Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 8/1 bl. 13-17
  • Die kritieke uur kom nader!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kritieke uur kom nader!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan jy ag slaan op die waarskuwing?
  • ’n Dringende oproep tot ootmoediges
  • Waar ons hulp moet soek
  • Die Vloed—’n waarskuwing uit die verlede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 8/1 bl. 13-17

Die kritieke uur kom nader!

1. (a) Waarom is die planne van nietige mense tot mislukking gedoem? (b) Watter voorneme van God moet binnekort volbring word?

ONDANKS duidelike waarskuwings en die hopelose mislukking van menseregerings deur die eeue heen, gaan onvolmaakte, nietige mense verwaand met hulle planne voort. Maar hulle sal dit nie veel langer doen nie. Ons moet nooit vir ’n oomblik twyfel aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus se vermoë om die voorneme wat hy deur sy profeet bekend gemaak het te volbring nie: “In die dae van dié konings [wat regeer in ‘die tyd van die einde’] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44; 12:9.

2. (a) Hoe het Jesus die huidige situasie van die mensdom toegelig? (b) Watter waarskuwing is gerig, en met watter gevolg?

2 Jesus het ons nog ’n teken van die nabyheid van daardie kritieke uur gegee. Hy het terugverwys na die toestande op aarde in die dae van Noag en sy volgelinge daaraan herinner dat mense destyds heeltemal opgegaan het in hulle eie planne en pogings om ’n sogenaamde normale lewe te lei. Jesus het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het [daar geen ag op geslaan het, NW] voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheüs 24:37-39). Daardie mense is gewaarsku deur die boodskap wat regverdige Noag dekade na dekade verkondig het (2 Petrus 2:5). Maar hoe het die meeste mense daardie waarskuwing beskou? Jesus het gesê dat hulle ‘geen ag daarop geslaan het nie’. Hulle het nie in Noag en sy boodskap belanggestel nie. Gevolglik het “net Noag . . . oorgebly en wat by hom in die ark was” altesaam agt siele.—Genesis 7:23.

Gaan jy ag slaan op die waarskuwing?

3. Hoe reageer mense vandag op die waarskuwing?

3 Kan ons eerlikwaar sê dat ons nie gewaarsku is nie? Dinge lyk vandag dieselfde as in Noag se geslag. Let maar op hoe die meeste mense die boodskap wat Jehovah se Getuies vandag verkondig, ignoreer en bespot. Baie gaan op in hulle daaglikse lewe en planne vir die verre toekoms. God en sy voornemens met die mensdom en hierdie aarde kom nie eens by hulle op nie. Baie mense bely dat hulle Christene is en behoort aan ’n godsdiensorganisasie, maar slegs vir die gerief en sogenaamde fatsoenlikheid wat dit hulle in die hedendaagse samelewing gee. Hulle slaan eenvoudig ‘geen ag’ op die waarskuwing nie en moet dus die gevolge dra. Maar wat van jou?

Gaan jy wyslik ag slaan op die tekens van die tye?

4. Hoe het Paulus en Petrus die hedendaagse situasie voorspel?

4 Jy het seker al opgemerk hoedat keiserryke en koninkryke versplinter, hoedat godsdiens- en politieke bewegings verbrokkel in links-, middel- en regsgesinde groepe, en hoedat so baie hulle eie sin wil hê, reg of verkeerd. Wys dit nie op die “laaste dae” wat deur die apostel Paulus voorspel is nie? Hy het geskryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:1-4). Wanneer ons die vervulling van hierdie profesie voeg by al die ander dinge wat Jesus Christus voorspel het, word die tekens van die tye bepaald baie betekenisvol. Ons lewe inderdaad in daardie “laaste dae” en ’n gebrek aan dissipline is oral te sien—in skole, in sakeondernemings, in arbeidskringe, in die samelewing oor die algemeen.—Vergelyk 2 Petrus 3:3-7.

5. (a) Watter vrae moet ons nou bespreek? (b) Hoe verskil ons verwagting van dié van wêreldlike manne?

5 Wat gaan jy doen wanneer ambisieuse manne en volksleiers vandag eweneens ’n gebrek aan redelikheid aan die dag lê, nie daarin slaag om al hulle teenstrydige verklarings te laat strook nie en hardkoppig voortgaan met hulle eie planne om die wêreld te verbeter? Wat dui die tekens van die tye duidelik aan as die veilige weg vir jou? Gaan jy verstandiger en redeliker as daardie vooraanstaande manne wees? Hulle beskou die offerdood van Christus Jesus nie as baie belangrik nie. Hulle weier om die feit te aanvaar dat hy nie alleen gesterf het sodat ons almal kan lewe nie, maar ook om sy glorieryke koninkryk moontlik te maak waarmee hy die mag van die god van hierdie wêreld, Satan die Duiwel, gaan verbreek (Hebreërs 2:14). Maar jy kan vertrou op die gewisse beloftes van die Skepper. Jy kan hoop op die wonderlike uitslag waarvan Jehovah almal wat hulle vertroue op hom stel, verseker.—Psalm 37:3, 4, 28, 29, 39, 40.

’n Dringende oproep tot ootmoediges

6. Watter dringende oproep word nou gehoor, en waarom?

6 Die dringende oproep wat die profeet van God laat hoor het, is gerig tot jou en almal wat die tekens van die tye korrek vertolk: “Voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou, soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sefanja 2:2, 3). Jehovah sal beslis vir liefhebbers van vrede en geregtigheid die geleentheid bied om uit ’n gedoemde stelsel gered te word.

7. Op watter vrae kan ons bevestigend antwoord tot voordeel van onsself?

7 Is jy, in die lig van al hierdie tekens, ootmoedig, geseglik en bereid om gretig te luister na God se voorsiening vir jou veiligheid, of is jy hardkoppig en eiewys (soos so baie wêreldlike politieke en godsdiensleiers)? Probeer jy om volgens die Bybel se standaarde van geregtigheid, dit wil sê, Jehovah se “ordening” te lewe? Is jy hartseer oor die dinge wat jy op die aarde, ja, selfs in jou buurt sien gebeur en waarvan jy hoor? Word jy, anders as selfvoldane persone wat nie omgee wat met ander gebeur solank as wat hulle uit die lewe kry wat hulle wil hê nie, diep geroer deur die ontberings, verdrukking en verhongering waarmee miljoene van jou hulpelose medemense te kampe het? As jy bevestigend op hierdie vrae antwoord, is jy waarskynlik onder diegene wat Jehovah beloof om op die dag van sy toorn te verberg.—Jesaja 26:20, 21; Esegiel 9:4-7.

8. Hoe kan ons ‘ootmoedigheid en geregtigheid soek’?

8 Hoe moet jy ‘ootmoedigheid en geregtigheid soek’ as jy ’n ootmoedige persoon is wat geredelik na goddelike onderrigting luister? Dit is dalk ’n vraag wat by jou opgekom het. Jesus, wat ootmoedig en nederig is, nooi jou om waarlik sy dissipel te wees. Dit verg dat jy sy voorbeeld, sy lewenstaak terwyl hy op aarde was, bestudeer en daarna streef om te doen wat hy gedoen het. Let daarop dat hy altyd goed gedoen het en nooit eens sy teenstanders kwaad aangedoen het nie (Handelinge 10:38). God se koninkryk was dikwels die tema van sy leer, van sy gelykenisse, van sy gebede (Mattheüs 4:17; Lukas 8:1). Hy het niks met die politieke koninkryke van hierdie wêreld gemeen gehad nie (Johannes 18:36). Hy het onwrikbare geloof getoon in God se vermoë om al Sy beloftes aan Sy knegte op aarde te vervul. Jesus het sy afkeuring uitgespreek van diegene wat bely dat hulle God dien terwyl hulle leerstellings verkondig wat nie deur die geskrewe Woord van God gesteun word nie (Markus 7:5-8). Is jy bereid om hom in al hierdie sake na te volg?

9. Watter goeie voorbeeld het Jesus vir ons gestel?

9 Hy het nooit onafhanklik van sy hemelse Vader opgetree nie. Trouens, hy het gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19; 7:16-18). Hy het ook gesê: “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). Hy het geen begeerte getoon om sy lewe op sy manier te lei sodat hy persoonlike begeertes en ambisies kon bevredig nie. Hy het die wêreldheerskappy en aansien wat Satan die Duiwel hom aangebied het, beslis van die hand gewys (Lukas 4:5-8). Gaan jy Jesus se voorbeeld aanvaar en navolg ten einde die goedkeuring en seën van Jehovah God te verkry?

Waar ons hulp moet soek

10. (a) Watter vername hulpmiddel het God voorsien, en hoe kan ons dit benut? (b) Watter betekenis het die woorde in Johannes 17:3 vir ons?

10 Die metodes van die aartsbedrieër is so subtiel en bedrieglik dat dit nie vir jou moontlik sal wees om daardie weg in jou eie krag te bewandel nie. Jy het al die bystand nodig wat God verleen om jou te help om te slaag. Die vernaamste hulp wat hy gegee het, is die Heilige Bybel (2 Timotheüs 3:16, 17). Soos jy weet, kan ’n mens nie leer wat in die Bybel staan bloot deur elke week na ’n kort preek te luister en aan verskeie ritusse en seremonies mee te doen nie. ’n Bybelstudiekursus is nodig, nie net vir jouself nie, maar ook vir jou gesin. Onthou, dit is die enigste Boek wat sy bewering kan staaf dat die Skepper van hemel en aarde die Outeur daarvan is. Geen ander boek of grondslag vir studie kan vir sy eerbiedige studente gee wat Jesus gemeld het nie, naamlik: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Daar is manne en vroue met ’n deeglik Bybelkennis wat gereed is om jou kosteloos by te staan sonder dat daar enige verpligting op jou rus. Jy moet net vir Jehovah se Getuies vra en jy sal die nodige hulp kry om op dreef te kom.

11, 12. (a) Wat beloof Jehovah aan diegene wat sy Woord sagmoedig bestudeer? (b) Hoe kan ons ons name in God se “gedenkboek” kry?

11 Watter wonderlike belofte hou God voor aan diegene wat nadink oor die praktiese voordele van ’n studie van die dinge wat God en Christus omtrent hulself geopenbaar het en dan daaroor gesels! Kyk hoe een van Jehovah se profete van die ou tyd dit gestel het: “Toe [dit wil sê, wanneer Jehovah afreken met sy vermetele vyande wat gemeen het dat hulle nooit vir hulle goddeloosheid gestraf sou word nie] het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.”—Maleagi 3:16.

12 Dit beteken veel meer as om net ’n goeie, ordentlike lewe volgens hierdie wêreld se standaarde te lei. Dit beteken dat ons juiste kennis verkry van God se voornemens met die mens, uitvind wat hy van ons verwag en dan ons lewe daaraan wy om hom te dien en Sy wil in elke aspek van die lewe te doen. Hoe anders kan ons verwag dat Jehovah ons name in sy “gedenkboek” sal skryf? Hoe kan hy ons ten goede onthou as ons versuim om eerbiedige vrees vir sy Woord en naam te toon en dit nie by elke moontlike geleentheid met ons medemens bespreek nie?—Romeine 10:10.

13. (a) Watter raad van Jesus en Paulus kan ons in ons lewens toepas? (b) Hoe kan ons toon dat ons “wyse” is?

13 ’n Sakeman, ’n skolier of ’n besige huisvrou sal dalk dink dat hy of sy te besig is om tyd aan so ’n studie af te staan. Maar dit is goed om Jesus se vriendelike woorde van waarskuwing oor die onsekerheid van planne, strewes en selfs die lewe self te onthou: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel [of lewe] skade ly?” (Mattheüs 16:26). Dan is daar ook die woorde van die apostel Paulus wat so gepas is vir hierdie dringende tye wanneer ons omring word deur die tekens van die naderende einde van ’n goddelose stelsel: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle . . . verstaan wat die wil van die HERE is” (Efesiërs 5:15-17). In die lig van die onheil waarmee Jehovah hierdie hele goddelose wêreld gaan tref, is dit goed om ag te slaan op sy raad wat deur sy profete gegee is: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is.” “So sê die HERE . . . : Soek My, dan sal julle lewe!”—Jesaja 55:6; Amos 5:4.

14. (a) Watter fout begaan baie vandag, en waarom? (b) Watter goeie raad word in hierdie verband in Jakobus 4:13-16 gevind?

14 Daar is mense wat blakende gesondheid geniet en volop geestes- en fisiese energie het, en om daardie rede nie so afhanklik van die Skepper voel nie. Hulle neiging is dus om groot planne vir die toekoms te maak en min aandag aan God se plek in hulle lewens te skenk. Hulle streef rykdom of eer onder mense of ’n gemaklike en sorgvrye oudag na. God speel nie ’n rol in al hulle gedagtes en planne nie. Die geïnspireerde Bybelskrywer waarsku wyslik: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié of dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak—julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn [want julle lewe is hoogstens so kort]. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”—Jakobus 4:13-16.

15. Van watter dringende behoefte moet ons vandag bewus wees in die lig van die tekens van die tye?

15 Wat ook al jou huidige situasie in die lewe, daar bestaan dringende rede vir jou om om te gaan met die meer as tweemiljoen mense uit talle nasies en tale dwarsoor die aarde wat algemeen bekend is as Bybelstudente en verkondiger van die boodskap daarvan, en in die besonder geïdentifiseer word deur hulle getuieniswerk vir Jehovah se naam en koninkryk.—Jesaja 43:10, 12, vgl. NW; Mattheüs 24:14.

Watter lewensbelangrike raad gee elk van die volgende tekste ons op hierdie tyd?

◻ Mattheüs 24:37-39

◻ 2 Timotheüs 3:1-4

◻ Sefanja 2:2, 3

◻ Efesiërs 5:15-17

◻ Jakobus 4:13-16

[Lokteks op bladsy 15]

Net soos Jesus moet ons onwrikbare geloof toon in God se vermoë om al sy beloftes te vervul

[Prent op bladsy 16]

Is jou naam in Jehovah se gedenkboek opgeskryf noudat die dag waarop hy geregverdig gaan word, vinnig naderkom?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel