Leer ken die vroeë Christene
Paulus skryf aan die Korinthiërs
DIE meeste van ons geniet dit om briewe te skryf en te ontvang. Dit is ’n goeie manier om met afgeleë vriende en dierbares in aanraking te bly. Die briewe van eerste-eeuse Christene is veral interessant. In die briewe leer ken ons die soort wêreld waarin hulle gelewe het en die druk waarmee hulle te kampe gehad het. Sulke briewe is ’n goeie manier om die vroeë Christene te leer ken.
Die twee briewe wat in ons Bybels bewaar is en wat deur die apostel Paulus aan die Christene in Korinthe, Griekeland, geskryf is, openbaar byvoorbeeld ’n interessante wêreld met ’n verskeidenheid mense en probleme. En die twee briewe help ons veral om die apostel Paulus, ’n besondere Christen wat die eerste was om die “evangelie” in baie dele van die Romeinse Ryk te verkondig, beter te leer ken.
Paulus het in die jaar 50 G.J. in Korinthe aangekom, net sewentien jaar na die dood van Jesus. In daardie dae was die stad ’n besige metropolis. Omdat dit strategies geleë was, was dit ’n ryk handelsentrum en is kleurryke mense van alle nasionaliteite daarheen gelok.
Dit was ook een van die wêreld se sportsentrums. Die Istmiese Spele, wat elke twee jaar daar gehou is, is slegs deur die Olimpiese Spele in belangrikheid oortref. En die stad was godsdienstig. Korinthe was veral bekend vir sy toewyding aan die Griekse godin Aphrodite, en vir die onsedelikheid wat met haar aanbidding gepaard gegaan het. Trouens, die Engelse uitdrukking “to Corinthianize” het beteken “om te hoereer”.
Die briewe
Paulus se predikingswerk in Korinthe het die gewone teenstand van die onversoenlike Jode uitgelok. Maar omdat hy ontvanklike harte gevind het, het hy aangebly. Toe hy ’n jaar en ’n half later daar weg is, was daar ’n goed gevestigde Christengemeente aldaar. Omtrent drie jaar later het Paulus die brief wat ons nou Eerste Korinthiërs noem, geskryf.
Waarom het die apostel die brief geskryf? Onder meer omdat die Korinthiërs vrae aan hom gestuur het wat hy moes beantwoord. Maar, nog belangriker, hy het ontstellende nuus uit Korinthe ontvang. Verdeeldheid, verkeerde leerstellings, onrein gebruike en aanmatigende mense het die geestelikheid van die jong gemeente bedreig. Paulus het dui hierdie kragtige maar hartlike brief geskryf om sake reg te stel. Het die Korinthiërs gunstig gereageer? In ’n mate, ja. Minder as ’n jaar later het hy sy tweede brief aan die Korinthiërs geskryf en hulle geprys vir hulle beter gesindheid.
Aangesien hierdie briewe geïnspireer is, is hulle nie verouderd nie. Die beginsels daarin geld nog steeds. Lees dus hierdie briewe aandagtig as jy die Christelike standaard vir die huwelik wil verstaan, asook hoe om vergaderinge vir ware aanbidding te reël, die beginsel van behoorlike Christelike hoofskap en die nodigheid vir almal om ‘verenig te wees in dieselfde gesindheid en dieselfde mening’ (1 Korinthiërs 1:10). Die eerste brief is ook beroemd vir sy pragtige beskrywing van liefde en sy meesterlike uiteensetting en verdediging van die opstandingshoop (1 Korinthiërs, hoofstukke 13 en 15). Maar soos reeds gemeld is, help hierdie briewe ons ook om die vroeë Christene beter te leer ken.
Die mense
Watter soort mense was die Christene in Korinthe? Party het ’n Joodse agtergrond gehad. So was daar Krispus, wat die hoof van die Joodse sinagoge was toe Paulus in Korinthe aangekom het (Handelinge 18:8). Daar was ook nie-Jode, waarvan party hulle vantevore oorgegee het aan die berugte Korinthiese onsedelikheid.— 1 Korinthiërs 6:9-11.
’n Klompie slawe het klaarblyklik Christene geword. So ook ’n paar weduwees en ongetroudes, asook getroudes wie se huweliksmaats nie die evangelie aangeneem het nie (1 Korinthiërs 7:12-40). Met ander woorde, as ons die tydsverskil en die verskil in kulturele agtergrond buite rekening laat, lyk dit nie of die Christengemeente in Korinthe baie verskil het van talle hedendaagse gemeentes in groot stede nie.
Die gelowiges in Korinthe was egter oor die algemeen nuut in die Christelike geloof, en dit het probleme geskep. Hulle het toegelaat dat een man ’n lid van die gemeente bly ondanks die feit dat hy ’n bloedskendige verhouding met sy stiefmoeder gehad het. Hulle het moontlik gedink dat Christelike vryheid so iets toelaat. En in plaas daarvan om verenig te wees, was hulle onderling verdeeld en het hulle mense in plaas van Jesus Christus gevolg. Verkeerde gesindhede was te bespeur in die wyse waarop hulle die Here se Aandmaal gevier het. Party van hulle was selfs besope by daardie geleentheid!—1 Korinthiërs, hoofstukke 1, 5 en 11.
Daarbenewens het sekere gelowiges in Korinthe mede-Christene hof toe gesleep. Ander, moontlik onder die invloed van Griekse filosofie, het geleer dat daar nie iets soos ’n opstanding is nie. En party was trots, “opgeblase”, en het klaarblyklik gedink dat hulle in die. een of ander opsig beter as die res van die gemeente was.—1 Korinthiërs 4:18; 3:18; 6:1-8; 15:12.
Klink dit na baie probleme? Wel, daar was. Maar, onthou, Paulus het slegs vyf jaar tevore in Korinthe begin preek. Jehovah God het weliswaar spesiale gawes van die gees gegee om die gemeente te versterk, maar die Korinthiërs het meer belanggestel in talespraak, ’n dramatiese teken aan nie-Christene, maar een met weinig waarde om die gemeente op te bou. Paulus het hulle dus aangespoor om die gawe van profesie aan te kweek, wat meer sou doen om hulle geestelik te versterk.—1 Korinthiërs 14:1-12.
Die meeste Christene in Korinthe se beweegredes was nie sleg nie. Hulle het vrae aan Paulus gestuur. Hulle wou dus klaarblyklik weet hoe om dinge reg te doen. En Paulus het hulle geprys: “Ek prys julle, broeders, dat julle ln alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het” (1 Korinthiërs 11:2). En toe hy reguit raad gegee het, lyk dit of die meeste geredelik gereageer het, want hulle was ‘op godvrugtige wyse bedroef’ (2 Korinthiërs 7:11, NW). Maar party het voortgegaan om hulle teen Paulus se gesag te verset.—2 Korinthiërs 10:10; 11:4-6.
Die goeie voorbeelde
Deur albei boeke heen lees ons van verskeie individue. Paulus meld ene Sosthenes, wat moontlik ’n vooraanstaande Jood in Korinthe was voordat hy ’n Christen geword het (1 Korinthiërs 1:1; Handelinge 18:17). Die huisgenote van Chloë, ook Korinthiërs, het vir Paulus vertel van die slegte situasie wat in die gemeente aan die ontwikkel was. Watter puik voorbeeld tog van persone wat moedig gedoen het wat reg is! (1 Korinthiërs 1:11). Die huisgesin van Stefanas, die eerste Christene aldaar, het hulle tot diens van die heiliges gestel—’n goeie voorbeeld van gasvryheid. Saam met Fortunatus en Achaïcus word Stefanas deur Paulus by die Korinthiërs aanbeveel. “Erken sulke manne”, het hy gesê.—1 Korinthiërs 16:18, 15, 17.
Dan was daar Apollos, ’n vaardige en oorredende spreker. Paulus het hom versoek om Korinthe te besoek, maar hy wou dit nie op daardie tydstip doen nie. Hy het moontlik ander verpligtinge gehad of wou dalk nie die sektariese gees wat in sy naam ontstaan het, verder in die hand werk nie (1 Korinthiërs 16:12). Getroue Titus, wat Paulus later in Kreta sou verteenwoordig, het hom nou in Korinthe verteenwoordig en het goeie nuus oor hulle veranderde gesindheid gebring (Titus 1:5; 2 Korinthiërs 7:14, 15; 12:18). Die besondere jongman Timotheüs was ook daar. Hy het gehelp met die aanvanklike evangelisasiewerk in Korinthe, en Paulus het gehoop dat Timotheüs gou weer soontoe sou terugkeer (1 Korinthiërs 4:17; 16:10). Ja, die Christengemeenskap wat ons deur hierdie briewe leer ken, was ’n besige, ’n organisasie wat bestaan het uit regte mense wat God en mekaar wou dien.
Die apostel Paulus
En die apostel Paulus was die besigste van almal. Ons vind dat hy “in swakheid en in vrees en in veel bewing” vir die Korinthiërs preek, baie anders as die onverbiddelike fanatikus wat baie meen hy was (1 Korinthiërs 2:3). Ondanks hulle ernstige probleme neem ons Paulus se liefde vir die Korinthiërs waar. Hy het hulle geprys waar hy kon en sy vreugde uitgespreek toe hy gehoor het hoe goed hulle sy reguit raad ontvang het.—1 Korinthiërs 4:14; 11:2; 2 Korinthiërs 7:8-13.
Ons harte gaan uit tot Paulus wanneer ons lees van sy ontberings in die bediening—die slae, die lang reise, die gevare, asook ’n “doring in die vlees”, moontlik ’n ernstige oogkwaal (2 Korinthiërs 12:7-10; 11:21-27). “Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis”, sê Paulus, “die sorg vir al die gemeentes” (2 Korinthiërs 11:28). Talle Christen-ouere manne sal ongetwyfeld met hom simpatiseer.
Maar Paulus het nie gekla nie. Hy het hierdie dinge bloot gemeld om sy gesag teen die “uitnemende apostels” te verdedig (2 Korinthiërs 12:11-13). Hy was inderdaad bly dat hy sulke ontberings kon verduur, aangesien dit duidelik getoon het dat hy in God se krag gedien het, nie in sy eie nie (2 Korinthiërs 12:9, 10). Hy is dus ’n goeie voorbeeld van geloof in aksie.
Paulus het aan die Korinthiërs gesê: “Ek vermaan julle dan, word my navolgers” (1 Korinthiërs 4:16). Selfs vandag nog kan ons gerus ag slaan op hierdie aansporing. Maar om Paulus na te volg, moet ons hom leer ken—sy getroue handelwyse, sy gevoelens en gesindhede, en sy toegewydheid aan God. ’n Goeie manier om dit te doen, is deur die twee briewe te lees wat hy aan die Christene in Korinthe geskryf het. Begin gerus sommer nou.