Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 9/15 bl. 17-23
  • Die lewende geloofsmanne wat nooit sal sterf nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewende geloofsmanne wat nooit sal sterf nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die lewende metgeselle van diegene wat vir God se grimmigheid verberg word
  • Onveilige “Babilon” is tot vernietiging gedoem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • ‘Volke sal toestroom’ na lewegewende aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die onheil wat alle godsdiensbeoefenaars van die wêreld in die gesig staar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • “Gaan uit haar uit, my volk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 9/15 bl. 17-23

Die lewende geloofsmanne wat nooit sal sterf nie

1, 2. Waar het miljoene liefhebbers van die Soewereine Heer, Jehovah God, geen begeerte om vir ewig te lewe nie, en watter woorde van Jesus Christus oor die moontlikheid om nooit te sterf nie onthou hulle?

DAAR lewe vandag miljoene mense op die aarde. Miljoene van hulle leer nou van die wonderlike geleentheid om vir ewig daarop te lewe sonder om ooit te sterf. Baie van hulle onthou moontlik die ou gewyde lied? “O you must be a lover of the Lord, or you won’t go to heaven when you die.” Maar daar is miljoene lewendes wat die soewereine Heer, Jehovah God, liefhet maar wat glad nie hemel toe wil gaan nie. Hulle Godgegewe hoop is dat die Paradys op hierdie aarde herstel sal word en sal uitbrei sodat dit die hele aardbol oordek. Dit is waar hulle vir ewig in menslike volmaaktheid onder ’n regverdige hemelse regering wil lewe (Lukas 23:43 NW). Hulle is gedagtig aan die merkwaardige woorde van Jesus Christus aan Martha, wie se broer Lasarus, onmiddellik daarna opgewek sou word. Dit is woorde wat die ernstige aandag verdien van almal wat vandag lewe. Daardie woorde is:

2 “Elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—Johannes 11:26.

3. Watter toespraak oor ononderbroke menselewe is op 24 Februarie 1918 gehou, en watter gebeure daardie jaar het verhoed dat daardie toespraak weer gehou word?

3 Manne en vroue van hierdie 20ste eeu is op Sondag, 24 Februarie 1918, in Los Angeles, Kalifornië, V.S.A., van hierdie merkwaardige hoop bewus gemaak. Dit was waar die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vir die eerste keer die openbare toespraak met die titel “Die wêreld het geëindig . . . Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” gehou het.a Dit was op dieselfde tyd dat die Eerste Wêreldoorlog, waarby die Verenigde State van Amerika betrek is, sy hoogtepunt genader het. Die verdere aanbieding van daardie tydvakskeppende Bybellesing is onderbreek, veral toe die president van die Wagtoringgenootskap en sewe van sy metgeselle by die hoofkwartier in Brooklyn, New York, kort daarna op 8 Mei 1918 in hegtenis geneem is. Vroeër, op 12 Februarie 1918, het die regering van Kanada die Genootskap se jongste gebonde boek met die titel The Finished Mystery, sowel as die Genootskap se gratis traktate met die titel Bible Students Monthly, in die ban gedoen. Op, 14 Maart het die Verenigde State se regering hulle voorbeeld gevolg en The Finished Mystery en ’n verwante nommer van die Bible Students Monthly, wat almal deur die Genootskap se president onderskrywe is, in die ban gedoen. Na ’n hofsaak wat weke geduur het, het die federale hof van die Verenigde State die Genootskap se president, sy sekretaris-penningmeester, die twee medewerkers aan The Finished Mystery, drie ander lede van die Brooklynse hoofkwartierpersoneel en die Genootskap se Italiaanse vertaler op 21 Junie lang tronkvonnisse in die Federale Strafgevangenis in Atlanta, Georgia, opgelê. Op 4 Julie 1918 is al agt van Brooklyn, New York, na die Federale Strafgevangenis in Atlanta, Georgia, oorgeplaas terwyl die Eerste Wêreldoorlog nog gewoed het.

4. Hoe was die oorblyfsel van Jehovah se valk op aarde, geestelik gesproke, dood, en wat het met hulle hemelse hoop gebeur?

4 Voor die volgende winter het die Genootskap verplig gevoel om van Brooklyn, New York, terug te trek na Pittsburgh, Pennsilvanië, volgens die Verhuisingskennisgewing wat op bladsy 290 van The Watch Tower van 1 Oktober 1918 gepubliseer is. Dwarsoor die aarde is jong lede van die gemeentes van Internasionale Bybelstudente in militêre kampe of selfs in tronke aangehou. Jehovah se toegewyde, gedoopte volk was, geestelik gesproke, dood, veral wat die moedige verkondiging van die Evangelie of goeie nuus betref het. Dit het vir hulle gevoel asof hulle die einde van hulle aardse loopbaan bereik het en dat hulle hemelse verheerliking op hande was. Maar dit was nie die geval nie, want in November het die nasies wat aan die oorlog deelgeneem het die wapenstilstand onderteken, is vrede bewerkstellig, en, kyk! ’n oorblyfsel van Jehovah se aanbidders het hulle nog lewend op die gehawende aarde bevind.

5. Hulle geestelike onaktiwiteit was soos die onaktiwiteit van wie gedurende ’n lang ballingskap, maar wat het God se Woord aangaande hulle voorspel?

5 Wat nou? Wel, Jehovah se profetiese Woord het voorspel dat sy oënskynlik dooie getuies tot groot bedrywigheid in sy koninklike diens op aarde herstel sou word. Gedurende die eerste wêreldbotsing het hulle geestelike toestand ooreengekom met dié van die Israeliete nadat hulle nasionale hoofstad in Jerusalem, in 607 v.G.J deur die strydmagte van Babilon vernietig is en hulle na afgeleë Babilon weggevoer is om 70 jaar geestelik onaktief daar te lê.

6. Hoe is die profeet Esegiel gebruik om ’n profetiese beeld te gee van die herlewing van die Joodse nasie en die herstelling van sy aanbidding in sy tuisland?

6 Jehovah se profeet Esegiel, wat self ’n balling in Babilon was, het na eertydse Israel se situasie van 607-537 v.G.J. verwys. ln een van sy gesigte het hy ’n laagte vol dor bene gesien. Hy is meegedeel dat hierdie klomp los bene die hele huis, van Israel in sy ballingskap voorgestel het. Toe Esegiel in gehoorsaamheid aan God se bevel oor daardie verstrooide bene geprofeteer het, het hulle geraamtes gevorm en is hierdie geraamtes met vlees oordek. Eindelik het gees in hulle gekom en het daardie liggame op hulle voete gaan staan (Esegiel, hoofstuk 37). In die tipiese vervulling van hierdie profesie het dit afgebeeld hoedat die Israeliete na Babilon se val daaruit bevry sou word en sou herlewe as ’n nasie wat weer eens hulle barmhartige God by ’n herboude tempel in hulle herstelde nasionale hoofstad, Jerusalem, aanbid.

7. Wat is in Openbaring 11:3-13 voorspel wat met daardie volksherlewing ooreenkom?

7 Eeue na daardie nasionale opstanding is iets soortgelyks in beeldspraak in Openbaring 11:3-13 voorspel:

“En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank sal profeteer . . . En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad . . . En ná die drie en ’n halwe dag het ’n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ’n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. En hulle het ’n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. En in dié uur het daar ’n groot aardbewing gekom.”

8, 9. (a) Wanneer is ’n soortgelyke oproep tot aksie in ons dag tot God se geestelik dooie volk gerig? (b) Met watter beeldspraak is die profetiese oproep tot aksie in Jesaja 26:19 uiteengesit?

8 ’n Naoorlogse oproep tot aksie sou eweneens gerig word tot die geestelik dooie oorblyfsel van Jehovah se toegewyde volk sodat hulle sy getuies kon wees wat deur die bewoners van die hele aarde waargeneem kan word. So ’n oproep is in die eerste naoorlogse jaar, 1919, gedoen, nadat hulle ontwaak het tot die besef dat Jehovah God hulle met ’n lewensbelangrike doel in die vlees op die aarde laat voortbestaan het. Hulle het terdeë besef dat hulle, sonder sy hulp, niks gedurende hulle verdere verblyf te midde van ’n vyandige wêreld sou kon uitrig nie (Jesaja 26:18). Mettertyd het hulle die versekering en die bevel van die almagtige God ontvang wat in Jesaja 26:19 voorspel is, waar die volgende profetiese woorde tot hulle voordeel bewaar is:

9 “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ’n dou van [malvas], en die aarde sal aan [die wat magteloos is in die dood] die lewenslig skenk.”—Vgl. NW.

10. In daardie woorde gebruik Jehovah taal wat geskik is vir watter geleentheid, maar waarom was die taal gepas?

10 Met daardie woorde maak Jehovah gebruik van taal wat geskik is vir die tyd van die letterlike opstanding van die vry gekoopte dooies van die mensdom onder die hemelse Koninkryk in die hande van sy gekroonde Koning, Jesus Christus, die Vrykoper. Net soos die eertydse Israeliete wat weggevoer is uit die land van hulle volkslewe en, geestelik gesproke, 70 jaar lank in Babilon begrawe was, is die oorblyfsel van die hedendaagse geestelike Israeliete gedurende die jaar 1914-1918 met uitwissing bedreig. Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 was hulle, geestelik gesproke, soos ’n ‘lyk’ vir Jehovah.

11. (a) Wie alleen kon ’n geestelike wedergeboorte teweegbring, en tot ’n varsheid soos die van watter soort plant? (b) Vir watter oproep tot Jehovah se volk was dit die tyd?

11 As die Groot Lewegewer sou Jehovah sorg dat daardie “dode” weer as sy gesalfde getuies lewe. Hy kon hulle opwek. Noudat die geleenthede van die naoorlogse tydvak vir hulle oopgegaan het, wat was dit nie meer die tyd vir hulle om te rou ert om soos dooie mense, soos die “wat in die stof woon”, te wees nie. Dit was Jehovah se onverskuifbare tyd om hulle tot geestelike lewe te laat ontwaak en hulle te laat jubel omdat hulle lewe en in sy diens is (Psalm 126). In plaas daarvan om dor te wees soos lyke, soos diegene wat in die droë stof woon, sou hulle lewensvog besit, asof hulle gebaai word in die oorvloedige dou van die lae rankende malvaplant. Die Grotere Kores, Jesus Christus, het nou in die hemele geheers, en dit was Jehovah se bestemde tyd vir hulle om bevry te word uit ballingskap soos in die dodelike land Babilonië. Hulle ballingskap, soos die land Babilonië waarin die Israeliete van die ou tyd ballinge was, sou hulle nie langer in doodse magteloosheid hou nie; dit was tyd om hulle te bevry vir ’n geestelike wedergeboorte, met die moed en die vermoë om uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te kom. God se oproep, waarvan die tydsberekening volmaak was, was: “Gaan uit haar uit, my volk” (Openbaring 18:4). Deur onverwyld gehoorsaam te wees, het hulle voorkom dat Jehovah hulle veroordeel omdat hulle hulle langer aan Babilon die Grote en haar wêreldlike bondgenote onderwerp het.

12. (a) Hoe sou Jehovah se volk hulle vir goddelike grimmigheid verberg, en hoe lank? (b) Wat omtrent Babilon die Grote sal dan blootgelê word, en met watter afrekening?

12 Jesaja 26:20, 21 sê voorts: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.” Binnekort, asof “vir ’n klein oomblik”, gaan Jehovah sy grimmigheid ten volle op Babilon die Grote uitstort deur haar wêreldlike bondgenote te gebruik om haar te vernietig voordat hulleself gedurende “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die slagveld genaamd Armageddon vernietig word (Openbaring 16:14, 16). Dan sal die bloedvergieting waaraan Babilon die Grote skuldig is openbaar gemaak word en sal sy daarvoor vergeld word. Die mense vir wie se dood sy verantwoordelik is, hetsy regstreeks of onregstreeks, sal nie meer bedek lê en geïgnoreer word nie. Hulle sal gewreek word deur die teregstelling van die moordenares. Talle getuies van Jehovah is deur Babilon die Grote om die lewe gebring!

Die lewende metgeselle van diegene wat vir God se grimmigheid verberg word

13. (a) Watter herstellingseëninge het die na-oorlogse jaar 1919 bekroon? (b) Langs watter roete het hulle volgens Jesaja hoofstuk 35 na ’n toestand van eindelose blydskap teruggekeer?

13 Die jaar 1919 is met goddelike goedheid bekroon. Op 21 Maart, nog voordat die Internasionale Bybelstudente ’n landswye petisiewerk kon voltooi, is borgtog toegestaan aan die agt verteenwoordigers van die Genootskap, en op 25 Maart is hulle uit die Strafgevangenis in Atlanta vrygelaat. Hulle het nooit weer daarheen teruggekeer nie. Waarom nie? Omdat hulle later vrygespreek is en onskuldig bevind is aan enige misdaad teen die Verenigde State. Later daardie jaar is die Genootskap se hoofkwartier teruggeskuif na sy oorspronklike adres in Brooklyn, New York. Sodoende het die oorblyfsel geestelike Israeliete weggebreek uit gevangenskap aan Babilon die Grote en teruggekeer na hulle behoorlike geestelike staat in die oë van die God wat hulle aanbid het. Net soos Jesaja 35:8-10 voorspel het, het hulle met ’n simboliese hoofweg langs teruggekeer na geestelike lewe en bedrywigheid in Jehovah se diens: “’n Weg wat die heilige weg genoem sal word.” Die profesie sê voorts: “Die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.”

14. (a) Watter byeenkoms is in September 1919 gehou, en watter voorgenome publikasie is aangekondig? (b) Na watter adres het die uitgewers teruggetrek, en met watter drukprojek is daar begin?

14 Op 1-8 September van daardie selfde na-oorlogse jaar 1919 is die algemene byeenkoms te Cedar Point, Ohio, gehou, en dáár is ’n nuwe kenmerk van hulle naoorlogse werk vir hulle aangekondig, naamlik die publikasie van ’n tweeweeklikse tydskrif met 32 bladsye en met die titel The Golden Age, as ’n komplement vir The Watch Tower. Die eerste nommer van daardie tydskrif (nou Ontwaak!) het op 1 Oktober 1919 verskyn en begin om die tydige werk te doen om nie alleen godsdienstige persone in te lig oor die naderende gulde Millennium nie, maar ook om Babilon die Grote bloot te lê as ’n stelsel wat kort voor lank vernietig gaan word. Later, in die nommer van 15 Desember 1919, het The Watch Tower weer eens die uitgewers se adres as Columbia Heights 124, Brooklyn, New York, aangegee. En die 15de nommer van The Golden Age, gedateer 14 April 1920, het aangekondig dat dit toe te Myrtlelaan 35, in die munisipaliteit van Brooklyn, New York, die ligging van die eerste drukkery van die Wagtoringgenootskap, gepubliseer is. Vandag het die Genootskap en sy takke drukkerye rondom die aardbol.

15. Watter dinge wat deur God se profete voorspel is, is deur al daardie herstellingswerk vervul, en van watter “teken” wat deur Jesus voorspel is, was dit ’n deel?

15 Al daardie herstellingswerk, aanvanklik op klein skaal, was die naoorlogse begin van “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete”, wat die onsigbare wederkoms en teenwoordigheid van die verheerlikte Jesus Christus sou kenmerk (Handelinge 3:21). Die gepaardgaande bevryding en herinsameling van Jehovah se toegewyde volk uit teenbeeldige Babilon was deel van “die teken . . . van die voleinding van die wêreld” wat Jesus voorspel het in sy profesie wat opgeteken staan in Mattheüs hoofstukke 24, 25; Markus hoofstuk 13, en Lukas hoofstuk 21.

16. Wie het in 537 v.G.J. saam met die Israeliete na die land Juda teruggekeer?

16 Al daardie dinge het die weg gebaan vir iets baie belangriks. Wat? Wel, ons moet onthou dat toe die Israelitiese ballinge Babilon in 537 v.G.J. verlaat het kragtens die bevel van Babilon se veroweraar, Kores die Grote, ’n groot groep nie-Israeliete saam met hulle na die land Juda teruggekeer het. Dit het die tempelbediendes, die slawe en slavinne en die vreemde sangers ingesluit.—Esra 2:43, 58, 64, 65, 70; 3:1; 6:21, 22; 1 Kronieke 9:1, 2.

17. Wie beeld daardie nie-Israelitiese metgeselle vandag af, en met wie anders kom hulle ooreen?

17 Sulke nie-Israelitiese metgeselle beeld diegene af wat vandag die boodskap van God se Koninkryk in die hande van sy Grotere Kores, Jesus Christus, hoor en begin omgaan het met die oorblyfsel geestelike Israeliete sedert dié in die na-oorlogse jaar 1919 bevry is van die beheer van hedendaagse Babilon die Grote en haar wêreldlike bondgenote. Hulle kom ook ooreen met die nie-Israeliete, “’n menigte mense van gemengde bloed”, wat die Israeliete vergesel het toe hulle Egipte in 1513 v.G.J. onder aanvoering van Moses, verlaat het.—Exodus 12:37, 38; vergelyk Openbaring 7:9-17.

18. Wanneer is sulke “skape” ingelig omtrent hulle voorreg om hulle aan God te “wy”, en na watter verdere identifisering van hulle by Washington, D.C., het honderde van hulle hul “wyding” gesimboliseer?

18 Hulle kom ook ooreen met die “ander skape” wat die Goeie Herder, Jesus Christus, gesê het hy nog moes bring om hulle eindelik te verenig tot “een kudde” saam met daardie, geestelike skape in “hierdie stal” waarin die erfgename van God se Koninkryk hulle bevind (Johannes 10:16).b In The Golden Age se nommer van 6 Junie 1934, bladsy 574, onder die tussenhofie “Jonadab-klas”, is daardie simboliese “ander skape” ingelig omtrent hulle voorreg om hulself deur Christus aan Jehovah God te “wy” en om dit in die openbaar deur waterdoop te toon. Op 31 Mei 1935 het, die Genootskap se president by die byeenkoms in Washington gepraat en die “ander skape” geïdentifiseer as die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is. Op die volgende dag van die byeenkoms is 840 in water gedoop, en die meeste van hierdie doopkandidate het die hoop op aardse lewe onder God se Koninkryk gekoester.

19. (a) Wat het Jesus in Johannes 11:26 gesê oor die moontlikheid om nooit te sterf nie? (b) Watter handelwyse van die nasies verenig hulle, en wat gaan daarna by Armageddon met hulle gebeur?

19 Dit is hier waar ons aandag moet skenk aan die woorde van Jesus Christus in Johannes 11:25, 26: “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” Volgens al die bewyse sedert daardie oorlogsjaar 1914 bevind ons ons in “die tyd van die einde”, ja, in “die voleinding van die wêreld” (Daniël 12:1-4; Mattheüs 24:1-3). Hoewel Jehovah se Getuies “hierdie evangelie van die koninkryk” sedert 1919 oor die hele wêreld verkondig, weier die nasies, selfs die nasies van die Christendom, om hulle te onderwerp aan daardie Messiaanse Koninkryk wat sedert 1914 in die hemele opgerig is. Die nasies word verenig in hulle teenstand teen God se regmatige Koninkryk en die predikers daarvan, en aldus word die nasies versamel vir “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon. Daardie globale “oorlog” sal algehele vernietiging vir daardie ongelowige nasies beteken. Dit sal die einde van hierdie stelsel beteken.—Openbaring 16:14-16; Mattheüs 24:14.

20. (a) Watter wonderlike ervaring sal die “skape” op aarde dan hê? (b) In watter boek wil hulle hê dat hulle name opgeskryf moet word, en wat sal dit vir hulle waarborg?

20 Slegs dan sal die “skape”, die gelowiges wat aan die “een kudde” van die Goeie Herder behoort, aan die dood ontkom. Dit sluit die “groot menigte” “ander skape” in. Openbaring 7:9-17 toon ’n gesig dat hulle lewend “uit die groot verdrukking kom” en die Duisendjarige stelsel op aarde binnegaan (Mattheüs 24:21, 22). Waarom moet hulle ooit op die aarde sterf? Onder die heerskappy van Christus sal hulle die geleentheid gebied word om ewige lewe te kry in die Paradys wat dan op aarde herstel sal wees (Openbaring 20:1-6). Ons sal maar moet wag en sien hoeveel van die meer as 2 000 000 van hierdie toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah wat vandag lewe deur die aardomvattende “groot verdrukking” wat nou ophande is, bewaar gaan word. Maar dit sal ’n tallose “groot menigte” uit die baie nasies en tale wees. Vir sulke geloofsmanne sal dit ’n wonderliker ervaring wees om die stelsel na Armageddon te betree as wat dit vir Noag en sy gesin was om na die globale Sondvloed uit die ark op die gereinigde aarde te te klim. In die geval van daardie hedendaagse geloofsmanne sal Jesus se woorde in ’n baie letterlike sin waar wees: “Elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:26). Daardie Armageddon-oorlewendes sal graag wil hê dat hulle name ‘opgeskryf moet wees in die boek van die lewe’ wat die lewegewende God gaan hou (Openbaring 20:7-15). As hulle name aldus daarin neergeskryf word, sal dit waarborg dat hulle vir ewig op die paradysaarde gaan lewe.

21. Wat sal hierdie Armageddon-oorlewendes nie gedurende die Millennium hoef te ondervind nie, en vir wie sal hulle dan kan getuig omdat hulle nou getuies van Jehovah is wat hulle onkreukbaarheid handhaaf?

21 Vandag, so diep in hierdie “tyd van die einde” sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914, is daar ongetwyfeld baie lewende manne en vroue van geloof en onkreukbaarheid wat nooit op die aarde, God se voetbank, sal sterf nie. Watter buitengewone geleentheid wag daar tog op hulle! Omdat hulle nooit sal sterwe en begrawe sal word nie, sal hulle geen opstanding gedurende die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus nodig hê nie. Trouens, hulle sal behoue bly om diegene wat in die stof van die aarde slaap en vir wie die Koning, Jesus Christus, sy volmaakte menselewe as ’n losprysoffer afgelê het, uit die dood terug te verwelkom. Die Armageddon-oorlewendes sal die voorreg hê om vir al daardie duisendmiljoene verresenes te getuig oor, alles wat Jehovah God gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” deur Jesus Christus gedoen het. Laat hierdie hoogs begunstigdes dwarsdeur hierdie allerkritiekste tyd toon dat hulle getuies van Jehovah God is wat hulle onkreukbaarheid handhaaf—tot regverdiging van sy universele soewereiniteit.

[Voetnote]

a Kyk The Watch Tower van 1 Maart 1918, onderaan bladsy 80, onder “Byeenkomste wat deur broer J. F. Rutherford toegespreek gaan word”; ook Jehovah’s Witnesses in the Divine Purpose, bladsy 76, laaste paragraaf: ook The Watch Tower van 15 September 1924, bladsy 280, onder die tussenhofie “Waarom miljoene nooit sal sterf nie”.

b Kyk bladsye 338, 339, paragrawe 577, 578, van die boek Die Harp van God, wat in Engels in 1921 uitgegee is; ook The Watch Tower van 15 Oktober 1923, bladsy 310, paragraaf 33, van die artikel “Die gelykenis van die skape en die bokke”.

Onthou jy?

◻ Hoe het die gesalfde oorblyfsel soos dooies geword?

◻ Tot watter na-oorlogse geleenthede het Jehovah sy gesalfde getuies opgewek?

◻ Watter profesieë is deur hierdie herstelling vervul?

◻ Wat sal aardse oorlewendes van Armageddon nie gedurende die Millennium hoef te ondervind nie?

[Prent op bladsy 21]

Gesalfde getuies van Jehovah en hulle metgeselle, die “ander skape”, werk heelhartig saam om die Koninkryksboodskap te verkondig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel