Vrae van lesers
♦ Selfs as ’n baba was Jesus volmaak; waarom sê party Bybels dan in Lukas 2:22-24 dat Maria hom na Jerusalem geneem het ‘toe die reinigingstyd soos deur die wet bepaal, vir hulle verby was’?
Dit was nie vir Jesus nodig om gereinig te word nie, want hy is as ’n volmaakte menseseun van God gebore (Hebreërs 7:26; 1 Petrus 1:19; 2:22). Hy sal dus nie ingesluit wees in die “hulle” in Lukas 2:22-24 (NTP), wat lui nie: “Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom [klein Jesus] na Jerusalem toe gebring om Hom voor die Here te stel. ln die wet van die Here staan immers geskrywe: ‘Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.’ Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik ‘’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe’.”
Josef en Maria wou tereg voldoen aan die vereistes van die wet in verband met die geboorte van ’n kind. Een vereiste was dat ’n eersgebore seun by die tempel aan God voorgestel en deur ’n betaling vrygekoop moes word; Maria en Josef is na Jerusalem om dit te doen (Numeri 18:15, 16). Nog ’n vereiste, wat beklemtoon het dat die mensdom sondig is en onvolmaaktheid deur geboorte oorgedra het, het vereis dat ’n vrou gereinig moes word nadat sy die lewe aan ’n kind geskenk het. As haar kind ’n seun was, was sy 40 dae onrein, en 80 dae in die geval van ’n dogter. Reinigingsoffers is aan die einde van die reinigingstyd gebring (Levitikus 12:1-8). Op Maria en Josef se reis na Jerusalem sou hulle ook aan hierdie vereiste voldoen.
Lukas 2:22 het egter vrae laat ontstaan omdat dit praat van “die reinigingstyd . . . vir hulle”. Wie is die “hulle”? Party manuskripte bevat die Griekse woord vir “haar” asof die teks slegs van Maria se reiniging praat. Hierdie tekswysiging is klaarblyklik aangebring deur afskrywers wat dronkgeslaan is deur die lesing “hulle”. Maar “hulle” word nou as die regte lesing aanvaar, want dit word deur die beste antieke manuskripte gesteun. Na wie verwys “hulle” dan?
Soos reeds gemeld, kon dit nie Jesus ingesluit het nie, want hy het nie reiniging nodig gehad nie. Party geleerdes voer egter aan dat Jesus ingesluit is omdat hy op dieselfde reis na die tempel “losgekoop” is. Hierdie bewering hou egter nie steek nie, want die ‘reiniging’ en die ‘loskoping’ was twee verskillende vereistes van die Wet. Josef was heel waarskynlik by die “hulle” ingesluit.
Die vers sê onder meer dat “hulle Hom [Jesus] na Jerusalem toe gebring” het. Dit verwys na Josef en Maria. En hoewel die reinigingsritus uitsluitlik op die moeder van toepassing was, het Josef die reis gereël en was hy as gesinshoof daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die offerande gebring word. Dit was moontlik om sulke redes dat Lukas Maria se man (Jesus se stiefvader) by die “hulle” ingesluit het. Lukas 2:22 kan dus soos volg verstaan word: ‘Na afloop van die reinigingstyd het Maria en haar man, wat verplig was om toe te sien dat die Wet gehou word, Jesus na Jerusalem gebring om hom aan Jehovah voor te stel.’
♦ Waarom verskil die vertaling van Spreuke 11:16 in die Afrikaanse Bybel van dié van party ander vertalings, en hoe moet ons hierdie vers verstaan?
ln die Afrikaanse Bybel lui Spreuke 11:16: “’n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom.”
Dit is ’n noukeurige vertaling van hierdie vers soos dit bewaar is in die Hebreeuse Masoretiese teks, en talle ander hedendaagse vertalings gee dit op soortgelyke wyse weer.—New World Translation, Revised Standard Version, The Jerusalem Bible, Moffatt, Darby.
