Ware vryheid onder Koninkryksheerskappy
“Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.”—ROMEINE 8:21, NTP.
1. Slegs wie kan die vryhede bied wat die mensdom dringend nodig het, en waarom?
DIE mensdom het ’n dringende behoefte aan bevryding van die talle angswekkende toestande wat so lank al bestaan. Maar soos die geskiedenis getoon het, is die mens nie in staat om sulke vryhede te bewerkstellig nie. “Baie planne is in ’n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan” (Spreuke 19:21). Daardie “raad” van Jehovah belowe: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Watter inspirerende vooruitsig tog! Hoe goed stem dit tog ooreen met die beskrywing van die ware vryheid wat volgens die Bybel van Jehovah af sal kom: “Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God”!—Romeine 8:21, NTP.
2. Wat is die instrument wat Jehovah gebruik om sulke vryhede te bewerkstellig?
2 Die instrument waardeur sulke wonderlike vryhede bewerkstellig gaan word, is die regering wat sy ontstaan by Jehovah het en wat oor die hele aarde gaan regeer, die hemelse Koninkryk van God. Dit is deur middel daarvan dat God se wil gaan geskied “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Daardie selfde Koninkryk gaan binnekort “al daardie koninkryke [wat vandag bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.—Daniël 2:44.
3. Waarom moet ons nie bedrieg word deur menslike planne om hierdie wêreld se probleme op te los nie?
3 Nee, God gaan nie hierdie verdorwe wêreld hervorm nie. Dit is reddeloos. Wanneer iemand dus vir jou sê dat die wêreld hulle probleme sal oplos indien die een of ander menslike plan uitgevoer word, moet jy dit nie glo nie. God se Woord toon in der waarheid dat die miserabele eksperiment van nagenoeg 6 000 jaar se menseheerskappy onafhanklik van God nou diep in sy “laaste dae” is.—2 Timotheüs 3:1-5, 13.
Een regering
4. Wat sal die een Koninkryksregering vir die mensdom beteken?
4 Die heerskappy van God se hemelse Koninkryk sal beteken dat daar slegs een regering oor die hele aarde is. Jesus Christus sal die Hoofadministrateur daarvan wees, en hy sal bygestaan word deur ’n betreklik klein groepie ander getroue knegte van God wat van die aarde af geneem is om as medeheersers te dien. Dink net wat een regering, wat deur God se wette en beginsels gelei word, vir die aarde sal beteken! Alle grense wat nasies nou in vyandige fraksies verdeel, sal verdwyn. Die mensdom sal verenig wees tot een groot gesin, vry om ongehinderd oor die hele aarde te beweeg. Geen paspoorte, visums of grenswagte meer nie.—Filippense 2:9, 10; Openbaring 14:4; 20:6.
5. Hoe is daar al besef dat die hele aarde slegs een regering nodig het?
5 Party mense besef al lank dat ’n enkele regering nodig is. In die Bulletin Today, ’n publikasie in die Filippyne, het rubriekskrywer Gwynne Dyer vertel: “A. J. P. Taylor, een van die voorste geskiedkundiges van ons eeu, het onlangs vir my gesê dat die enigste hoop om ’n rampspoedige wêreldoorlog wat ’n einde aan die wêreldbeskawing kan maak te voorkom, syns insiens is dat iemand ’n wêreldryk moet skep. . . . Op die een of ander manier moet ons van ons huidige toestand waarin ons in [meer as 150] afsonderlike soewereine state lewe—wat almal tot die tande toe gewapen is en almal ewe maklik vernietig kan word—oorskakel na ’n enkele wêreldowerheid . . . En ons moet dit gou doen. Die pateties swak en chronies verdeelde toestand van die Verenigde Volke is ’n aanduiding van hoe ’n gedugte taak dit sal wees. Die ou slagspreuk van die vyftigerjare is nog van toepassing: Een wêreld of geen wêreld.”
6. Watter soort administrasie sal die Koninkryk wees?
6 Dit sal een wêreld wees, onder een regering van God. Watter seën sal dit tog wees om ’n administrasie te hê wat almal vriendelik, billik en onpartydig behandel! Waar dit van die hemelse Koning, Jesus Christus, praat, sê die Bybel profeties: “Aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel” (Jesaja 11:3, 4). Ja, Christus sal doen wat reg is. Hy het bewys hiervan gelewer toe hy nog op aarde was, want hy het die waarheid gepraat en skynheiligheid blootgelê. Hy het die saak van die vertraptes verdedig en het nie na die rykes en invloedrykes se pype gedans nie, hoewel hy ook nie teen hulle gediskrimineer het nie. Met so ’n beproefde, bekwame Administrateur wat onder Jehovah se toesig werk, sal “trou uit die aarde spruit, en geregtigheid uit die hemel neerkyk’.—Psalm 85:12, 13.
Ware vrede en voorspoed
7. Wat sou diegene wat tot in God se Nuwe Orde bewaar word reeds gedoen het?
7 Hoe aangenaam sal dit tog wees om nie langer te lewe onder verdeelde menseheerskappy wat groot strydmagte onderhou en voortdurend oorlog voer nie! Die aarde se hulpbronne sal nie meer op vernietigingswapens verkwis word nie. Daardie hulpbronne sal eerder vir vreedsame, konstruktiewe doeleindes aangewend word. Trouens, diegene wat God gedurende die komende einde van hierdie stelsel gaan bewaar, sou reeds eie profesie in Miga 4:3 vervul het: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Watter van al die volke op aarde vervul reeds daardie profesie? Die feite van eietydse geskiedenis toon dat dit Jehovah se Getuies is. Hulle is lewende bewys van die feit dat aardwye vrede onder God se heerskappy verwesenlik gaan word, want aardwye vrede is reeds nou onder hulle ’n werklikheid!
8, 9. Hoe groot sal die vrede en voorspoed onder Koninkryksheerskappy wees?
8 In God se Nuwe Orde sal vrede na die uithoeke van die aarde uitgebrei word. Jesaja 32:17, 18 praat van “rus en veiligheid tot in ewigheid”, en voeg dan by: “My volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.” Stel jou voor dat jy soveel veiligheid geniet dat jy nie eens jou deure hoef te sluit nie en dat jy te eniger tyd van die dag of nag op enige plek kan loop sonder vrees vir aanranders of verkragters. Die Bybel sê met goeie rede: “[Hulle sal] hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.
9 In plaas daarvan dat miljoene elke jaar as gevolg van ondervoeding sterf, soos dit nou die geval is, sal daardie vrede met voorspoed gepaard gaan. Aangesien Jesus die vermoë gehad het om duisende te voed deur slegs ’n paar brode en ’n paar vissies wonderdadig te vermeerder, sal hy die mensdom onder sy Koninkryksadministrasie kan voorgaan in die vervulling van Psalm 72:16 (NTP): “Mag daar volop graan in die land wees, mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif.” En aangesien God se Koninkryk alle politieke skeidsmure gaan verpletter en van kommersiële hebsug en verkwistende mededinging ontslae gaan raak, sal die aarde se oorvloedige opbrengs vrylik beskikbaar wees tot voordeel van die hele mensdom, nie net ’n paar nie. Die verskriklike verskynsel van kinders met dun arms en bene en met mae wat opgeswel is van die honger sal dus vir ewig tot die verlede behoort.
Nuttige, aangename werk
10. Hoe sal werk in die Nuwe Orde verskil van dié van vandag?
10 Baie mense is vandag ongelukkig weens die soort werk wat hulle moet doen om ’n bestaan te maak. Miljoene ander het glad geen werk nie—hulle is werkloos. Maar in God se Nuwe Orde sal mense groot genot uit werk put. En daar sal geen gevaar bestaan dat hulle pogings as gevolg van slegte ekonomiese toestande, ’n ramp of oorlog op niks sal uitloop nie. “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; . . . en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei . . . nie.”—Jesaja 65:21-23.
11. Wat sal die onderdane van God se Koninkryk ten opsigte van hierdie aarde en die lewe daarop doen?
11 Met sulke aangename werktoestande, en omdat mense hulle naaste waarlik liefhet, sal die onderdane van die Koninkryk dinge ter verbetering van hierdie aarde en die lewe daarop doen wat ’n duisend keer wonderliker is as enigiets wat die wêreld tot nog toe gesien het. Dit is waarom Jesus kon praat van ’n komende paradys (Lukas 23:43, NW). Jesaja het voorspel: “Die wildernis sal . . . juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; . . . want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; . . . ewige vreugde sal op hulle hoof wees; . . . maar kommer en gesug vlug weg.”—Jesaja 35:1, 2, 6, 7, 10.
Geen siekte en dood meer nie
12. Hoe het Jesus die wonderlike genesingsprogram wat hy in Koninkryksmag gaan beheer, toegelig?
12 Maar watter jammerte sal dit tog wees om al daardie dinge te hê en dit dan te verloor omdat ’n mens siek en oud word en sterf. Maar die dinge wat dokters en wetenskaplikes nou nie kan doen nie, sal God onder sy Koninkryksheerskappy doen. God het die mens se liggaam, verstand en emosies geskep. Hy weet wat hom gesond en volmaak sal maak. Toe Jesus op aarde was, het hy die genesingskrag getoon wat God aan hom gegee het en wat hy in die Nuwe Orde gaan gebruik: “Ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien” (Mattheüs 15:30, 31). Omdat die mensdom onder Koninkryksheerskappy menslike volmaaktheid sal bereik, ‘sal die dood vir ewig vernietig word’ (Jesaja 25:8). Jehovah se liefde sal selfs bewys word aan diegene wat al lank dood is, want hulle sal deur middel van die opstanding die geleentheid gebied word om in God se Nuwe Orde te lewe. Daardie vreugde sal tallose kere herhaal word, en dit herinner ’n mens aan die keer toe Jesus ’n dogtertjie opgewek het en die ooggetuies “buite hulself was van groot ekstase”.—Markus 5:41, 42, NW; Johannes 5:28, 29.
13. Watter dinge sal mense dalk in die Nuwe Orde wil doen?
13 Dink net wat jy in ’n regverdige Nuwe Orde van vrede en voorspoed met ’n volmaakte verstand en liggaam kan doen—sonder om ooit dood te gaan! Dink aan die baie dinge wat jy al graag wou doen, maar nooit die tyd voor gehad het of kon bekostig nie! Dink net aan die majestueuse berge, die verfrissende woude, die blomryke velde en tuine, die bekorende diereryk, die helder stroompies en onbesoedelde mere en die heerlike kosse van verskillende volke wat jy kan verken en geniet. Dink aan die talente wat manne en vroue op die gebied van handwerk, argitektuur, parkaanleg, binneversiering, kuns en musiek gaan ontwikkel. Die mensdom sal ongetwyfeld tot nuwe hoogtes van uitdrukking en skoonheid gevoer word. Dink ook hoe dit sal wees om die Een wat al daardie dinge moontlik maak, Jehovah God, beter te leer ken. Breër kennis van sy ontsagwekkende heelal met sy melkweë, sterre en planete sal ook fassinerend wees. Ja, waarlik, “die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God”.—Romeine 8:21, NTP.
Neem die waarheid aan
14. Waarom kan ons ons volle vertroue in al Jehovah se beloftes stel?
14 Kan jy werklik al hierdie beloftes van God glo? Ja, jy kan. Jy kan voel soos Godvresende Josua toe hy gesê het dat “nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Josua 23:14). Jy kan in werklikheid jou lewe op die spel sit wat God se beloftes betref, want wat hy sê, is die waarheid en sal gewis gebeur.—Jesaja 46:9-11.
15. Watter gesindheid van hierdie wêreld verwerp God se knegte?
15 Die Bybel toon duidelik dat waarheid bestaan, wat dit is, waar dit is en wie dit het. Die vraag vir elkeen is: Wil jy werklik die waarheid hê? ‘Wil die meeste mense dan nie die waarheid hê nie?’ sal sommige sê. Nee, want Jesus het gesê dat die pad na die ewige lewe smal is en dat dit deur betreklik min bewandel word (Mattheüs 7:13, 14). Die oorgrote meerderheid van die mensdom se gesindheid word deur die Bybel in Job 21:14-16 beskryf: “Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?” Maar Job sê: “Die gesindheid van die goddelose is ver van my!” Hulle denke berus nie op die waarheid nie, maar berus op Satan se leuen dat mense beter daaraan toe sal wees as hulle onafhanklik van God is.
16. Waarom kan ons daarvan seker wees dat enigiemand wat opreg die waarheid wil hê dit sal vind?
16 Elke persoon wat opreg die waarheid begeer, en wat God vra om hom te help om dit te vind, sal gewis daarheen gelei word. Dit maak nie saak waar hy woon of wat sy omstandighede is nie. Waarom nie? Omdat die werk om na liefhebbers van die waarheid te soek nie bloot ’n menslike werk is nie, al gebruik Jehovah sy getroue knegte op aarde om die goeie nuus van die koninkryk te verkondig voordat die einde kom. Die hemelse Koning Jesus Christus en menigtes van sy magtige hemelse kragte steun die boodskap wat met immertoenemende krag dwarsdeur die wêreld verkondig word.—Mattheüs 25:31, 32; Openbaring 14:6, 7.
17. Wat moet ’n persoon doen as hy waarlik die waarheid wil hê?
17 ’n Hele stelsel staan op die punt om onder te gaan. As jy waarlik die waarheid wil hê en aan die lewe wil bly, moet jy dit vir God en die mense wys. Verkry juiste kennis van God se Woord. Vergader saam met sy volk. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.”—Mattheüs 6:33; Johannes 17:3; Hebreërs 10:24, 25.
18. Watter voordele verkry diegene wat die waarheid uitleef selfs nou?
18 Namate jy dit doen, sal jy nou reeds baie voordele begin kry. Diegene wat die waarheid leer ken en daarvolgens lewe, vind groot geestes- en emosionele vryheid, want hulle weet waarom dinge so sleg is en wat die toekoms inhou. Hulle word ook bevry van die nuttelose lewenswyse van mense in hierdie wêreld wat slegs materiële wins nastreef, maar wat alles gaan verloor wanneer hierdie stelsel eindig (1 Johannes 2:15-17). Dit verskaf ook vir hulle groot verligting wanneer hulle van godsdiensdwaling bevry word.
19. Wat sal jy doen as jy die waarheid liefhet?
19 Het jy die waarheid werklik lief? Dan sal jy die God van waarheid liefhê. Jy sal die wonderlike waarhede wat hy oor sy Koninkryksheerskappy openbaar, liefhê. Jy sal sy sigbare organisasie op aarde, wat bestaan uit mense wat hy nou vir oorlewing versamel, liefhê (Jesaja 2:2-4). En jy sal niks in die hemel of op aarde toelaat om jou te verhinder om die God van waarheid wat jou deur sy waarheid kan vrymaak, te dien nie.—Johannes 8:31, 32.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
□ Hoe gaan Jehovah ware vryheid vir die mensdom bewerkstellig?
□ Wat sal een wêreldregering vir die mense beteken?
□ Watter lewende bewys is daar dat ware vrede ’n werklikheid onder Koninkryksheerskappy gaan wees?
□ Watter teenstelling sal daar wees tussen werk in hierdie stelsel en werk in die Nuwe Orde?
□ Waarom kan ons daarvan seker wees dat opregte soekers na die waarheid daarheen gelei sal word?
[Prent op bladsy 17]
Diegene wat hierdie stelsel se einde oorlewe, sou reeds ‘van hul swaarde pikke gesmee het’
[Prent op bladsy 19]
ln God se Nuwe Orde sal mense groot genot put uit die verheffende werktoestande