Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 10/1 bl. 27-31
  • Pas op vir hierdie Bedrieër!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir hierdie Bedrieër!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die speletjies wat mense speel
  • Die rolprente waarna hulle kyk
  • Die musiek waarna hulle luister
  • Die oefeninge wat hulle doen
  • Die videospelgier
  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?
    Ontwaak!—1996
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Ontwaak!—2008
  • Joga—Net ’n oefenprogram, of is daar meer by betrokke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 10/1 bl. 27-31

Pas op vir hierdie Bedrieër!

GESTEL jy ontmoet iemand wat baie vriendelik lyk. Jy sal dalk lus voel om hom na jou huis oor te nooi omdat hy na goeie geselskap lyk. Maar dan ontdek jy dat hy ’n berugte misdadiger is wat stilletjies die buurt verlei. Hoe sou jy reageer?

Wel, jy het dit dalk nie besef nie, maar daar is so ’n bedrieglike misdadiger wat ons almal bedreig. Hy is Satan die Duiwel, en die Bybel sê vir ons dat hy ‘saam met sy engele op die aarde neergewerp is’ (Openbaring 12:9). Dit beteken dat hulle gevaarlik naby is. Daarbenewens tree Satan dikwels op asof hy ons maar net wil help om die lewe te geniet. Ons moet dus oppas vir hierdie Bedrieër. As ons hom as ’t ware binnelaat, stel ons onsself bloot aan allerhande vernietigende invloede, net soos die apostel Paulus aangedui het met die woorde: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.”—2 Korinthiërs 11:14.

Kyk nou gerus na ’n paar van die oënskynlik onskuldige maniere waarop mense hulself vandag vermaak. Let egter op hoe hulle blyke van sataniese invloed lewer.

Die speletjies wat mense speel

Op ’n reënerige Saterdagmiddag geniet baie mense dit om in ’n vriend se huis bymekaar te kom, om ’n tafel te gaan sit en speletjies te speel. Baie van sulke speletjies is onskadelik, maar ten minste twee is allesbehalwe onskadelik.

Een van hulle is die Ouija-bord (uitgespreek “whee-dja”). Hierdie bord, wat omstreeks 1890 uitgevind is, het die alfabet en ander tekens daarop. Vriende sit om die bord, plaas hulle vingers op ’n wyser en stel vrae. Die wyser beweeg van een letter na die ander op die bord en spel die antwoord.

Watter soort antwoorde verstrek dit? Een persoon wat ’n Ouija-bord gekoop het, het aan die vervaardiger geskryf: “Dit was met groot ontsteltenis dat ons eindelik besluit het dat die algehele onjuistheid van die antwoorde slegs een ding beteken—ons Ouija-bord lieg.” ’n Ander het geskryf: “Ek besit een van julle Ouija-borde en gebruik dit saam met my vriende. Vroeg in die dag gee dit baie goeie antwoorde en saans gee dit smerige antwoorde.”

Selena het ’n Ouija-bord besit en sy vertel dat die bord eenkeer gespel het dat dit van haar hou. Toe sy gevra het waarom, was die antwoord: “Omdat jy ’n vrou is, en dit maak die wêreld se verskil.” Daar is talle soortgelyke berigte van leuens, onsedelikheid en vuil taal wat van die Ouija-bord af kom.

Wat laat die bord vrae beantwoord? ’n Engelse koerant het gesê: “Die spel, Ouija, is gebaseer op ’n Spiritualistiese metode van ‘kommunikasie’ met die dode, en dit word gespeel met ’n bord soortgelyk aan die wat tydens seances gebruik word.” Baie wat die bord gebruik, praat dienooreenkomstig van kontak met geeste. Denise het aan ’n koerant geskryf en gesê dat sy deur middel van ’n Ouija-bord in aanraking gekom het met ’n gees wat homself Bob noem. Sy het gekla: “Bob het gemeen geword. Hy sê hy is nie ’n goeie gees nie, maar ’n demon in die hel. Hy sê vir my dat ek besig is om kranksinnig te word en dat hy binnekort my gees gaan oorneem en my vir die duiwel gaan gee.”

Indien dit geeste is wat die Ouija-bord laat werk, watter soort geeste is dit dan? Beslis nie die geeste van afgestorwenes nie, want “die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Dit is ondenkbaar dat enige gees van God vir leuens of onsedelike boodskappe verantwoordelik sal wees. Ons kan dus slegs tot die gevolgtrekking kom dat die Ouija-bord geaktiveer word deur demone, waarvan die belangrikste een, Satan, “die vader van die leuen” is (Johannes 8:44,  TP). Dit is duidelik dat die Ouija-bord, sowel as alle ander vorme van spiritisme, vermy moet word deur diegene wat Satan se onreine invloed wil vermy.—Deuteronomium 18:10-12.

Nog ’n gewilde spel heet “Dungeons and Dragons”. In hierdie spel vertolk die spelers die rolle van monsters, demone en halfgode, asook dié van moordenaars, brandstigters, verkragters en pynigers. Is dit aangename geselskap om in jou woonkamer te hê? Dit verg dikwels dat spelers aan spiritisme en die toorkuns moet deelneem. Klink dit vir jou gesond? Dit is beslis nie, want onreinheid en towery tel onder “die werke van die vlees” wat sal verhoed dat ’n persoon God se Koninkryk beërf.—Galasiërs 5:19-21.

Een “Dungeon Master”, John Holmes, het in die tydskrif Psychology Today gesê: “Myns insiens sal hierdie denkbeeldige geweld net so min die denke van die deelnemers verdraai as die eindelose stroom geweld in TV-programme, rolprente of lektuur.” Wel, baie meen dat “die eindelose stroom geweld” in hedendaagse vermaak wel die denke van die diegene wat daaraan blootgestel word, verdraai. Wat dink jy? Klink dit nie asof die Bedrieër, Satan die Duiwel, hierdie spel probeer gebruik om ons soos hy te laat dink nie?

Die rolprente waarna hulle kyk

Na watter soort vermaak gaan kyk mense vandag by die bioskoop vir ontspanning? Miljoene verkies onsedelikheid of geweld wat niks aan die verbeelding oorlaat nie. Of hulle word geboei deur rillers en demonistiese rolprente. Laasgenoemdes is gevaarlik omdat hulle ’n ongesonde beheptheid met bonatuurlike dinge versadig, iets wat uiteindelik skadelik is (2 Kronieke 33:6). En dit kan dadelik ernstige gevolge vir vatbare persone hê.

Enkele jare gelede het Roxanne gaan kyk na die rolprent The Exorcist, wat aanleiding gegee het tot ’n menigte nabootsings. Sy sê: “Die rolprent het ’n verskriklike uitwerking op my gehad. Ek moes uitloop voordat dit klaar was omdat ek bang was dat ek sou opgooi en omdat dit gevoel het of ek wou flou word. Omtrent twee maande lank nadat ek die rolprent gesien het, was ek steeds doodbang en het ek nagmerries gehad. Ek het nêrens alleen gegaan nie, het voortdurend oor my skouer gekyk en was selfs bang om my hare te was uit vrees dat iets bokant my sou hang.” ’n Ander vrou, wat dieselfde rolprent op televisie gesien het, het later haar vierjarige dogtertjie se hart uitgesny omdat sy geglo het dat die meisietjie besete was.

Satan word “die god van hierdie wêreld” en “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”, genoem (2 Korinthiërs 4:4; Efesiërs 2:2). Kan enigiemand daaraan twyfel dat die algemene demonisme, geweld en onsedelikheid in rolprente vandag ’n gevolg van hierdie invloed is?

Die musiek waarna hulle luister

Baie kla oor die luidheid van sommige moderne musiekstukke. Diegene wat die moeite doen om die woorde te lees, word dikwels met afgryse vervul. Voormalige platevoorspeler Cal Walker sê dat baie hedendaagse musiek vyf basiese temas het: “Seks, dwelms, geweld, die okkulte en opstand.”

Sommige musiekgroepe is luidens berig diep by die okkulte betrokke. Die ontwerp van baie plateomslae het beslis ’n bonatuurlike of okkulte voorkoms. En dit lyk dikwels of die woorde okkulte temas voorstaan. Kan jy die Bedrieër se invloed hierin sien?

Onsedelikheid, okkultisme, ensovoorts is beslis nie godvrugtige invloede nie. Die Bybel waarsku: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die . . . gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars—hulle deel . . . is die tweede dood” (Openbaring 21:8). Musiek is basies goed en heilsaam. Maar verstandige persone sal sorg dat hulle nie toelaat dat ’n aangename vorm van ontspanning ’n deur vir demoniese invloed word nie.

Die oefeninge wat hulle doen

In baie dele van die wêreld draf mense, doen hulle aërobiese oefeninge, neem hulle deel aan sport, swem hulle en probeer hulle om op ander maniere fiks te word. Skort daar iets daarmee? Nie wanneer dit matig gedoen word nie. “Die liggaamlike oefening is tot weinig nut”, het die apostel Paulus gesê (1 Timotheüs 4:8). Maar daar is ’n vorm van oefening wat onverwagte probleme kan skep.

Joga (’n Sanskrit-woord wat beteken “koppeling van die individuele siel met die Oppergees”) bestaan uit fisiese en geestesoefeninge, liggaamshoudings, asemhalingoefeninge en intense meditasie en konsentrasie. Dit het in Indië ontstaan, maar is verwesters en word gebruik om spanning te verlig, gewig te verloor en energie te verkry. Boeke op die mark soos Practical Yoga for Businessmen en Yoga for Parents toon hoe gewild dit is. Sal jy joga beoefen?

Beskou dan hierdie feit: werklike joga is nie bloot ’n vorm van oefening nie. Dit is ’n Hindoe-godsdiensgebruik. “Die hoofdoel van die Joga-filosofie is om te leer hoe om die mens se siel heeltemal met die Oppergees te verenig”, aldus dokter B. S. Surti. Dit hou oënskynlik min verband met Yoga for Businessmen, maar dit is die oorspronklike doel van joga-oefeninge.

Joga-agtige meditasie is veral problematies. Sommige sal wys op die feit dat die Bybel ook meditasie voorstaan. Maar Christelike meditasie is ’n aktiewe meditasie waartydens daar oor opbouende en nuttige sake gepeins word (Psalm 63:7; Spreuke 15:28; Filippense 4:8). Joga-agtige meditasie is iets anders. “Die kern van die siel, loutere intelligensie, word deur geestesaktiwiteite vertroebel, en dit is Joga se hoofdoel om hierdie aktiwiteite te onderdruk. Die verstand moet beheer word deur voortdurende meditasie en onverbondenheid aan materiële voorwerpe. Die eindresultaat is die onderdrukking van alle geestesneigings, bewus of latent.”—The Encyclopedia Americana.

Is sulke lediging van die verstand ’n gesonde ding? Een beoefenaar berig dat hy gedurende ’n lang periode van oefening en meditasie verskeie kere deur onsigbare magte aangeval is. Die demone kan ’n leë verstand benut en dit met hulle eie gedagtes vul (Lukas 11:24-26). Pas dus op! Hierdie gebruik kan jou hulle prooi maak.

Die videospelgier

In die laaste jare het ’n nuwe gier soos ’n veldbrand oor die aarde versprei: videospeletjies. Duisendmiljoene rande word elke jaar in arkademasjiene gegooi, en nog duisendmiljoene word aan huisvideospeletjies bestee. Is die speletjies skadelik? ‘Nee’, sê sommige. ‘Hulle kan selfs nuttig wees.’ Maar in sommige lande word hulle verbied en plaaslike gemeenskappe in ander lande het probeer om hulle uit te hou. Is dit ’n oordrewe reaksie?

Wel, kyk ’n bietjie na die soort speletjies wat gespeel word. Sommige is gebaseer op sport, maar die meeste is nie. “Die einddoel van feitlik alle videospeletjies is oorlewing”, sê die tydskrif Natural History. “In die ruimtespeletjies moet jy hulle skiet voordat hulle jou skiet. In die Pac-‘persoon’-genre eet jy hulle voordat hulle jou eet. En in die speletjies oor karakters uit die strokiesverhale, val jy die gedrog aan . . . voordat hy jou aanval.” Waarom is dit die gewelddadige speletjies wat mense se verbeelding so aangryp? Geskiedskrywer Jack Colhoun meen: “Hierdie speletjies is ’n produk van ons tye.” Ons lewe in ’n gewelddadige wêreld, en jongmense word geleer om geweld as opwindend eerder as aanstootlik te beskou. Die Bybel sê egter: “Die HERE toets die regverdige: maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.

Die tydskrif Psychology Today toon watter skadelike gevolg hierdie speletjies kan hê: “Die videospeletjies . . . sonder mense nie alleen sosiaal af nie, maar kan in werklikheid geweld tussen mense in die hand werk.” Veral jongmense kan deur so ’n invloed benadeel word. Rubriekskrywer John Rosemund hou dus vol: “Videospeletjies is prulkos vir die verstand. Hoe jonger die verstand, des te skadeliker die uitwerking.”

Videospeletjies kan selfs gewoontevormend wees. ’n Universiteitsprofessor het verduidelik dat verslaafdheid aan videospeletjies fisies sowel as sielkundig kan wees. Hy het gesê: “Spelers ervaar groot adrenalienafskeidings, uitgelatenheid en, eindelik, wanhoop, asook ’n hele reeks aggressiewe en gewelddadige reaksies.” ’n Moeder in Engeland sê die volgende oor haar veertienjarige seun se verslaafdheid: “Dit is soos om ’n tienderjarige alkoholis in die huis te hê. Hierdie masjiene het hom verderf . . . Hy is soos ’n ingehokte dier as hy nie by hulle kan kom nie.” ’n Uiterste geval? Moontlik. Maar die algemene voorkoms van “Pacman-vinger”, “Space Invader-gewrigseningontsteking” en ander fisiese probleme wat met die speletjies verband hou, toon dat verslaafdheid nie buitengewoon is nie.

Jongmense het van nature ’n begeerte na opwinding en word deur nuwe dinge bekoor. Maar hoe verstandig is dit tog vir jong Christene om te sorg dat niks hulle verhinder om “ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” nie! (Titus 2:12). Sodoende sal hulle nie toelaat dat die Bedrieër hulle van hulle tyd of hulle geestes- en emosionele energie beroof deur hulle aan videospeletjies verslaaf te maak nie.

Stemmige liggaamsoefeninge, sekere musiek, talle speletjies en verskeie rolprente is vermaaklik en ontspannend. Maar onthou: Sulke dinge kan ook ’n medium vir ongesonde invloede wees. Wees wakker en op jou hoede daarvoor. Dit lyk miskien of die Groot Bedrieër, Satan, graag wil hê dat jy die lewe moet geniet. Maar op die ou end sal sy invloed jou skaad. Moet hom nie in jou huis of jou lewe laat inkom nie. “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”—Jakobus 4:7.

[Prent op bladsy 28]

Sommige speletjies is gevaarlik

[Prent op bladsy 30]

Moet jy joga-agtige meditasie beoefen?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel