‘Stry kragtig vir die geloof’
“Geliefdes, . . . ek [het] die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”—Judas 3.
1. Wat is ’n paar faktore wat Satan nuttig kan gebruik in sy tevergeefse poging om die ware Christelike godsdiens te vernietig?
JEHOVAH se knegte moet ’n verbete stryd vir die ware geloof voer. Hulle teenstander, die Duiwel, probeer om hulle kosbare verhouding met Jehovah God deur Jesus Christus deur middel van regstreekse vervolging en subtiele “listige aanslae” te vernietig (Efesiërs 6:11, NTP; 1 Petrus 5:8). In sy tevergeefse poging om die ware Christelike godsdiens uit te wis, het Satan soms probeer om dit te ondermyn. Die potensieel verderflike faktore wat geskik is vir daardie doel, sluit die volgende in: (1) valse leerstellings; (2) losbandigheid; (3) ongelowigheid; (4) minagting vir gesag wat deur God daargestel is; (5) murmurering en klagtes; en (6) die bewondering van persoonlikhede vir selfsugtige voordeel.
2. Watter besonderhede word hier omtrent Judas se brief verstrek?
2 Jehovah voorsien presies wat geestelik nodig is om sy knegte te beskerm en die Aartsbedrieër deeglik te beveg (Jesaja 59:1). Een van daardie voorsienings is die goddelik geïnspireerde brief van Judas. Die dissipel Judas het dit waarskynlik voor 66 G.J. in Palestina geskryf, want hy meld nòg Cestius Gallus se beleëring van Jerusalem in daardie jaar nòg die verowering van die stad deur die Romeine onder Titus in 70 G.J.a
3. Hoe kan Judas se geïnspireerde brief vandag baie waardevol wees?
3 Alhoewel die brief van Judas eeue gelede geskryf is, is dit vandag vir ons baie waardevol. Christenopsieners wat deur die gees aangestel is, kan en behoort dit te gebruik as ’n grondslag wanneer hulle raadgee. Daarbenewens kan dit ons persoonlik help as ons hierdie brief biddend en nederig bestudeer. Dit is veral die geval as ons bewus raak van toenemende gevaar as gevolg van valse leerstellings of verlokkings tot onsedelikheid, as ons besef dat ons geloof afneem, of as ons ’n toenemende neiging in ons hart bespeur om Godgegewe gesag te ignoreer, om te murmureer en te kla of om sekere individue vir ons eie selfsugtige voordeel te vlei. Terwyl ons hierdie geïnspireerde brief vers vir vers bestudeer, sal ons ongetwyfeld geredelik sien hoe om die duursame raad daarvan persoonlik en as ’n gemeente toe te pas.
’n Bede om meer barmhartigheid, vrede en liefde
4. Hoe het Judas homself geïdentifiseer, en wat beteken dit?
4 Judas het sy brief ingelei met hierdie woorde:
“Judas, ’n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is” (Judas 1).
As “’n dienskneg van Jesus Christus” was Judas nie in ’n vernederende, willose knegskap nie. Hierdie ‘slawerny’ was eerder gebaseer op die feit dat Jesus se volgelinge met sy kosbare bloed gekoop is vir sy aangename diens, met die ewige lewe in die vooruitsig. Hulle is deur Jesus se liefde gevange geneem en het hulle gewillig aan hom onderwerp. (Mattheüs 11:29, 30; vergelyk Efesiërs 5:21-33.) Judas het gesê dat hy ’n “dienskneg” van Christus is, maar ’n “broer van Jakobus” klaarblyklik die Jakobus wat een van die geestelike “pilare” van die gemeente in Jerusalem en “die broer van die Here” was. (Galasiërs 2:9; 1:19; vergelyk Handelinge 12:17; 15:13-21.) Judas was dus klaarblyklik ’n vleeslike halfbroer van Jesus, maar hy was nederig en het nie probeer om aansien te verkry op grond van sy verwantskap aan die Seun van God nie.—Markus 6:3.
5. (a) Wie is “die wat geroep” is? (b) Hoe is die ‘geroepenes’ “vir Jesus Christus bewaar”? (c) Vir wie benewens die ‘geroepenes’ is Judas se brief bemoedigend?
5 Judas se brief is geskryf vir ’n wye leserskring. Dit is gestuur “aan die wat geroep” is, dit wil sê, aan diegene wat deur God geroep is tot die glorieryke hemelse koninkryk van sy Seun. (Johannes 6:44; vergelyk Handelinge 16:14.) Jehovah het hierdie ‘geroepenes’ liefgehad, en dit het hom behaag om aan hulle die koninkryk te gee mits hulle persoonlik in ’n geestelik aanneemlike toestand gebly het. (Lukas 12:32; Romeine 8:38, 39; vergelyk Jesaja 52:11.) Hulle is “vir Jesus Christus bewaar” in die sin dat Jehovah God hulle beskerm het omdat hulle in eenheid met sy Seun was daar hulle lede van sy liggaam was. As hulle getrou gebly het, sou hulle saam met Jesus in sy koninkryk regeer (Efesiërs 4:15, 16; 2 Timotheüs 1:12; 1 Petrus 1:3-5). Maar die goeie raad van hierdie brief is nie beperk tot sulke ‘geroepenes’ nie. Dit kan ook baie bemoedigend wees vir die “groot menigte” ander lojale persone wat die koninkryk vandag saam met Christus se geestelike “broeders” dien.—Mattheüs 24:14; 25:34-40; Openbaring 7:4, 9, 15.
6. Hoe is God se barmhartigheid aan Judas se mede-aanbidders bewys?
6 Toe het Judas hierdie hartgrondige begeerte uitgespreek:
“Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!” (Judas 2).
Diegene aan wie Judas se brief gerig was, het reeds goddelike barmhartigheid, vrede en liefde ontvang toe hulle toegewyde gelowiges geword en Jehovah se vergifnis vir hulle sondes deur Jesus Christus ontvang het. God se barmhartigheid is bewys in die losprys wat hy deur Jesus voorsien het (Titus 3:4-7). Nog ’n blyk van God se barmhartigheid was die feit dat hulle nie in slawerny aan die Mosaïese wet, aan onskriftuurlike tradisies, aan God-onterende gedrag en dies meer was nie. (Romeine 7:4; Galasiërs 5:13; 1 Petrus 1:18, 19; vergelyk Openbaring 18:1-5.) Jehovah het verder barmhartigheid betoon toe hy hulle vir Jesus Christus bewaar het dat hulle as sy diensknegte kon dien, soos wanneer hulle die “evangelie” verkondig het (Markus 13:10). Judas se bede was dat sy mede-aanbidders meer goddelike barmhartigheid moes geniet.
7. Waarom en hoe ervaar Christene vrede?
7 Judas het ook gebid dat sy medegelowiges meer vrede moes geniet. Omdat Jehovah se Getuies onvoorwaardelik aan God toegewy is, geniet hulle vandag ’n intieme verhouding met hom. Hulle verkeer gevolglik op vreedsame voet met Jehovah en het ook “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” ’n kalmte in hulle hart en verstand wat ongelowiges nie begryp nie (Filippense 4:6, 7; Kolossense 1:19, 20). Bowendien kweek en openbaar hulle vrede, ’n vrug van God se gees, en kan hulle vrede met hul medemens najaag (Galasiërs 5:22; Hebreërs 12:14). En getroue Christene vrees ook nie die toekoms of die dood nie, maar is gerus, want hulle weet dat Jehovah met hulle is en al sy werke laat saamwerk ten goede van diegene wat hom liefhet.—Mattheüs 10:28; Romeine 8:28.
8. Hoe is Jehovah se liefde aan ons bewys?
8 Jehovah se groot liefde is daarin geopenbaar dat hy sy Seun gegee het “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Jehovah het hierdie liefde vir ons bewys terwyl ons nog sondaars was wat geen persoonlike verhouding met hom gehad het nie (Romeine 5:8). Maar met geloof in daardie losprysvoorsiening moet ons ons in God se liefde bewaar. Judas het ook gebid dat liefde vermenigvuldig moes word vir diegene aan wie hy sy brief gerig het.
9. Waarom het Judas se medegelowiges meer barmhartigheid, vrede en liefde nodig gehad?
9 Judas het gebid dat God se barmhartigheid, vrede en liefde vir sy dierbare medegelowiges vermenigvuldig moes word omdat hulle geestelike welsyn bedreig was. Hulle het dus meer van God se barmhartigheid, vrede en liefde nodig gehad as ooit tevore.
‘Stry kragtig’
10. Waaroor was Judas van plan om te skryf?
10 Judas het vervolgens die erns van die saak beklemtoon deur te sê:
“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).
Judas se gebruik van die uitdrukking “Geliefdes” het sy mede-aanbidders verseker van sy liefde ondanks sy sterk boodskap. (Johannes 13:35; vergelyk Romeine 1:7; 3 Johannes 1, 2.) Hy was van plan om vir hulle te skryf oor die “gemeenskaplike saligheid” van diegene wat tot die hemelse koninkryk “geroep” is (Galasiërs 3:26-29). Dit het in verband gestaan met die kosbare hoop op saligheid wat Christene gehad het “volgens die gemeenskaplike geloof in Judas se dag.—Titus 1:3.
11. Wat was die ‘geloof wat aan die heiliges oorgelewer is’?
11 Die ‘geloof wat aan die heiliges oorgelewer is’, was al die leerstellings in verband met Jehovah God en sy koninkryk wat deur Jesus en sy geïnspireerde dissipels aan Christene oorgelewer is. Dit was klaarblyklik “eenmaal” oorgelewer in die sin dat Jesus se gesalfde volgelinge, die “heiliges” dit negentien eeue gelede as die enigste ware evangelie ontvang het. Dit bly “die geloof” waaraan Jehovah se Getuies vandag besef hulle onwrikbaar moet vashou, aangesien daar werklik geen ander evangelie of boodskap van saligheid is wat geloofwaardig is nie (Galasiërs 1:6-8). En ’n belangrike aspek van daardie evangelie is dat Jesus Christus vir die hele mensdom gesterf het. Dit is gevolglik van groot belang vir die “groot menigte” “ander skape” in ons dag.—Johannes 10:16; 1 Johannes 2:1, 2; Openbaring 7:9.
12. Waarom het Judas geskryf om medegelowiges te vermaan om “kragtig te stry vir die geloof”?
12 In Judas se dag wou valse leraars wat voorgegee het dat hulle Christene is ’n valse evangelie aan God se volk afsmeer. Sulke leerstellings het ’n bedreiging vir hulle geloof en saligheid ingehou (Mattheüs 24:13; 2 Korinthiërs 11:3, 4). Om hierdie ontwikkeling teë te werk, en omdat Judas deur die heilige gees en liefde beweeg is, het hy gevolglik “die noodsaaklikheid gevoel” om aan medegelowiges te skryf en hulle te vermaan om “kragtig te stry vir die geloof”.
13. Wat moet Jehovah se Getuies vandag doen om nie mislei te word of hulle saligheid te verloor nie?
13 As ons, as hedendaagse Christengetuies van Jehovah, lojaal aan God wil bly en nie mislei wil word en ons saligheid wil verloor nie, moet ons ook ‘kragtig stry vir die geloof teen enige kastige evangelie. Ons moet pogings om by die leer van Jehovah se gelouterde, geïnspireerde Woord by te voeg of daarvan weg te neem in alle erns weerstaan en ons daarteen verset (Deuteronomium 4:2; Spreuke 30:5, 6; Openbaring 22:18, 19). Ons moet enige nuwe of vreemde leerstellings beoordeel in die lig van God se hele Woord en vashou aan die geloof wat tot saligheid lei.—Hebreërs 1:1, 2; 2:3, 4.
14, 15. (a) Hoe het Judas verduidelik waarom hy sy brief toe met ’n ander doel geskryf het? (b) Waarom sou die valse leraars nie daarin slaag om die Christengemeente as geheel te ondermyn of te besoedel nie?
14 Waar Judas verduidelik waarom die doel van sy skrywe verander het, het hy gesê:
“Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel [verskoning] om losbandig te lewe, en hulle verwerp [verloën] ons enigste [Eienaar] en Here, Jesus Christus” (Judas 4, NTP; vgl. NW).
Die manne wat ware Christene se geledere ‘ongemerk binnegedring’ het, het listig leuens verkondig. (Vergelyk Galasiërs 2:4; 1 Johannes 2:19.) Jesus het ’n taktiek van die vyand voorspel wat daarop gemik sou wees om Jehovah se volk te verderf, want hy het getoon dat die Duiwel “onkruid” of valse Christene, onder die “koring” of Christus se ware volgelinge, sou saai (Mattheüs 13:24-30, 36-43). Daar was ook apostoliese waarskuwings teen afvalligheid. Petrus het byvoorbeeld spesifiek “valse leraars” gemeld.—2 Petrus 2:1; Handelinge 20:29, 30; 2 Thessalonicense 2:3.
15 Maar daardie goddelose mense sou nie daarin slaag om die gemeente as geheel te ondermyn of te besoedel nie. “Lank tevore” selfs voordat getroue Henog geprofeteer het, is sulke mense al vir God se veroordeling opgeskryf (Genesis 3:15; 5:21-24; Judas 14, 15). “Hierdie oordeel” word skynbaar omskryf deur wat in Judas se brief volg.—Vgl. AB.
16. Hoe het die “goddelose mense” ‘die genade van ons God gebruik as ’n verskoning om losbandig te lewe’, en wat het met hulle redenasie geskort?
16 Hierdie valse leraars was “goddelose mense” of diegene “met geen ontsag vir God nie” [The New Testament in Modern English, vertaal deur J. B. Phillips). Hulle het met onkuise beweegredes en onrein oë na Jehovah se gereinigde volk gekyk. Daardie oneerbiedige mense het verkeerdelik die gevolgtrekking gemaak dat aangesien God voormalige hoereerders, afgodedienaars, owerspelers, ensovoorts vergewe het, hy barmhartig genoeg sou wees om ’n persoon te vergewe wat moedswillig weer sulke sondige dinge begin beoefen het. Hulle het verkeerdelik gedink dat hulle God se morele wette ongestraf kon verbreek, dan formele berou kon toon en onder Jehovah se volk kon bly totdat hulle die volgende keer daarna gesmag het om sonde te bedryf en ‘onvaste siele verlok’ het om onsedelik te wees (2 Petrus 2:14). Hierdie “goddelose mense” het dus ‘die genade, van ons God gebruik as ’n verskoning om losbandig te lewe’. Hulle het nie werklik besef of erken dat God gelowiges barmhartig deur middel van Christus se bloed van hulle sondes gereinig het sodat hulle daarna immer ’n regverdige weg kon bewandel nie.—Romeine 6:11-23; 1 Korinthiërs 6:9-11.
17. Hoe kan party ‘hulle enigste Eienaar en Here verloën’, en wat wag op hulle?
17 Indien enige van ons as toegewyde getuies van Jehovah voor goddelose persone sou swig en ter wille van selfsugtige, vleeslike bevrediging slawe van die sonde sou word, sou ons die een “verwerp” wat ons met sy kosbare bloed gekoop het. Ja, ons sou Jesus Christus as Eienaar en Here verloën (1 Korinthiërs 7:22, 23). Aangesien diegene wat dit doen, vernietig gaan word, is dit noodsaaklik dat ons sulke goddelose mense weerstaan!
Reguit raad vir ons dag
18, 19. (a) Watter sondige weg het party naamchristen bewandel? (b) Hoe is sommige ander beïnvloed? (c) Watter geïnspireerde raad behoort getroue Christene te help om beter toegerus te wees om “kragtig te stry vir die geloof”?
18 Enkele persone wat vandag aan die gemeente van Jehovah se Getuies verbonde is, het probeer om valse leerstellings en losbandigheid te bevorder. Hierdie beginsellose individue veronagsaam God se regverdige standaarde en is ’n groot gevaar vir lojale Christene.
19 Ongelukkig kan hardwerkende, regskape volgelinge van Jesus Christus beïnvloed word deur valse leerstellings en losbandigheid. Maar Judas se reguit raad sal die getroues versterk sodat hulle nie swig voor sulke Sataniese pogings om hulle verhouding met Jehovah God te vernietig nie. En mag ons verdere bespreking van Judas se geïnspireerde brief ons beter toerus om “kragtig te stry vir die geloof”.
[Voetnoot]
a Kyk Aid to Bible Understanding, ble. 978, 979; “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial” ble. 259, 260, uitgegee deur die Wagtoringgenootskap.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Watter faktore wat ware Christene in die gevaar kan stel, word in Judas se brief behandel?
◻ Hoe is Judas se brief vandag vir ons baie waardevol?
◻ Waarom sou diegene aan wie Judas geskryf het meer barmhartigheid, vrede en liefde nodig hê?
◻ Wat is “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”?
◻ Waarom het Judas medegelowiges aangespoor om “kragtig te stry vir die geloof”?
[Prent op bladsy 21]
Stry jy, net soos getroue Christene deur die eeue heen, vol vertroue ‘kragtig vir die geloof’?