Maar omdat party Bybelvertalers dit moeilik gevind het om hierdie vers te verstaan, het hulle probeer om dit duideliker te stel. Hulle het dit gedoen op die patroon van die Septuaginta, ’n vroeë vertaling uit Hebreeus in Grieks. ln die volgende aanhaling uit daardie vertaling toon ons die gedeelte wat nie in die Hebreeuse teks voorkom nie in vet druk:
“’n Aanvallige vrou verkry eer vir haar man: maar ’n vrou wat geregtigheid haat, is ’n skandvlek. Die luiaards sal arm word: maar die vlytiges [voetnoot, “dapperes”] onderhou hulself met rykdom.”—Spreuke 11:16, Bagster se Septuaginta.
Today’s English Version en die Katolieke New American Bible is twee onlangse Engelse vertalings wat die vers op hierdie wyse verleng. Die Duitse Göttinger Bibelwerk doen dit ook, maar sê: “Die Griekse vertaling waardeur ons ons laat lei het, het twee reëls bygevoeg en sodoende twee onderskeie en aparte spreuke gemaak, wat albei ’n duidelik gedagte oordra; of hulle met die oorspronklike teks ooreenstem, is egter steeds twyfelagtig.”—Deel 16, bladsy 51.
Maar dit is nie nodig om ’n ‘twyfelagtige’ vertaling te volg nie. ’n Mens kan hierdie vers verstaan aan die hand van die Hebreeuse teks, soos die Biblia Hebraica van Rudolf Kittel waarop die New World Translation gebaseer is. Hierdie vers tref ’n onderskeid tussen die duursame eer wat ’n vroom vrou kan verkry en die kortstondige rykdom wat ’n geweldenaar verkry.
Die Bybel toon dat wysheid, oorleg en die regte gebruik van die tong ’n persoon se waarde en aanvalligheid vergroot (Spreuke 3:21, 22; 4:7-9; 22:11; Psalm 45:2, 3). Dit kan beslis waar wees van ’n vrou, soos ons kan sien in die geval van Abigail, die vrou van dwase Nabal. Alhoewel Abigail ‘’n goeie verstand gehad het en mooi van aansien was’, het Dawid haar veral vir haar “verstandigheid” geprys.—1 Samuel 25:3, 33.
Enige vroom vrou wat ware aanvalligheid verkry as gevolg van wysheid, verstandigheid en die verstandige gebruik van haar tong, sal “eer” ontvang. Sy sal “eer” in die oë van haar man verkry indien sy getroud is, en ander sal goed praat van haar. Dit stel die hele gesin in ’n goeie lig en bring vir almal “eer”. Haar eer hoef ook nie van korte duur te wees nie. Spreuke 22:1 sê: “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.” Die goeie naam van ’n ware aanbidder het permanente waarde in die oë van ons God en Lewegewer.—Kyk Handelinge 9:36-39.
Vergelyk dit met die situasie van ’n geweldenaar, soos die spreuk doen. Die Skrif klassifiseer geweldenaars met ‘goddelose mense’ en ‘teenstanders’ van diegene wat Jehovah God aanbid (Job 6:23; 27:13). Geweldenaars “stel God nie voor hul oë nie” (Psalm 54:5). Deur onskuldiges te verdruk en uit te buit, kan so ’n man “silwer ophoop soos stof”. Maar hy kan te eniger tyd gaan lê en nie weer opstaan nie. Of enige dag waarop hy sy oë oopmaak, kan sy laaste wees. Dan sal al sy rykdom en prestasies niks beteken nie.—Job 27:16, 19; vergelyk Lukas 12:16-21.
Hoewel ’n geweldenaar rykdom verkry het en daarop vertrou, is sy vertroue misplaas. Later in dieselfde hoofstuk van Spreuke lees ons: “Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val.”—Spreuke 11:28.
Spreuke 11:16 moet dus vir ons ’n belangrike les leer. Die geweldenaar se rykdom, wat skynbaar in hierdie wêreld ’n teken van sukses is, het geen blywende waarde by God nie. Maar dit is moontlik om Sy goedkeuring weg te dra. Die “eer” wat verkry word deur diegene wat God vrees—goed toegelig deur Christinne—kan ewige seëninge meebring.—1 Petrus 3:1-6.