Die tekens van die tye—Wat beteken dit vir jou?
“Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies . . . En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:25, 28.
1. Hoe het Jesus geantwoord op die Jode se versoek om “’n teken uit die hemel”?
TEEN die einde van Jesus se aardse bediening het die Joodse godsdiensleiers hom uitgedaag om hulle “’n teken uit die hemel” te laat sien. Jesus het hulle bestraf en gesê: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona.” Dit toon dat hulle óf nie die tekens van die tye verstaan het nie óf dit geïgnoreer het. —Mattheüs 16:1, 4.
2. Waarom is die tekens van die tye vandag vir ons belangrik?
2 Beteken die tekens van die tye vandag vir ons iets? Ja! En as ons ooreenkomstig die betekenis van hierdie tekens optree, kan dit ons red van ’n ramp wat groter is as enige wat deur die ergste vorms van gure weer veroorsaak is. Kom ons ondersoek nou hierdie tekens.
3. Hoe is die gebeure van Bybeltye steeds vir ons betekenisvol?
3 Die profetiese voorspellings in die Heilige Bybel verskaf aan ons baie inligting oor die tekens van die tye. Ons word byvoorbeeld meegedeel dat gebeurtenisse in die lewens van die mense in eertydse Israel nie bloot geskiedkundige waarde het nie, maar dat ‘al hierdie dinge hulle oorgekom het as voorbeelde en opgeskrywe is as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het’ (1 Korinthiërs 10:11). Ons word dus vandag gewaarsku omtrent komende gebeure. As ons ag slaan op betekenisvolle, hedendaagse gebeure sal ons in staat wees om so op te tree dat ons die ramp vermy wat wag op die “slegte en owerspelige geslag” wat nou op die aarde is. Sodoende sal ons nie soos daardie Joodse leiers van die eerste eeu wees wat volgens Jesus nie die tekens van die tye kon vertolk nie.—Mattheüs 16:4; Handelinge 2:40.
4. Watter samegestelde “teken” het Jesus gegee, en wat het dit ingesluit?
4 Die Groot Profeet, Jesus Christus, het ’n samegestelde “teken” gegee van dinge wat sou plaasvind om nie alleen die voleinding van die Joodse stelsel in die eerste eeu aan te dui nie, maar ook die einde van die hedendaagse wêreldstelsel. Hy het nie alleen “oorloë en gerugte van oorloë” voorspel nie, maar ook globale oorlogsbrande wat sou opvlam waarin ‘die een nasie teen die ander sou opstaan en die een koninkryk teen die ander’. Daar sou ook “hongersnode . . . en aardbewings op verskillende plekke” wees.—Mattheüs 24:3-8.
5. Hoe sou valse profete hierdie “teken” beskou?
5 Jesus het ook die koms van talle valse profete voorspel wat in sy naam sou kom en baie sou verlei deur die belangrikheid van die “teken” van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag te ignoreer. Die samegestelde teken wat deur Jesus gegee en in Mattheüs hoofstukke 24 en 25 opgeteken is, sowel as die ander tekens wat ons betekenisvolle tye sou kenmerk, soos die algemene verval van die samelewing en die verderwing van die aarde, sou vir hulle geen betekenis hê nie. Maar het ons nie sulke gebeurtenisse in hierdie 20ste eeu gesien nie?
6. (a) Wat beweer godsdiensleiers ondanks dle vlaag probleme sedert 1914? (b) Maar hoe verloop sake in die wêreld?
6 Die groot vlaag probleme wat die mensdom skielik in die jaar 1914 G.J. begin tref het, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, en deur die Tweede Wêreldoorlog heen voortgeduur het, het tot nog toe nie afgeneem nie. Dit is so ondanks die feit dat godsdiensleiers planne soos die gewese Volkebond en die huidige Verenigde Volke gesteun het en aanvoer dat ons nou die regte manne in politieke ampte nodig het om te verseker dat die mense na God terugkeer en sy seën ontvang. Maar oral om ons is daar getuienis dat die gehalte van die lewe op aarde agteruitgaan, dat toestande vererger, dat vrees en agterdog, misdadigheid en geweld in hierdie laaste jare van die 20ste eeu aan die orde van die dag is.
