God se Woord is lewend
Hoe om probleme met liefde op te los
JOHANNES MARKUS is besig om terug te keer na Jerusalem waar sy moeder Maria woon. Dit is tydens die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas.—Handelinge 13:13; 12:12, 25.
Dit is nou ’n jaar later. Paulus en Barnabas maak gereed om op ’n tweede sendingreis te vertrek. Barnabas wil weer sy neef Markus saamneem. Maar Paulus wil hom nie saamneem nie. Hy sê: ‘Toe ons Markus verlede keer saamgeneem het, het hy ons in die steek gelaat.’ Barnabas dring egter daarop aan dat hulle hom nog ’n kans moet gee.
Weens hierdie meningsverskil het daar “’n skerp uitbarsting van toorn ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het”. Barnabas het Markus met hom saamgeneem. Hulle het na die eiland Ciprus geseil om daar te preek. Paulus het egter ’n ander Christen, Silas, gekies en hulle het begin met ’n predikingsreis wat hulle aanvanklik na Sirië geneem het.—Handelinge 15:36-41, vgl. NW.
Wat van hierdie probleem tussen Paulus en Barnabas? Gestel jy was daar en jy het hierdie “skerp uitbarsting van toorn” gesien. Sou jy tot die gevolgtrekking gekom het dat Paulus en Barnabas nie deel van God se volk was nie weens die wyse waarop hulle hulle gedra het?
Dit sou waarlik onverstandig gewees het. Ons moet besef dat ons almal onvolmaaktheid by ons eerste ouers, Adam en Eva, geërf het (Romeine 5:12). Die Bybel sê gevolglik: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2; Romeine 3:23). Maar ware Christene bly nie kwaad vir mekaar of koester nie wrokke nie. Hulle slaan ag op die Bybelgebod: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. . . . Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”—Kolossense 3:13, 14, NTP.
Wel, het die twee vername Christene, Paulus en Barnabas, hulle verskille met liefde uit die weg geruim? Kyk hier na hulle. Hulle is weer vriende! (1 Korinthiërs 9:5, 6). En later het Paulus aan Timotheüs geskryf: “Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.”—2 Timotheüs 4:11.
Ja, alhoewel die vroeë Christene soms onderling probleme gehad het, het hulle dit met liefde opgelos. Ons kan gerus hulle voorbeeld volg.