Wanneer die dooies weer sal lewe!
“Jesus se vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—JOHANNES 11:25, 26.
1. (a) Wat sou dit van enigiemand op aarde verg om daarop aanspraak te maak dat hy “die opstanding en die lewe” is? (b) Op watter grondslag kan die aanspraakmaker dit wees?
DIT sou beslis groot vrymoedigheid van enige mens verg om die bewering te maak: “Ek is die opstanding en die lewe.” Maar dit is presies wat die geskiedkundige figuur. Jesus Christus, meer as 19 eeue gelede van homself gesê het. Een van sy apostels, Johannes, het hom dit hoor sê en dit tot ons voordeel opgeteken (Johannes 11:25). Jesus het bedoel dat hy dit vir die dooie en sterwende en reeds begraafde mensdom is. Hy het natuurlik self ’n wrede dood aan ’n folterpaal buitekant die mure van Jerusalem gesterf en daarom moes sy Vader, Jehovah God, weer vir Hom “die opstanding en die lewe” word. Op die derde dag na Jesus se dood het die almagtige God hom opgewek en hom met onsterflikheid in die geesteryk beklee. Deur homself wonderdadig te beklee met ’n vleeslike liggaam soos dié wat hy voor sy dood gehad het, het Jesus hom geopenbaar aan sy beangste dissipels, by een geleentheid aan meer as 500 (1 Korinthiërs, hoofstuk 15). Sodoende kon hy inderdaad die opstanding en die lewe word vir die mensdom vir wie hy gesterf het.
2. Waarom kan niemand vandag Jesus Christus se opstanding as bogpraatjies van die eerste eeu G.J. afmaak nie?
2 Niemand kan vandag hierdie gestaafde opwekking van die tereggestelde Jesus Christus weglag en afmaak as bogpraatjies wat in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling wyd en syd versprei is nie. Met die uitsondering van die geneesheer Lukas, wat die Bybelboeke Lukas en Handelinge van die Apostels geskryf het, was al die skrywers van die 25 ander boeke van die sogenaamde Nuwe Testament ooggetuies van die verrese Seun van God. Een van die vernaamste getuies was ’n voormalige vervolger van Christene, Saulus van die stad Tarsus, wat die Christenapostel Paulus geword het en wat 14 boeke van die “Nuwe Testament” in die gewone Grieks van daardie dag geskryf het.
3, 4. Wat het die apostel Paulus op Marsheuwel vir die Atheners gesê omtrent God se oordeelsdag en die opstanding?
3 Eenkeer, toe Paulus in die hoogs ontwikkelde, hoogs intellektuele stad Athene, Griekeland se vernaamste stad, was, is hy voor die regters van die Hooggeregshof op Marsheuwel, of die Areopagus, gebring.
4 Paulus het daardie vergadering van intellektuele persone op Marsheuwel met die nodige respek toegespreek. Toe Paulus sy getuienis en sy verdediging tot ’n wonderlike hoogtepunt gevoer het, was dit nie om sy wêreldwyse gehoor se hoë geleerdheid te verkleineer nie:
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”—Handelinge 17:30, 31.
5. Hoe het die lede van daardie Atheense gehoor gereageer, en oor wie ontstaan daar gevolglik ’n vraag?
5 Wat het daardie Grieke, wat aan die onsterflikheid van die mensesiel geglo het, gedink van daardie merkwaardige leerstelling oor die opstanding van die dode? “Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.” Hulle het nog steeds gemeen dat hy “’n verkondiger is van vreemde gode”. Dionisius, ’n Areopagitiese regter, kon egter verstaan wat Paulus oor ’n komende oordeelsdag vir die hele mensdom gesê het, en hy het dit ter harte geneem. ’n Vrou met die naam van Damaris het dit ook gedoen (Handelinge 17:18, 32-34). Maar wat van ons in hierdie hoogs gevorderde, wetenskaplike eeu? Dit is geen grap nie!
6. Was Jesus se opstanding die eerste geval waar dooie mense opgewek is, en watter moontlikheid bestaan daar vir diegene wat Jesus nog gaan opwek?
6 Jesus Christus se opstanding was natuurlik nie die eerste geval waar dooie mense weer as intelligente wesens opgewek is nie. Die Bybel vertel van vorige gevalle, onder meer dié van Lasarus, wat deur Jesus self opgewek is vier dae nadat hy gesterf het en in ’n graf geplaas is (Johannes 11:1-44). Maar Jesus se opstanding was die allerbelangrikste vir die hele mensdom. Hy het nie soos die ander weer gesterf nie; maar nou, in sy verrese, onsterflike toestand, kan hy “die opstanding en die lewe” vir mense wees sodat hulle ononderbroke vir ewig in volmaaktheid kan lewe, vry van die veroordeling van die dood en onder God se universele soewereiniteit.
7, 8. (a) Hoe staaf Adam en Metusalag se ouderdomme dat dit vir volmaakte mense moontlik is om vir ewig te lewe? (b) Hoe lank word Melgisedek se lewe beskou, en wat toon dit ten opsigte van die lewe van die een wat hy afgebeeld het?
7 Die moontlikheid van ewige menslike lewe op aarde wanneer die gehoorsame mensdom van sonde en die dood (weens die eerste man Adam) gered is, word gestaaf deur die feit dat Adam, ondanks sy sonde teen God, 930 jaar lank geleef het—die grootste deel daarvan buitekant die volmaakte tuin van Eden. Een van sy afstammelinge, Metusalag, het 969 jaar oud geword (Genesis 5:5, 27). Metusalag het in die jaar 2370 v.G.J. gesterf, en dit was in daardie selfde jaar dat die globale Vloed van Noag se dag alle mense en diere buitekant die ark waarin Noag en sy gesin skuiling gesoek het, uitgewis het. Eeue later, in 1933 v.G.J. op sy laaste, het ’n priesterdom op die aardse toneel verskyn, naamlik die priesterdom van Melgisedek, wat die aartsvader Abraham geseën het en wat God se goedkeuring weggedra het. Sy geboorte- en sterfdatum word nie verstrek nie.
8 Sy priesteramp in Salem, waar hy koning sowel as priester was, was dus oënskynlik tydeloos (Genesis 14:18-20). Die lewensmoontlikheid van die verrese Jesus Christus word vergelyk met die van koning-priester Melgisedek, want Hebreërs 7:15-17 deel ons mee dat die verheerlikte Jesus Christus “die krag van die onvernietigbare lewe [besit]. Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek.” (Kyk ook Psalm 110:1-4.) Sedert sy hemelse verheerliking in 33 G.J. dien die onsterflike Jesus Christus dus onafgebroke as ’n Hoëpriester ten behoewe van die lede van die mensdom, vir wie hy homself as ’n volmaakte menseoffer gegee het. Hy kan gevolglik optree as ’n tweede Adam vir die sterflike mensdom. Terwyl hy mettertyd die mensedode tot aardse lewe opwek, sal dit hulle die geleentheid bied om ewige lewe in menslike volmaaktheid te kry in ’n paradys wat dwarsoor die aarde strek. Anders as die eerste Adam sal die selfopofferende Jesus Christus nie versuim om sy verantwoordelikheid na te kom teenoor die mensdom vir wie hy sy volmaakte lewensbloed uitgestort het nie.—1 Korinthiërs 15:22-45
Die dooies sal mekaar weer op aarde ontmoet
9. Hoe het God sake volgens 1 Korinthiërs 15:21 en Romeine 5:12 ten behoewe van die opstanding van die gestorwe afstammelinge van Adam en Evan gebalanseer?
9 Vir die oorgrote meerderheid van die mensdom wat op aarde gelewe het, sal die voorreg om weer op die aarde te lewe onder die beloofde Koninkryk van God in die hande van Christus afhang van ’n opstanding. Die apostel Paulus, ’n getuie van die opstanding van Jesus Christus, het soos volg getuig oor God se vermoë om sake regverdig en volmaak te balanseer: “Aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens” (1 Korinthiërs 15:21). In ooreenstemming met sy brief aan die Christene in Korinthe het Paulus in sy brief aan die Romeinse Christene geskryf: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Met die oog daarop kon Jehovah God reël dat die afstammelinge van Adam en Eva vrygekoop word deur die een man wat uit uitsondering was op die reël in Romeine 5:12.
10. Op watter grondslag kon Jesus Christus sy menselewe as ’n plaasvervanger aanbied en ’n Ewige Vader vir Adam se afstammelinge word?
10 Daardie uitsondering, was Jesus, wat deur God se toedoen wonderdadig vir die Joodse maagd Maria, die dogter van Eli van die koninklike stam van Juda, gebore is (Lukas 3:23-38). As ’n offer kon sy volmaakte menselewe die plek inneem van die volmaakte menselewe wat Adam vir al sy natuurlike afstammelinge verbeur het deur moedswillig in die tuin van Eden teen sy Skepper te sondig. Die verrese Jesus Christus kon aldus die “Ewige Vader” wees van almal wat die eerste Adam as hul sondige voorvader het. Dit berus by God se Seun om hulle Ewige Vader te word.—Jesaja 9:5.
11. Wat kan ons sedert Jesus Christus se opstanding sê oor sy vermoë om dooies op te wek, daar hy en sy apostels die dooies kon opwek toe hulle nog op aarde was?
11 Toe Jesus Christus en sy apostels mense opgewek het, het dit hulle nie bevry van die gevolge van die veroordeling van die dood wat hulle van die eerste Adam geërf het nie. Selfs Jesus se dierbare vriend Lasarus het weer gesterf en het dus die finale opstanding onder God se opgerigte Koninkryk nodig gehad. Maar dit sal geen probleem skep nie. As Jesus as volmaakte man op aarde die mag gehad het om dooie mense op te wek sodat hulle hul aardse lewe kon hervat en ten minste ’n rukkie onder hierdie teenswoordige stelsel kon voortsit, is hy mos baie beter daartoe in staat om die mensedode op God se tyd op te wek noudat hy weer ’n Geesseun van God is, nie waar nie? Ja, inderdaad! Dit is uit hoofde van al die gesag in die hemel en op aarde wat sedert sy eie opstanding en hemelvaart na sy hemelse Vader aan hom gegee is.
12. Is Jesus Christus se verwantskap aan die mensdom beëindig deur die wyse waarop hy opgewek is, en hoe sal hy die doel van sy menseoffer vervul?
12 Toe een van Christus se dissipels, die apostel Paulus, die opstanding bespreek het in sy brief aan die Christene in Korinthe, het hy gesê: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:45). Die feit dat hy die laaste Adam genoem word, toon dat hy steeds aan die mensdom verwant is. Dit maak nie saak dat hy nou ’n bomenslike gees is nie (Psalm 8:5, 6; Hebreërs 2:5-9). Gedurende die komende duisendjarige oordeelsdag sal hy die doel van sy volmaakte menseoffer vervul deur die mensedode terug te bring met die geleentheid om volmaaktheid op ’n paradysaarde te verkry en hom as hulle Ewige Vader en Vredevors te hê. So sal hy ongedaan maak wat Adam aan hulle gedoen het.
13. Wat het Jesus, voordat hy Lasarus opgewek het, vir Martha gesê oor dooie en lewende gelowiges in Hom?
13 Voordat Jesus sy boesemvriend Lasarus van Betanië opgewek het, het hy vir Martha, Lasarus se suster, gesê: “Jou broer sal opstaan.” Martha het gedink dat Jesus van iets in die verre toekoms praat én geantwoord: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” Dit was toe dat Jesus die geleentheid aangegryp het om hierdie merkwaardige verklaring te doen: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—Johannes 11:23-26.
14. (a) Wat moet ’n mens eers doen voordat jy in Jesus kan glo? (b) Wat sal plaasvind, al moet ’n persoon wat deur God deur die hemelse erfenis verkies is, sterf?
14 Om in Jesus Christus te glo, moet ’n mens lewend wees en van hom hoor of leer. Dan kan die persoon sy lewe deur Christus aan God toewy en hierdie beslissende stap deur waterdoop simboliseer. Indien die hemelse Vader van Jesus Christus verkies om hierdie toegewyde, gedoopte dissipel van sy Seun tot die hemelse erfenis saam met hom te roep, sal hy daardie persoon met sy gees verwek. Dit sou beteken dat hierdie geesverwekte dissipel eindelik as ’n mens moes sterf. Maar Jesus het gesê: “[Hyl sal lewe al het hy ook gesterwe.” In sy geval sou dit wees tot lewe as ’n verrese geesskepsel in die hemelse ryk saam met Jesus.
15. Wat sal in die opstanding die posisie wees van iemand wat die nodige geloof beoefen het en nogtans nie deur God se gees verwek is nie?
15 Maar gestel dat ’n toegewyde, gedoopte dissipel wat nie deur Jehovah God tot die hemelse erfenis saam met Christus verwek is nie vandag sou sterf, soos die geval was met baie sedert daar begin is om Christus se “ander skape” te versamel. Wat dan? (Johannes 10:16). Omdat hy geglo het in die Een wat “die opstanding en die lewe” is, sal hy reg vanaf sy aardse opstanding, waarskynlik aan die begin van die nuwe stelsel in ’n beter posisie verkeer in daardie nuwe stelsel (Hebreërs 11:35). Hy sal dan vroeg beskikbaar wees vir spesiale diensvoorregte onder die hemelse Koninkryk. Sodoende sal die opstandingshoop waarmee hy gesterf het, verwesenlik word, alles tot God se eer!
16, 17. (a) Sal persone van voorchristelike tye wat bloot uitgesien het na die koms van die “saad” van God se “vrou” opgewek word? (b) Met watter woorde het Jesus ons van hulle opstanding verseker?
16 Nie alleen diegene wat sedert Jesus Christus se eerste koms in hom geglo het, sal opgewek word nie, maar ook persone van voorchristelike tye wat met geloof in Jehovah God uitgesien het na die koms van die “saad” van sy simboliese “vrou”, wat Hy in Genesis 3:15 voorspel het. Daardie “saad” is dieselfde as wat later die ‘saad van Abraham’ genoem is (Genesis 12:1-3; Galasiërs 3:16). Sulke persone wat uitgesien het na die koms van hierdie “saad” van die Grotere Abraham, Jehovah God, het natuurlik die aartsvader Abraham en sy seun Isak en sy kleinseun Jakob of Israel ingesluit. Jesus Christus, die Saad van Abraham, het die sekerheid van hulle opstanding bevestig toe hy gesê het:
17 “Wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes” (Mattheüs 22:31, 32). “Wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? God is nie ’n God van dooies nie, maar ’n God van lewendes” (Markus 12:26, 27). “Want almal leef vir Hom” (Lukas 20:37, 38). So het Jehovah God ons indirek van die opstanding van die gestorwe mensdom verseker.
18. Van wie was God se vriend Abraham ’n sinnebeeld, met die oog op die aard van die beloofde saad?
18 God se belofte aan sy vriend Abraham was dat al die geslagte van die aarde “hulself deur sy “saad” sou “seën” (Jakobus 2:23; Genesis 12:1-3, NW; 22:15-18, NW). Aangesien daardie “saad” ’n geestelike saad geword het, was die mens Abraham ’n sinnebeeld van Jehovah God, want slegs Hy kon die Vader van die geestelike “saad”, nou die verheerlikte Christus Jesus in die hemele, word.
19. Waarvan word ons in Openbaring 20:11-14 ’n profetiese beeld gegee?
19 Ons het ’n profetiese beeld van die komende opstanding van daardie gestorwe geslagte van die aarde. Openbaring 20:11-14 beskryf dit met hierdie beeldspraak: “En ek [die apostel Johannes] het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”
20. Wat sal aan die einde van die duisendjarige oordeelsdag gebeur met mense wie se name opgeskryf is in die boek van die lewe en met diegene wie se name nie daarin opgeskryf is nie?
20 Gedurende die duisendjarige “dag” wat God “bepaal” het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, sal die verrese mensedode al die goddelike voorsienings wat vir hulle ewige redding getref is, moet benut (Handelinge 17:31). So sal hulle “hulself seën”. Wanneer hulle volmaak in die finale toets van hulle onkreukbaarheid slaag, sal hulle die beloning, die ewige lewe in ’n globale paradys, ontvang. Wat is die alternatief? “Die tweede dood”, waaruit daar geen opstanding sal wees nie (Openbaring 20:14). Dit is net soos daar in Openbaring 20:15 geskryf staan: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Kan jy onthou?
◻ Waarom kan niemand vandag Jesus Christus se opstanding as bogpraatjies afmaak nie?
◻ Op grond waarvan kon Jesus ’n Ewige Vader vir Adam se afstammelinge word?
◻ Gestel dat ’n getroue persoon wat nie deur God se gees verwek is nie sterf. Wat sal sy posisie wees wanneer hy opgewek word?
◻ Waarom gee Openbaring 20:11-14 ons ’n profetiese beeld?
[Prent op bladsy 14]
Daar sal groot vreugde heers wanneer die dooies weer lewe