Wat wêreldleiers sê
7. Wat sê wêreldleiers?
7 Klink dit baie pessimisties? Wel, politici erken ruiterlik dat die krisis bestaan. Thomas J. Watson, voormalige Amerikaanse ambassadeur in die Sowjet-Unie, het byvoorbeeld tydens ’n onlangse onderhoud gesê: “Vir my lyk die wêreld gevaarliker as wat dit nog ooit in die geskiedenis was.” En ’n ou optimis, Sweedse sosioloog en ekonoom Gunnar Myrdal, het gesê: “Alles is verskriklik. . . . Ons het aan hervorming, aan onderwys geglo. Nou het ons te kampe met ’n wêreld waarin dit moeilik is om optimisties te wees.”
8. (a) Watter rede tot kommer kan nou waargeneem word? (b) Watter dinge wat in Openbaring hoofstuk 6 voorspel is, is deel van die tekens van die tye?
8 Bestaan daar nie goeie rede vir so ’n gebrek aan optimisme onder die vooraanstaande wêreldleiers nie? Die huidige, geweldige ophoping van krygstuig deur die nasies van die aarde is ongeewenaard in die geskiedenis. Dit op sigself is rede tot kommer. Die koste van so ’n wapenwedloop het bygedra tot die inflasionêre spiraal wat landsekonomieë bedreig en die pryse van allerhande goedere en dienste laat styg. Waar die Bybel se Openbaringverslag ’n beskrywing gee van die rit van die apokaliptiese ruiters wat oorlog, hongersnood en siekte voorstel, waarsku dit dat voedselpryse so sou styg dat ’n rantsoen koring ’n penning, of ’n dag se loon, sou kos. Hoe waar is dit tog vandag in baie dele van die wêreld! Sulke onheilspellende verwikkelinge, wat ons lewenswyse raak, is deel van die tekens van die tye.—Openbaring 6:3-8.
Wat Jesus Christus voorspel het
9. (a) Watter wysheid het skynbaar vergaan? (b) Watter profesie van Jesus word nou duidelik vervul?
9 Dit lyk of die wysheid van die wyse politici en nyweraars vergaan het (Jesaja 29:14). Daar is geen briljante staatsman wat ’n oortuigende oplossing vir die wêreld se probleme of selfs vir een nasie se probleme het nie. Daar is eerder vrees vir die toekoms, net soos Jesus voorspel het: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.—Lukas 21:25, 26.
10. (a) Hoe het die see ontstuimig geword? (b) Hoe is ‘die kragte van die hemele geskud’?
10 Omdat die ophoping van wapentuig nie meer deur die nasies beheer kan word nie, is die letterlike see self vol krygstoerusting in die vorm van skepe en duikbote wat toegerus is met dodelike kernplofkoppe wat miljoene mense met ’n enkele missiel kan uitwis. Die see is waarlik aan die “dreun” en ontstuimig. En wat van die lug en ruimte bokant ons? ‘Die kragte van die hemele is geskud’, net soos Jesus gesê het, daar oorlogsvliegtuie, vuurpyle, ballistiese missiele en dies meer deur die ruimte oor oseane en vastelande kan trek om vyandelike teikens te tref.
11. Hoe staaf die nuusmedia die feit dat die nasies ‘radeloos’ is?
11 Die nuusmedia staaf op kragtige wyse die vervulling van die profesie dat die nasies ‘radeloos’ sou wees weens hulle probleme. Let byvoorbeeld op die volgende kommentare in ’n verslag van 300 bladsye aan die Verenigde Volke deur ’n kommissie onder voorsitterskap van ’n voormalige Wes-Duitse kanselier, Willy Brandt. Toronto se Star van 31 Mei 1980 het berig: “[Die verslag] sê in wese dat die wêreldekonomie besig is om te verbrokkel en dat huidige neigings tot chaos sal lei as dit voortduur. . . . Dubbelslotte aan deure, gewapende wagte en die vrees vir ontvoering en sluipmoord is so te sê oral die nuwe belonings vir vooruitgang.” En in ’n persoonlike inleiding tot die verslag het Brandt gesê: “Daar word dikwels aan oorlog gedink in terme van militêre konflik en selfs uitwissing. Maar daar is ’n toenemende bewustheid dat chaos ’n ewe groot gevaar kan inhou—chaos as gevolg van grootskaalse hongersnood, ekonomiese ineenstorting, natuurrampe en terrorisme.”
12. Hoe word Jeremia se woorde vandag vervul?
12 Waar is dan die verligte denke en planne wat politieke en nywerheidsleiers in hierdie kritieke tye aan die hand behoort te doen? Die dinge wat God se profeet oor die leiers in die sewende eeu v.G.J. gesê het, is ook in ons dag waar: “Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jeremia 8:9). Baie min!
13. Watter verwikkelinge op aarde dui op verergerende hongersnood, en watter profesie word daardeur vervul?
13 Hulle behoort tog te weet dat die bevolkingsaanwas en afname van voedselvoorrade HONGERSNOOD beteken, maar ons sien geen positiewe optrede of konkrete plan op ’n globale skaal om die reeds ernstige situasie die hoof te bied nie. Die voormelde verslag aan die Verenigde Volke vertel van die verstommende aanwas in die wêreldbevolking—meer as ’n miljoen elke vyf dae, met ’n geraamde vermeerdering van nagenoeg tweemiljard mense gedurende die volgende twee dekades. Intussen neem die aanvraag na voedsel na verhouding toe, selfs al bestaan daar ernstige twyfel oor die graanproduserende lande se vermoë om die yslike hoeveelhede te voorsien wat nou benodig word. “Daar sal hongersnode wees . . . op verskillende plekke”, is wat Jesus vir die laaste dae van hierdie wêreldstelsel voorspel het.—Mattheüs 24:7.
14. Hoe het Jesus ander hedendaagse euwels voorspel?
14 Beskou boonop die vinnige toename van gewelddadige misdade in al die nywerheidslande. Jesus het ook hierdie ‘vermeerdering van die ongeregtigheid’ voorspel (Mattheüs 24:12). Moet ons eerlikwaar glo dat die oplossing daarin lê om vir elke burger ’n rewolwer te gee en hom te leer om dit te gebruik? Dit is klaarblyklik hoe baie wêreldleiers redeneer, want hulle dring daarop aan om krygsvoorraad op te hoop om vrede te verkry. Daar word geraam dat honderdmiljoene mense intussen honger ly en ondervoed is, terwyl nog miljoene die slagoffers van malaria en rivierblindheid is—kwale wat verlig kan word met ’n breukdeel van die geld wat aan krygstuig bestee word. Dit is alles deel van die tekens van die tye wat Jesus voorspel het.—Lukas 21:10, 11.
’n Tyd om te begin “vlug”
15. Wanneer moet diegene met insig volgens Jesus se profesie optree, en hoe?
15 God se grootste Profeet, Jesus Christus, het die aandag ook gevestig op ander gedetailleerde aspekte van die samegestelde teken waarop diegene wat aan vernietiging wil ontkom, ag moet slaan. Wat is dit? Hy het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug . . . Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”—Mattheüs 24:3, 15, 16, 21.
16. Watter voorlopige vervulling het Mattheüs 24:15, 16 gehad?
16 Daardie profesie het ’n voorlopige vervulling gehad toe Romeinse leërs Judea en Jerusalem in 66 G.J. binnegeval en later teruggekeer het om die Joodse stelsel in 70 G.J. te verwoes. Maar Jesus se woorde bevat ’n selfs onheilspellender boodskap vir ons almal wat in die tagtigerjare lewe. Hoe weet ons?
17. Waarom moet Mattheüs 24:21 ’n kritieke, hedendaagse vervulling hê?
17 Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. was nie die grootste in die geskiedenis nie. Voor daardie tyd en daarna was daar baie erger rampe waartydens daar meer lyding en groter lewensverlies was. Maar hierdie profesie praat van ’n verdrukking wat geen gelyke het nie. Dit is inderdaad die laaste, kritieke verdrukking, want so ’n verdrukking ‘sal nooit weer wees nie’. Wat is dus die “gruwel”? Ons word meegedeel dat dit “in die heiligdom” sal staan. Sien ons die hedendaagse vervulling hiervan?
18. (a) Wat is vandag die “gruwel”? (b) Hoe staan dit nou in die “heiligdom”? (c) Wat sal die uitslag vir die Christendom se kerke wees? (d) Hoe omvattend sal die vernietiging van godsdiens volgens Openbaring wees, en wat volg daarop?
18 In ons dag staan ’n “gruwel” wat teen God se koninkryk gekant en baie magtiger as Imperiale Rome is in ’n “heiligdom”. Dit is die V.V.O., wat nou 157 ledenasies het en supermoondhede insluit wat genoeg kernwapens besit om die mensdom talle kere van die oppervlak van die aarde af uit te wis. Hierdie opvolger van die Volkebond is ’n “gruwel” vir Jehovah God en Jesus Christus en sy dissipels omdat hy hom dit aanmatig om in die plek van God se koninkryk in die hande van sy gekroonde Koning Jesus Christus in die hemele te staan (Mattheüs 5:35; Markus 13:14). Maar die valse Christendom beweer ook dat dit ’n “heiligdom” het. Dit is sy terrein wat reeds in groot dele van die aarde deur radikale lede van die V.V.O. oorgeneem is. Die Christendom se godsdiensstelsels, en enige aansprake daarvan dat dit ’n “heiligdom” is, sal binnekort net so deeglik vernietig word as wat die anti-Christelike Joodse stelsel in 70 G.J. vernietig is.a Soos Openbaring 17:5, 16, 17 toon, sal alle segmente van valse godsdiens dwarsoor die wêreld—‘Babilon die Grote’—tegelykertyd vernietig word net voor die oorlog te Armageddon, die laaste deel van die “groot verdrukking”.—Openbaring 16:14, 16; 19:11-21.
19. (a) Watter werk wat deur Jesus voorspel is, het die Christendom se geestelikes versuim om te doen, en waarom? (b) Wie het hierdie verantwoordelikheid nagekom, en met watter gevolg?
19 Jesus het ook voorspel dat sy getroue volgelinge te midde van hierdie verslegtende wêreldtoestande ’n gekonsentreerde en globale predikingsveldtog sou voer. Herinner jou aan sy woorde: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Geen sodanige aardwye werk word deur die geestelikes van die Christendom gedoen nie, want hulle is hierdie wêreldstelsel vriendelik gesind (Jakobus 4:4). Wie voer dan hierdie opdrag uit? Is Jesus se lojale volgelinge op aarde, wat hulself sedert 1931 as Jehovah se Getuies voorstel en wat geen deel van die wêreld is nie, nie nou al meer as 60 jaar besig om die Koninkryksnuus in die openbaar en van huis tot huis te verkondig nie? (Jesaja 43:10, 12, vgl. NW). En het hulle die aarde nie oordek met miljarde stukke lektuur wat die “evangelie” bevat dat die Koninkryk of regering waaroor Jesus uit die hemel regeer binnekort alle onvolmaakte en selfsugtige menseheerskappye heeltemal sal vervang nie? Hulle werk het nie alleen goeie nuus gebring deur mense se aandag te vestig op die betekenis van die tekens van die tye nie, maar het ook gedien as ’n goddelike waarskuwing oor God se komende dag van wraak.—Jesaja 61:2.
[Voetnoot]
a Kyk Die Wagtoring van 15 Februarie 1972, bladsye 75-92, en 1 Maart 1976, bladsye 99-102; ook “Laat u wil geskied op aarde”, bladsye 276-284.
Onthou jy hoe elk van die volgende aspekte van die “laaste dae” in Bybelprofesie beskryf word?
◻ Wêreldoorloë wat die nasies verswelg
◻ Globale hongersnood, aardbewings en pessiektes
◻ Die vermeerdering van jeugmisdadigheid, misdadigheid en wanorde
◻ Talle valse godsdiensleiers maak hul verskyning
◻ Ongekende benoudheid onder die nasies
◻ Die see is ontstuimig weens duikbootwapentuig
◻ Die hemele versteur weens oorlogswapens
[Prent op bladsy 9]
Wat het Jesus gedoen toe die Joodse godsdiensleiers hom uitgedaag het om hulle ’n teken te laat sien?
[Prent op bladsy 11]
Net soos die Romeinse leër die Jode se “heiligdom” bedreig het, bedreig radikale nasies vandag die valse Christendom se terrein. Dit is hoog tyd om te vlug!