Sendelinge wat Christus se opdrag uitvoer
KORT voor sy hemelvaart het Jesus ’n opdrag aan sy volgelinge gegee. Hy het gese: “Gaan dan heen, maak dissiples van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
Jehovah se Getuies is terdeë bewus van daardie opdrag. In 1943 het hulle dus die Wagtoring-Bybelskool Gilead geopen om sendelinge op te lei sodat hulle rondom die wêreld die voortou in die dissipelmaakwerk kon neem. Hierdie skool het ’n kardinale rol in die hedendaagse vervulling van Jesus se woorde gespeel.
Gileadskool is in die Verenigde State van Amerika geleë, en die kursusse word in Engels aangebied. Andertalige Getuies moes Engels leer om die skool by te woon en sendelinge te word, en hulle het dit met genoeë gedoen. In September 1981 was Duitssprekende Christene egter verheug om te hoor dat ’n Gilead-Uitbreidingskool in Wiesbaden, Duitsland, geopen is, en dat dit die Gilead-kursus in Duits sal aanbied.
Twee klasse het reeds aan hierdie Uitbreidingskool gegradueer. Was dit suksesvol? Inderdaad, te oordeel na die geluk en geesdrif tydens die gradeplegtigheid van die tweede klas, wat op 25 April 1982 plaasgevind het.
Geesdriftige nuwe sendelinge
Die drie-en-twintig studente van hierdie tweede Duitse klas het uit Luxemburg, Switserland, Nederland en Duitsland gekom. Hulle het toewysings in Brasilië, Ecuador, Colombia, Paraguay, Suriname en Zaïre ontvang. Hulle het hulle waardering vir hierdie Uitbreidingskool in ’n brief uitgespreek. “Dit het ons in staat gestel om al ons aandag te wy aan die geestelike voedsel wat aangebied is”, het hulle gesê, “in plaas daarvan om met taalprobleme te worstel.”
Die 1 140 aanwesiges, sowel as die studente self, is bewus van die feit dat Jesus se groot opdrag om dissipels te maak, nog steeds geld. En die studente wou nou ’n groter aandeel daarin hê. Een egpaar het gesê: “Ons aanvaar ons toewysing in Brasilië met dankbare harte en hoop om alles wat ons hier geleer het toe te pas.”
Voordat hulle na hulle toewysings vertrek het, het die studente goeie afskeidsraad ontvang van sprekers met baie ondervinding in die Christelike bediening. Een van hulle was Werner Rudtke wie se kommentare gebaseer was op Paulus se woorde aan die Kolossense: “Verdra mekaar” (Kolossense 3:13). Egon Peter, ’n gegradueerde wat Gilead-Skool in 1952 bygewoon het, het verwys na die toetse wat hulle gedurende die kursus afgelê het en hulle herinner aan die belangrike toets waaraan God hulle onderwerp.—Psalm 7:10.
Een van hulle instrukteurs, Dietrich Forster, het hulle gewaarsku dat hulle moontlik teëstand in hulle buitelandse toewysings sou ondervind. Hulle moes egter nooit tot die vlak van die teëstanders daal nie, maar ‘die kwaad deur die goeie oorwin’ (Romeine 12:9-21). Lothar Kaemner, nog ’n instrukteur en eertydse sendeling in Venezuela, het die studente daaraan herinner dat hulle nie hulle opdrag uit die oog moet verloor nie. “Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie”, het die apostel Paulus gesê (2 Timotheüs 2:4). Christensendelinge moet net so toegewyd wees.
Party van die valse Christendom se verteenwoordigers het die benaming “sendeling” in ’n slegte lig gestel weens hulle politieke inmenging of ander verkeerde gedrag. Ander, wat in skole en hospitale werk, lewer ongetwyfeld dienste. Maar hulle voer nie Christus se opdrag uit nie. Toegewyde Christene is dankbaar dat die Wagtoring-Bybelskool Gilead sendelinge oplei en uitstuur met die uitsluitlike doel om dissipels te maak en die Bybel te verkondig. En die gegradueerdes van die tweede klas van die Gilead-Uitbreidingskool in Duitsland is bly dat hulle die voorsienings van daardie geskiedkundige skool in hulle eie taal kon geniet. Nou sal hulle ware Christensendelinge wees.