Vrae van lesers
♦ Waarom laat die “New World Translation” en sekere ander vertalings die sinsnede “wat in die hemel is” uit Johannes 3:13 weg?
ln ouer vertalings van die Bybel lui Johannes 3:13 soos volg: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Afrikaanse Bybel, vetdruk ons s’n). Maar dit is ’n omstrede kwessie of Jesus werklik die sinsnede in vet letters geuiter het.
Volgens die verband het Jesus verduidelik dat dit vir die Joodse owerste Nikodemus moeilik was om hemelse dinge te begryp. Maar Jesus self het hierdie dinge begryp omdat hy uit die hemel gekom het. Meen jy dat dit redelik is dat Jesus toe sou gesê het dat hy ‘in die hemel is’?
Persone wat glo dat Jesus deel van ’n drie-enige God was, beweer dat hierdie sinsnede hier pas en bloot Jesus se twee nature, menslik en goddelik, weerspieël. Dit sou impliseer dat Jesus steeds deel van ’n hemelse godheid was terwyl hy ’n man op aarde was. En persone wat so ’n mening huldig, wys dalk op sekere antieke manuskripte of vroeë weergawes wat daardie woorde insluit, as die grondslag om dit ook by nuwer vertalings in te sluit.
Maar talle antieke Griekse manuskripte sluit nie hierdie sinsnede in nie. Hierdie manuskripte sluit die gesaghebbende Sinaïtiese Manuskrip en die Vatikaanse Manuskrip Nr. 1209 in wat albei uit die vierde eeu dateer. Die verdagte woorde is gevolglik deur geleerdes B. F. Westcott en F. J. A. Hort verwerp tydens die voorbereiding van hulle Griekse meesterteks, waarop die “New World Translation of the Christian Greek Scriptures” gebaseer is. Die woorde word ook weggelaat uit “The Greek New Testament” (3de uitgawe, 1975) deur die Verenigde Bybelgenootskap. Waar dr. Bruce M. Metzger hieroor kommentaar lewer, skryf hy: “Beïndruk deur die gehalte van die uitwendige getuienis wat die korter lesing [wat die sinsnede weglaat] steun, beskou die meeste lede van die Komitee die woorde [“wat in die hemel is”] as ’n verklarende glos wat ’n latere Christologiese verwikkeling weerspieël.” Dit wil sê, die woorde is klaarblyklik later deur ’n afskrywer bygevoeg, moontlik nadat die leer oor ’n drie-enige god van nie-Christelike gelowe oorgeneem is.
Dit is dus met goeie rede dat talle moderne vertalings van die Bybel die woorde weglaat of in ’n voetnoot plaas. Voorbeelde hiervan is: Die 1979-vertallng van “Die Nuwe Testament en die Psalms”, “Today’s English Version”, “The Riverside New Testament”, “New American Standard Version” en “Revised Standard Version”, sowel as die vertalings deur James Moffatt, Edgar J. Goodspeed, R. A. Knox en J. B. Phillips.
♦ Het Paulus die Jode of die nie-Jode in gedagte gehad toe hy in Romeine 1:25 gesê het dat party “die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper”?
Hierdie beskrywing kan vir Jode sowel as nie-Jode geld, want albei het hulle hieraan skuldig gemaak. Maar die apostel Paulus se argument in Romeine hoofstuk 1 het veral oor afvallige Israel van die ou tyd gehandel.
Die skepping getuig oorvloedig van die bestaan van ’n almagtige God en Skepper. Selfs nie-Jode sou geen verskoning hê om beelde van diere te aanbid nie, maar God het spesifiek die Israeliete gewaarsku om nie afgodediens te beoefen nie, en gevolglik was hulle nog meer onverskoonbaar.—Romeine 1:18-23; Deuteronomium 4:15-19; 5:8, 9.
Die Israeliete het nietemin dikwels die waarheid wat hulle omtrent God geweet het, geïgnoreer en “die skepsel . . . bo die Skepper” aanbid (Romeine 1:24, 25). Hulle het byvoorbeeld gesondig met die godin Astarte (wat afgebeeld is as ’n naakte vrou met oordrewe geslagsorgane) en met goue kalwers (1 Konings 11:5, 33; 12:26-28; 2 Konings 10:28, 29). Dit het selfs aanleiding gegee tot verdorwe geslagsgebruike en goddelose gesindhede. Hierdie afvallige Israeliete wat “die verordening van God” oor sulke sondes geken het, was klaarblyklik laakbaar en moes geloof in Christus se losprys beoefen.—Romeine 1:26-32.