, omgang wat hy in die gemeente geniet het, oor hoe lief hy sy gesin het en hoe lief sy gesin hom het. Beklemtoon die feit dat hoewel jy nie ten volle kan begryp hoe sleg hy voel nie, die ondervinding van ander toon dat dit sal verbeter. Wees bereid om met “broederliefde en ontferming” te luister na wat hy te sê het, ongeag hoe onlogies sy emosionele benoudheid hom laat klink.

As hy oor selfmoord praat, moet jy dit ernstig opneem. As hy nie selfmoord meld nie, maar jy rede het om te vermoed dat hy daaraan dink, moet jy nie skroom om die onderwerp te berde te bring nie. Jy kan iets soos die volgende sê: “Ek weet dat jy op die oomblik baie sleg voel, waarskynlik baie slegter as wat ek ooit sal begryp. Jy weet, wanneer mense so sleg voel, kry hulle soms die idee dat dit die beste sal wees om ’n einde aan alles te maak. Het jy al ooit so gevoel? As hy erken dat hy al so gevoel het sal julle die saak openlik kan bespreek en sal dit help om hom te bevry van die skuldgevoelens wat deur sulke gedagtes veroorsaak word.

‘Fout met die masjien’

’n Dokter wat ook ’n Christen-ouere man is berig: “Soms vergelyk ek dit met ’n rekenaar. As die batterye pap is, sal jy nie ’n betroubare antwoord kry nie, ongeag watter nommers jy druk. Ek sê dus vir iemand wat aan ernstig depressie ly dat sy ‘batterye’ tydelik pap is. Hy gaan eienaardige gedagtes kry en vreemde gevolgtrekkings maak. Maar dit sal slegs gebeur solank die versteuring duur. Wanneer die probleem oor is, sal dit beter gaan.’

Dieselfde dokter voeg by: “Dit is nie altyd wat ’n mens sê wat saak maak wanneer mense in hierdie toestand is nie. Ons probeer na die beste van ons vermoë as mede-Christene om met hulle te simpatiseer. Die ouere manne kan iemand met baie lewenservaring vra om met die persoon te gaan gesels, of net na hom te luister. Ek het dikwels gevind dat ’n terneergedrukte persoon die meeste hulp ontvang van ’n bejaarde Christin wat self aan ernstige depressie gely het. Sy sal dalk net gaan sit, die lyer op die skouer tik en sê: ‘Ek weet hoe jy voel.’”

Dit kan gedoen word

Vir die persoon wat met slegte emosies worstel, lyk dit weliswaar na ’n geweldige inspanning om dit te oorkom. En inspanning is dalk die laaste ding waarvoor ’n terneergedrukte persoon lus voel. Maar selfmoord is nie die oplossing nie. Een vrou was ’n lang ruk terneergedruk. Sy wou nie eet nie, kon nie slaap nie, het geen energie gehad nie, was senuweeagtig, gespanne en wou sterf. Nou skryf sy: “Skep moed. Dit maak nie saak hoe lank jy al ly en wat die probleem is nie, Jehovah kan en sal jou help. Ek is bewys daarvan.”—Filippense 4:13, NW.

Daar is nog iets wat ons kan doen om terneergedrukte siele te help. Ons kan vir hulle bid in oorstemming met die apostel Paulus se gedagtes: “Mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ’n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!”—2 Thessalonicense 2:16, 17.

[Voetnoot]

a Kyk die artikels “Hoe jy teen neerslagtigheid kan stry” en “Die bestryding van ernstige depressie—Professionele vorme van behandeling” in die tydskrif Ontwaak! (nommers van 8 Januarie en 22 Februarie 1982) vir ’n vollediger bespreking van die oorsake en behandeling van depressie. Kyk die artikels “Bemoedig die kleinmoediges” (Die Wagtoring, 1 Julle 1982) en “’n Opgeleide tong—‘om die vermoeides te bemoedig’” (Die Wagtoring, 15 Augustus 1982) vir verdere wenke oor hoe om terneergedruktes te help.

[Venster op bladsy 10]

Oorweeg iemand wat jy ken selfmoord?

Dit is moontlik die geval, as hy baie terneergedruk is en ook simptome soos die volgende het:

• Hy praat of dink oor selfmoord.

• Hy verloor sy belangstelling in die lewe, in sy gesin en vriende.

• Hy kan nie slaap nie.

• Hy het geen eetlus nie.

• Sy geslagsdrang neem af.

• Hy is skielik kalm na ’n groot ontsteltenis.

• Hy kry sy sake in orde, verander sy lewenswyse of verwaarloos homself.

• Hy raak terneergedruk wanneer ’n familielid of ’n vriend sterf of selfmoord pleeg.

• Hy ly aan ’n ernstige fisiese kwaal.

• Hy verloor sy werk of word van sy gesin geskei.

Gebaseer op ’n lys wat in die tydskrif “Medical Tribune” verskyn het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel