Hoe ek armoede die hoof bied
IS JY ’n weduwee? Ek ook. Jy is moontlik net soos ek met kinders agtergelaat, maar sonder enige onmiddellike bron van inkomste. Toe my man in 1973 oorlede is, het hy my agtergelaat met drie seuns, onderskeidelik 20, 16 en 14 jaar oud. Sy dood was vir my ’n geweldige skok en ’n groot verlies. Kort na sy dood was daar nog ’n slag—twee van my seuns, die oudste en die jongste, het besluit om die huis te verlaat. Waarom? Laat ek verduidelik.
Ek en my man was Hindoes, en ons het ons kinders grootgemaak om ook as Hindoes te aanbid. Maar sowat tien jaar voor my man se dood het Jehovah se Getuies met my in aanraking gekom deur hulle stelselmatige predikingswerk. Hulle Bybelboodskap oor verlossing deur God se Koninkryk het by my byval gevind. Na etlike maande van ernstige Bybelbesprekings en -studie, was ek daarvan oortuig dat Jehovah die ware God is en dat Jesus Christus God se aangestelde Verlosser van die mensdom is (Psalm 83:18, NW; Handelinge 4:12). Baie teen my gesin se sin en ondanks my man se openlike misnoeë het ek dus ’n Christengetuie van Jehovah geword en is ek gedoop.
In die Hindoe-gemeenskap kleef daar ’n onvergeeflike stigma aan die Christelike godsdiens, iets wat my man nie kon duld nie. Hy het my Christelike aanbidding teengestaan tot die dag van sy dood. My oudste sowel as my jongste seun het hulle vader behaag en die Hindoe-leefwyse gevolg. Hulle vader se dood was vir hulle ’n geleentheid om die huis te verlaat en ontslae te raak van die stigma dat hulle ’n Christenmoeder het. Ek het egter daarin geslaag om my tweede seun, Jayasimman, te oortuig van die waaragtigheid en redelikheid van die Bybel en die lewegewende inhoud daarvan. Nou was dit net ek en Jayasimman. Hoe sou ons die armoede waarin ons ons bevind het, die hoof bied?
Prakties en spaarsaam
Toe ek van die eerste stadiums van diepe skok herstel het en besef het dat ek nie meer ’n ryswinner het nie, moes ek gaan sit en my situasie in oënskou neem. Daar was geen staatsubsidies of regeringsvoorsienings vir bestaansbeveiliging vir my beskikbaar nie. Ek moes self die mas opkom. Trouens, tot onlangs is ’n weduwee in my gemeenskap beskou as iemand op die onderste sport van die sosiale leer. Haar lot was so haglik dat ’n weduwee soms verkies het om haarself op haar man se lykstapel te werp om te sterf.
Maar ons het ’n beskeie huisie met drie vertrekke hier in Madras, Indië. Ons het dus ten minste ’n woonplek. Ek het besluit om een van die vertrekke te verhuur en het kort daarna ’n klein maar gereelde maandelikse inkomste van 60 roepees (om en by R7) gehad. Ek het ook ’n trapnaaimasjien; ek het dus begin om vroueklere te maak, veral onderrokke wat vroue onder hulle sari’s dra. Ek het mettertyd ’n paar gereelde klante gehad en my maandelikse inkomste tot 144 roepees (om en by R16) vermeerder.
Ons moes nietemin eenvoudig lewe. My huis word van elektrisiteit en water voorsien, maar ons het feitlik geen meubels nie. Dit is egter geen probleem nie; miljoene van my landgenote lewe sonder meubels. Ons is daaraan gewoond om op ’n dun matras op die vloer te slaap. Solank die vloer net skoon is, vind ons dit gerieflik om met gekruiste bene op die vloer te sit om ons maaltye te nuttig. Ek gebruik ’n lampoliestofie om die kos te kook, en dit bied ook nie ’n probleem nie, aangesien dit geriefliker is as om hout op ’n oop vuur te gebruik. Wat eet ons?
Ek en Jayasimman eet taamlik goeie maaltye. Een van ons gunsteling-ontbytkosse word idli genoem. Dit is ’n koekie wat van rysmeel en gemaalde peulvrugte gemaak is, in stoom gekook is en voorgesit word saam met blatjang, wat bestaan uit ’n mengsel van gemaalde klapper, kruie en speserye. Hier in Indië word twee of drie idli’s, ’n piesang en ’n koppie koffie as ’n taamlik groot ontbyt beskou.
Ons middag- en aandete bestaan uit rys en kerrie, ons stapeldieet. Om te spaar, maak ek dikwels groentekerries en sorg ek vir verskeidenheid deur elke dag ander soorte groentes te gebruik.
Om ons finansiële probleme die hoof te bied, het ek op een stadium een van die vertrekke van ons huis in ’n klein eethuis verander. Ek het elke oggend om 4 vm. opgestaan, idli’s, blatjang en koffie gemaak en ontbyt voorgesit aan gereelde klante. Deur tuis ’n bietjie naaldwerk te doen, kos te kook en met dié inkomste van ’n huurder, het ons genoeg verdien om in ons daaglikse behoeftes te voorsien. Maar iets benewens praktiese stappe en spaarsaamheid het my baie gehelp om armoede die hoof te bied.
’n Groter bron van hulp
Dit is die hulp wat ek uit God se Woord, die Bybel, gekry het. Hoe het die Bybel my gehelp om armoede die hoof te bied? Wel, daar is die goeie voorbeeld van getroue manne en vroue van Bybeltye, soos die aartsvader Job wat ’n ruk lank brandarm was en vernederings en teistering moes verduur. Bepeinsing oor sulke voorbeelde het gehelp om my in my beproewinge te onderskraag.—Job 1:13-19; 2:7-9; 21:7.
Daarbenewens het die geloof wat ek uit die Bybel verkry het, my grootliks bemoedig. Hoewel ek feitlik op die armoedsgrens lewe, is ek nie haatdraend of bitter nie. Bybelwaarheid gee my ’n positiewe lewensbeskouing. Ek het geleef dat indien ek God se Koninkryksbelange eerste in my lewe stel en bereid is om te werk en geld op ’n eerlike wyse te verdien. Jehovah God my van die lewensbenodigdhede sal voorsien, het soos Jesus Christus ons verseker net: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek; eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:31-33). Hoe dankbaar is ek tog dat dit my persoonlike ondervinding was!
My geloof in sulke Bybelbeloftes het my gehelp om tevrede te wees met my lot in die lewe, en ek dink dikwels na oor die teks in 1 Timotheüs 6:8, wat sê: “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
Bybelwaarheid het my ook op ander maniere gehelp. Toe ek ’n Hindoe in ’n Hindoe-gemeenskap was, was ek gewoond aan ’n lewe met ’n groot mate van beskerming en beskutting deur my man. Ek was dus teruggetrokke en senuweeagtig wanneer ek in die openbaar tussen ander mense was. Maar nou het die dinge wat ek uit die Bybel geleer het my beweeg om mense by hulle huise te besoek en vir hulle van God se voornemens te vertel, onder meer van sy belofte om ’n regverdige Nuwe Orde tot stand te bring waarin armoede tot die verlede sal behoort (Psalm 72:12-14). Ek skryf hierdie wonderlike verandering in my gesindheid toe aan die goddelike wysheid in die Bybel. Psalm 19:8 sê: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.”
Om my waardering te toon, het ek my lewe so gereël dat ek nou ’n voltydse verkondiger van God se Koninkryksboodskap is. Dit beteken dat ek nie meer tyd het om ’n eethuisie te behartig nie. Maar ek verhuur nou twee van my vertrekke vir ’n maandelikse inkomste van altesaam 120 roepees (om en by R12), en ek doen nog steeds naaldwerk tuis soos die tyd toelaat. Jayasimman verdien ook elke maand ’n bietjie geld met los werkies, en hy dra gewillig 75 persent van sy inkomste by om ons uitgawes te help dek. Ons sorg dat ons lewensbenodigdhede en uitgawes nie ons maandelikse inkomste oorskry nie. Dit stel my in staat om elke dag mense by hulle huise te besoek en die treurendes te vertroos net soos ek uit God se Woord, die Bybel, vertroos is.—Mattheüs 5:4; 2 Korinthiërs 1:3, 4.
O, daar was tye wat ek finansiële probleme gehad het—skielike en onverwagte uitgawes—en ek gewonder het hoe ek die mas sou opkom. Maar ek het gevind dat Jehovah op die een of ander wyse voorsien. Daar was altyd ’n tydige meevallertjie wat my gehelp het. Ek het miskien geld deur die pos ontvang van een van my seuns, wat my nog nie heeltemal vergeet het nie. Of ek het ’n onverwagte bestelling vir ’n vrouekledingstuk gekry. Hoewel ek dus deur die jare soms behoeftig was, is ek, as gevolg van my gewilligheid om hard te werk en my vernuf om die paar bates tot my beskikking te benut, nog nooit in die steek gelaat nie.—Bygedra.