Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 2/15 bl. 23
  • Broederlike liefde is aktief

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Broederlike liefde is aktief
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy liefde en geloof word geprys
  • Bybelboek nommer 57—Filemon
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Vermaan op grond van liefde’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die boek Filemon lewer bewys van Christelikheid in die praktyk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Filemon en Onesimus—Verenig in Christenbroederskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 2/15 bl. 23

Broederlike liefde is aktief

Glanspunte uit Filemon

JESUS CHRISTUS het aan sy volgelinge die “nuwe gebod” gegee dat hulle mekaar moet liefhê net soos hy hulle liefgehad het (Johannes 13:34, 35). Daardie liefde sou hulle selfs beweeg om vir mekaar te sterf. Ja, broederlike liefde is regtig só sterk en aktief.

Die apostel Paulus was oortuig dat broederlike liefde Filemon, ’n Christen in die gemeente in Kolosse, ’n stad in Klein-Asië, sou beweeg om aan sy versoek te voldoen. Liefde het Filemon reeds aangespoor om sy huis oop te stel vir gebruik as ’n Christelike vergaderplek. Filemon se slaaf Onesimus het weggeloop en heel waarskynlik die geld gesteel om vir sy reis na Rome te betaal, waar hy Paulus later ontmoet het en die Christelike geloof aangeneem het.

Terwyl hy omstreeks 60-61 G.J. in Rome in die gevangenis was, het Paulus ’n brief hoofsaaklik aan Filemon geskryf. Daarin het hy Filemon gesmeek om Onesimus wat na hom toe teruggekeer het in ’n gees van broederlike liefde te ontvang. Lees hierdie brief, en jy sal sien dat dit ’n voortreflike voorbeeld van toegeneentheid en takt is—’n voorbeeld wat Jehovah se volk gerus kan navolg.

Sy liefde en geloof word geprys

In sy openingswoorde aan Filemon en die ander prys Paulus hom eers (verse 1-7). Die apostel hoor voortdurend van die liefde wat Filemon vir Christus en al die heiliges het en van sy geloof. Dit maak dat Paulus Jehovah dank en dit verskaf hom groot blydskap en troos. Prys ons medegelowiges wat voorbeeldig in liefde en geloof is? Ons behoort dit te doen.

Vermaning wat op liefde gegrond is, is altyd gewens wanneer ons met mede-Christene te doen het, soos Paulus se woorde toon (verse 8-14, vgl. NW). Na sy taktvolle inleiding sê die apostel dat hy Filemon kan beveel “om te doen wat reg is”, maar dat hy hom liewer wil vermaan. Om wat te doen? Om die slaaf Onesimus vriendelik terug te ontvang! Paulus wou graag die nuttige diens van Onesimus behou, maar wou dit nie doen sonder Filemon se toestemming nie.

Oënskynlik ongunstige gebeurtenisse het dikwels iets goeds tot gevolg, soos Paulus vervolgens aantoon (verse 15-21). Daar het in werklikheid iets goeds van gekom toe Onesimus weggeloop het. Waarom? Omdat Filemon hom nou kan terugkry as ’n gewillige, eerlike Christenbroer en nie as ’n onwillige, moontlik oneerlike slaaf nie. Paulus vra Filemon om Onesimus terug te verwelkom net soos hy Paulus sou verwelkom. Indien Onesimus Filemon in die een of ander opsig skade berokken het, sal die apostel daarvoor vergoed. Om Filemon nog inskikliker te maak, herinner Paulus hom daaraan dat hy dit aan die apostel te danke het dat hy ’n Christen geword het. Daarom is Paulus vol vertroue dat Filemon meer sal doen as wat hy hom vra. Watter taktvolle, liefdevolle benadering! Dít is beslis die manier waarop ons teenoor mede-Christene moet handel.

Paulus sluit sy brief af met ’n hoop wat hy koester, groete en goeie wense (verse 22-25). Hy hoop dat hy deur die gebede van ander ten behoewe van hom eerlank uit die gevangenis vrygelaat sal word. (Soos Paulus se tweede brief aan Timotheüs toon, is hierdie gebede beantwoord.) Ten slotte stuur Paulus groete en spreek die wens uit dat die onverdiende goedheid van Jesus Christus moet wees met die gees wat Filemon en sy medeaanbidders van Jehovah aan die dag lê.

[Venster/Prent op bladsy 23]

Méér as ’n slaaf: Oor die terugkeer van Filemon se slaaf Onesimus wat weggeloop het, het Paulus gesê: “Miskien is hy . . . ’n tydjie van jou geskei, dat jy hom vir altyd kan besit, nie meer as ’n slaaf nie, maar méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broeder in die vlees sowel as in die Here, veral vir my, hoeveel te meer in jou” (Filemon 15, 16). Slawerny is in die Romeinse Ryk deur die keiserlike regering gehandhaaf, en Paulus het hierdie “hoër owerhede” erken (Romeine 13:1-7, vgl. NW). Hy het nie ’n slawe-opstand voorgestaan nie, maar het hierdie mense gehelp om geestelike vryheid as Christene te verkry. In ooreenstemming met sy eie raad aan slawe om aan hulle eienaars onderdanig te wees, het Paulus Onesimus na Filemon toe teruggestuur (Kolossense 3:22-24; Titus 2:9, 10). Onesimus was nou meer as ’n wêreldse slaaf. Hy was ’n geliefde medegelowige wat in betreklike onderdanigheid aan Filemon ’n beter slaaf sou wees, een wat deur goddelike beginsels gerig sou word en wat broederlike liefde aan die dag sou lê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel