“Elkeen op sy plek”
“Hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer.”—Rigters 7:21.
1, 2. Stel God se werke teenoor dié van die mens.
WAT kom by jou op wanneer jy die harmonie van God se handewerk teenoor die wanorde in die menslike samelewing stel? Stem jy nie saam met die geïnspireerde Bybelskrywer wat gesê het nie: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”? (1 Korinthiërs 14:33). Daardie woorde van die apostel Paulus toon dat God nie verantwoordelik kan wees vir die wanordelike toedrag van sake in die wêreld nie. Jehovah weet hoe om sake te reël sodat elke ding wat deur sy wette beheer word, sy plek het. Sy skeppingswerke om ons getuig hiervan. Namate die mens sy kennis van die heelal verbreed, vind hy herhaaldelik bewyse van die heersende orde en beheer wat daar uitgeoefen word. In watter rigting die mens ook al sy teleskoop draai, sien hy dat elke ster en planeet op sy plek is en ordelik in sy baan beweeg.
2 Maar watter verskillende toneel begroet ons wanneer ons na die aangeleenthede van eiesinnige mense op die aarde kyk! Daar is soveel verwarring, wanorde en moordende wedywer! Die mensdom is polities, godsdienstig, maatskaplik en op rassegebied verdeel en word oorweldig deur onoplosbare probleme. Misdadigheid vier so hoogty dat dit onmoontlik is om elke wetsoortreder te vang en te straf. Selfs soldate in volksleërs wat veronderstel is om onder strenge dissipline te dien, verbreek dikwels die reëls.
3. Waarmee word Christene vergelyk, maar watter soort stryd voer hulle?
3 Dit verbaas ’n mens dus nie dat Jehovah, net soos in die geval van die fisiese heelal, belangstel in die vrede en orde onder sy verteenwoordigers op aarde nie. As sy knegte word individuele Christene vergelyk met gedissiplineerde soldate in ’n leër. Die apostel Paulus het geskryf dat elkeen soos “’n goeie soldaat van Christus Jesus” moet wees (2 Timotheüs 2:3, NTP). Dit moet elkeen van ons se begeerte wees om steeds ‘die goeie stryd te stry’ (1 Timotheüs 1:18). Maar ons moet altyd onthou dat ons stryd nie ’n vleeslike is nie. Dit is ’n geestelike stryd. Dit is teen die onsigbare “wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”.—Efesiërs 6:12.
4. Waarom sal Satan se aanvalle op God se knegte misluk?
4 Maar die magte onder “die god van hierdie wêreld” wil God se knegte intimideer sodat hulle moed sal verloor en voor die vyand vlug (2 Korinthiërs 4:4). Hierdie strategie van teenstanders sal egter hopeloos misluk omdat dit Jehovah is wat sake bestier en dit hy is wat ‘ons hande leer om oorlog te voer’ (Psalm 18:35). Ons word bemoedig deur die versekering dat ‘die stryd nie julle saak is nie, maar die saak van God’ (2 Kronieke 20:15). Deur sy magtige Veldmaarskalk, Christus Jesus, sal Jehovah die stryd tot ’n seëvierende einde voer. Hy verseker dus sy lojale dienaars dat hulle nooit in die skande gesteek sal word nie. Hulle sal nooit voor die aanslag van teenstanders hoef te wyk nie.—Psalm 18:25, NW.
5. Waarom het Jehovah Gideon bevele gegee wat in stryd was met menslike idees oor oorlogstrategie?
5 Deur middel van die aangrypende, geïnspireerde verslag van ’n stryd wat eeue voor ons Gewone Jaartelling in die dae van die rigters van Israel gevoer is, vestig Jehovah ons aandag op ’n paar beginsels van oorlogvoering waarop ‘soldate van Christus’ gerus ag kan slaan. Dit was in rigter Gideon se tyd, toe ’n magdom demonaanbidders die land Israel “soos sprinkane in menigte” binnegeval het (Rigters 6:5). Jehovah het vir Gideon gesê hoe die leër van Israel hierdie skynbaar oorweldigende bedreiging die hoof moes bied. In stryd met alle menslike idees oor oorlogstrategie is Gideon beveel om sy leër van 32 000 tot 10 000, en toe van 10 000 tot 300 te verminder. Deur hierdie groepie “sal Ek julle verlos” het Jehovah beloof.—Rigters 7:2-7.
6. Beskryf Gideon en sy 300 man se aanval op die kamp van die Midianiete.
6 Die 300 man is toegerus met horings en groot, leë kruike met fakkels binne-in die kruike. In die middel van die nag het Gideon hulle rondom die laer van die Midianiete en dié se bondgenote ontplooi. Hulle is beveel om te luister vir die teken wat Gideon sou gee en om dan tot aksie oor te gaan. Lojale gehoorsaamheid en die strenge uitvoering van Gideon se gevegsbevele was noodsaaklik. Toe almal op hulle plek was, het Gideon die teken gegee. Daarop blaas die 300 man “op die ramshorings en breek die kruike [bo-oor die fakkels] en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van [Jehovah] en van Gideon! En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug.” Die vyand is verpletter.—Rigters 7:19-22.
7. Watter vrae ontstaan in verband met hierdie Bybelse voorval?
7 ’n Paar pertinente vrae ontstaan hier. Sou Jehovah hulle byvoorbeeld so ’n klinkende oorwinning gegee het as die 300 man sy gevegsbevele ligtelik beskou het? Wat sou gebeur het as hulle nie vir Gideon se teken gewag het nie? Of as hulle van die krygstoerusting wat Gideon vir hulle gegee het, agtergelaat het? Sou hulle sukses behaal het as elkeen self besluit het dat daar ander gunstige plekke rondom die vyand se laer was wat beter was as dié waarheen hulle gestuur is? Dit bevat ’n paar lewensbelangrike beginsels waardeur ons vandag gelei moet word aangesien ‘hierdie dinge hulle oorgekom het sodat ons op die voorbeeld ag kan slaan en daarby baat kan vind’.—1 Korinthiërs 10:11.
8. Tot wie moet ons ons wend vir oorwinning in ons oorlogvoering?
8 In ons Christelike oorlogvoering moet ons Jehovah in al ons weë erken. Ons moet ons tot hom wend en op hom vertrou as die Een wat die oorwinning gee. Slim menslike strategie, die diepste denke van blote mense, kan andersyds nie sukses waarborg nie. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees” sê Jehovah (Sagaria 4:6). In ons daaglikse stryd ter wille van die waarheid en geregtigheid, sal ons as Christene dus wêreldlike idees en metodes vermy wat strydig is met die beginsels wat God gee om sy volk te lei. ’n Neiging om ag te slaan op die raad van wêreldlinge getuig van ’n verswakte geloof in God se vermoë om ons in tye van benoudheid te hulp te kom. Ons oortuiging moet net so sterk wees soos dié van die Bybelskrywer Jakobus (1:5): “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
“Kyk na my en maak net so”
9, 10. (a) Wie is vandag ons Aanvoerder en Leier? (b) Hoe kan ons na hom “kyk” aangesien hy onsigbaar is?
9 Christus Jesus, die Grotere Gideon, het nou die volle bevel oor sy sigbare sowel as onsigbare magte aanvaar. Deur hom openbaar Jehovah progressief sy voornemens en sy rooster vir sy volk. Hoe aangrypend tog om te besef dat Christus Jesus daadwerklik besig is om al die bedrywighede van sy ‘soldate’ op aarde te rig en aldus te verseker dat hulle in die uiteindelike oorwinning deel! Getrou aan sy belofte is hy met hulle “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.—Mattheüs 28:20.
10 Aangesien Christus Jesus nou die gekroonde Leier en Aanvoerder van alle stryders vir waarheid en geregtigheid is, kan ons eendragtig ‘na hom kyk en net so maak’, net soos die 300 man geleer het deur Gideon dop te hou (Rigters 7:17). Maar hoe kan ons vandag na Christus “kyk” aangesien hy onsigbaar is? Ons “kyk” na hom in die sin dat ons sy tekens onderskei soos dit gegee word deur sy sigbare “dienskneg” wat hy oor al die aardse belange van sy koninkryk aangestel het (Mattheüs 24:45-47). Deur hierdie gees-aangestelde kanaal word sy bevele en strategie aan al sy ‘soldate’ oorgedra. Laasgenoemdes kan nie bekostig om op hulle eie voort te gaan of ongeduldig te word omdat dinge nie verloop soos hulle verwag het nie. Ons onsigbare Aanvoerder bepaal wanneer dinge gedoen moet word. Sy beskouing is die belangrike oorweging, nie ons persoonlike beskouings nie.
Godgegewe toerusting
11. Watter soort toerusting gebruik God se knegte vandag?
11 Die Grotere Gideon weet watter toerusting sy soldate op aarde nodig het. Dit is nie letterlike wapens en wapenrusting wat ons nodig het nie, want ons veg nie teen ander mense nie. Ons voer ’n geestelike stryd. Ons wapens is dus “kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:4, 5). Ongeag die teenstand wat hulle hulle op die hals haal, moet getroue Christenstryders leer om die Godgegewe toerusting behendig te gebruik om te kan doen wat die apostel Paulus gedoen het, naamlik om aan mense “die hele raad van God te verkondig”.—Handelinge 20:27.
12. (a) Waarom was Gideon se groepie so suksesvol? (b) Waarom is Jehovah se knegte vandag so suksesvol?
12 Gideon se soldate moes soos een man optree en hulle toerusting gebruik om die gewenste resultaat te behaal. Die geluid van 300 kruike wat breek, die lig van 300 fakkels wat omhoog gehou word, die alarm wat op 300 horings geblaas is, sowel as die uitroepe uit 300 kele wat deur die stil naglug van alle kante na die Midianiete gedra is, het voorwaar ’n verwoestende uitwerking op hulle gehad! Is dit nie waar dat die eendragtige verkondiging van God se koninkryk en sy wraak selfs nou meebring dat die vyand die omvang van die verkondigde boodskap en die gevaar wat dit vir hulle inhou, vergroot nie? Waarom is dit so? Omdat die hele organisasie van Jehovah se volk hulle met graagte hou by die rooster vir hulle spesifieke boodskappe aan die wêreld, soos gerig deur die Grotere Gideon deur sy aangestelde “dienskneg”. Gestel dat elkeen van Jehovah se Getuies andersins gedoen het wat hom behaag en besluit het wanneer en hoe hy God se boodskap gaan verkondig. Hoe kon die wêreldwye getuienis dan ooit gegee word? Dit is tog seker duidelik dat dit Jehovah se wil is dat ons “eensgesind onder mekaar [moet] wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus [die Grotere Gideon], sodat [ons] die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik”.—Romeine 15:5, 6.
13, 14. Wat verleen vandag krag aan die boodskap van Jehovah se knegte?
13 Die verenigende krag is Jehovah se gees en sy Woord, die Bybel. Gelukkig gaan ons nie elkeen uit om sy eie indruk van die Bybel se boodskap te verkondig nie. Jehovah het ’n groot aantal Bybelhulpe in die vorm van publikasies voorsien sodat ons denke en ons leer ooreen kan stem. Ons vermy sodoende die dodelike gebrek aan eenheid en die mag der menigte botsende leerstellings van die valse Christendom en die heidendom. Ons verwater en versag ook nie die boodskap van God aan die nasies nie, weliswaar ’n boodskap van groot hoop, maar ook een van wraak en vergelding. Ons besef terdeë dat die basuingeklank hard en duidelik moet wees.—1 Korinthiërs 14:8.
14 Hoe gepas is dit dan dat ons almal die waarde besef van die toerusting wat Jehovah vir ons Christenstryd voorsien het. Hy onderrig ons ook goed oor hoe om dit te gebruik, sodat ’n uiters doeltreffende getuienis aan individue en nasies gegee kan word. Dit is nie die stem van ’n enkeling in die woestyn nie, maar die harde, deurdringende waarskuwing wat dwarsoor die wêreld uitgebasuin word. Jehovah ‘verhef dus voorwaar sy stem voor sy leërmag uit’.—Joël 2:9, 11.
“Elkeen op sy plek”
15. Wat sou ondenkbaar vir een van Gideon se manne wees?
15 Dit sou ondenkbaar vir een van Gideon se 300 man wees om steeks te wees en sy pos met iemand anders te wil omruil, of selfs sy eie posisie te wil kies. So sou hy sy eie oordeel beter ag as dié van Gideon, die persoon wat deur Jehovah gebruik is om die aanval te rig. Dit sou getuig van ’n gebrek aan nederigheid en ’n onwilligheid om te wag op Jehovah se tyd en besluit om ’n verandering aan te bring. Hoe sou so ’n gesindheid kon strook met opregte deelname aan die uitroep: “Die swaard van [Jehovah] en van Gideon!”?
16. Hoe sal nederigheid ons help om ons verpligtinge na te kom?
16 In Jehovah se hedendaagse reëling moet Sy voorneme en die algemene belange van sy koninkryk vir elkeen van ons van oorwegende belang wees. Ons moet ons toegewese plig getrou nakom, ongeag waar ons in die organisasie dien (1 Korinthiërs 4:2). Ons moet ook nederigheid aan die dag lê, wat nie selfbevordering duld nie. Die beginsel wat Christus Jesus geleer het, geld in alle gevalle: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Mattheüs 23:12). En Jakobus spoor ons aan: “Verneder julle [nie net voor mense nie, maar] voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”—Jakobus 4:10.
17. Stel Jehovah persoonlik in elkeen van ons belang?
17 Ons snap gevolglik die volle betekenis van die woorde in Rigters 7:21: “Elkeen op sy plek.” Laat ons, terwyl ons in Jehovah se organisasie dien, tevrede wees om te dien waar hy ons ook al toewys, en om die werk so getrou moontlik te doen. Ons kan daarvan verseker wees dat die Een wat sien wanneer ’n klein mossie val, baie meer in ons belangstel terwyl ons die taak wat aan ons toegewys is lojaal verrig (Mattheüs 10:29-31). Hy weet watter opleiding ons nodig het, en vir watter taak ons bekwaam is, en handel dus ooreenkomstig met ons. Ons kan daarvan seker wees dat ons nie oor die hoof gesien word nie.—1 Petrus 5:10.
18. Waarom het ons vandag soveel vertroue in Jehovah?
18 Die Grotere Gideon, Christus Jesus, is vandag oor al God se knegte aangestel. Ons wil eendragtig tot die regverdiging van Jehovah se naam dien terwyl ons “elkeen op sy plek” nederig aan sy gevegsreëls onderworpe is. Ons vertrou dat Jehovah se algemene strategie uiteindelike oorwinning sal verseker. En ons is daarvan seker dat Jehovah ons lojale gehoorsaamheid sien en ons met die “ewige lewe” in sy nuwe orde sal beloon, want sy Woord sê: “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Timotheüs 6:19; 1 Korinthiërs 15:58.
Onthou jy hierdie gedagtes?
◻ Waarom het Gideon se strategie so verskil van wêreldlike idees oor oorlogvoering?
◻ Wat het Gideon in staat gestel om so ’n klinkende oorwinning te behaal?
◻ Hoe kommunikeer Jehovah vandag met sy knegte?
◻ Wat is vandag die regte gesindheid van ‘soldate van Christus’ teenoor hulle toewysings?
[Lokteks op bladsy 23]
Lojale gehoorsaamheid en die strenge uitvoering van Jehovah se gevegsbevele het aan Gideon en sy manne ’n klinkende oorwinning besorg
[Prent op bladsy 25]
Jehovah het ons van die noodsaaklike toerusting voorsien wat ons vandag in ons oorlogvoering nodig het